Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19 is die perfekte postnormale storm

Die kundiges meen ons moet in die tyd van die Covid-19-pandemie leer om die onverwagte te verwag, gemaklik te raak met die ongemaklike, en te dans, al ken ons nie die liedjie nie, skryf Chris Jones.

’n Vrou wat saam met ’n groep vriende van Florida na Colorado in die VSA reis, afgeneem teen sonsondergang by die Monument Rocks suid van Oakley in Kansas. Mense in die VSA begin al hoe meer reis soos die inperkingsmaatreëls in deelstate verslap word. Foto: AP

In hierdie bydrae word sterk aangesluit by die gedagtes van Jordi Serra del Pino, Christopher Jones en Liam Mayo in hul artikel “The Postnormal Perfect Storm”. Volgens hulle is die Covid-19-pandemie ’n perfekte voorbeeld van ’n Postnormale Tye-verskynsel.

Postnormale Tye word beskou as ’n tussen-periode waarin ou ortodokse sienings aan die uitsterf is, nuwes nog gebore moet word en baie min dinge oënskynlik sin maak.

Of, soos die Italiaanse joernalis Ezio Mauro dit in sy gesprek met die ontslape Britse sosioloog Zygmunt Bauman gestel het: “We are hanging between the ‘no longer’ and the ‘not yet’ ”, en daarom is ons noodwendig in ’n tyd van onsekerheid en onstabiliteit.

Ons leef tans in ’n oorgangsperiode, in ’n tyd waar ons eintlik nie meer die vertroue het om terug te keer na vorms van die verlede wat ons geken het nie, maar ook nie die vertroue het in enige pad wat ons na ’n wenslike, haalbare en/of volhoubare toekoms wil lei nie.

Ons onthou die klassieke tyd, die modernisme en postmodernisme, maar bevind onsself vir die afgelope dekade in postnormale tye.

’n Winkelpop met ’n masker in die Israeliese stad Bethlehem. Foto: Reuters

Hoe het ons hier beland?

Die feit dat die tempo van verandering in ons hedendaagse tyd versnel het, het beslis iets hiermee te doen. So ook die vermoë om vinnig met miljoene mense te kan kommunikeer – danksy sosiale media.

Ons leef in ’n geglobaliseerde wêreld waar mense op ontelbare maniere onderling verbind en afhanklik is.

Nuus en inligting, sowel as fopnuus, word teen ’n verstommende tempo versprei. Al hierdie aksies, interaksies en interkonneksies, plaaslik en wêreldwyd, wat feitlik elke aspek van ons lewe raak, lei voortdurend tot veranderinge wat ons nog nie voorheen gesien of ervaar het nie – die sogenaamde postnormale verandering.

Hierdie verandering is ’n direkte produk of gevolg van die snelheid (speed) waarteen verandering plaasvind; die wêreldwye omvang (scope) van hierdie verandering; die feit dat hierdie verandering tot op individuele vlak kan afskaal (scale); en dat dit dikwels gelyktydig (simultaneity) plaasvind.

Hierdie 4S’e definieer die dinamika van postnormale verandering.

Mense met gesigsmaskers stap verby die Bank van Engeland in Londen. Foto: Reuters

Postnormale verandering lewer nie outomaties postnormale verskynsels op nie. Maar ’n onderling verbonde, geglobaliseerde wêreld, met ’n magdom wettige en onwettige moontlikhede, veelvuldige skale en talle elemente van interaksie met geen voor die handliggende onderlinge verhouding tot mekaar nie, bring teenstrydighede (contradictions) na vore en verhoog die kompleksiteit (complexity) van ’n stelsel.

Kompleksiteit en teenstrydighede genereer dan terugvoerlisse wat tot chaos (chaos) lei. Dit is wanneer die 3C’s – kompleksiteit (complexity), teenstrydighede (contradiction) en chaos bymekaarkom, dat ’n postnormale verskynsel ontstaan.

Gesamentlik vorm die 4S’e en die 3C’s die basiese pilare van die Postnormale Tye-teorie.

Postnormale gebeure en probleme kan nie werklik beheer of bestuur word nie – dit kan slegs genavigeer word.

In ’n poging om postnormaliteit te verstaan, moet ons die onsekerhede en leemtes in ons eie kennis, wat ook dikwels ons vooroordele blootlê, erken en daarmee handel; of ons moet ons basiese aannames, idees, waardes en wêreldbeskouings hersien; of andersins moet ons wag vir die toekoms, wat dalk die enigste manier is om dit aan te pak.

As sodanig kan postnormale gebeure en probleme nie werklik beheer of bestuur word nie – dit kan slegs genavigeer word.

So, waarom word daar geglo dat die Covid-19-pandemie postnormaal is? Omdat dit, om mee te begin, al die eienskappe van postnormale verandering vertoon: snelheid, omvang, skaal en gelyktydigheid – die 4S’e. Kom ons kyk kortliks een vir een hierna.

Snelheid

Dit is duidelik dat besmetting met hierdie virus geweldig vinnig versprei (het). Die eerste bevestigde geval waarvan ons weet, is op 17 November 2019 aangeteken. Vandag, enkele maande later, is daar sowat 4,9 miljoen mense wêreldwyd besmet, met meer as 320 400 sterfgevalle.

Omvang

Globale 2020-infeksiekaarte wys vir ons hoe wyd hierdie virus versprei het in ’n relatief kort tyd. Dit het, soos ons weet, in Wuhan, China, ontstaan en daarna onder meer deur land- en lugvervoer, asook by wyse van groepinfeksie soos partytjies, ski-uitstappies en konferensies verder versprei.

Tans kom dit reeds in 213 lande en gebiede wêreldwyd voor.

Skaal

Wat die wêreldwye resessie in 2008 en die groeiende klimaat-uitdagings nie kon vermag nie, naamlik om die vlerke van die wêreld-markekonomie te knip, is deur die Covid-19-pandemie reggekry.

Dit beïnvloed byna elke individu, in elke gemeenskap oor die hele wêreld heen. En daar is nog geen duidelikheid oor wat die werklike invloed hiervan op middel- of lang termyn gaan wees nie.

Ook is ’n moontlike entstof nog nie in sig nie.

Gelyktydigheid

Mense se temperatuur word gemeet in ’n winkelsentrum in Bisjek, die hoofstad van Kirgistan. Foto: Reuters

Tydens hierdie pandemie, wat miljoene lewens beïnvloed, leer gemeenskappe skielik hoe om binnenshuis te leef, baie stede lyk soos spookdorpe en die natuur kry ’n blaaskans van menslike bedrywighede. Nog voorbeelde sou genoem kon word oor wat alles tydens hierdie pandemie gelyktydig plaasvind.

Dit bring ons by die tweede deel van hierdie artikel. Ziauddin Sardar, die Brits-Pakistanse toekomskundige, het aanvanklik aangevoer dat postnormale tye die uitvloeisel is van die groeiende magte van kompleksiteit, chaos en teenstrydighede – die 3C’s.

Kompleksiteit, chaos en teenstrydighede het nog altyd bestaan, maar tans loop hulle op besondere maniere saam en voed mekaar op unieke en onvoorspelbare wyses.

Kompleksiteit

Kompleksiteit is die eienskap van ’n stelsel wat veelvoudige komponente het wat op baie maniere in wisselwerking met mekaar is. Komplekse stelsels vertoon gedrag gegrond op die interaksie van hierdie komponente, onder andere selforganisasie, nie-lineariteit, ontluiking, terugvoering-siklusse en aanpassing.

Die Covid-19-pandemie is juis die gevolg van verskeie, diverse elemente wat gelyktydig funksioneer.

Chaos

Die tweede C in die PNT-analise, naamlik chaos, word gesien as die kenmerk van dinamiese nie-lineêre stelsels wat oneweredige verhoudingsinsette en -uitsette lewer. Die Covid-19-pandemie het op baie maniere chaotiese gedrag tot gevolg.

Ons weet min oor die virus, en die hoë tempo van infeksies en asimptomatiese draers lei daartoe dat ’n wye verskeidenheid reaksies ’n groot verskil in resultate lewer. In baie opsigte is hierdie hele krisis soos ’n gebeurtenis waar duisende vlinders gelyktydig begin vlieg, sonder dat iemand hulle opmerk, en dan skielik versprei op ’n manier wat te wydverspreid is om te beperk.

Dan is daar ook nog samesweringsteorieë en fopnuus. Maar dit is die “opwindende” deel van die lewe in postnormale tye. Die kundiges meen ons moet leer om die onverwagte te verwag, gemaklik te raak met die ongemaklike, en te dans, al ken ons nie die liedjie nie.

Teenstrydighede

Chris Jones

Die teenstrydighede in hierdie krisis is duidelik.

Pogings deur politici om die krisis te vertraag, en in baie gevalle paniek te vermy, het dit in opsigte vererger. Gevestigde waardes kom in die pad. Die waardes van ekonomiese produksie, werkgeleenthede en voortgesette groei werk teen gemeenskapsgesondheid en welstand. Hierdie krisis sal, soos geen ander nie, die direkte verhouding tussen mensgesentreerde waardes, veral ekonomiese waardes, en dié van die res van die planeet belig.

Voorlopige syfers toon reeds die verbetering in die gehalte van lug, water en atmosfeer as gevolg van die ekonomiese verlangsaming.

Baie mense sê die Covid-19-pandemie laat Moeder Aarde weer asemhaal.

Behalwe vir ’n hele klomp ander teenstrydighede, is die mees pynlike een die morele dilemma tussen lewens red of werk red. Of nog erger: mense doodmaak wat nie inperking respekteer nie (’n maatreël wat oorspronklik bedoel is om hulle veilig te hou), soos in die geval van pres. Rodrigo Duterte van die Filippyne wat beveel het dat oortreders geskiet moet word.

’n Mens kan nie sommer ’n beter voorbeeld vind van ’n volwaardige postnormale gebeurtenis as die Covid-19-krisis nie.

Eintlik kan dit ’n postnormale perfekte storm genoem word.

Uiteraard is die beste manier om ’n storm te navigeer, om te kan antisipeer en die koers te probeer vind wat ’n mens daarvan kan wegneem. Dít is waarmee ons tans besig is.

* Dr. Jones is hoof van die eenheid vir morele leierskap aan die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.