Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: Styf ingedruk in mekaar se asems

As jy WiFi en lopende water het, klink drie weke van afsondering nie te sleg nie. Maar wat gebeur met gesinne van vier wat drie weke lank ’n ruimte so groot soos ’n viermantent moet deel? Carla Lewis het Protea, ’n informele nedersetting in Bredell, aan die Oos-Rand, op die vooraand van die staat van inperking besoek.

‘n Muurkunswerk in die Protea- informele nedersetting in Bredell. Foto’s: Carla Lewis

“Kwalifiseer ontkleedansers vir UIF?”

Jane Strydom, een van die inwoners van die Protea-informele nedersetting lyk moeg en raadop.

“Nee, ons doen nie.”

’n Reuk van melancholie hang om haar. Met haar raafswart krullebos, porselein vel en roos-en-doring-tatoes wat om haar lang bene en arms rank, laat sy ’n mens aan ’n art nouveau-plakkaat van Alphonse Mucha dink.

Een wat die lewe al ’n bietjie verbleik het.

Ek werk vir kommissie en fooitjies. As ek nie dans nie, is daar nie geld nie.
Jane Strydom

Ongelukkig vir haar is volwasse vermaak nie as ’n noodsaaklike diens in die Staatskoerant gelys nie.

Sy sal waarskynlik ook nie kwalifiseer as ’n begunstige vir die R150 miljoen-noodfonds wat die departement van sport, kuns en kultuur beskikbaar gestel het om teatermense, akteurs, sangers en dansers in hierdie tyd te steun nie.

Strippers is nie die regte tipe kunstenaars nie.

Jane bevind haarself tans in dieselfde bootjie as vryskutte, kelners, akteurs, sangers – almal mense wat van lone afhanklik is. As hulle nie werk nie, word hulle nie betaal nie, en as daar nie ’n gehoor is voor wie hulle kan optree nie – of dit nou in die Staatsteater of ’n sogenaamde gentleman’s klub is – verdien hulle nie ’n inkomste nie.

“Ek werk vir kommissie en fooitjies,” verduidelik sy saaklik. “As ek nie dans nie, is daar nie geld nie.”

Jane Strydom, ’n ontkleedanseres, sal vir drie weke nie kan werk nie. Dus sal sy geen inkomste verdien nie.

Haar voorkop plooi bekommerd en sy beduie na haar blyplek, een van daardie tente wat jy in vertrekke kan verdeel.

Sy woon hier saam met haar lewensmaat en hul twee blondekop-dogtertjies, die sesjarige Nikita (6) en die agtjarige Lisa (skuilname).

Lisa speel met ’n wit kat, terwyl sy by haarself brabbel.

Sy is outisties en gaan skool by Con Amor, ’n spesiale skool vir kinders met gestremdhede.

Nou wil die regering hê ons moet haar hierbinne vasgekluister hou?
Jane Strydom

“Sy het ’n streng roetine waarby gehou moet word. As dit verbreek word, raak sy moeilik. Hoe verduidelik ek vir haar sy mag nie vir drie weke buite ons erf gaan nie? Dat sy nie meer buite mag speel nie?

“Nou wil die regering hê ons moet haar hierbinne vasgekluister hou?” vra-sê sy.

Armoré Bezuidenhoudt, Jane se buurvrou, is ook bekommerd. Haar kêrel is een van die gelukkiges, want hy mag nog werk, maar sy is bekommerd oor sy gesondheid.

“Hy werk in die kosafleweringsbedryf. Maar twee van sy kollegas is nou al huis toe gestuur omdat hulle grieperig is.”

Alfie, ’n vosbruin worshond, wriemel tussen haar voete. Sy tel hom op, gee hom ’n drukkie. In ruil kry sy ’n lekker nat lek op haar wang.

Armoré Bezuidenhoudt en haar worshond, Alfie.

“Hy was ’n wrak toe ek hom gekry het. Sy voormalige eienaars het hom geskop. Ek is darem dankbaar ek het nie nou kinders nie. Ek moes so paar weke terug ’n pregnancy test doen.”

Dit was blye tyding, een blou strepie – negatief.

Sy beduie na ’n foksterriër en ’n kat wat in haar klein erfie in die son lê en dut. “My diere is soos my kinders.

“Hier leef ons almal maar van die hand na die mond,” sê sy. “Die meerderheid van Protea se inwoners gebruik hul geld om hul skuld te betaal, maar as hulle vir drie weke nie ’n inkomste kan verdien nie . . . ”

As jy so tussen die lyne deur lees, klink dit ook nie na die tipe instansies wat hul kliënte ’n drie-maande-betaalvakansie sal aanbied nie.

Waar kla ons? Wie gaan na ons luister? Ons is onsigbaar.
Armoré Bezuidenhoudt

“Mense besef nie die impak wat die virus op gemeenskappe soos ons het nie. Ons het nie geld om in grootmaat te panic buy nie.

“Vandeesweek is ek winkel toe om pasta te koop, toe was die rakke leeg. Ek vra toe vir ’n vrou – met ’n hele trollie vol noedels – of sy nie een of twee pakke aan my kan afstaan nie. Sy het geweier. Soms word ons sommer uit die pad gestamp.”

Sy is briesend vir opportunistiese supermarkte wat weerloses uitbuit.

“Van die goed se pryse het oornag gestyg. Dis sommer R10 duurder. Vir ryk mense is daai R10 miskien nie baie nie, maar ewe skielik is ’n noodsaaklike ding vir ons onbekostigbaar duur.

“Ek weet hulle sê ons moet kla dat dit verkeerd is. Ek het gevra om met die bestuurder te praat, maar hy het net sy skouers opgetrek. Waar kla ons? Wie gaan na ons luister? Ons is onsigbaar.”

Solank hy nie op ons matras spring nie, is alles doodreg,” sê Adri du Plooy.

Adri du Plooy sê sy het kaas, kitsnoedels en aartappels gekoop om haar gesin in afsondering deur te sien.

“Ek het nie geld vir iets anders nie, waar moet ek geld vir vleis kry?

“Ek het in die supermark gekyk hoe die mense voor my R4 000 se vleis laat oplui. Toe dink ek, ‘die krag beter hou . . . vir jou part hoop ek nie ons word ge-loadshed” nie.’

Korona bekommer haar nie, haar hart is reg. Sy is veel meer besorg oor hoe sy haar twee woelwaterseuns in die drie weke gaan stilhou.

“Ek is ’n kind van die Here, en die Here werk met ’n plan. Ek weet Hy sal na sy kinders kyk. Ons moet net vertrou.”

Sasha slaap die afgelope ses maande agter in haar wit luikrugmotor saam met Tiny, die foksterriër, en verdien ekstra geld as ’n skoonmaker.

Sy beduie na ’n kleuter in ’n weermagbroekie. “Solank hy nie ons bed as ’n trampolien gebruik nie.”

Sarah (skuilnaam) kruip nou al ses maande in Protea weg nadat sy in die nag moes vlug toe haar buurman haar glo met die dood gedreig het. Sy slaap die afgelope ses maande agter in haar wit luikrugmotor saam met Tiny, die foksterriër, en verdien ekstra geld as ’n skoonmaker.

“My buurman was betrokke by dwelmhandelaars, en hy het gewelddadig geraak. Ek het hom by die polisie gaan aangegee, maar hulle wou my nie die nodige beskerming gee nie.”

Sedertdien handhaaf sy ’n lae profiel, sê sy.

“Ek hoop regtig dat dinge ná drie weke tot normaal kan terugkeer. Ek doen stukwerk. As ek nie werk nie, eet ek nie.”

Tussen baie asems

Nikita, Jane se jongste speel voor hul blyplek.

“Kom ek wys vir jou my huis,” nooi Jane my in.

Daar is twee vertrekke, die “leefarea” wat as ’n woonarea en ’n kombuis dien. ’n Ou bokstelevisie flikker weemoedig en die bank lê vol klere.

“Skies, dis wasdag, ek moet nog al die klere opvou,” sê sy.

Die tweede vertrek is die slaapkamer – skaars groter as ’n koningsgroottebed. Die beddens is teenaan mekaar geskuif. Jane, haar twee dogtertjies en hul pa deel die ruimte.

Buite haar erf wys sy vir my ’n A-raamtentjie, waar ’n hoop brandsiek sagte speelgoed uit ’n kis vir jou loer.

“Dis die kinders se speelkamer, so hulle het darem ’n plekke van hul eie.”

“Miskien kan julle dit inspan as die kwarantyntent,” skerts ek, in ’n poging tot galgehumor.

Jane lag nie saam nie.

Hoe kwarantyn jy ’n gesin van vier wie se slaapgeriewe ’n vierman-koepeltent is en ablusies met hul bure moet deel?

Die blyplekke in Protea is van tente, soos Jane s’n, tot wendyhuise, skuilings van sinkplate en hout en, vir die meer gelukkiges, ou woonwaens.

Party sal nie uitstaan in die Tshipise-vakansieoord of die Eiland nie. Voor van die woonwaens groei skelrooi malvas en groengeil geraamteplante (delicious monsters). Ander lyk soos hippieskuilings wat jy in dorpe soos Koffiebaai en Port St. Johns in die Transkei sien.

Die lowergroen blare en vrolike malvas steek egter nie die harde realiteit van die Protea- informele nedersetting weg nie – baie van die inwoners het nie lopende water in hul wonings nie. Stort-en-toiletgeriewe word gedeel.

’n Mens sidder om te dink wat sou hier moes gebeur as iemand die koronavirus opdoen. Hoe kwarantyn jy ’n gesin van vier wie se slaapgeriewe ’n vierman-koepeltent is en ablusies met hul bure moet deel?

Hoe verduidelik jy aan die kinders presies wat ’n veilige afstand is wat gehandhaaf moet word wanneer almal alreeds so gewoond is daaraan om so styf teen mekaar te lewe?

Reëls vir ryk mense

Tiny die foksterriër.

Vir Protea se inwoners klink die reëls wat die regering vir die inperking afgekondig het, onprakties en selfs onmoontlik.

Niemand is bewus van enige maatskaplike werker of regeringsbeampte wat die nedersetting al besoek het om te verduidelik presies wat ’n staat van inperking behels nie. Die kinders met wie ek gesels, giggel grootoog wanneer ek die konsep van ’n veilige sosiale afstand verduidelik.

“As jy en ’n maatjie langs mekaar staan, jul arms langs julle uitstrek en jul vingerpunte aan mekaar raak, dis hoe ver julle van mense moet bly,” probeer ek verduidelik.

“Maar dis omtrent hoe groot my, my sussie en Mamma se kamer is,” laat een haasbekkie met groot blou oë van haar hoor.

Die meeste van die inligting hoor hulle op die “seweuur-nuus” maar dit is net die hooftrekke. Ander brokkies – wat stertjies bykry – word sommer so deur hoorsê tussen die mense oorgedra.

Dis dan ryk mense wat die virus ingebring het, mense wat geld het om oorsee te gaan. Ons het skaars geld vir kos. Nou koop hulle al die kos op, die pryse word duurder en ons armes ly.
Adri du Plooy

Daar heers ook baie onsekerheid. Gaan hulle hul Sassa-toelae kan ontvang? Mag hulle kliniek toe gaan om hul medikasie te kry? Van die enkelma’s weet nie wat om met hul kinders te doen as hulle gou winkel toe moet stap om kruideniersware te koop nie. Jy kan hulle mos nie meer by die bure los nie?

“Hulle is ook maar bang om in die strate te gaan loop,” sê Armoré. “Hulle is bang hulle word in hegtenis geneem.”

Dis inperkingsreëls vir ’n middelklasbestaan; mense met ’n ekstra kamer waarin ’n sieke in ’n afsonderlike bed geïsoleer kan word. Dis vir mense met en suite-badkamers en krane wat tjoef-tjaf oopdraai en ’n silwerskoon stroom uitspoeg, waar jy gou die dag se oorblyfsels van kindwees – taai handjies en vuil voetsole – met lekkerruikseep kan wegskrop. Dis reëls vir vroue wat ’n lewensmaat het wat sy genoeg vertrou om ’n oog oor die kinders te hou sodat sy gou kan uitgaan om vars brood en melk te koop.

Op sosiale media wonder mense of hulle mag gaan draf, of met hul honde gaan stap; die Protea-inwoners krap kop oor hoe hulle hulself moet afsonder – gesinne van vier en meer – in ruimtes skaars groter as ’n viermanboogtent.

Daar is ook verwyte. “Dis dan ryk mense wat die virus ingebring het, mense wat geld het om oorsee te gaan. Ons het skaars geld vir kos. Nou koop hulle al die kos op, die pryse word duurder en ons armes ly,” braak Adri gal.

Kom polio, kom meningitis, kom korona

Oom Jip Malan skrik nie vir Covid-19 nie, want hy het al breinvliesontsteking en polio oorleef.

Oom Jip Malan (79), ’n afgetrede hawebestuurder en een van Protea se oudste inwoners, is egter min oor Covid-19 gepla.

Hy het polio en breinvliesontsteking as kind oorleef en is al deur ’n trein en taxi raakgery. Daardie virus kan maar kom, seg hy.

“Ek het al lankal my sake met die Here reggekry. Ek skrik nie vir daai virus nie.”

Hy is ook een van die gelukkiges – ’n oomblik later stop ’n rooi luikrugmotortjie voor sy huisie en ’n jong vrou klim uit.

Sy begin brood, meel en aanmaakkoeldrank uitlaai vir die res van Protea se inwoners wie se families hulle nie uit die drie weke lange vagevuur kan verlos nie.

“Dis my dogter,” spog hy. “Ek gaan in kwarantyn by haar deurbring. Ek gaan met die kleinkinders speel en tiewie kyk.”

Sy oë blink in afwagting.

* Lewis is 'n redaksielid van Beeld. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Paniekaankope  |  Pandemie  |  Informele Nedersetting  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.