Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: Boere kan SA steeds van kos voorsien

Die Covid-19-pandemie sal alle sektore van die ekonomie negatief beïnvloed, maar die landboubedryf is steeds in ’n bevoorregte posisie om te kan produseer en Suid-Afrika se mense van voedsel te voorsien, skryf Omri van Zyl.

Boere in Suid-Afrika kan ondanks die Covid-19-pandemie steeds kos in Suid-Afrika produseer. Foto: Gallo Images

Georganiseerde landbou (Agri SA, AGBIZ, Graan SA en TLU SA) dien op die departement van landbou se Covid-19-taakspan.

Dié pandemie ontwrig die Suid-Afrikaanse samelewing op groot skaal. Die staat het omvattende inperkingsmaatreëls ingestel om die beweging van mense tot die minimum te beperk in die hoop dat dit die verspreiding van die koronavirus sal stuit.

Wêreldwyd was daar teen Maandagmiddag al meer as 732 000 bevestigde gevalle van Covid-19 en meer as 34 000 mense het al weens die virus gesterf.

Lande soos China, Italië, Frankryk, Spanje en die VSA word die ergste geraak met die dodetalle wat daagliks daar styg. In Suid-Afrika het 1 280 mense teen Maandagmiddag al die virus opgedoen en twee mense het gesterf.

In Agri SA se daaglikse interaksie met die departement en ministerie van landbou word bestaande en potensiële probleme bespreek wat die landbousektor ondervind om kos te produseer.

Dit is ’n groot bron van kommer vir almal. As ’n land kan ons egter nie die implikasies van hierdie virus ignoreer nie en moet ons die inperkingsmaatreëls nougeset nakom.

Noodsaaklike goedere wat voedselprodukte, skoonmaak- en ontsmettingsmiddels, mediese en hospitaalvoorraad, petroleum, basiese goedere soos lugtyd, water en elektrisiteit insluit, word van die inperkings uitgesluit. Omvattende essensiële dienste wat noodsaaklik is om te verseker dat alle basiese produkte beskikbaar is, word ook uitgesluit.

In die geval van landbou sluit dit dienste en produkte aan die insetkant van voedselproduksie in, die produksie van voedsel self, die oes van produkte, stoor, verwerking, verpakking, verspreiding en verkope van voedselprodukte. Daar rus egter ’n massiewe verantwoordelikheid op die landbousektor om toe te sien dat die nodige voorsorgmaatreëls in alle prosesse wat met voedselvoorsiening verband hou, ingestel word om die verspreiding van die virus te voorkom.

In Agri SA se daaglikse interaksie met die departement en ministerie van landbou word bestaande en potensiële probleme bespreek wat die landbousektor ondervind om kos te produseer. Dit word deur die minister aan die nasionale Covid-19- operasionele en intelligensie taakspan deurgegee.

Op dié span se aandrang is gewysigde regulasies in terme van art. 27(2) soos vervat in die Rampbestuurswet van 2002, waarin voedsel as ’n essensiële diens verklaar is, verder aangepas. Die oes en stoor van alle landbou-produkte wat wyn, tabak, katoen, wol en sybokhaar insluit, is nou toelaatbaar.

Staan saam en werk saam

Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA. Foto: Deaan Vivier

In tye soos dié is selfregulering en lidmaatskap van geakkrediteerde organisasies van die uiterste belang. Daar rus egter ’n baie groot verantwoordelikheid op die skouers van georganiseerde landbou om alle voorsorgmaatreëls in te stel om die verspreiding van dié dodelike virus te bekamp.

Dra sorg dat relevante persoonlike beskermende toerusting aan werkers verskaf word. Voldoende handhigiëne soos die gereelde was van hande en die gebruik van hand-ontsmettingsmiddels wat 70% alkohol bevat, is kritiek.

Pas die maatreëls oor ruimtelike afstand nougeset toe. Monitor werkers en tree onmiddellik op as iemand enige simptome van Covid-19 toon.

Agri SA het reeds die volgende maatreëls ingestel:

* Ons het ’n ramphulpsentrum op die been gebring wat fokus op daaglikse bywerkings, scenariobeplanning, kommoditeitsaangeleenthede, provinsiale aangeleenthede en korporatiewe kwessies wat met die inwerkingstelling van die maatreëls ondervind word. Kwessies wat gemonitor en bespreek word, is byvoorbeeld die bywerking van hawe-infrastruktuur, veiligheid, arbeid, vervoerprotokolle en invoer- en uitvoer-protokolle om maar ’n paar te noem.

* Ons het ’n bewegingspermit met ons logo aan ons lede versprei wat hulle met hul eie logo’s kan gebruik om aan die vereistes vir die permitte vir bewegingsprotokol te voldoen. In die Noord-Kaap, byvoorbeeld, het die provinsiale polisiestrukture ons logo’s en die versekering wat daarmee gepaard gaan, formeel onderskryf.

* Kommunikasie met ons lede is noodsaaklik, aangesien baie reëls in die regulasies verskillend in verskillende provinsies toegepas word. Ons bestuur dit deur ons lede, aangesien die reeks probleme wesenlik verskil. Daar was baie verwarring oor die registrasie van entiteite by die departement van handel en nywerheid – die standpunt is tans dat ondernemings op die databank kan registreer, maar dit word nie in die regulasies gedek nie en is ook nie verpligtend nie.

Ongelukkig sal alle sektore ekonomies hard getref word, maar die landboubedryf is nog steeds in ’n bevoorregte posisie om te kan produseer en voedsel vir ons land se mense te kan voorsien.

Daar rus egter ’n enorme verantwoordelikheid op ons om hierdie situasie met omsigtigheid en verantwoordelikheid te bestuur.

Landbou is die ruggraat van die Suid-Afrikaanse ekonomie. In desperate tye soos hierdie is dit veral nodig dat ons saamstaan, saamwerk en só die pad vorentoe bepaal.

* Van Zyl is uitvoerende hoof van Agri SA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Omri Van Zyl  |  Pandemie  |  Landbou  |  Inperking  |  Covid-19  |  Kos  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.