Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Cleopatra oor media

’n Diskoers oor die rol van die media, met die EFF se blootstelling as een van die hoofpunte, word tans gevoer. Barnard Beukman gee sy mening. 

Media
Grafika: THEUNS KRUGER
Grafika: THEUNS KRUGER

‘Die media moenie in onnodige gevegte betrokke raak of die storie oor onsself maak nie. Ons mag dalk omgee oor operasionele kwessies agter die skerms, maar die publiek in die algemeen nie en hulle mag dalk selfs nie aan ons kant wees as hulle wel omgegee het nie.

“Joernaliste moet ook nie in die openbaar gal braak oor wat verstaanbare dag-tot-dag-frustrasies met wie ook al is nie. Sodoende kan hulle verslag doen sonder om van vyandigheid verdink te word.”

Dié kort saamgestelde uittreksel kom uit ’n brief wat Steve Adler, hoofredakteur van Reuters, op die 12de dag van die Donald Trump-presidentskap aan sy span gestuur het.

’n Mens sou dit seker kon vertolk as moenie dat die geraas jou ontspoor nie, gaan voort met jou (belangrike) werk. Maar in ’n demokratiese samelewing, waar swaar gesteun moet word op die rol van die media, moet die kollig van kritiese ontleding ook juis op die media kan val. En moet die media self ook saampraat oor die rol en om dit self in steeds veranderde omstandighede te verstaan.

Daar is nou weer so ’n gesprek in Suid-Afrika oop oor die rol van die media en onder meer stukrag wat buite verhouding gegee sou word aan ’n groep soos die EFF.

Sowat twee dekades gelede het die Nederlandse media die politikus Pim Fortuyn bykans heeltemal geïgnoreer. Hy is as ekstreem regs bestempel en het tussen klein partytjies beweeg.

Daar is skaars ’n woord oor hom geskryf. Hy het uitgebak geraak by die laaste party waarin hy was en sy eie party, Pim Fortuin List (LPF), gestig. In Maart 2002 het sy party 36% van die setels in Rotterdam se munisipale raad gewen. Die plaaslike Arbeidersparty het vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog sy meerderheid verloor. Toe het almal skielik oor hom geskryf en uitgesaai.

In die nasionale verkiesing het sy party later daardie jaar 17% van die steun behaal, hoewel dit ook toegeskryf is aan die feit dat hy in die voorafgaande veldtog in ’n sluipmoord dood is.

Daar is geen manier hoe die media die EFF uit steunvlakke of bestaansreg gaan doodswyg nie. Hoeveel ondersteuners van die EFF werklike gebruikers van hoofstroommedia is, is ook ’n goeie vraag. Selfs wat betref elektroniese media, soos regstreekse TV-uitsendings.

Politici wat dinge het om weg te steek, is diegene wat die meeste teen die media uitvaar.

Die impak van die media moet nou ook nie buite verhouding oorskat word in die huidige samelewing nie. Of is dit nie juis dalk die mediablootstelling wat die tou was waaraan die EFF hom met sy gedrag by die meeste kiesers opgehang het nie?

Boonop is dit juis die mediakollig, of eerder die -soeklig, wat die EFF toenemend teen die toue het. Net soos die val van Jacob Zuma en sy staatskapers in ’n groot mate te danke is aan mediawerk, net so is dit nou deur mediawerk wat die EFF-hand in die kasregister van selfverryking onthul word. Nuus bly nuus en kan nie altyd in ’n idealistiese gewigsmaat verpak word nie.

Raad aan die media is nie nuut nie en is in elk geval elke dag deel van die verkeer oor ’n redakteur se lessenaar. Die hoofkenmerke daarvan is dat dit gewoonlik uit standpuntpole kom wat meen hul agenda moet oorheers en wat nie hou van teenspraak daaroor nie.

Sommige meen dit is veral Afrikaanse koerante se heilige taak om sy lesers vas te bind in ’n ewige selfgeseling oor die vergrype van apartheid, met dit as die enigste bestaansreg ooit weer. Andere meen elke plaasmoord waarvan die grafiese detail nie elke dag op die voorblad is nie, is ’n versaking van ’n koerant se bestaansreg. Só kan daar aangegaan word.

Dié wat hou van AfriForum as slaansak om te wys hulle is anders, raak kwaad oor elke berig oor hulle, ongeag die nuusmeriete. (Terloops, meermale dra van die noordelike Engelstalige dagblaaie meer oor hulle as die Afrikaanse media.) En durf ’n Afrikaanse dagblad verskil met Ernst Roets, AfriForum se eiedoelkampioen, is ’n ander klomp weer warm onder die kraag.

Dit is juis die mediakollig wat die EFF toenemend teen die toue het.

Politici of belangegroepe wat dinge het om weg te steek is diegene wat die meeste teen die media uitvaar. Dis ook diegene wat die dwaasheid van hul optrede onthul sien, soos pres. Donald Trump meermale, wat kwaad raak.

Dis ook duidelik dat sommige raadgewers – wat dié met media-ervaring insluit – jare laas naby ’n nuuskantoor was met min kennis van die hedendaagse dinamika in terme van die metamorfose na elektroniese media en erg verminderde personeelgetalle. Maar dis geen verskoning nie en behoort nie eens hier gemeld te word nie, sou Adler maan.

Dit is juis waar die mediahand in eie boesem gesteek moet word oor hoe om steeds sy taak in ag genome die werklikhede uit te voer.

Die gevaar ontstaan dat waar die media min personeel het, die reikwydte beperk word tot mediaverklarings en mediakonferensies. Wat beteken diegene wat die grootste geraas maak, of die sterkste mediakapasiteit het, kan ongeag hul grootte die diskoers buite verhouding oorheers. In dié opsig word byvoorbeeld Max du Preez se kommer gedeel. En moet mediaburokrate ook van sy betoog kennis neem.

Die grootste irritasie (gun ons darem dié enetjie, mnr. Adler) is diegene wat deesdae weens tyddruk of die selfoon in die hand min of bykans geen hoofstroommedia gebruik nie en dan raad gee terwyl hulle duidelik uit voeling is met die werklikheid van wat wel uitgesaai is of verskyn het.

Soos die persoon wat onlangs aan Beeld ’n artikel gestuur het wat hy aanlyn gelees het – dit word deesdae nogal baie gedoen – oor die besoedeling van die Vaalrivier. En vra waarom dit nie aandag kry nie. Dít sowat ’n maand nadat Beeld die storie skouspelagtige gebreek het, met die res van die media – Carte Blanche ingesluit – agterna.

Die media kan ook nie die werklikheid skep nie. Die aktuele diskoers word oorheers deur die uiterste pole wat op mekaar skreeu en die hoofstroommiddelgrond bly soms eerder uit. Maar hul spore is wel sterk by gereelde mediagebruik en deurdagte insette.

Wat nooit sal werk vir hoofstroommedia nie, is om ingetrek te word in die een of ander “cause” wat die hoofstroomsamelewing laat verstaan dat enigiets waarmee hulle besig is, noodwendig verkeerd is. Oorlog teen jou leser-samelewing in diens van idealistiese warmbroeiery was ook nog nooit volhoubaar nie. Dit beïnvloed nie wesenlik nie en het die teenoorgestelde uitwerking. Soos byvoorbeeld om hul geloofsoortuigings te beledig, soos nou die aand hoogdrawend in ’n radioprogram gevra is.

Die meeste lesers is besig met hul beroep en ekonomie in hul voorstedelike werklikheid, skoolgemeenskappe en meer. As die media toelaat dat hulle verwyder gaan word van daardie werklikheid, gaan hul aanklank by die lesers in dieselfde mate afneem. Veral as diegene wat wil ontleed en kommentaar lewer ook daarvan verwyder is.

Miskien is dit ook waarom Adler in sy doenlysie onder meer sê: “Dek wat saak maak in mense se lewe en voorsien die feite wat hulle nodig het vir beter besluite . . . Gaan uit in die omgewing en leer meer hoe mense leef, wat hulle dink, wat vir hulle pyn veroorsaak en hoe regeringsoptrede vir hulle lyk, nie vir ons nie.”

Dit is ondenkbaar dat daar nie gereeld in enige mediakantoor introspeksie is nie. Daardie beskuldiging is misplaas as dit bloot daar is omdat die media nie altyd doen waarvan jy nie subjektief hou nie.

By Beeld duld ons vir geen oomblik ’n meerwaardige selftevredenheid oor waar ons is nie. En laat daarom juis meermale kritiek op ons doen en late in ons kolomme toe. Uit terugvoering van lesers in peilings, briewe, SMS’e, e-posboodskappe, asook ander terugvoerings, word as pluspunte uitgelig dat ons steeds regkry om ’n groot balans en verskeidenheid van nuusonderwerpe te dek. Ook wat betref meningsrubrieke, artikels en bydraes in Saterdae se By. As dan nog nie voldoende nie, beslis aan die voorpunt as ons sit en deurblaai of aanlyn gaan vergelyk by ander.

Maar ons bly ons oopstel vir enige gesprek oor die media en deur voortdurende interne debat ook om steeds te verbeter.

Indien enige persoon ons soos Cleopatra, volgens oorlewering, net met goud wil beloon as die boodskapper goeie nuus dra of vir die krokodille gooi as daar slegte nuus aangedra word, word in die hande gespeel van diegene wat gaan baat vind sonder ’n sterk en onafhanklike media.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Eff  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.