Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: Gevaarligte flikker vir demokrasie

Ingrypende magte is ingevolge die Wet op Rampbestuur aan die uitvoerende gesag gegee. Elmien du Plessis vra of dit nie beter sou gewees het om ’n noodtoestand uit te roep nie?

’n Lid van die weermag by ’n padblokkade in Woodstock op die eerste dag van die staat van inperking. Foto: Jaco Marais

As Suid-Afrikaners ken ons die siklus van krisisse. In onlangse dekades doen ons dit in ’n grondwetlike bestel wat probeer om die instandhouding en bou van strukture van ’n demokratiese regering te verseker, gegrond op verantwoordelikheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid.

Maar geen onlangse krisis was nog so groot en so indringend soos Covid-19 nie. Krisistye bring foutlyne na vore en dwing verstopte bottelnekke oop teen ’n ysingwekkende spoed. Dit toets individuele en kollektiewe veerkragtigheid en die vermoë om vinniger as gewoonlik aan te pas, dikwels gegrond op ruwe bespiegeling van hoe die krisis gaan uitspeel. Oplossings moet gesoek word vir ’n onsekere uitkomste namate ons aangaan. Die reg het dié pad nie vrygespring nie.

Ten tye van onsekerheid (en dronk van vrees) is dit te verstane dat party mense instinktief met ’n kragdadige veglus teen die virus reageer. Maar vrees is ’n swak raadgewer. Oomblikke van ’n paniek en chaos druk soms ons gesigte in die dinge wat ons weier om te sien. Soos die keuses wat ons bereid is om te maak in krisistye ten opsigte van ons regte – ter wille van oorlewing.

Die virus kán nie sonder ons bestaan nie, vandaar die noodsaaklikheid om seker te maak dat die virus ’n dood in isolasie en afsondering sterf.

Ons sal moet dink oor ons keuses wanneer die ergste verby is.

Ons sal ook moet dink oor die gebruik van die taal van geweld om oor die virus te praat. Daar word gesê ons is in ’n oorlog gewikkel teen die virus. Oorloë regverdig kragdadige optrede; dit vereis verwoesting. Oorloë bring paniek en hopeloosheid terwyl ons oplossing lê in individuele kollektiewe optrede – die feit dat jy tuisbly en niks doen nie, beteken juis dat jy iets doen.

Verder het die virus ’n ongemaklike simbiotiese verhouding met ons as mense. Ons is verstrengel met mekaar. Die virus kán nie sonder ons bestaan nie, vandaar die noodsaaklikheid om seker te maak dat die virus ’n dood in isolasie en afsondering sterf. Om in ’n oorlog met die virus te wees is om ’n oorlog teen onsself te voer.

Die metafoor help nie.

’n Skisofreniese samelewing

Gemaskerde soldate patrolleer die strate van Alexandra om seker te maak inwoners bly so ver moontlik in hul huise.Foto: Tebogo Letsie

Ons weet tentatief dat afsondering een manier is om die verspreiding van die virus te keer. Aan die een kant van die skaal is China: ’n Algehele sluiting van alles, ’n opskorting van alle regte en ’n staat wat ’n wakende oog hou oor sy burgers en kragdadig reageer indien iemand die reëls oortree.

Daarteenoor maak Swede staat op die vertrouensverhouding tussen die staat en sy burgers. Die staat gee riglyne aan sy burgers om self verantwoordelikheid te neem en vrywillig af te sonder.

Met die skisofreniese aard van ons samelewing en die ekonomie wat reeds vóór die krisis in gevaar was, is die vraag: Watter maatreëls moet Suid-Afrika tref om die impak van die virus so klein as moontlik te maak?

Hoe los ons die probleem op sonder om ons demokrasie en Grondwet op te skort?

Watter wetgewing moet ingespan word, en hoe gaan die wette gemaak word? Hoe los ons die probleem op sonder om ons demokrasie en Grondwet op te skort?

Ons beroep ons nou op die Wet op Rampbestuur. Dit gee die staat ingrypende magte om rampe te bestuur. Die doel van die wet is om ’n geïntegreerde en gekoördineerde rampbestuurbeleid daar te stel wat fokus op die voorkoming of vermindering van die risiko van rampe en om voorbereid te wees op noodgevalle en om vinnig en doeltreffend te antwoord op ’n ramp. Dit word gedoen deur nasionale, provinsiale en munisipale rampbestuur sentra op te stel.

Die doel van die wet is dus om samewerking van die verskillende sfere van die regering te koördineer. Dit gaan oor die operasionele kant van die bestuur van ’n ramp in ’n spesifieke gebied. Natuurlik kan in dié proses inbreuk gemaak word op menseregte, maar die beperkings moet steeds aan die Grondwet voldoen. Dit is in dié konteks waarin art. 27 van die wet, wat die ministers magtig om (redelike ingrypende) regulasies te maak, gesien moet word.

’n Rampstaat

Ears-CoV-2, die virus wat Covid-19 veroorsaak, het selfs in Suid-Afrika die gevaarligte laat flikker vir die demokrasie.Foto: Foto24

Die minister mag die land tot ’n rampstaat verklaar binne die perke van die wet. Die magte word beperk deurdat dit vir ’n spesifieke doel beoefen moet word en dit kom tot ’n einde drie maande nadat ’n rampstaat uitgeroep is – tensy die minister dit vir nog ’n maand verleng.

Dié regulasies word nie deur ’n wetgewer uitgevaardig nie. Die magte om dit uit te vaardig word gedelegeer na ’n minister wat die magte binne die strekking van die wet (en die Grondwet) moet uitvaardig. Howe kan regulasies ongrondwetlik of ongeldig verklaar indien die minister die perke van die magte wat die wet hom gee oorskry.

Dit blyk dat die wet fokus op gelokaliseerde rampe. Maar Covid-19 is anders as ander rampe, selfs mediese rampe soos Ebola. Dit is meer aansteeklik, asimptomatiese mense kan ander vermoedelik aansteek sonder dat hulle dit weet, dit versprei vinnig in groepe, en daar is ’n risiko dat mense gehospitaliseer moet word en natuurlik kan sterf. Daar is ook nie genoeg toetse nie, die toetsing kan nog nie vinnig genoeg gebeur nie, en daar is nie spesifieke behandeling nie. ’n Inenting daarteen sal waarskynlik eers oor sowat 18 maande beskikbaar wees. Sonder ingryping sal die virus ons reeds brose gesondheidstelsel verlam, wat tot ’n groter dodetal sal lei.

Dit is dus tereg ’n openbare gesondheidsramp. Om ’n ramptoestand binne die gewone wetgewing af te kondig was dus die eerste stap. Dit stel geld beskikbaar om die probleem die hoof te bied en dit sorg vir koördinasie tussen verskeie departemente en sfere van die regering om die ramp te bestuur. Dit is waarskynlik selfs toelaatbaar om maatreëls vir afstandhouding af te kondig, soos die eerste regulasies gedoen het.

Demokrasie opgeskort?

Prof. Elmien du PlessisFoto: Murray Louw

Drastiese inperkings wat fokus op die wetenskaplike assesserings van individuele risiko’s, uitgevoer deur regverdige prosedures deur die mins ingrypende middele, is regverdigbaar. Maar die vraag is of grootskaalse, landwye inperkings en die ontplooiing van die weermag binne normale wetgewing regverdigbaar is, hoe reg die maatreëls ook al mag wees.

Sommige kommentators is van mening dat dit irrelevant is – die doel heilig die middele, al word demokrasie tydelik opgeskort.

’n Binêre siening dat jy óf iets doen deur die demokrasie op te skort, óf niks doen nie, kyk egter mis dat ons Grondwet wél daarvoor voorsiening maak om die krisis aan te pak sonder om die demokrasie op te skort. Daar is ’n fyn balans tussen wanneer gewone wetgewing genoegsaam en regverdigbaar is, en wanneer spesifieke maatreëls in werking tree wat ’n grondwet vir tye soos dié neerlê.

Ons Grondwet maak voorsiening vir ’n noodtoestand. Weens die apartheidsregering se misbruik van uitvoerende magte tydens ’n noodtoestand, maak ons Grondwet voorsiening vir beskerming teen die indringende uitvoerende mag in so ’n noodtoestand.

Die president proklameer ’n noodtoestand, wat hom in staat stel om regulasies uit te vaardig om vrede en orde te herstel deur verdere regulasies uit te vaardig. Die proklamasie en die regulasies moet voor die Nasionale Vergadering dien, wat vir lede van die parlement die geleentheid gee om insette te lewer indien nodig. Daar is dus ’n mate van oorsig, aangepas vir krisistye.

Ook howe se bevoegdheid om die proklamasie en die regulasies te toets vir grondwetlikheid word uitgespel. Die noodtoestand is slegs vir 21 dae ná die verklaring daarvan van krag, maar kan verleng word indien die parlement daartoe instem.

Selfs te midde van ’n krisis bly ons ’n demokrasie.

Dus, soos die rampwet het die uitvoerende mag redelike breë magte om die krisis te beheer, maar anders as die wet is daar in die proses oorsig van die parlement.

Die probleem is dus nie noodwendig die maatreëls self nie, maar in hóé die wetgewing gemaak word in ’n krisistyd, en die implikasies daarvan vir die toekoms.

Selfs te midde van ’n krisis bly ons ’n demokrasie. En midde in die krisis is dit dalk nie gewens om die regulasies te toets vir moontlike ongrondwetlikheid nie want die praktiese gevolge kan katastrofaal wees.

Maar iewers moet ons reflekteer op die langtermyn-implikasies van die roete wat ons gekies het.

Sonder refleksie kan dit die nuwe normaal wees, waar ingrypende magte in ongewone tye deur gewone wetgewing aan die uitvoerende gesag gegee word. Dit in plaas van ’n proses wat deur die Grondwet gedryf word, wat daar is vir buitengewone omstandighede, en wat toelaat vir ’n tydelike opskorting van sekere van ons regte sonder om ons demokrasie op te skort.

*Prof. Du Plessis is grondwetkenner aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Demokrasie  |  Koronavirus  |  Noodtoestand  |  Grondwet  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.