Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: Maak vroueleiers 'n verskil?

Hoe meer gelyk 'n samelewing is, hoe beter sal dit waarskynlik in die Covid-19-pandemie vaar. Leah Cathryn Windsor skryf lande wat die welsyn van die samelewing prioritiseer, het die afgelope jaar beter as lande met meer meer individualistiese kulture gevaar.

Leiers kan dalk tydens ’n pandemie ’n beleid instel, maar almal moet saamwerk om dit te laat werk Foto: Getty Images

Kultuur tel meer as die geslag van ’n leier as jy wil voorspel hoe goed ’n nasie ’n wêreldwye pandemie gaan oorleef, het ons studie oor gender en die bestuur van Covid-19 gewys.

Dié studie is in Desember in die joernaal Plos One gepubliseer.

Ek en my mede-outeurs het Covid-19-gevalle en -sterftes ondersoek in 175 lande, waarvan 16 deur vroue gelei word. Ons kon geen statisties beduidende verskille in sterftes vind wat op die geslag van die leier van ’n land gegrond is nie. Pleks daarvan het ons gevind dat die gevolge van die pandemie hoofsaaklik toegeskryf kan word aan hoe gelyk die samelewing in 'n land is. Lande wat die welsyn van die samelewing in die algemeen prioritiseer, het oor die afgelope jaar beter as lande met meer individualistiese kulture gevaar.

Kollektiewe optrede kom dalk meer natuurlik in meer gelyke samelewings voor waar mense grootword met die gedagte dat almal se welsyn met dié van die gemeenskap saamhang.

Ons het twee kulturele veranderlikes geïdentifiseer met ’n beduidende invloed op die sterftekoers: individualisme en “magsafstand” (power distance) – ’n maatstaf vir ongelykheid in mag onder die burgery. Wanneer albei elemente baie hoog is – soos in die VSA – word hierdie kultuur ’n bedreiging vir Covid-19-oorlewing.

Die gemiddelde sterftekoers wat deur ons model onder hierdie toestande voorspel word, is 28,79 per 100 000. Wanneer albei uiters laag is – soos in Trinidad en Tobago en Nieu-Seeland – dan is dit die kultuur wat lei tot 'n meer gunstige reaksie op die pandemie. Die gemiddelde voorspelde sterftekoers onder hierdie toestande is 1,89 per 100 000.

Dís hoekom dit saak maak

Die Noorweegse premier, Erna Solberg (middel), hou in September verlede jaar saam met ander ministers ’n nuuskonferensie vir kinders oor die pandemie. Foto: Getty Images

Ons bevindings kompliseer getuienis vroeg in die pandemie dat lande soos Nie-Seeland en Duitsland goed vaar in die tyd van Covid-19 omdat hulle deur vroue gelei word. Leiers speel wel ’n uiters belangrike rol in krisisse. Hulle kan beleid instel in tye van nood – soos die dra van maskers of dat die publiek moet tuisbly – om die verspreiding van die virus te keer. Maar almal moet saamwerk om hierdie maatreëls te laat werk.

Lande met meer gelyke samelewings is ook geneig om meer tradisionele geslagsrolle te verwerp en is meer geneig om vroueleiers te verkies.

Kollektiewe optrede kom dalk meer natuurlik in meer gelyke samelewings voor waar mense grootword met die gedagte dat almal se welsyn met dié van die gemeenskap saamhang.

Toe die pandemie uitgebreek het, het lande met meer gelykheid beleide ingestel wat gedrag voorstaan wat goed is vir die samelewing, soos die dra van maskers, en hulle het oortreders beboet wat die openbare gesondheid in gevaar gestel het. Hierdie lande het nog lank voor die pandemie gewoonlik universele gesondheidsorg, betaalde siekverlof en gesubsidieerde kindersorg gehad. Hierdie beleid het dit vir mense makliker gemaak om tuis te bly en hulself – en ander – teen Covid-19 te beskerm.

Dís wat ons steeds nie weet nie

Paula-Mae Weekes, die president van Trinidad en Tobago, op ’n mediakonferensie by die Verenigde Nasies. Lande soos hare het vanweë hul egalitêre kultuur baie goed in die pandemie gevaar. Foto: Getty Images

Lande met meer gelyke samelewings is ook geneig om meer tradisionele geslagsrolle te verwerp en is meer geneig om vroueleiers te verkies. Al 16 lande in ons studie wat deur vroue gelei word, word as lande met meer gelyke samelewings beskou. Met ander woorde, daar was ’n korrelasie tussen minder negatiewe gevolge weens die pandemie en vroueleierskap, maar nie noodwendig ’n kousale verband nie.

Die verhouding kán dalk kousaal wees, maar die wêreld het te min vroueleiers dat ons sterk, getuienis-gegronde aansprake oor die uitwerking van gender op die gevolge van die pandemie kan maak.

Jacinda Ardern, Nieu-Seeland se premier, het danksy ’n mengsel van empatiese leierskap en goeie krisisbestuur ook goed in die pandemie gevaar. Foto: Getty Images

Onder normale omstandighede word vroue-wêreldleiers gekritiseer omdat hulle te “manlik” en aggressief optree, maar ook omdat hulle te “vroulik” en koesterend optree.

Maar dit verander in krisistye soos wanneer natuurrampe voorkom. Onder hierdie omstandighede word vroue meer beweegruimte gegun om op te tree, luidens vorige navorsing.

Vroueleiers het in die Covid-19-pandemie seldsame beweegruimte gekry, wat hulle in staat gestel het om alles binne hul vermoë te doen om dit te bestuur.

Dit het ook tydens die pandemie gebeur. Kommentators het Nieu-Seeland se premier, Jacinda Ardern, deur die hele vorige lente geprys vir haar ferm beleid toe die nasionale grense gesluit is. Noorweë se premier, Erna Solberg, is ook geluk gewens vir haar deernisvolle nuuskonferensies waarop sy die pandemie aan kinders verduidelik het.

Vroueleiers het in die Covid-19-pandemie seldsame beweegruimte gekry, wat hulle in staat gestel het om alles binne hul vermoë te doen om dit te bestuur. Ons data het dit ook bewys, maar daar is net nie genoeg voorbeelde om statisties beduidend te wees nie.

*Gina Yannitell Reinhardt, Alistair Windsor, Robert Ostergard, Susan Allen, Courtney Burns, Jarod Giger en Reed Wood is die mede-outeurs van dié studie. Windsor is ’n medeprofessor in navorsing by die Instituut vir Intelligente Stelsel aan die Universiteit van Memphis.

*Hierdie artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Jacinda Ardern  |  Amerika  |  Duitsland  |  Nieu-Seeland  |  Covid-19-Pandemie  |  Gender
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.