Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: ‘Dit kan ons lewe beter maak’

Hoe kan Suid-Afrikaners hulself sielkundig beskerm en weerbaarheid ontwikkel teen die hoë vlakke van smart, onsekerheid, stres en angs wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak word? Dr. Kagisho Maaroganye het met Murray La Vita hieroor gepraat.

Sasop het mense aan die begin van die pandemie daarop bedag gemaak dat hulle moontlik sielkundige stres kan beleef. Foto: Gallo Images

“Dis nie asof ons nog nie van pandemies gehoor het nie, maar dit was altyd iemand anders se probleem – iets ver van ons af daar in Asië of elders. So, ek dink mense was sielkundig nie voorbereid op die huidige pandemie nie,” sê Maaroganye, ’n psigiater en nasionale sameroeper van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters (Sasop), in ’n Zoom-onderhoud uit sy huis in Pretoria.

“In China het hulle onmiddellik aanlyn sielkundigehulpdienste vir mense beskikbaar gemaak omdat hulle geweet het dit kan ’n impak hê op hul psigiese welstand.

“Ek dink nie ons het heeltemal geweet wat om te doen nie. Maar Sasop het mense aan die begin van die pandemie daarop bedag gemaak dat hulle moontlik sielkundige stres kan beleef wat kan wissel van slegte slaappatrone, onttrekking en geïrriteerdheid tot ernstige psigiese steurnisse soos depressie, angs, posttraumatiese stressindroom en aanpassingsteurnis.

Dan is daar die feit dat jy dalk ook van jou kollegas en jou werkplek afgesonder is.

“Omdat Covid-19 lewensgevaarlik is, is almal bang dat hulle kan sterf. Daarby vereis die pandemie van ons sosiale afsondering van wisselende grade, so jy is dikwels verwyder van jou vriende en familie, wat onder normale omstandige ’n belangrike rol in ons lewe en ons psigiese welstand speel.

“Dan is daar die feit dat jy dalk ook van jou kollegas en jou werkplek afgesonder is. Vir baie mense was dit ’n ontvlugting om werk toe te gaan indien hulle by die huis moeilike omstandighede of selfs teistering beleef het, en nou is hulle dit ontneem.

“Vir sekere tye is mense ook toegang tot tabak en alkohol ontsê. Ek praat nie die gebruik daarvan goed nie, maar mense gebruik dit dikwels as ’n vorm van selfmedikasie en skielik is dit nie meer daar nie.”

‘Dít kan jou breek’

Hy praat oor die impak van die pandemie op verhoudings; hoe dit verhoudings “blootlê”.

“Indien daar voorheen huweliksprobleme was, word dit nou dalk erger omdat mense die heeltyd in mekaar se teenwoordigheid is.

“Daarby is die kwessie dat jy as broodwinner dalk daarvoor verantwoordelik is om na die welstand en behoeftes van jou kinders om te sien, en nou is jou salaris weens die pandemie verminder of jy het jou werk verloor.

“So, al hierdie dinge wat met die pandemie verband hou, kan ’n mens breek indien jy nie die nodige sielkundige weerbaarheid het nie.”

Kennis is mag

Dr. Kagisho Maaroganye Foto: Verskaf

Mense voel oorweldig en asof hulle beheer verloor het oor sekere aspekte van hul werklikheid.

“Daardie gevoel van beheer is baie, baie belangrik, want as ek voel of ek in beheer is, is ek minder geneig om angstig te raak en is ek minder besorg oor myself en my omgewing.

“Ek stel altyd aan mense voor: ‘Kom ons werk met dit waaroor ons beheer het’. So, in die geval van die pandemie is om jouself op te voed en sover as moontlik in te lig die een ding wat jy kán beheer.

“Een van die dinge wat ons verlede jaar aan mense voorgestel het, is om daaroor op te lees en so gou as moontlik akkurate inligting daaroor in te win. Selfs in my eie leeswerk het ek gou uitgevind dieselfde voorsorgmaatreëls wat in ander pandemies gegeld het, was ook hier van toepassing. Ek het myself dus met daardie inligting bewapen. Ek het byvoorbeeld uitgevind die chirurgiese masker bied beter beskerming as ’n gewone masker, en ek het dít begin dra.

Jy gaan dink: ‘Gaan ek nou die virus kry?’ En dít gaan jou laat stres.

“Wanneer jy sulke inligting het, is jy onmiddellik minder gespanne en gestres. Jy dink: ‘Ja, ek kan dit dalk kry, maar op grond van wat ervaring in ander pandemies en die wetenskap ons leer, is die kanse skraler’.

“Wat ook binne jou beheer is, is om te verseker dat jy gereeld jou hande was. So, ek het vir my pasiënte gesê om net die basiese dinge te doen. Daar is weliswaar studies wat wys mense wat die basiese riglyne navolg – sosiale afstand, dra van maskers, was van hande – is geneig om minder stres te ervaar as dié wat dit nié doen nie.

“Kom ons wees eerlik: Indien jy ’n familiebyeenkoms bygewoon het en nie ’n masker gedra het, hande gewas en sosiale afstand gehandhaaf het nie, gaan jy die volgende dag bekommerd wees. Jy gaan dink: ‘Gaan ek nou die virus kry?’ En dít gaan jou laat stres.”

‘Handhaaf balans’

Ek pols hom oor hoe die groot aantal mense wat sterf eise kan stel aan mense se vermoë om om te gee of deernis te openbaar, en selfs tot afstomping kan lei.

“ ’n Mens moet aan jou psigiese welstand dink soos wat jy aan jou fisieke welstand dink – daar is ’n beperkte kapasiteit.

Wat mense behoort te doen, is om ’n blaaskans te neem.

“So, as ek te vinnig hardloop, gaan ek uiteindelik te min suurstof inkry, my spiere gaan seer word en ek sal moet ophou. Dieselfde geld psigiese welstand.

“Wat mense behoort te doen, is om ’n blaaskans te neem. Indien jy iemand is wat byvoorbeeld in jou gemeenskap daarmee gemoeid was om na mense om te sien deur byvoorbeeld aan hulle kospakkies te verskaf, moet jy probeer om ’n balans te kry tussen daardie omgee en om vir jouself om te gee. Bederf jouself, oefen, mediteer – daardeur bou jy jou reserwes weer op.”

‘Dit speel met jou kop’

Daar is studies wat wys mense wat die basiese riglyne – soos die handhawing van gesonde afstande en die dra van maskers – navolg, geneig is om minder stres te ervaar as dié wat dit nie doen nie. Foto: Helena Barnard

Die feit dat so baie mense weens die pandemie sterf, kan mense inderdaad laat afstomp.

“Maar dit bly merendeels vir mense baie stresvol en skokkend as gevolg van hóé pasiënte sterf. Jy mag dalk in die eerste plek nie eens weet dat iemand siek is of was nie en dan vind jy uit die bloute uit een of ander hoëprofiel-mens is dood nadat hulle vir ’n maand of wat siek was. Ons kan onsself dus dikwels nie eens sielkundig daarop voorberei nie.

“Die ander ding is die onvoorspelbaarheid van die siekte. Mense kan gehospitaliseer word en dan skynbaar gesond word en ontslaan word, maar twee dae later word hulle weer opgeneem en sterf. So, dit speel met ’n mens se kop.

Ek wou nie negatief of alarmisties wees nie, ek het probeer om mense daarop voor te berei sodat hulle die nodige aanpassings kan maak.

“Dus: Dit is onvoorspelbaar, dit is skielik en dit het erge uitkomste binne ’n kort tydperk. Dit is baie moeilik vir enigiemand om daardie werklikheid te hanteer tensy jy jou eie geluk of gunstige omstandighede begin waardeer – die feit dat jy nog leef.

“Jy moet vir jouself vra: Hoe kan ek nog ’n sterfte voorkom? Indien daar talle geliefdes is wat sterf, is dit belangrik dat iemand in een of ander stadium vra: ‘Ouens, wat doen ons verkeerd? Ons kan nie nog iemand verloor nie.’

“So, jy neem beheer van die situasie.”

‘Wees voorbereid’

Watter impak het die wete dat die pandemie vir nog baie lank – en dalk vir altyd – deel van ons werklikheid gaan wees, op mense se psiges?

“Omdat ’n mens so baie van vorige pandemies gelees het en jy weet dit in vlae kan voorkom – selfs tydens die eerstevlaag-inperking was daar al sprake van tweede en derde vlae – het ek aan die einde van die eerste vlaag vir my kollegas gesê: ‘Maak reg vir die volgende vlaag’.

“Ek wou nie negatief of alarmisties wees nie, ek het probeer om mense daarop voor te berei sodat hulle die nodige aanpassings kan maak.

Ek dink ons moet aanvaar dit gaan lank duur en moet seker maak dat daardie wete ons nie onderkry en laat voel of ons handdoek wil ingooi nie.

“Gaan ek my huis meer gemaklik maak? Gaan ek dalk afgedank word en moet ek solank ander werk begin soek? Wat kan ek medies gesproke doen? Moet ek meer vitamienaanvullings drink en meer tyd in die son deurbring? Moet ek aan die entstof begin dink?

“So, wanneer ’n mens tot die besef kom van hoe lank die pandemie nog gaan duur, moet jy jouself daarop begin voorberei. Dit is dus ook belangrik dat hierdie inligting – dat dit baie lank kan duur – so wyd as moontlik bekend gemaak moet word. Mense moet dit wéét; dit moenie vir hulle weggesteek word nie.

“Ek dink ons moet aanvaar dit gaan lank duur en moet seker maak dat daardie wete ons nie onderkry en laat voel of ons handdoek wil ingooi nie. Dink eerder: Hoe kan ek in hierdie nuwe wêreld leef?”

‘ ’n Ander intimiteit’

Mense voel oorweldig en asof hulle beheer verloor het oor sekere aspekte van hul werklikheid. Foto: Gallo Images

Die gebrek aan fisieke intimiteit tydens die pandemie hoef nie nét negatief te wees nie.

“Intimiteit hoef nie net deur fisieke kontak uitgedruk te word nie. As jy met iemand gesels – al sit julle ’n meter en ’n half van mekaar af – en daardie persoon deel diep gedagtes en jy doen dieselfde – dít kan óók intiem wees.

“Dít kan ook van waarde wees op ’n sielkundige vlak en jy voel waarskynlik ’n sterker kontak met die persoon as in ’n situasie waar daar net fisieke kontak maar geen gesprek is nie, want kom ons wees eerlik: Die meeste verhoudings gaan mank aan voldoende verbale kommunikasie.

“Dit is dus ’n kans vir mense om dit ’n bietjie meer te verken; om te sê: ‘Goed, ons is nie fisiek intiem nie, maar kom ons práát’. Só kan kwessies of probleme in hul verhouding wat dalk al vir jare daar is, opgelos word.

Om ’n meter of wat van iemand af te wees het nou vir my intiem geword. Die een meter het amper die nuwe omhelsing geword.

“Waardeer ook iemand se teenwoordigheid en verken nuwe maniere van saamwees, soos om saam te oefen of ’n stokperdjie te bedryf. So, dis nie net ’n geleentheid om meer met iemand te praat nie, maar ook nuwe dinge saam te doen.”

Nou is ook ’n goeie tyd om jou lewe meer “vaartbelyn” te maak.

“Vra jouself af: Wie wil ek in my lewe hê? Ek het baie vriende, maar wie is vir my belangrik? Maak dan daardie mense deel van jou intieme kring.

“Wat ek en my vriende byvoorbeeld doen, is om op die hoogte van mekaar se welstand te bly en seker te maak iemand is veilig.

“ ’n Mens het in elk geval ’n klein groep vriende nodig wat positief is en op wie jy kan staatmaak en wat goed is vir jou psigiese welstand.

“Om ’n meter of wat van iemand af te wees het nou vir my intiem geword. Die een meter het amper die nuwe omhelsing geword,” sê hy laggend.

‘Wees dankbaar’

“Ek dink ons moet aanvaar dit gaan lank duur en moet seker maak dat daardie wete ons nie onderkry en laat voel of ons handdoek wil ingooi nie.” Foto: Verskaf

Ons is dikwels nie dankbaar genoeg nie.

“Ons streef dikwels na dinge wat ons nie het nie en dink mettertyd ons het nie genoeg nie. En nou het Covid-19 jou geforseer om op te hou om na nóg dinge te hunker en in jou huis rondom jou te kyk en te besef wat jy reeds het. Skielik besef jy: Ek het ’n yskas vol kos; ek het meubels, en ek kan vir dae aaneen in my huis bly sonder om uit te gaan. Dít maak ’n mens meer dankbaar en dit is een van die positiewe dinge wat uit die pandemie voortspruit: Mense waardeer wat hulle het en besef dit is nogal baie.”

Die pandemie bied ook aan mense die geleentheid om hul fisieke en psigiese welstand meer te waardeer.

“Baie mense was voorheen dalk onverskillig oor persoonlike higiëne: was nie hul hande gereeld nie; stort nie dikwels genoeg nie; nies sonder om ’n hand voor die gesig te hou.

“Dít was altyd ’n probleem en nou met Covid-19 is mense meer bedag hierop. Ons weet ook onderliggende siektetoestande maak mense meer weerloos teen die virus.

“Nou sê jy moontlik vir jouself: ‘Ek behoort in elk geval nie hierdie onderliggende toestande te hê nie. Miskien behoort ek nie diabetes of hoë bloeddruk te hê nie. Hoe kom ek dit te bowe?: O, ja, my dokter het vir my gesê oefen en eet gesond; moenie rook en te veel drink nie. Miskien moet ek daarop ag slaan.’

“Dit mag dus dalk so wees dat mense nou meer gesond begin leef. En ook herbesin oor byvoorbeeld hul alkohol- en dwelmgebruik en laat dink: ‘Dít is dalk nie iets wat ek werklik nodig het nie’.”

‘Kry behandeling’

Maaroganye moedig mense aan wat vroeë tekens van sielkundige nood ervaar – soos slapeloosheid, geïrriteerdheid, ’n gebrek aan belangstelling in aangename aktiwiteite of om na jouself om te sien – om professionele hulp te kry.

Daar bestaan egter by baie mense wanopvattings oor psigiatrie of sielkunde. Dit sluit in negatiewe houdings jeens psigiese ongesteldheid of mense wat daaraan ly, ’n onkunde oor die aard daarvan, en die beskouing dat dit onmoontlik is om daarvan te herstel, asook dat psigiatriese medikasie verslawend is en al sulke medikasie aaklige en onomkeerbare newe-effekte het.

Hy doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om nie bang te wees om professionele hulp te kry nie.

“Hulle sal bewus wees van al hierdie wanopvattings en sal jou kan gerusstel en verseker dat jy die behandeling kry wat jy nodig het.”

Meer oor:  Stres  |  Depressie  |  Covid-19-Pandemie  |  Onsekerheid  |  Smart  |  Angs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.