Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Comrades: 'n Trotse SA tradisie

Om 07:10 die oggend van 24 Mei (Ryksdag) 1921 het 34 atlete by die stadsaal in Pietermaritzburg weggespring en in die rigting van Durban begin hardloop in die eerste Comrades, wat later die grootste ultrawedloop in die wêreld sou word. Sarel van der Walt vertel.

Dit is tonele soos dié van Comrades-kameraadskap wat Vic Clapham, die organiseerder van die eerste Comrades in 1921, sou trots maak. Dié foto is in 2018 in die Moses Mabhida-stadion in Durban geneem toe dié groep atlete al singend die Comrades voltooi het. Foto: Sarel van der Walt

Vic Clapham, veteraan van die Eerste Wêreldoorlog (1914 – 1918), se idee was om die wedloop te reël ter herdenking van die gestorwenes in dié bloedige oorlog.

Dit sou net ’n eenmalige gebeurtenis wees, ter wille van kameraadskap.

Min het hy geweet dat sy droom vandag – ’n 100 jaar later – in dieselfde Pietermaritzburg gevier sal word as een van die gewildste sportgebeurtenisse in die land.

Die af-Comrades Durban toe begin steeds soos 100 jaar gelede voor die stadsaal van Pietermaritzburg. Sowat 300 000 atlete het al die Comrades voltooi. Foto: Ian Carbutt

Die eerste wedloop is deur die organisasie League of Comrades of the Great War met behulp van die Natalse Amateur-atletiek-en-fietsryvereniging (daardie jare was daar nog ’n noue verbintenis tussen dié twee sportsoorte) gereël om seker te maak dit word as ’n amptelike wedloop erken.

Clapham was die organiseerder en J.R. Walker die wedloopsekretaris.

Maar as dit nie vir Clapham, wat in Oos-Afrika geveg het, se vasberadenheid was nie, sou die Comrades waarskynlik nooit die lig gesien het nie.

Hy het kort ná die einde van die oorlog in 1918 reeds probeer om die atletiekbase te oortuig om ’n wedloop – soortgelyk aan die “Stock Exchange Walk” tussen Londen en Brighton (oor 80 km) – tussen Pietermaritzburg en Durban aan te bied ter ere van die soldate wat in die oorlog gesterf het.

‘Is jy van jou lotjie getik?’

Die plakkaat wat die eerste Comrades in 1924 geadverteer het. Foto: Comrades-museum

Die atletiekbase het gedink Clapham, ’n infanteriesoldaat, is van lotjie getik, terwyl die League of Comrades van mening was dit sou te uitmergelend wees.

Onthou, daardie jare was die vernaamste manier waarmee mense tussen Pietermaritzburg en Durban gereis het, te perd en per trein. Net ’n klein deeltjie van die roete was teerpad en dié stukkie teer was in Durban.

Aanvanklik sou 48 atlete deelneem, maar net 34 het opgedaag. Raadslid D. Sanders, burgemeester van Pietermaritzburg, was die afsitter in ideale weersomstandighede.

Nie een van die atlete het geweet wat voorlê nie.

Deesdae is daar 48 waterpunte waar die deelnemers water, Coca-Cola, aartappels, sjokolade en wat ook al kan kry. Voor die eerste wedloop is die deelnemers ingelig die verversings sou by bepaalde hotelle langs die roete Durban toe wees.

Boere langs die pad het ook verversings verskaf, sowel as toeskouers wat langs die roete piekniek gehou het. Toeskouers hou nou nog op Comrades-dag in groot getalle langs die roete piekniek.

A.C. Purcell van Greytown het ná die wegspring die eerste voorloper in die geskiedenis van dié roemryke wedloop geword.

Maar dit was Bill Rowan, ’n 26-jarige boer van Koster (ja, dieselfde plek wat nou in die nuus is oor die inwoners se stryd met die plaaslike munisipaliteit) in die eertydse Wes-Transvaal (nou Noordwes) wat takties baie goed gehardloop het.

Hy het vanaf Drummond, die halfpadkerf, algaande sy voorsprong vergroot en uiteindelik ná 8 uur en 59 minute se hardloop die eindstreep by die Durbanse stadsaal oorgesteek. Hy het ’n minuut vinniger gehardloop as wat hy vooraf voorspel het en die wedloop ’n driekwartier voor H.J. Phillips van Pietermaritzburg voltooi.

Stop by halfpadkerf vir verversings

Die handgeskrewe uitslae van die eerste Comrades. Foto: Comrades-museum

Rowan (wat amptelik in die kleure van Johannesburg Harriers gehardloop het), sowel as Phillips, het by Drummond eers vir verversings gestop.

Rowan het vir die wedloop voorberei deur gereeld sowat 30 km op sy plaas en omgewing te hardloop. Hy het ook ure lank tougespring en sy spoed en uithouvermoë verbeter deur agter ’n motorfiets aan te hardloop terwyl hy metaalstawe vashou wat aan die motorfiets vas was.

Met daardie eerste wedloop het die kameraadskap wat deesdae so sinoniem met die wedloop is, reeds deurgeskemer. Dit word bewys deur die feit dat, van die 16 atlete wat die wedloop binne die toegelate 12 uur voltooi het, twee saam negende geëindig het en drie in die 11de plek.

Verskeie atlete het omstreeks 19:00 eers by die eindpunt aangekom, maar is gediskwalifiseer. Tog het een berig gelui: “Hulle het gewys hulle is wáre manne.”

Ná die wedloop (oor sowat 90 km) het Llyn Mitcalfe, wat agtste geëindig het in 11:06, ’n rukkie gerus en toe teruggehardloop na sy huis by Tongaat, 24 myl (meer as 38 km) noord van Durban!

Bill Rowan (middel), wenner van die eerste Comrades in 1921. Foto: The Witness

Rowan het ’n goue horlosie wat £25 pond werd was ontvang, Phillips ’n silwerkoppie van £12.10s en John Annen (10:10) van Durban ’n leertas. Die 13 ander atlete het almal ’n medalje – soos vandag nog die geval is – ontvang.

Die pryse is deur Fleming Johnstone, burgemeester van Durban, oorhandig. Dit is vandag nog deel van die tradisie dat die burgemeester in die stad waar die wegspring is, die afsitter is en die burgemeester van die eindpuntstad die atlete inwag.

Die Bill Rowan-medalje wat in die Comrades toegeken word aan atlete wat die wedloop in tussen 7 uur en 30 minute en nege uur voltooi. Foto: Comrades

’n Sportverslaggewer van die Durbanse koerant Natal Mercury het geskryf Rowan se oorwinning kan beskou word as een die grootste prestasies in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse sport.

Daardie dag het ’n groepie Padvinders (Boy Scouts) by Pinelands langs die pad (onthou, dit was nog ’n grondpad) gekamp toe ’n konvooi motors wat die atlete gelei het nader beweeg het.

Onder die Padvinders was die 12-jarige Vernon Jones. Rowan, wat met stof besmeer was, het voor gehardloop.

Daardie prentjie het ’n saadjie van liefde vir die Comrades geplant en Jones het later een van die belangrikste aantekenaars van die geskiedenis van dié wedloop geword.

Hoewel hy Rowan nooit ontmoet nie, het hy tot en met sy dood in die 1980’s elke ander Comrades-wenner ontmoet. Dit sluit in Bruce Fordyce, wat die wedloop tussen 1981 en 1990 nege keer gewen het.

Vandag ontvang atlete wat dié moordende wedloop tussen 7 uur en 30 minute en 9 ure voltooi die Bill Rowan-medalje.

John Cameron-Dow skryf in sy boek Comrades Marathon: The Ultimate Human Race die sukses van die eerste wedloop in 1921 het die verbeelding aangegryp van “dromers, avonturiers, romantici en waaglustiges” (dis wraggies vandag nog so!), want 89 atlete het op 24 Mei 1922 voor die stadsaal van Durban aangetree vir die eerste sogenaamde op-wedloop Pietermaritzburg toe.

As dit nie vir die Covid-19-pandemie was nie, sou sowat 20 000 deelnemers op 14 Junie voor die einste Pietermaritzburg se stadsaal aangetree het vir die 95ste Comrades. Benewens die afgelope twee jaar dat die Comrades nie gehou is nie, is die wedloop nie gedurende die Tweede Wêreldoorlog gehardloop nie.

Die Comrades is net so deel van Suid-Afrikaners se wese as braaivleis en biltong.
Bruce Fordyce

Nou, ’n 100 jaar ná die eerste Comrades, hou Fordyce – en die duisende atlete wat al die tog tussen Durban en Pietermaritzburg aangepak het, sal met hom saamstem – vol die wegspring van die Comrades is loshande die emosioneelste en inspirerendste wegspring van enige marathon ter wêreld.

Vir baie is dit ’n lewensveranderende ervaring.

“Die Comrades is net so deel van Suid-Afrikaners se wese as braaivleis en biltong,” sê Fordyce.

• Suid-Afrikaners het later ook hul stempel op die Londen-na-Brighton-wedloop (80 km) afgedruk. Onder hulle was Comrades-legendes soos Wally Hayward, Jackie Mekler en Fordyce, wat drie keer gewen het in dieselfde tyd as wat hy die Comrades oorheers het.

Bronne: The Comrades Marathon Story, deur Morris Alexander, Comrades Marathon: Highlights and Heroes –1921 – 1999, deur Tom Cottrell, Ian Laxton en David Williams; Comrades Marathon: The Ultimate Human Race, deur John Cameron-Dow en Winged Messenger: Running your first Comrades Marathon, deur Bruce Fordyce.

Sarel van der Walt doen al sedert 1988 verslag oor die Comrades.

Meer oor:  Eerste Wêreldoorlog  |  Bruce Fordyce  |  Pietermaritzburg  |  Durban  |  Comrades  |  Atletiek  |  Padwedloop  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.