Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: Só bring res van wêreld 2de vlaag onder beheer

Watter ander metodes, behalwe inperking, is in die res van die wêreld ingespan om die tweede vlaag te temper? Jimmy Whitworth skryf oor die strategie van grootskaalse toetsing en die doeltreffende opsporing van kontakte.

China maak van massa-toetsing gebruik om sy uitbrekings te beheer. Foto: EPA

Terwyl dit winter word in die Noordelike Halfrond, styg die koronavirus-koers in Europa en Amerika. Kenners waarsku ’n lang winter lê voor met Covid-19 en influensa wat al hoe meer druk plaas op hospitale en ander gesondheidsgeriewe.

In antwoord op die bedreiging wat die tweede vlaag inhou, het Europese lande en baie state in Amerika inperkings ingestel wat verskillende grade van beperkings plaas op mense se bewegings, byeenkomste, werk, skool, inkopies, die gasvryheidsbedryf en vermaak.

Ons het uit die eerste vlaag gesien wanneer hierdie beperkings op groot skaal ingestel word, kan dit die pandemie laat krimp – maar teen ’n massiewe koste vir die samelewing en die ekonomie. Wanneer so ’n inperking ingestel word vir ’n lang tyd, soos in Melbourne, Australië, waar dit vir byna vier maande geduur het, kan die aantal getalle verminder word tot byna nul met die nougesette dra van maskers, aandklokreëls, skole wat gesluit word, streng reisbeperkings en streng polisiëring.

Maar is daar ’n alternatief? Tien maande nadat die pandemie begin het – wat het ons geleer en watter ander wapens het ons in ons arsenaal?

Grootskaalse toetsing

Taiwan is nou al vir maande gespaar van enige sterftes weens die nuwe koronavirus. Foto: EPA

Nadat China die eerste vlaag van die pandemie beheer het en nou minder as 100 aangemelde gevalle per dag het, gebruik dié land nou ’n strategie van grootskaalse toetsing wanneer hy bewus word van ’n nuwe tros-uitbreking. Dit het suksesvol gebeur in Wuhan (’n stad met 11 miljoen inwoners) in Mei en die stede Qingdao en Kashgar in Oktober.

Dit is doeltreffend gedoen met behulp van die PKR (polimerase-kettingreaksietoets) waar vyf tot tien monsters op ’n slag getoets is. Indien ’n groepie positief toets, het die laboratorium dan weer gekyk na individuele monsters.

Die Chinese owerhede het ook vinnig opgetree om ’n bevolking te beskerm wat die Ears-uitbreking onthou en dus die beheer van die pandemie ernstig opneem.

Die beweegrede vir hierdie benadering is om mense te vind wat nie geweet het hulle is besmet nie sodat hulle aangeraai kan word om te isoleer en oordrag só verminder kan word.

Die Chinese owerhede het ook vinnig opgetree om ’n bevolking te beskerm wat die Ears-uitbreking onthou en dus die beheer van die pandemie ernstig opneem en baie inskiklik is oor openbare gesondheidsmaatreëls. Mense is gewillig om maskers te dra en hulle aanvaar ander ingrypings is deel van hul verbintenis tot ’n groter geheel, al is dit ten koste van hul individuele vryhede.

Dit gaan gepaard met streng handhawing van die reëls deur die regering wat al by tye hommeltuie met luidsprekers ingespan het om burgers te betig wat nie die reëls volg nie.

Blitstoetse

Die Los Angeles Internasionale Lughawe het begin met PKR-toetse by twee terminale en wil die program vinnig uitbrei om die verspreiding van Covid-19 te probeer beheer. Foto: Getty Images

In Europa het Slowakye sy hele bevolking van vier miljoen getoets oor ’n tydperk van twee naweke gedurende Oktober en November. Sowat 95% van die teiken-bevolking is nou reeds getoets, met 38 000 positiewe gevalle wat gevra is om huis toe te gaan en te isoleer. Die koers van mense wat positief getoets is, is 1%. Dit is tans ’n verwagte koers vir die bevolking van ’n Europese land.

Slowakye het ook van vinnige antigeen-toetse gebruik gemaak. Hoewel dit ’n wisselende koers het vir vals negatiewe uitslae, afhangende van wie die toetse doen en waar dit gedoen word, kan die uitslae binne 30 minute gesien word. Dis ook goedkoper as PKR-toetse en dit kan gedoen word sonder ’n gespesialiseerde laboratorium.

Viëtnam het sedert die begin van sy pandemie op ’n aggressiewe manier te werk gegaan om kontakte op te spoor.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die ontwikkeling van hierdie toetse gesteun, en toegang tot bekostigbare blitstoetse teen minder as vyf Amerikaanse dollar per toets help fasiliteer, veral vir lae- en middelinkomstelande.

Blitstoetse is getoets in ander dele van Europa, byvoorbeeld in Liverpool in Brittanje. In die gevalle waar daar ’n aangewese toetsperseel en opgeleide personeel is, het hierdie toetse positiewe uitslae gegee vir 76,8% van ware infeksies en negatiewe uitslae vir 99,6% van mense wat nie Covid-19 gehad het nie.

Die implikasies hiervan is dat indien die algemene koers van positiewe pasiënte 2,2% is in die plaaslike bevolking, soos aangedui deur die mees onlangse opnames, sal 17 uit elke 1 000 mense korrek geïdentifiseer word as positief en aangeraai word om te isoleer, vyf onbesmette mense sal verkeerd geïdentifiseer word as besmet en vier wat wel besmet is, sal verkeerdelik geïdentifiseer word as onbesmet. Aangesien daardie vier mense waarskynlik lae virale ladings het, sal hulle waarskynlik nie baie aansteeklik wees nie.

Goeie opsporing van kontakte

Monsters van polimerase-kettingreaksietoetse by die Covid-19-toetssentrum by die Purpan Universiteitshospitaal in Toulouse, Frankryk. Dié land probeer die pandemie beheer deur middel van ’n nasionale inperking. Foto: Getty Images

Viëtnam het sedert die begin van sy pandemie op ’n aggressiewe manier te werk gegaan om kontakte op te spoor en daar is tans minder as 100 aangemelde gevalle per dag in dié land, en geen onlangse sterftes nie. Enigeen wat die virus het, word gehospitaliseer, wat help om isolasie af te dwing, terwyl kontakte tuis moet isoleer, en die onmiddellike buurt onder ’n plaaslike inperking geplaas word. Daar is duidelike kommunikasie en die kwessie word nie gepolitiseer nie en word gesien as belangrik vir openbare gesondheid.

Suid-Korea gebruik weer terugwerkende kontakopsporing om uitbrekings te ondersoek en te verstaan waar oordrag plaasvind. As gevolg hiervan is baie kroeë, nagklubs, karaokekroeë en plekke van aanbidding gesluit.

Taiwan, waar daar geen gerapporteerde sterftes was sedert Mei nie, het waarskynlik die doeltreffendste toets-en-opspoorprogram. Gevalle word twee keer per dag opgevolg per telefoon, selfoonboodskap of tuisbesoeke om die boodskap van selfisolasie te versterk en om steun aan te bied, wat kan insluit die aflewering van maaltye en kruideniersware. Kontakopsporing is hoogs doeltreffend en gemiddeld 20 tot 30 kontakte word per geval geïdentifiseer. Taiwan het nou al vir drie maande geen koronavirus-sterftes gerapporteer nie.

Die beste benadering vir Westerse lande is ongelukkig om deur hul winters te kom deur nasionale of plaaslike inperkings in te stel.

Kontakopsporing werk net indien dit behoorlik gedoen word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beklemtoon die belang daarvan dat gevalle nie net geïdentifiseer moet word nie, maar dat hulle opgevolg moet word en dat steun aangebied moet word. Hy reken gemiddeld moet die toets-en-opsporingspan vir elke geval drie dae se werk doen. Dis duidelik net haalbaar indien die aantal daaglikse gevalle gebring kan word na hanteerbare getalle, wat nie die geval is in baie Europese lande of in dele van Amerika nie.

Met die aantal gevalle wat so hoog is in hierdie plekke, is die beste benadering vir Westerse lande ongelukkig om deur hul winters te kom deur nasionale of plaaslike inperkings in te stel. Maar dit moet gekombineer word met nuwe maatreëls, insluitende massa-toetsing. Die aantal nuwe infeksies moet minder word sodat doeltreffende opsporing van gevalle en kontakopsporing met plaaslike opvolgbesoeke en steun die kettings van oordrag kan beheer.

Natuurlik sal die sukses van al hierdie maatreëls afhang van die begrip, vertroue en deelname van alle bevolkingsgroepe.

• Whitworth is ’n professor in internasionale openbare gesondheid by die London School of Hygiene and Tropical Medicine. Dié stuk het aanvanklik op The Conversation verskyn. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.