Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: ‘Diabete in groot gevaar’

Prof. Joel Dave, ’n spesialis-endokrinoloog van die Universiteit van Kaapstad (UK) en Groote Schuur-hospitaal, was al self met die koronavirus besmet, maar steeds gaan hy voort om ander slagoffers van die pandemie te red. Murray La Vita het hom oor sy werk gepols.

Prof. Joel Dave, ’n spesialis-endokrinoloog van die Universiteit van Kaapstad (UK) en Groote Schuur-hospitaal.

Jy is betrokke by die Wes-Kaap se aksieplan om Covid-19-pasiënte vroeër te identifiseer en te behandel voordat hulle ernstig siek word. Kan jy vir ons ’n aanduiding gee van hoe die plan werk? Word dit elders in die land ook toegepas?

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het mediese kundiges wyd gekonsulteer. Sy aksieplan is dus gegrond op wetenskaplike bewyse en waar bewyse nie beskikbaar is nie, vertrou hulle op konsensus onder kundiges. Ek was betrokke by die besprekings van die aksieplan.

Data in die Wes-Kaap dui daarop dat 80% van mense wat met diabetes lewe wat in hospitale opgeneem word, vir die eerste keer vir Covid-19 getoets word op die dag van hul opname.

Daarby is 65% van die mense wat met diabetes lewe en weens Covid-19 sterf, eers met hul hospitaalopname daarvoor getoets. Dit dui daarop dat diabete eers vir Covid-19 getoets word wanneer hul simptome reeds so ernstig is dat hulle gehospitaliseer moet word.

As ons dus mense met diabetes sover kan kry om hulle vroeër vir Covid-19 te laat toets, wanneer hulle simptome nie so ernstig is nie, sal dit aan gesondheidswerkers die geleentheid gee om hulle te behandel en sodoende die kliniese uitkoms verbeter.

Daar is nog niks spesifiek, buiten diabetesbeheer, wat die uitkomste by mense met diabetes verbeter nie.

Een van die ingrepe wat moontlik kliniese uitkomste kan verbeter, is diabetesbeheer. Die aksieplan van die Wes-Kaap se departement van gesondheid berus daarop om mense met diabetes te laat weet om hulle vroeër te laat toets.

Sodra Covid-19 by hulle gediagnoseer is, word die graad van hul risiko bepaal op grond van ouderdom, komorbiditeite en diabetesbeheer.

Die hoërisikogroep sal die geleentheid gegee word om in ’n intermediêresorg-gerief opgeneem te word terwyl die laerisiko- en matigerisikogroep afstandbehandeling sal ontvang in die vorm van daaglikse oproepe waarin hul simptome en diabetesbeheer geëvalueer sal word.

Ek is nie bewus van soortgelyke planne elders in die land nie.

Wat se soort behandeling ontvang diabete met Covid-19 om te voorkom dat hulle ernstig siek word?

Daar is nog niks spesifiek, buiten diabetesbeheer, wat die uitkomste by mense met diabetes verbeter nie. Pogings moet aangewend word om die bloedglukosevlak tussen 4 en 10 mmol/L te hou.

Jy het vroeër gesê beskikbare data dui daarop dat Covid-19 nie meer onder mense met diabetes voorkom nie.

Ja. Maar wanneer diabete eers met die virus besmet is, is hulle geneig om veel sieker te word as ander mense. Dit blyk uit data van talle lande en nou ook die Wes-Kaap se data.

Hoekom is diabete geneig om sieker te word as ander mense wanneer hulle Covid-19 opdoen?

Dit is weens ’n baie komplekse proses wat te doen het met reseptore en biochemiese paadjies in die liggaam. In breë trekke: mense met diabetes het ’n gebrekkige [dysregulated] immuunstelsel wat hulle aan ernstiger infeksies blootstel.

Kan sommige pasiënte wat baie siek is weens Covid-19 as gevolg daarvan diabetes ontwikkel?

Vir mense wat aan diabetes ly, is dit belangrik dat hulle hul dokters se riglyne sal navolg en sorg dat hul diabetes onder beheer is. Foto: Argief

In die Ernstige akute respiratoriese sindroom (Ears)-epidemie het dit aan die lig gekom dat die Ears-CoV-proteïen die betaselle van die pankreas kan beskadig en sodoende insulienvlakke laat afneem en diabetes veroorsaak. Daar is baie debatvoering oor of Ears-CoV-2 dit ook kan doen, maar daar is nog nie genoeg wetenskaplike data om hieroor uitsluitsel te gee nie.

Dit is van die allergrootste belang dat alle Suid-Afrikaners, en veral mense met diabetes, moet sorg dat hulle nie met Ears-CoV-2 besmet word nie. Daarom is dit só belangrik dat ons almal die voorkomende maatreëls nakom: dra ’n masker, handhaaf ’n afstand van minstens 2 meter van ander mense, was jou hande gereeld en moenie aan jou gesig raak nie.

Aangesien om oorgewig te wees of aan obesiteit te ly ook met ’n ernstiger graad van Covid-19 geassosieer word, is dit belangrik dat alle Suid-Afrikaners hul leefstyl só sal aanpas dat hulle gewig verloor indien nodig.

Vir mense wat aan diabetes ly, is dit belangrik dat hulle hul dokters se riglyne sal navolg en sorg dat hul diabetes onder beheer is. Hulle moet gereeld met hul gesondheidspraktisyn skakel indien hul diabetes nié onder beheer is nie.

Hoe raak die koronaviruspandemie jou as ’n dokter, ’n burger van Suid-Afrika en ’n mens?

Dave sê die dra van beskermende drag plaas ’n buffer tussen die dokter en die pasiënt, met die gevolg dat die persoonlike interaksie wat vir sowel dokters as pasiënte so belangrik is, heeltemal verlore geraak het. Foto: Deon Raath

Om in die frontlinie te help om die pandemie te bestuur lei tot negatiewe en positiewe belewenisse. As endokrinoloog is ek van my gekose subspesialiteit af weggeneem en heeltyds na die Covid-19- kliniese dienste by Groote Schuur ontplooi.

Die dra van beskermende drag plaas ’n buffer tussen die dokter en die pasiënt, met die gevolg dat die persoonlike interaksie wat vir sowel dokters as pasiënte so belangrik is, heeltemal verlore geraak het.

Wanneer ’n mens tuis kom ná rondes in die Covid-waaksaal en ander Covid-sale, moet ’n mens jouself baie versigtig ontsmet sodat jy nie jou geliefdes aan die virus blootstel nie.

Dié pandemie het dokters uit verskillende dissiplines en ander gesondheidswerkers gedwing om in spanne saam te werk om die uitkomste van ons pasiënte te verbeter.

Covid-19 is al by baie dokters, insluitend ek, gediagnoseer en moes vir 14 dae in selfafsondering weg van geliefdes deurbring. Daarby het ek al met talle siek pasiënte te doen gehad wat deur geen mediese intervensie gered kon word nie.

Aan die positiewe kant: Dié pandemie het dokters uit verskillende dissiplines en ander gesondheidswerkers gedwing om in spanne saam te werk om die uitkomste van ons pasiënte te verbeter.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het aan ons die middele gegee wat ons in staat gestel het om baie pasiënte se lewens te red wat andersins verlore sou gewees het.

Om betrokke te wees en om ons land se mense te help om teen hierdie siekte te veg en die verwoesting daarvan te oorleef, is geweldig bevredigend.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Diabetes  |  Dokters  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.