Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: ‘Artse moet kies wie leef’

Moeilike besluite sal in Suid-Afrika geneem moet word oor wie toegang kry tot hoësorgbehandeling weens die Covid-19-siekte. Prof. Keymanthri Moodley kyk na die etiese beginsels wat daardie besluite gaan bepaal.

Mediese personeel behandel ’n pasiënt met Covid-19 wat in ’n kritieke toestand is in die Rooi Kruis-hospitaal in die stad Wuhan in China.Foto: Getty Images

Suid-Afrika, met sy bevolking van nagenoeg 59 miljoen mense, het ’n beperkte getal ventilators en beddens in hoësorgeenhede. Daarby is daar nie genoeg beskermende drag en toerusting vir gesondheidswerkers nie.

Dít is van die middele waaraan daar die grootste behoefte is in die Covid-19-pandemie. Hoewel ventilering net vir die siekste pasiënte – sowat 5% van dié wat deur die koronavirus besmet is – nodig is, kan die getal groter wees as die beskikbare aantal ventilators.

’n Gebrek aan middele is nie iets nuuts in die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel nie. Gesondheidswerkers moet elke dag moeilike besluite neem oor wie toegang kry tot beddens in hoësorgeenhede, dialisemasjiene, organe vir oorplanting en ander gespesialiseerde dienste.

Die kriteria sluit in die erns van die siekte, ouderdom, hoe sterk of swak die pasiënt is en lewensgehalte ná die behandeling.

Sulke besluite word gesteun deur die klousule in die Grondwet wat voorsiening maak vir toegang tot gesondheidsorg te midde van beperkte middele.

Die beginsel van verspreidingsgeregtigheid – die billike verspreiding van beperkte middele – het nog altyd sentraal gestaan tot gesondheidsorgbesluite in die openbare sektor.

Dit gaan egter tot die uiterste beproef word indien die virus hier naastenby die verspreidingspatroon van elders in die wêreld volg. Medici gaan verskriklik moeilike besluite moet neem wat gegrond is op ’n aantal wel deurdagte kriteria. Die kriteria sluit in die erns van die siekte, ouderdom, hoe sterk of swak die pasiënt is en lewensgehalte ná die behandeling.

Die kriteria

In die ontwikkeling van kriteria vir toegang tot hoësorgeenhede gedurende humanitêre noodtoestande word medici gerig deur breë etiese beginsels wat deur bio-etici en medici wêreldwyd wêreld geskep word.

Die belangrikste doelstelling is gewoonlik om soveel lewens as moontlik te red, maar terselfdertyd soveel lewensjare moontlik ná behandeling te verseker. Só ’n benadering sal jong en gesonde mense bevoordeel, maar dit moet ook talle ander faktore in ag neem.

Dit is altyd belangrik of te bepaal of iemand medies geskik is om ventilasie te ontvang. Om dít te bepaal word onderliggende siektetoestande (ko-morbiditeit) en orgaanversaking (buiten die longe) in ag geneem.

Elke pasiënt sal versigtig geëvalueer word met inagneming van hul kliniese toestand, mediese geskiedenis (diabetes, hipertensie, hartversaking, kroniese longsiekte) en prognose.

‘Húlle kry voorkeur’

Die Covid-19-virus.

In Suid-Afrika is MIV-infeksie ook ’n ko-morbiditeit. Mense met vigsverwante siektes of onbeheerbare siektes met ’n swak prognose gaan waarskynlik op mediese gronde ’n laer kans staan binne die toelatingsbeleidsraamwerke.

Hoe gaan dokters kies tussen verskeie pasiënte van soortgelyke ouderdom, erns van siekte, mediese geskiedenis en prognose, wat dieselfde kans het op toelating tot ’n hoësorgeenheid en ventilasie?

Volgens die etiese beginsels sal die waarskynlikste groep gesondheidswerkers wees wat aan die frontlinie is van die stryd teen Covid-19 en weens hul werk met die virus besmet is en ernstig siek geword het.

Dit is omdat hulle hulself in gevaar gestel het om ander te behandel en die gemeenskap dus dieselfde verpligting het om húlle te red. Ook: Hulle is hoogs opgeleide kundiges wat kan voortgaan om nog baie lewens te red.

‘Kies húlle’

Daar is diegene wat al voorgestel het daar moet tussen mense met dieselfde mediese status gekies word op grond van wie eerste vir behandeling aangemeld het.

Maar dié benadering sal nie werk nie. Die pasiënte wat eerste by die hospitaal opdaag, het dalk nie hoësorg nodig nie of kan nie die meeste voordeel trek uit súlke behandeling nie. En maatskaplike faktore beïnvloed ook wie eerste by ’n hospitaal gaan opdaag.

’n Soort loterystelsel waardeur pasiënte lukraak gekies word, is ook nie wenslik nie tensy daar tussen gelykes gekies word.

Buiten om mense te kies wat waarskynlik die beste gaan baat vind by ventilasie, sal dit ook nodig wees om te voorspel vir hoe lank ’n pasiënt ventilasie gaan nodig hê.

Uit wat in ander lande gebeur, het dit duidelik geword sommige pasiënte moet vir ’n week of twee aan ’n ventilator gekoppel wees, maar in ander gevalle kan dit vir langer wees.

‘Dán word jy ontkoppel’

Indien ’n pasiënt vir te lank aan ’n ventilator gekoppel is en nie beter word nie, mag dit daartoe lei dat ander pasiënte wat ’n beter prognose het, ’n kans op oorlewing ontsê word.

Sulke situasies kan vereis dat pasiënte, ná deeglike oorweging, van ventilators ontkoppel word ten einde ander met ’n beter prognose ’n kans te gun. Gevolglik moet naasbestaandes en pasiënte wat in hoësorgeenhede opgeneem word, duidelik ingelig word dat ’n ventilasie-proeftyd aangebied word. Die pasiënt sal deurentyd gemonitor word en kan ontkoppel word.

Sekere besluite sal daarvan afhang of pasiënte lewensondersteuning deur kunsmatige middele soos ventilators wíl ontvang. Dit is belangrik dat die pasiënt se wense vooraf bekend is deur byvoorbeeld ’n lewende testament.

‘Dié plan is noodsaaklik’

Keymanthri Moodley

Om gedurende die uitbreek van ’n pandemie ’n nasionale prioriteitsplan te hê is om verskeie redes van kritieke belang.

Eerstens is dit belangrik om seker te maak dat beperkte middele op ’n billike manier toegewys word. Tweedens is dit noodsaaklik vir die doeltreffende funksionering van bedrywige omgewings in krisistye ten einde die beste moontlike mediese sorg aan almal te verseker.

Suid-Afrika wag nog op ’n nasionale direktief van die gesondheidsdepartement wat sal verseker dat alle hoësorgeenhede (privaat en openbaar) dieselfde toelatingskriteria het.

Sodra daar oor kriteria ooreengekom is, is dit belangrik om dit met die publiek te deel. Deursigtigheid en goeie bestuur is nodig om openbare vertroue te bou en te behou.

Besluite soos dié oor die toekenning van hulpmiddele is moeilik vir alle gesondheidswerkers en word nooit ligtelik geneem nie.

Almal moet aanvaar dat nie alle mense wat aan die Covid-19-siekte ly, toegang tot ventilators gaan hê indien die pandemie noemenswaardig vererger nie.

* Moodley is direkteur van die sentrum vir mediese etiek en die reg aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie artikel het oorspronlik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Covid-19-Pandemie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.