Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: Is ouer mense kansvatters?

Is ouer mense geneig om opstandig te wees en die Covid-19-regulasies te verontagsaam omdat hulle voel hulle “het niks om te verloor nie” en hulle die laaste deel van hul lewe wil geniet? Murray La Vita het ondersoek ingestel.

Abdulmotallib Parker (85) voor die inperking in sy winkel in Woodstock. Foto: Lerato Maduna

’n Ou winkelier gaan sit saans, ná toemaaktyd, in sy winkel waarin hy nie meer bedags kan kom nie. In die Bo-Kaap trek ’n 90-jarige vrou haar mooi aan vir gaste wat nie opdaag nie. ’n Geliefde wiskunde-onderwyseres van Mark Shuttleworth doen aanlyn kunsklasse. En teen die hange van Tafelberg reël ’n 83-jarige oudoperasangeres Zoom-vasvra-aande.

Dít is grepe uit die lewe van ouer mense met wie ons gepraat het om vas te stel of hulle, soos Nataniël onlangs in een van sy Kwessie van ’n dag-podsendings op Netwerk24 sê: “minder tyd op aarde oor het as ander en dit régtig moeilik vind om nie hierdie tyd ten volle te benut nie.” En “bereid is om groter risiko’s te neem ter wille van sosiale kontak.”

‘Nie opstandig’

Betty Solomon

Betty Solomon (83), inwoner van ’n aftreeoord in Rondebosch, sê sy en die meeste ouer mense wat sy ken, is nie opstandig oor die inperkingsregulasies nie en hou daarby.

“Ons is almal te bang om met die virus besmet te word . . . Maar daar is mense wat die regulasies verbreek en byvoorbeeld sê te hel daarmee en dan uitgaan. Almal mis hul wyn verskriklik en sommige se kinders het vir hulle voorraad ingesmokkel.” Sy lag. “Ekself drink nie, so dit het nie op my ’n uitwerking nie.

“Ek sou nie sê my lewe is geweldig deur die inperking ontwrig nie. ’n Mens het wel hierdie gevoel van dreigende onheil . . . Wat as dit nie weggaan nie? Wat as hierdie nou ons werklikheid is? Wat as dit erger word? Maar jy probeer maar om nie te veel daaraan te dink nie. My mantras in hierdie tyd is: ‘Ook dit sal verbygaan’ en ‘carpe diem’.”

Swembad gesluit

Sy sê wanneer jy aftree, verander jou skedule en lewensroetine noemenswaardig.

“Jou daaglikse roetine word dus veel minder deur die inperking beïnvloed as dié van ’n meer aktiewe, werkende mens.”

Ek mis egter my familie, veral die kleinkinders. Die Zoom en WhatsApp en video’s help, maar dit is nie dieselfde nie.
Betty Solomon

“Ons geleentheid om te oefen is beperk. Die swembad waar ek gewoonlik twee keer ’n week gaan swem en oefen, is gesluit. Maar ons is gelukkig dat ons toegelaat is om op die gronde van ons kompleks te stap . . . My een voet het egter nou ingegee want ek is nie daaraan gewoond om op die grond te stap nie; ek is gewoond aan in die water trap.”

Hulle kan ook nie meer brug speel nie.

“Maar ons het ’n plan gemaak en speel ’n bietjie aanlyn. Ja . . . ’n mens kyk meer televisie, jy lees meer, jy bring meer tyd op Facebook deur. Ek mis egter my familie, veral die kleinkinders. Die Zoom en WhatsApp en video’s help, maar dit is nie dieselfde nie.”

Klein Betty

Sy meen hoe ’n mens die beperkinge op jou lewe hanteer, hang af van “jou vlak van bedrywigheid”.

“En jou vermoë om jouself te vermaak. Die mense wat daaraan gewoond is om in kuddes saam te drom sukkel. Een van die dinge wat ek doen, is om my dag in ure in te deel. Ek doen ’n uur lank dít en ’n uur lank dát, sodat dit nie een lang uitgestrekte stuk tyd is nie.

“My dogter Lindy Simons het aan my twee van haar aanlyn kunskursusse geskenk en dít het regtig baie gehelp.”

Maar ek dink die meeste ouer mense wil bly leef en hul lewens geniet. Hulle verstaan die risiko’s en is bedag daarop.
Leon Geffen

Solomon was jare gelede ’n geliefde wiskundeonderwyser aan die seunskool Bishops, waar sy onder andere vir Mark Shuttleworth, miljardêr-sakeman en die eerste persoon van Afrika wat in die ruimte was, onderrig het.

“Ek het hom in Desember gesien toe hy in die land was. Hy het my saamgenooi na ’n ete by La Colombe saam met ander oud-Bishops-leerlinge.

“Hy vertel altyd die storie oor hoe hy die kapsule van die ruimtetuig Betty gedoop het omdat dit so klein is en hulle so hard laat werk het,” sê sy laggend.

Dit is ’n klaarblyklike verwysing na sy eertydse wiskundeonderwyser, wat klein van postuur is.

Wat jonger mense dink

Dr. Leon Geffen

Ons projekteer dikwels en dink ouer mense wens hul lewe wil eindig, sê dr. Leon Geffen.

Geffen is ’n kundige op die gebied van ouer mense se welstand. Hy is ’n spesialishuisarts, direkteur van die Samson Institute for Ageing Research en ’n senior dosent aan die Albertina and Walter Sisulu Institute of Ageing in Africa (IAA) van die Universiteit van Kaapstad. Daarby is hy president en ere- mediese superintendent van Highlands House, ’n sorgsentrum vir bejaarde Joodse mense in Kaapstad, waar ’n inwoner in April weens Covid-19 gesterf het en verskeie inwoners en werknemers positief getoets is en siek geword het.

“Jonger mense kyk na ouer mense en dink: ‘Ek wil nie so lank lewe nie. Ek wil nie daardie persoon met die seer knie wees nie of die persoon met blaasprobleme nie of die een met ’n tanende geheue nie.’

“Maar wanneer jy wél daardie persoon is . . . Niemand met wie ek in aanraking was tydens die inperking het vir my gesê: ‘Ek het net ’n kort rukkie oor om te leef so ek sal aangaan om my lewe te leef soos wat ék wil.’

“Daar kan dalk enkelinge wees wat sê: ‘Dis my kleindogter se troue en ek wil dit régtig bywoon, so ek gaan ’n kans vat.’

“Maar ek dink die meeste ouer mense wil bly leef en hul lewens geniet. Hulle verstaan die risiko’s en is bedag daarop.”

Dr. Gabrielle Kelly, ’n sosioloog en navorser oor gesondheids- en maatskaplike beleid, sê daar is die beskouing dat ouer mense in ’n tyd soos hierdie afgeskeep kan word omdat hulle ouer is en nie so lank het om te leef nie.

“Dit is diskriminasie teen ouer mense wat inderdaad nog wil lewe en nie ’n verskriklike dood in afsondering, sonder vriende en familielede, wil sterf nie.”

Stap en vertaal

Abdulmotallib Parker (85) is die eienaar van ’n hoekkafee in Woodstock wat in 1915 deur sy pa geopen is. Sy seun Faizal en dogters Zarina en Hamida is deesdae aan die stuur van dié gewilde Parker’s-kafee, maar hy bly steeds die middelpunt van die onderneming en is geliefd onder sy klante wat hom as Mister Parker aanspreek.

“Gedurende Ramadaan bid ons gewoonlik en ons lees die Koran en ons vas, maar wat ons nou met die inperking gemis het, was om die moskee te besoek. Om in die moskee te bid, is heel anders as om tuis te bid; daar is ’n ander atmosfeer in ’n moskee. Daar is tydens Ramadaan elke aand ’n spesiale gebed en dít het ons gemis. En natuurlik ook die samesyn met vriende en kontakte in die moskee.”

In fase 4 en 5 van die inperking kon hy nie sy gewone staptogte vroegoggend langs die see in Seepunt onderneem nie.

“Toe ons weer in fase 4 in die oggende kon gaan stap, het ek hier in die buurt begin stap. Wanneer ’n mens so in die huis vasgekeer is, word jy moeg daarvan om die heeltyd dieselfde dinge te doen.”

Ek was in huisarres – nie deur die regering nie, maar deur my kinders.
Abdulmotallib Parker

Hy was heel bedrywig op veral die drie WhatsApp-groepe waaraan hy behoort. Hy is ook die koördineerder van ’n groep wat maandeliks vergader – deesdae deur Zoom – en dan Indiese liedere vertaal.

“Daar is so 20 mense wat deelneem. Ek en my vrou vertaal dan hul gunsteling-liedere vir hulle, wat meesal in Hindi is, na Urdu. Enigiets van Bollywood-liedjies tot klassieke liedere en ghazals, wat getoonsette poësie is.

“Ek het ook YouTube besoek waar ek veral na poësievideo’s gekyk het. Daaruit het ek baie geleer. Ek skryf self poësie en lees baie.”

Hy het in 1990, pas nadat Nelson Mandela vrygelaat is, op ’n geleentheid in die burgersentrum in Goodwood, Kaapstad, aan hom ’n gedig voorgelees met die titel “Dialogue”.

“Ek het in die laat tagtigs in koerante gelees pres. Botha praat met Mandela, en toe wonder ek waaroor sou hulle praat; daaroor het ek toe die gedig geskryf.”

‘Huisarres’

Parker se kinders het in ’n vroeë stadium van die inperking daarop aangedring dat hy nie in die winkel kom nie.

“Ek was in huisarres – nie deur die regering nie, maar deur my kinders,” skerts hy. “Ek is 85 jaar oud en hulle wou nie hê ek moet onnodig blootgestel word nie.”

Parker woon in ’n Victoriaanse skakelhuis wat aan die winkel grens.

Parker sê hy het nooit daaraan gedink om die regulasies te verontagsaam nie.

“In die aande, nadat die winkel vir klante gesluit het, het ek soontoe gegaan en net ’n bietjie daar gaan sit, want ek mis die winkel. Ek werk al die jare al daar. En natuurlik wil my klante altyd met my gesels wanneer hulle in die winkel kom.

“My kinders het deurentyd die toonbanke en ander oppervlakke ontsmet, maar hulle wou nie hê ek moet aan enigiets raak nie.”

Parker sê hy het nooit daaraan gedink om die regulasies te verontagsaam nie.

“Ek het daaraan gedink om myself teen die virus te beskerm, so ek het nie daardie ingesteldheid gehad nie.”

‘Ons is baie soet’

Magriet Stemmet

Magriet Stemmet (83), oudoperasangeres van internasionale statuur en medestigter van die Kaapstadse Liedmakersgilde, woon in ’n woonstel in die Larmenier-aftreeoord in Vredehoek, Kaapstad.

“My kinders is baie goed vir my – hulle bel my feitlik elke dag; miskien elke tweede dag. Ek het ook ander dinge waarmee ek my besig hou. Ek doen so ’n bietjie joga en dan doen ek liggaamsoefeninge. En dan vir meer oefening gaan ek onder in ons garage – ’n baie groot garage – en dan loop ek maar op en af daar, want ons word verbied om hier op ons gronde te stap. Ons is baie soet en ons luister maar.

“Ek sal jou sê hoe cope ek. ’n Paar weke gelede het ’n vriendin wat in Engeland bly my genooi na ’n Zoom-verjaardagviering. En dit was verskriklik gesellig en só het ek Zoom ontdek.

Ons volgende Zoom-vasvra is hierdie Sondag. Mense van Swede, van Windhoek, van óral, gaan deelneem.
Magriet Stemmet

“Toe het ek ’n paar weke gelede ’n Zoom-vasvra gehou vir familie en vriende. Ek het 100 vrae opgetel en ons het ’n heerlike tyd gehad.

“Ek het vir almal gesê trek klere aan soos wanneer hulle teater toe gaan. En só het ons vrolik bymekaar gekom. Ons het voor die tyd nog ’n glasie geklink met ons laaste wyn en ná die tweede vraestel het ons ’n pouse gemaak en ’n bietjie tapas geëet en vir almal gesê wat ons eet, en ons het lekker gelag, en daarna het ons weer die ander twee vraestelle voltooi.

“Van toe af is ek steeds besig om vrae op te stel en ons volgende Zoom-vasvra is hierdie Sondag. Mense van Swede, van Windhoek, van óral, gaan deelneem en ek sien verskriklik uit daarna.”

‘Bonding day’

Sy en haar familie kom al die afgelope 26 jaar lank elke Donderdagaand bymekaar.

“Hulle het dan by ons [haar man, Johann Stemmet, is ’n paar jaar gelede oorlede] kom eet. Ons het dit altyd grappenderwys ons bonding day genoem. En ek mis ons bonding days báie – ons wat almal om die tafel sit en eet en ’n lekker glasie wyn drink en gesels.

“Maar ek het toe nou besluit ek wil iets anders kry om my besig te hou, en ek sê vir jou: hierdie vrae-opstellery is só lekker.

My kinders kan nie vir my kom kuier nie, so ons praat met mekaar deur die tralies van die oord se veiligheidshekke.
Magriet Stemmet

“Ek het gister vir Adri [haar oudste dogter] gesê ek weet nie wat ek gaan doen as hierdie vraestel verby is nie . . . Ek sal seker maar die volgende een moet begin opstel.”

Stemmet sê sy het al gaan inkopies doen, maar sy hou haar by die regulasies.

“My kinders kan nie vir my kom kuier nie, so ons praat met mekaar deur die tralies van die oord se veiligheidshekke.

“Ek het gelees van Elsa Joubert wat sê hoe sy haar kinders en kleinkinders mis, en dis wáár; ek mis myne ook verskriklik. Ek mis iemand wat weer vir my ’n stýwe druk kan gee, en ’n soen, al is dit een op die wang.”

‘ ’n Ander tyd’

Minnie Marcus en haar dogters Shanaaz en Marcia.

Jasmina Marcus (90), alom bekend as Antie Minnie, is ’n skraal, regop vrou met lewendige bruin oë wat al bykans 70 jaar in die Bo-Kaap woon.

Sy en haar dogters Shanaaz Ziervogel (42) en Marcia Minnie (65) woon saam in ’n woonstel.

“Ek sit maar net hier by die venster en gaan netnou ’n bietjie lê. Hierdie is ’n ander tyd . . . ’n ander tyd. Daar is baie mense hier van die Bo-Kaap wat al dood is van die korona. Mans en vrouens. Nou twee weke gelede is ’n man weer hier agter ons . . . Hy het dit gehad en toe is hy dood. Baie mense rondom ons is dood.

“Ek sit nie my kop uit by die deur nie. En ons laat niemand hier inkom nie,” sê sy.

Toe ons Maandag Eid gecelebrate het, het jy nie ’n kind buitekant gesien nie.
Minnie Marcus

Ook vir haar was dit nie lekker om tydens Ramadaan en Eid ingehok te wees nie.

“Ja, ons kan nie uitgegaan het nie; ons moes net bly in die huis. Ons kan nie na die bure toe gegaan het om te sê ‘slamat’ nie. En ons kan nie na die masjiete [moskees] gegaan het nie; die masjiete se deure was almal toe.”

Dis die eerste keer tot nog toe dat sy so ’n Ramadaan beleef.

“Ander jare celebrate die mense en dan gaan hulle uit en gaan groet vir hulle families en vrinde. Toe ons Maandag Eid gecelebrate het, het jy nie ’n kind buitekant gesien nie. Toe moet ons net onder mekaar eet – dis al.”

‘Sy’t mense verwag’

Marcia (65) sê haar ma weet nie eintlik wat die koronavirus is nie.

“Because sy doen baie dinge nog in die ou way en ons moet elke keer vir haar remind. So, ek dink nie sy verstaan wat die lockdown rêrig is nie.

En toe moet ons nou vir haar sê mense kan nie kom nie because ons kan nie interactive wees met die mense nie.
Marcia Minnie

“Sy sal byvoorbeeld sê sy wag vir dié ene om te kom, dan sal ons nou sê hy kan nie nou kom nie because why deur die lockdown is daar road blocks.

“Met Eid was sy al vróég aangetrek . . . Sy’t mense verwag. En toe moet ons nou vir haar sê mense kan nie kom nie because ons kan nie interactive wees met die mense nie.

“En sy wil net buitekant wees om met almal te gesels. Ons moet haar binne hóú. Sy’t al gesê sy’s moeg van slaap; sy’s moeg van éét; sy’s moeg van so sit en TV watch.”

‘Sy was ’n VIP’

Antie Minnie se uitstappie was “om te gaan shop saam met ons”, sê Marcia.

“En as sy pensioen gekry het dan het sy maar altyd ’n lift af gekry. Ek het vir haar daai opportunity gegee want daai was haar outing. Nou met die lockdown gaan ek self haar pensioen haal; daar is niks kans vir haar om uit te kom nie. Dis ’n bietjie snaaks vir haar en dit voel nie lekker vir haar om so by die huis te wees nie.

“Sy het altyd haar eie goedjies by Shoprite Adderleystraat gekoop, en as sy daar gekom het, was sy ’n VIP. Sy het in die office gaan sit en dan het die supervisor haar Sassakaartjie gevat en haar geld gaan haal en dit vir haar gebring en dit in haar bag gesit.

“Toe dit haar birthday gewees het laas jaar toe stuur Shoprite vir haar ’n birthdaykoek. So almal ken vir haar by Shoprite. En nie net by Shoprite nie – die R5 Store, en Spar; al die winkels waar sy ingeloop het as sy pensioen kry.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.