Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: Wat staan Britse koningshuis te doen in pandemie?

Dit was makliker om tydens die oorlogstyd leierskap te toon as tydens die Covid-19-pandemie. Sean Lang vra hoe die Britse koninklike familie samehorigheid te midde van die krisis moet toon.

Prins Charles is onlangs positief getoets vir Covid-19. Foto: Liza van Deventer

Die aankondiging dat prins Charles positief vir die koronavirus getoets is, belig die akute dilemma waarvoor die koninklike familie te staan kom tydens die pandemie: Hoe moet hulle samehorigheid toon en ’n nasie lei te midde van ’n dodelike siekte?

Die prins is gekritiseer vir wat sommige mense sien as voorkeurbehandeling in ’n tyd waarin dit selfs vir baie gesondheidswerkers in die voorste linies onmoontlik is om getoets te word. Die junior minister van gesondheid, Edward Argar, ontken dit en sê die prins se simptome het aan die kriteria vir toetsing voldoen.

“Die prins van Wallis het nie by die tou ingedruk nie,” het hy aan Sky News gesê.

LUISTER: Wanneer gaan die koningin haar stilte oor COVID-19 breek?

Aan die ander kant wys sy siektetoestand dat die koninklike familie nie meer immuun teen die virus as enigiemand anders is nie. Clarence House, die Britse koninklike woning, het laat weet die prins toon geringe simptome “maar dat hy steeds in goeie gesondheid is”.

Die huidige koninklike familie het egter sy status gekry danksy ’n virus: Die dood van die hertog van Clarence in 1892 ná ’n griepepidemie het beteken dat sy voorgenome bruid, prinses Mary van Teck, met sy jonger broer, die hertog van York, moes trou wat in 1910 die troonopvolger geword het as koning George V.

Dit was soveel makliker om gedurende die oorlogstyd leierskap te toon. Toe Buckinghampaleis gedurende die blitsoorlog gebombardeer is, kon koningin Elizabeth sê sy was bly dit het gebeur, want sy “kon nou die East End (’n voorheen minder gegoede deel van Londen) in die oë kyk”.

Die koninklike gesin se weiering om Londen te verlaat – selfs al kon die stad ingeval word – het gewisse leierskap getoon. So ook het die verskyning van koninklikes in uniform wat hul deel doen tydens die oorlogspoging, soos die jong prinses Elizabeth.

Deugsame familielewe

Prins Charles en sy vrou, die hertogin van Cornwall, het hul koninklike pligte uitgevoer totdat hy positief getoets is vir die virus wat Covid-19 veroorsaak. Foto: PA

Die idee dat die koninklike familie ’n rolmodel moet wees vir die nasie het sy oorsprong in die lang siekbed van koning George III. George se bewind het begin met intense omstredenheid oor die politieke rol wat die kroon sou speel, maar in die latere deel van sy bewind het hy daarop gekonsentreer om ’n openbare beeld van sy familie te kultiveer as ’n model van deugsame familielewe. Hy het selfs ’n “Windsor-uniform” gekies wat hulle almal sou moes dra.

Die koning se langdurige siekte, met rampspoedige gevolge vir sy geestesgesondheid, het ’n vlaag simpatie van die publiek ontlok. Dit was selfs meer die geval namate die publiek al hoe meer ontstoke geraak het oor die uitspattighede van sy seun, die prins-regent.

Toe die troon uiteindelik deur koningin Victoria in 1837 bestyg is, het sy en prins Albert steeds die koninklike familie voorgehou in die rol van morele leierskap vir die nasie.

Prinses Elizabeth in militêre uniform in April 1945 in die Tweede Wêreldoorlog. Foto: Die Internasionale museum van die Tweede Wêreldoorlog

Die Eerste Wêreldoorlog het Victoria se kleinseun, George V, voor ’n akute dilemma te staan gebring. Hy was baie gretig om leierskap aan die dag te lê, hoewel hy inderwaarheid bloot ’n skynhoof was. Nietemin het hy die front besoek, hy’t medaljes uitgedeel en hy het die openbare beeld uitgestraal van ’n monarg wat in voeling is met die nasie.

Die prins van Wallis (later Edward VIII, wat in 1936 geabdikeer het) was egter uiters gefrustreerd, want hy was ’n offisier in die garderegiment, tog is hy deur protokol verhoed om enigsins na aan die front te kom uit vrees dat hy doodgemaak sou word of – selfs erger – gevange geneem sou word. As gevolg daarvan het hy altyd gevoel dat hy een van die definiërende ervarings van sy generasie misgeloop het.

Dit was ’n fout wat die koninklike familie nie weer sou maak nie: Lede van dié familie het hierna gereeld gedien in oorloë – die mees onlangse lid was prins Harry wat twee jaar in Afganistan gedien het.

Dieselfde reëls het gegeld aan die tuisfront. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het George VI seker gemaak dis bekend dat die koninklike gesin leef op dieselfde rantsoen as almal anders. Die jong prinsesse Elizabeth en Margaret het in stille toorn toegekyk terwyl die Bewaarder van die Geheime Seël, sir Stafford Cripps, ’n vegetariër, “ ’n hele week se eierrantsoen verorber” terwyl hy saam met hulle geëet het.

Sosiale samehorigheid

Prins Harry in sy militêre uniform ná ’n herdenkingsdiens vir kollegas wat in Afganistan dood is. Dié foto is in Mei 2008 geneem.Foto: PA

’n Pandemie is egter baie anders as ’n oorlog. Daar is nie bomme wat uit die lug reën nie, maar daar is ook nie veilige plekke nie. Dit is dus moeilik vir koninklikes om die soort fotogeleenthede ten tonele te voer wat gewoonlik nodig is vir leierskap in moeilike tye. ’n Senior lid van die koninklike familie wat positief toets, bied nie die geleentheid vir die koningin om na die East End te kyk of enigiets anders nie. Die blote feit dat hy getoets is dui immers op ’n sosiale onderskeid eerder as sosiale samehorigheid.

Die Paleis is gewoonlik behoedsaam om besonderhede te gee oor die gesondheid van senior koninklikes, maar dié keer kan dit dalk voordelig wees om die publiek ingelig te hou oor die prins se vordering.

Een van die hebbelikhede van die Britse koninklike familie is dat die monarg ook die hoogste gesag is van die Anglikaanse Kerk en die koningin is kennelik ernstig oor haar geloof: Haar jaarlikse Kersboodskap is dikwels getooi in klaarblyklike Christelike terminologie.

Niemand wil hê die monarg moet vir hulle preek nie, maar dit mag wees dat die koningin tydens hierdie bedreiging geneig sou wees om haar te beroep op haar politieke sowel as haar godsdienstige outoriteit om samehorigheid te wys met haar mense.

Dit is ten slotte waarvoor baie mense dink die monargie bestaan.

* Sean Lang is 'n seniro lektor in geskiedenis aan die Anglia Ruskin-Universiteit. Hierdie artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Koningin Elizabeth  |  Prins Charles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.