Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Country se eie voëlvrye tyd

Billie Eilish is oukei, maar country is die ware Jakob, sê Desmond Painter.

Billie Eilish: Vyf Grammys in een jaar. Foto’s: Getty Images

Die 18-jarige Amerikaanse popsensasie Billie Eilish het verlede week geskiedenis gemaak toe sy die jongste kunstenaar ooit geword het om vyf Grammys in een jaar te wen – en dit nogal vir ’n debuutalbum. Eilish het boonop die eerste vrou ooit geword wat dit kon regkry om in een jaar al vier die belangrikste kategorieë – Album van die Jaar, Liedjie van die Jaar, Opname van die Jaar en Nuwe Kunstenaar van die Jaar – te wen.

Indrukwekkend, ja, maar neem dit maar met ’n knippie sout. Die Grammys is selfs meer wisselvallig as die Oscars. Bob Dylan het sy eerste Grammy eers in 1979 gewen, en die Rolling Stones het in 2018, amper ses dekades ná hul debuut, maar hul tweede Grammy gewen. Eish! Selfs Billie Eilish sou sekerlik saamstem dat dit ’n belaglike situasie is.

Eilish se prestasie het die aandag boonop ’n bietjie weggeneem van ’n ander vrou wat ook vereer is, die country-legende Tanya Tucker. Tucker se eerste album sedert 2002 met nuwe musiek, While I’m Livin’, het twee Grammys gewen – een vir beste country-album en een vir beste country-liedjie (“Bring My Flowers Now”).

Nelson en Jennings het die weg berei vir nuwe generasies.

Soos Eilish was Tucker op haar dag ’n tienerster: Sy was maar 13 jaar oud toe sy met die liedjie “Delta Dawn” haar eerste treffer gehad het. Maar ten spyte van ’n suksesvolle loopbaan van amper 50 jaar, wat stringe treffers en onstuimige verhoudings met medesterre soos Merle Haggard en Glen Campbell ingesluit het, moes sy tot 2020 wag vir daardie eerste Grammy.

Dat hierdie toekennings ’n regstelling is wat betref die waarde van Tucker se bydrae tot country-musiek sedert die vroeë 1970’s, is verseker so. Dit is egter ook ’n tydige erkenning van die durende invloed van spesifiek outlaw country, ’n subgenre wat nie net dringendheid en relevansie aan country verleen het nie, maar wat vandag nog kruisbestuiwing tussen country en ander Amerikaanse musiekvorme soos folk, rock en selfs hiphop bemiddel.

Tucker se beeld en klank is eers in die laat 1970’s deur outlaw country beïnvloed, maar om die oorsprong en aard van die vorm te verstaan, moet jy tien jaar teruggaan in tyd – na Willie Nelson en Waylon Jennings se verwerping van die toenemende steriliteit van die kommersiële Nash­ville-klank en algemene konserwatisme van die kultuur wat rondom country tot stand gekom het.

Tanya Tucker by vanjaar se Grammys.

Teen die middel 1960’s was country ’n bedryf. Dit was middelklas en wit, gekenmerk deur kitsch cowboy-uitrustings en heeltemal uit voeling met die tydsgees van die 1960’s en die komplekse, kruiskulturele wortels van die musiekvorm self. Dit is ook die vorm van country wat ’n uitvoerproduk geword het. Dink aan Charles Jacobie met sy Stetson-hoede, Jim Reeves se Afrikaanse album, en die ineenkrimpingswaardigheid van Sing Country! op ’n Sondagaand in die 1980’s . . .

Nelson en Jennings het die rustelose kreatiwiteit en maatskaplike relevansie van rock waargeneem en ervaar en hulle begin losmaak van die geykthede van Nashville-gevestigde country. Hulle het geveg om artistieke eienaarskap van hul eie komposisies en opnames terug te kry. Hulle wou country opneem, maar country wat tegelyk ouer en meer kontemporêr sou klink as dit wat in Nashville op massaskaal geproduseer is. Country wat jou herinner aan die blues. Country wat uitreik na rock.

Nelson het Nashville, waar hy ’n suksesvolle liedjieskrywer was, maar nie as uitvoerende kunstenaar kon slaag nie, verlaat en teruggegaan Texas toe. Jennings het sy platemaatskappy oortuig om hom toe te laat om die musiekregie vir sy eie albums te behartig. Albei is beïnvloed is deur southern rock, ’n vorm wat ironies genoeg gaan leen het by country – net soos Bob Dylan en die Rolling Stones in die laat 1960’s ook aansluiting gevind het by tradisies van country, soos honky tonk, bluegrass, en ook rockabilly, wat eg en rou was en ver verwyderd van die blink Nashville-verpakking. Gaan luister gerus weer na die Stones se “Country Honk” en “Dead Flowers”.

Willie Nelson

Nelson en Jennings het die weg berei vir nuwe generasies sangers en liedjieskrywers, kunstenaars wat teruggegaan het na die wortels van country, die tradisionele musiek van die Appalachiese streek en die interaksie tussen daardie folktradisies en ander vorme soos Western-musiek en die blues. Kris Kristofferson, Merle Haggard, Townes van Zandt, Steve Earle, Lucinda Williams en vele ander het hulle gevolg. Die Amerikaanse musiekskat sedert 1970 sou oneindig armer gewees het sonder bydraes soos Townes van Zandt se “Pancho and Lefty” (1972) en Lucinda Williams se meesterlike album Car Wheels on a Gravel Road (1998).

Die beweging het ook nuwe energie in Johnny Cash se loopbaan geblaas – en wie van ons sou die lewe sonder die latere Johnny Cash wou aandurf? Die twee konsertalbums wat hy in tronke opgeneem het, At Folsom Prison (1968) en At San Quentin (1969), kan agterna beskou as outlaw- klassieke albums gesien word, al het die term eers in die middel 1970’s in gebruik gekom. Cash se kenmerkende swart broek en hemp, wat hom die naam Man in Black besorg het, was ook in doelbewuste reaksie op die kakelbont uitrustings van hoofstroom-countrysangers.

En dan was daar Charley Pride. Pride was die eerste en vir lank die enigste kommersieel suksesvolle swart country-sanger, ’n tradisie wat dikwels by wyse van historiese verdraaiing as “wit musiek” beskryf word. Alhoewel Pride nie gewoonlik gesien word as ’n verteenwoordiger van outlaw country nie, het die outlaws wel ’n ruimte help skep waarbinne die konserwatisme en soms rassisme van country-gehore uitgedaag kon word.

Willie Nelson het Pride eenkeer tydens ’n konsert vol op die mond gesoen – een van etlike soortgelyke klein dade van protes wat Pride se teenwoordigheid op country-verhoë genormaliseer het. Vandag is die idee van swart country-sangers minder vreemd, al bly die hoofstroom redelik konserwatief.

Natuurlik, ook outlaw country het mettertyd ’n hele bedryf geword, een met sy eie radiostasies en feeste, en die voorste country-kunstenaars vandag beskryf hul musiek nie noodwendig op hierdie manier nie.

Tog is Tanya Tucker se twee Grammys ’n welkome herinnering aan hierdie ryk tradisie van musikale afstigting en vernuwing.

Miskien sing Billie Eilish eendag “Bring My Flowers Now” by die Grammys.

  • Desmond Painter luister country sedert Bob Dylan gesê het dis oukei.
Meer oor:  Billie Eilish  |  Grammys  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.