Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: Afrika-lande moet beter voorberei

Die stadige verspreiding van die koronavirussiekte Covid-19 in Afrika kan nog nie eintlik verklaar word nie, maar lande op dié vasteland sal beter moet begin voorberei, skryf Akebe Luther King Abia.

Die Christusbeeld in Rio de Janeiro is Woensdagaand verlig uit solidariteit met lande in Afrika waar die Covid-19-virus voorkom. Foto: AP

Die uitbreking van virussiekte Covid-19, wat onlangs deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) as ’n pandemie verklaar is, het die wêreld verras.

Die goeie nuus is dat geweldige wetenskaplike en tegnologiese vordering wetenskaplikes binne ’n kort tydjie in staat gestel het om heelwat oor dié virus te wete te kom.

Slegs twee maande nadat die eerste geval aangemeld is, is die virus geïdentifiseer wat die oorsaak van die siekte is, die genetiese samestelling daarvan is bepaal en opsporingsmetodes is geoptimaliseer. Wetenskaplikes het ook vasgestel dat meer as een vorm die ronde doen.

Ondanks dié vinnige vordering, is daar steeds noemenswaardige onsekerheid. Wetenskaplikes verstaan nog nie heeltemal presies hoe dit oorgedra word nie, hoewel oordrag van mens tot mens deur die inaseming van druppeltjies in die lug die algemeenste vorm van oordrag is. Die lae suksessyfer wat opsporing betref, veral met ligte of simptoomlose gevalle, lei tot verdere onsekerheid. Dan word daar ook nog ondersoek ingestel na hoe die weer oordrag kan beïnvloed.

Daar word ook bespiegel dat die virus nie versprei het nie omdat dit nie in warmer omgewings, soos dié in die grootste deel van Afrika suid van die Sahara, kan gedy nie.

Afrika het op die oomblik baie min gevalle van Covid-19 in vergelyking met die meeste ander dele van die wêreld.

Dit bly onduidelik waarom dit die geval is.

Dié tendens het egter verskeie reaksies ontlok, soos twyfel oor die stadige verspreiding ondanks die swak gesondheidstelsels in die meeste van die lande. Sommiges dink selfs die stadige verspreiding is te danke aan die lae vlakke van verstedeliking.

Ander faktore waarop gewys word, is die feit dat die gevalle meer onlangs is wat die lande meer tyd gee om voor te berei sowel as ’n gebrek aan die vermoë om vir die virus te toets.

Daar word ook bespiegel dat die virus nie versprei het nie omdat dit nie in warmer omgewings, soos dié in die grootste deel van Afrika suid van die Sahara, kan gedy nie.

Die omgewing en die oordra van virusse

’n Werker spuit ontsmettingsmiddel buite ’n hotel in Nairobi, Kenia, om die verspreiding van Covid-19 te verhoed. Foto: Reuters

Onder die verskeie omgewingsfaktore wat die oorlewing en verspreiding van virale infeksies van die asemhalingstelsel beïnvloed, speel die lugtemperatuur ’n deurslaggewende rol. Koue weer maak die asemhalingstelsel sensitief vir infeksies. Dit is waarom mense geneig is om gedurende die koue wintermaande met infeksies van die asemhalingstelsel te sukkel.

In tropiese gebiede, word griep en asemhalingsiektes makliker tydens die koue reënseisoene oorgedra. Ondanks die onsekerhede rondom sy verspreiding, mag die SARS-CoV-2 virus dalk net dié roete volg.

Dié virusse verkies lae humiditeit.

Ander virusse van die koronafamilie het ’n sekere graad van sensitiwiteit teenoor weerpatrone getoon. Die Ernstige Akute Asemhalingsindroom (Ears) was tien keer hoër in laer temperature as in warm weer.

Die invloed van die lugtemperatuur hou ook verband met ander faktore soos die betreklike humiditeit omdat dié virusse lae humiditeit verkies.

Die Midde-Oosterse Asemhalingsindroom (Mers) was stabiel by lae temperature wat sy verspreiding kon bevorder. Tog het dié virus nie seisoenale tendense gevolg nie, maar eerder sporadies voorgekom. Ander faktore, soos oordag van diere (kameel na mens) en verswakte immuniteitstelsels, was ook gunstig vir sy oordrag.

Temperatuur en SARS-CoV-2

’n Bus in Nairobi, Kenia, word met ontsmettingsmiddel bespuit. Foto: Reuters

As ons kyk na die temperatuurdata van die lande buite China wat die ergste deur die virus geraak is – Suid-Korea, Italië, Iran en Spanje – wys dit dat die gemiddelde temperature tussen Januarie en Maart 2020 tussen 6 en 12 °C gewissel het.

In Afrika suid van die Sahara, het die meeste lande waar gevalle van die Covid-19-virus aangemeld is – soos Suid-Afrika, Nigerië, Senegal, Togo, Kameroen en Benin – in dieselfde tydperk gemiddelde maandelikse temperature van 20 tot 32 °C gehad.

Algerië en Egipte – lande in Noord-Afrika waar die virus voorgekom het – se temperature het gewissel tussen 11 en 17 °C.

Vorige koronavirusse het vinniger versprei in die koue wintermaande. Daar was ook opvallende verskille in temperature tussen die lande met die meeste (kouer) en minste (warmer) gevalle in die Covid-19-pandemie.

Baie lande in Afrika het nie voldoende vermoë om vir die virus te toets nie.

Dié patroon kan egter nie heeltemal verklaar waarom daar so min gevalle in Afrika-lande is waar die virus voorkom nie.

Die eerste rede is dat maatreëls getref is om die verspreiding van die virus na ander lande te voorkom sedert die eerste uitbreking in Desember in China. Dit het baie lande in staat gestel om vir enige nuwe gevalle voor te berei.

Die gevalle in Afrika was tweedens onlangs en die mense wat daardeur geraak is, is in kwarantyn geplaas.

En derdens het baie lande nie voldoende vermoë om vir die virus te toets nie.

Dié redes, saam met die hoër temperature, kan bydra tot die oënskynlik stadiger verspreiding.

Afrika-lande moet beter voorberei

Mense staan tou in Kaïro om ontsmettingsmiddels te koop. Foto: Reuters

Noudat die virus sy verskyning in Afrika gemaak het, moet lande op dié vasteland beter voorberei om die verspreiding daarvan te bekamp, veral as dit ’n seisoenale patroon volg.

Griep kom byvoorbeeld veral in die winterseisoen tussen April en Julie in Suid-Afrika voor. In Senegal kom dit veral tydens die reënseisoen van Julie tot Oktober voor. Baie lande in Afrika se griepuitbrekings is in die kouer reënseisoen. Dit kan beteken dat die meeste Afrika-lande se vlakke van voorbereiding gou getoets sal word wanneer dié seisoene aanbreek, veral ook as baie meer lande te doene kry met “ingevoerde” gevalle van die buiteland.

Afrika-lande moet hul vermoë versterk wat die identifisering van nuwe gevalle betref. Instansies van gesondheidsorg en gesondheidswerkers moet goed toegerus wees om geïdentifiseerde gevalle te bestuur.

Die algemene publiek moet ook ingelig word oor wat om te doen as hulle enige tekens of simptome van Covid-19 vermoed.

Persoonlike en huishoudelike higiëne moet aangemoedig word, soos die gebruik van skoonmaakmiddels wat bleikmiddel insluit, sodat moontlike omgewingsoordrag verhoed kan word.

* Akebe Luther King Abia is ’n wetenskaplike navorser by die Universiteit van KwaZulu-Natal. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Egipte  |  Suid-Afrika  |  Senegal  |  Afrika  |  Italië  |  Benin  |  Suid-Korea  |  Iran  |  Covid-19  |  Griep  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.