Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: Kaapse speelplek van Madonna, DiCaprio moet sluit

Bruce Gordon, eienaar van die ikoniese Kaapstadse kroeg Jo’burg Bar, vertel aan Murray La Vita dié kroeg, waar mense soos Madonna en Leonardo DiCaprio rinkink het, het nie die pandemie oorleef nie – dit sluit nou en die groot en kosbare kunsversameling daarin word opgeveil.

Bruce Gordon, eienaar van Jo’burg bar.

Oor die jare was daar hoogtepunte en laagtepunte, sê Bruce Gordon (72).

“Ons is baie hard getref deur die Kaapse droogte en die daarmee gepaardgaande watertekort. Ons het dít wel stelselmatig oorkom. Maar toe kom die inperking en moes kroeë sluit.

“Ek kon nie die vaste oorhoofse koste bekostig nie en daarom kan ek nie die kroeg heropen nie.”

Hy vertel hoe die kroeg tot stand gekom het.

“Ek was in die tekstielbedryf en in die 90’s ry ek op in Langstraat en sien daar ’n Te Huur-teken op ’n vervalle gebou. Ek het ’n plek gesoek waar ek materiaal kon verkoop waarvan die kleur en ontwerp nie heeltemal reg gedruk het nie (seconds).

“Ek het toe ’n argitek gekry en vir hom verduidelik wat ek in gedagte het: Ek wou hierdie seksies hê waar verskillende dinge verkoop kon word en in een hoek wou ek ’n kroegie hê.

“Die argitek het toe aan my gesê ek het te veel idees. Ons het bietjie daaroor gedink en toe besluit om net ’n kroeg oop te maak. So, dit was ’n taamlik spontane ontstaan.”

Die Antwoord

Heel gepas is die kroeg deur die maatskappy Bull’s Eye gebou wat gewoonlik stelle vir rolprente oprig.

Gordon, Andrew Lamprecht en Ed Young in LB’s Lounge.

“Ek het vroeër in Yeoville in Johannesburg gewoon en daar was ’n kroeg met die naam The Harbour Café. Ek het toe gedink as iemand ’n kroeg in Johannesburg Harbour Café kan noem, kan ek ’n kroeg in Kaapstad Jo’burg noem.

“Ek dink ons het die kroeg in 1998 geopen. In die eerste tien jaar van Jo’burg se bestaan was dit ’n ontmoetingsplek van mense in die kunste- en rolprentwêreld en dit was geweldig suksesvol.

Een van die groot aande was toe Die Antwoord in hul baie vroeë dae daar opgetree het. Die plek was gepák.

“Ek het dit toe, in samewerking met twee Switserse kunstenaars, uitgebrei en die LB’s Lounge op die verdieping bo die kroeg geskep. LB is die eerste letter van die kunstenaars se vanne: Lang en Bauman.

“In daardie ruimte was daar gereeld partytjies; insluitend LGBTI-partytjies. Die Early Fridays, geleenthede wat deur die Michaelis-kunsskool gereël is, is ook daar aangebied. Die kroeg is aangedryf deur musiek en kuns.

Die ingang van Jo’burg Bar.

“Daar het baie bands daar gespeel. Een van die groot aande was toe Die Antwoord in hul baie vroeë dae daar opgetree het. Die plek was gepák.”

Gordon word ’n kunswerk

Gordon sê sy hele lewe het om die kunswêreld gewentel.

’n Installasie in die kroeg deur Sue Williamson.

“Eerstens deur my tekstiel-onderneming waar ek kunstenaars gevra het om vir my ontwerpe te doen. Ek was ook met die kunstenaar Sue Williamson getroud. [Hulle is sedertdien geskei. Sy lewensmaat van die afgelope jare is die veel bekroonde kostuum- en produksie-ontwerper Birrie le Roux.] Ons het minstens twee keer per week kunsuitstallings besoek. En ons het die wêreld vol gereis om kuns te besigtig – Venesië, Parys, Brussel, Londen, New York.

“Omdat die kroeg naby aan Michaelis was, het die kunsstudente dit as hul ontmoetingsplek gebruik. Ek het goed bevriend geraak met Ed Young, wat besig was om daar ’n meestersgraad te doen.

“Op die uitstalling van finalejaar-kunsstudente het hulle altyd ’n kunsveiling van meestersgraadstudente se werk gehad; dit was ten bate van liefdadigheid.

Gordon as kunswerk saam met die kunstenaar Ed Young.

“Toe vra Ed my om in 2002 sy kunswerk te wees. Ek het aanvanklik nee gesê, maar toe op die Vrydag van die uitstalling het hy my gebel en gesmeek om te kom. Voor ek my kon kry, was ek op die veiling en het ’n bie-oorlog begin.”

Verkoop aan ’n museum

Hy is uiteindelik vir R52 000 gekoop deur Suzy Bell, wat hom toe aan die SA Nasionale Kunsmuseum (SANK) – sedertdien die Iziko Nasionale Kunsmuseum – geskenk het.

Dit het groot opslae veroorsaak toe Gordon as kunswerk opgeveil is.

“Suzy het buyer’s remorse gehad, want volgens haar het ek nie by haar slaapkamergordyne gepas nie,” sê die immer sardoniese Gordon in sy effens moeë stem.

Marilyn Martin, toenmalige direkteur van die SANK, het destyds oor dié konseptuele kunswerk gesê:

“Dit is ’n kunsvorm waarin die konsep belangriker is as die materiaal waarvan die kunswerk gemaak is. Dis ’n genre wat bevraagteken wát kuns is, en is daarop ingestel om mense se verbeelding te prikkel. Dit word ook gekoppel aan performance art en die veiling was dus deel van dié proses.”

Skape loop deur

Gordon is in Maart 2003 as die kunswerk “Bruce Gordon” in die SANK uitgestal.

“Die mense wat by dié uitstalling betrokke was, is Ed, Andrew Lamprecht en Marilyn. Op die opening het ek, Ed en Andrew tatoeëermerke gekry. Myne was die verkrygingsnommer van die SANK – die datum waarop hulle my ‘verkry’ het.

’n Fotograaf het my deurentyd gevolg terwyl ek kunspartytjies bygewoon en nagklubs besoek het.

“Daar was baie publisiteit rondom die geleentheid en toe word ek en Ed na die Turynse triënalle in Italië uitgenooi. Hulle het ons van die lughawe in Turyn na ’n kleremaker geneem waar ons afmetings geneem is vir Italiaanse pakke.

“Al wat ek tydens die verblyf van drie weke in die stad moes doen, was om die kultuur van die stad te geniet. ’n Fotograaf het my deurentyd gevolg terwyl ek kunspartytjies bygewoon en nagklubs besoek het.

“Ná die Italiaanse ervaring het die publisiteit mettertyd getaan en nou is dit sowat 20 jaar later en hoop ek die kunsmuseum sal vir my ’n makeover gee of minstens onderhoud begin betaal aan hulle ouerwordende kunswerk,” sê hy tong in die kies.”

’n Selfportret deur Dan Halter. Die werk bestaan onder meer uit rommel wat die kunstenaar in Jo’burg Bar opgetel het.

Ons gesels oor die groot kunsversameling wat in Jo’burg Bar was en wat nou opgeveil word.

“Baie van die werke is aan my geskenk deur kunstenaars – hetsy om vir hul drankrekeninge te betaal of as verjaardaggeskenke. Ek het ook in die dae van lae pryse kuns gekoop.”

Van die kunswerke is oor die jare beskadig. Twee van die drie sagte skaapkunswerke van Sanell Aggenbach het byvoorbeeld onder ’n groep dronk Australiërs deurgeloop.

Bekendes se speelplek

In die hoogbloei van Jo’burg Bar het mense soos Dennis Hopper, Colin Farrel, Leonardo DiCaprio, Sting en Madonna daar uitgehang, sê Gordon.

Ek het toe die nommer gebel – dit was ’n New Yorkse nommer – en Guy Ritchie het geantwoord.

“Die kroeg het onder meer bekendheid verwerf omdat daar dikwels tonele vir internasionale rolprente daar geskiet is. Madonna was een aand daar saam met haar entourage en hulle het ’n groot partytjie gehou. Daar was in daardie stadium ’n promosie in die kroeg waarvoor jy jou naam en foonnommer op ’n vorm moes invul om vir ’n prys in aanmerking te kom.

“Ek was nie die aand daar nie, maar het later na die vorms gekyk en Madonna se naam daar gesien. Ek het toe die nommer gebel – dit was ’n New Yorkse nommer – en Guy Ritchie [met wie sy destyds getroud was] het geantwoord.

“Leonardo DiCaprio het die kroeg besoek toe hy Blood Diamond hier geskiet het. Daar was baie ander bekendes, ek kan net nie hulle almal se name onthou nie . . . Daardie lang, skraal Franse akteur; wat was sy naam nou weer?”

’n Kunswerk deur Brett Murray.

Bendelede raak lastig

Gordon het sowat agt jaar gelede ophou drink en sedertdien al minder tyd in Jo’burg Bar deurgebring.

“Die gejol sewe nagte per week het sy tol geëis en diabetes is by my gediagnoseer, waarna ek heeltemal ophou drink het. Dit is nie maklik om in ’n kroeg te wees as jy nie drink nie, so ek het bestuurders aangestel om Jo’burg te bestuur.

“Baie mense het al vir my gevra of ek probleme met bendelede gehad het. Ek het net een stel met hulle afgetrap. Bendes se modus operandi is om die beheer van toegang by ’n plek oor te neem sodat hulle daar kan dwelms verkoop.

Een Sondagaand het ’n groep van sowat 12 bendelede die kroeg binnegekom, die musiek afgeskakel, klante aangerand en goed na die drankbottels agter die toonbank gegooi.

“Ek het altyd my eie deurwagte gebruik, want dit is so ’n belangrike aspek – om die regte atmosfeer te skep wanneer mense inkom.

“Een Sondagaand het ’n groep van sowat 12 bendelede die kroeg binnegekom, die musiek afgeskakel, klante aangerand en goed na die drankbottels agter die toonbank gegooi. Hulle het dít gedoen omdat ek nie wou toegee aan hul eise dat hulle beheer van die ingang oorneem nie.

“Ek het toe met die Skerpioene, wat toe nog bestaan het, in verbinding getree. Ons het toe ’n klag teen ’n Marokkaan ingedien wat aan die polisie wel bekend was. Ons het ’n hofbevel gekry wat hom verbied het om binne ’n 100 meter van die kroeg te kom.

“Toe hy die bevel verontagsaam, het ons weer ’n klag ingedien waarna hy verdwyn het en ons nooit weer lastig geval is nie.”

’n Foto deur die pas ontslape George Hallett.

Vergetelheid

Langstraat het oor die jare baie besig geword soos wat al meer plekke van vermaak oopgemaak het.

“Dít het ’n slegte element aangetrek. Die harde werklikheid is dat die clientele wat ons in die laaste jare gehad het, was heeltemal anders as in die vroeë dae met die kuns- en rolprentmense.”

Op sy Facebookblad het Gordon die volgende boodskap geplaas:

“Mag daar vir die wonderlike kroegpersoneel en mede-hedoniste op soek na vergetelheid gelukkige tye voorlê.”

• Gordon se kunsversameling word aanlyn deur die afslaer Strauss & Co opgeveil en kan op hul webwerf besigtig word onder “Contents of Jo’burg Bar”. Dit sluit in werke deur Brett Murray, Conrad Botes, Sue Williamson, Andrew Putter, Dan Halter, Dale Yudelman, Derrick Bauer, Gavin Younge en Barend de Wet.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Madonna  |  Kunswerke  |  Veiling  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.