Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: SA se 2de kans op versoening?

Die Covid-19-krisis het die potensiaal om Suid-Afrikaners oor rasgrense heen te verenig, al is dit net weens frustrasie of woede teenoor die regering, skryf David Everatt.

’n Polisieman keer ’n motorryer voor by ’n padversperring in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Dit lyk asof die Suid-Afrikaanse regering beweeg het van ’n stadium sonder data wat gepaardgegaan het met ’n ferm dog verstandige strategie van inperking om die pyn van Covid-19 uit te stel tot een met ’n menigte insette en skynbare onverskillige houding tot beperkings.

Statistiek Suid-Afrika het data voorgelê oor hoe die pandemie die land se ekonomie verwoes het. Data van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing dui op die oorweldigende manier waarop burgers van die land aan die beperkings gehoor gee, terwyl gereelde nuusflitse van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes wys hoe die vlakke van infeksie onverpoosd toeneem.

Akademici en nieregeringsorganisasies het dieselfde gedoen en veral klem gelê op die ekonomie en in besonder arm mense. Baie ander het met data en modelle of albei vorendag gekom.

Die regering, en veral pres. Cyril Ramaphosa, het wêreldwye lof ingeoes vir hul reaksie op Covid-19 en skynbare steun op wetenskap om hul optrede te rig.

Die regering het in reaksie met ’n strategie van vyf vlakke van inperking vorendag gekom wat gerugsteun word deur bewyse. Dié benadering is veronderstel om die inperking wat sedert 27 Maart van krag is te verlig deur vlakke en plekke op grond van risiko-ontleding aan te pas en oop te stel.

Die regering, en veral pres. Cyril Ramaphosa, het wêreldwye lof ingeoes vir hul reaksie op Covid-19 en skynbare steun op wetenskap om hul optrede te rig. Dit was tóé.

Iets het intussen verander – die regering of sy burgers?

Wispelturigheid

’n Soldaat staan polisielede by met ’n padversperring. Foto: Gallo Images

Dit is merkwaardig hoe vinnig Suid-Afrikaners die gevoel van kameraderie en steun vir ’n sterk leier verloor het en begin het om te kla oor kripto-fascistiese outoritarisme.

Dit is vererger deur die regering toe hy “vlak 4” ingestel het wat veronderstel was om ligter as “vlak 5” te wees.

Dit het gepaardgegaan met 73 000 meer soldate wat die polisie moet help om die nuwe aandklokreël, wat tussen 20:00 en 05:00 geld, toe te pas. Tot dusver het hulle onskuldige mense aangerand, gedreig en geïntimideer en selfs ’n man doodgemaak.

Suid-Afrikaners is as ’n “bonus” drie uur se oefening tussen 06:00 en 09:00 toegelaat wat die vereiste afstand tussen mense nogal moeilik gemaak het.

Op 1 Mei, toe die verslapping van regulasies in werking getree het, was die strate vol drawwers, stappers, diegene wat in die strate afgeskuifel het, fietsryers in spandeks en honde van allerhande soorte.

Drawwers en stappers gebruik die vergunning vir vroegoggend-oefening in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Toe hy gekonfronteer is met ’n see van (hoofsaaklik) wit gesigte wat op Kaapstad se promenade gedraf het, het Bheki Cele, minister van polisie, gedreig: “Ek sien hierdie gedraf, ek dink ek sal ’n voorlegging daaroor aan die nasionale Covid-19-bevelsraad maak. Ek sien . . . mense in groepe hardloop, met hul honde stap en selfs swem – iets wat (gekriminaliseer) is in die regulasies . . . ”

En net ingeval iemand getwyfel het wie die mag het, het hy bygevoeg: “ons kan vergeet van vlak 3” omdat sulke skrikwekkende gedrag beteken dat burgers dit nie “verdien” nie.

Dit is daardie laaste weggooi-sin wat krap. Dit gaan nie oor burgers wat iets “verwerf” of “verdien” omdat hulle hul goed gedra nie, die toepassing van vlakke 1-5 is veronderstel om gegrond te wees op risiko-ontleding. Maar nou lyk dit soos wispelturigheid met meer as ’n tikkie van “ons sal jou kry” (“pay-back”).

Dié verskille lyk asof dit toenemend vervang word deur ’n gedeelde vyandigheid teenoor ’n ANC-regering wat blykbaar reëls bepaal soos dit hom pas.

Suid-Afrikaners – ongeag ras of klas – het dit agtergekom toe dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, aangekondig het dat tabak nie in vlak 4 verkoop sal word nie soos vroeër deur Ramaphosa aangekondig.

Dis nes Cele wat hulle vertel of hulle vlak 3 “verdien” of nie.

Feitlik alle navorsing oor die houdings van rasse in Suid-Afrika dui daarop dat rasse-differensiasie toeneem. Dit kan die maklikste bewys word met die verkiesing van 2019.

Dié verskille lyk asof dit toenemend vervang word deur ’n gedeelde vyandigheid teenoor ’n ANC-regering wat blykbaar reëls bepaal soos dit hom pas en wie se eie ministers duidelik dink hulle is verhewe bo Covid-19 – én die burgers van die land.

Herinneringe aan ’n skandelike verlede

Stappers op die strand by Gordonsbaai. Foto: Gallo Images

Word burgers beskerm deur ingrypings wat op bewyse gegrond is of word hulle rondgeneuk deur kleingeestige politici?

As die land ’n tree terug in die verlede gee, is daar nie iets wat nou die moeite werd is om te leer nie – veral vir wit Suid-Afrikaners?

Dink daaroor. Jy kan nie werk, skool of park toe gaan as die regering nie sê jy mag nie. Jou vryheid van beweging is erg aan bande gelê.

En die troepe en polisie is daar om seker te maak jy is gehoorsaam of hulle slaan die wit waks uit jou uit.

Jy word vertel wanneer jy mag uitgaan en jy is veronderstel om ’n permit te hê soortgelyk aan ’n dompas om te bewys jy is wettig uit. (Die dompas was die vernederende identiteitsdokument wat alle swart mense moes dra tydens die apartheidsera en wat hul bewegings beheer het.)

En die troepe en polisie is daar om seker te maak jy is gehoorsaam of hulle slaan die wit waks uit jou uit. Jul gedrag word as vreemd en abnormaal beskou.

Jy kan slegs sekere winkels binnegaan en slegs nadat jy gesaniteer is (omdat jy dalk vuil is of die draer van ’n siekte is) en jy mag nie alkohol of sigarette koop nie.

En behalwe vir ’n handjievol mense, is jou werk nie noodsaaklik nie en die regering sal besluit of jy kan werk of nie.

’n Onwettige dampie word êrens in die Kaap van die hand gesit. Sigarette mag nie wettig tydens die staat van inperking verkoop word nie. Foto: Gallo Images

Wit Suid-Afrikaners het nou ’n klein insig uit ’n taamlik gemaklike posisie in hoe die lewe onder apartheid was. Dit kan ’n kragtige oomblik wees om te empatiseer met hoe dit was om swart te gewees het onder apartheid – en dié keer word wit en swart dieselfde behandel.

Almal word geïrriteer deur ’n regering wat skynbaar vas van plan is om mag op kleinlike en gemene manier uit te oefen.

Dit is waarom dit ’n belangrike oomblik kan wees, want swart en wit Suid-Afrikaners is regtig saam in dié ding en hulle hou saam al hoe minder van hul regering.

As wit mense kan ophou om te maak asof hulle individueel en persoonlik aangeval word en die gedeelde aard van ontevredenheid sowel as woede kan begryp, is daar ware potensiaal vir (aansienlik uitgestelde) heling.

Soos die wêreldwye ekonomie ondergaan, word wit mense met aftreefondse en ondernemings aan die sak geraak. Die samelewing en die ekonomie, word hulle vertel, sal nooit weer normaal wees nie – hulle sal moet aanpas (herset) op verskillende dog nog onbekende maniere.

Kan hulle?

Moet nooit ’n goeie krisis mors nie

Bheki Cele, minister van polisie, gesels met polisielede. Foto: Gallo Images

As Suid-Afrika moet aanpas (herset) kan sy mense – doelbewus en saam – dit as die ware “wonderwerk”-oomblik sien?

Baie goeie werk is gedoen sedert apartheid, wat die wit minderheid bevoordeel het, in 1994 tot ’n einde gekom het. Miljoene mense het nou skoon water, spoelriolering, elektrisiteit, geteerde paaie, straatligte en so aan. ’n Hele klomp meer het tersiêre onderrig en sommige is welvarend.

Volgens die meeste studies vaar versoening nie goed nie. Rassisme, regstelling op grond van ras en patronaatskap het korte mette gemaak van die edele doelwitte van die vroeë 1990’s.

Ons moet die laaste 26 jaar sien as Suid-Afrikaners se infrastrukturele belegging wat nodig is vir die ware “nuwe Suid-Afrika” om gebore te word.

As ons aanneem dat die samelewing meer werd is as om net eenvoudig te herhaal “dit is die ekonomie, domkop!”, het ons nou die kans om anders te wees en aan te pas by ’n nuwe sosiale werklikheid.

Suid-Afrikaners kan ná die inperking na vore tree as ’n meer empatiese en verenigde nasie.

Rykdom is vernietig deur Covid-19 en dit het die verskuiwingslyne van ongelykheid ontbloot sodat almal dit kan sien. So, praatjies van ’n welvaartsbelasting in die tydperk ná Covid-19 klink rasioneel en nie na ’n straf nie.

Suid-Afrikaners kan ná die inperking na vore tree as ’n meer empatiese en verenigde nasie – selfs al is hulle verenig weens irritasie of woede teen ’n wispelturige regering wat glo besluitneming gegrond op bewyse beteken jy kan goedsmoeds aan regulasies verander soos dit die grille van ministers pas.

Kan hulle dié oomblik gebruik om verder as “ras” te kyk en ’n gedeelde menslikheid te sien?

Dit is raar vir enige samelewing om ná ’n outoritêre bestel twee kanse op versoening te kry. Dit is dalk nou net so ’n oomblik, veral vir wit Suid-Afrikaners.

* Everatt is ’n professor verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy het meer as 30 jaar se ervaring in onder meer toegepaste sosio-ekonomiese en ontwikkelingsnavorsing.

* Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.