Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19: Waarom glo mense sekere teorieë?

Waarom neem samesweringsteorieë en die vraag na alternatiewe geneesmiddels toe in tye soos nou met die Covid-19-pandemie, vra Jeremy Cohen.

Soos die wêreld voortgaan om planne te maak met die lewensveranderende invloed van die koronavirus, is daar ’n klein dog betekenisvolle groepie wat uiting aan hul vrees vir die Covid-19-virussiekte gee met samesweringsteorieë en alternatiewe geneesmiddels.

Onlangs het ’n webwerf vir samesweringsteorieë aan die hand gedoen dat Covid-19 biologiese terrorisme teen Chinese handel is. In Februarie het ’n gewilde webwerf gesê die virus is ’n skelmstreek wat wêreldwye vrees moet aanwakker sodat groot farmaseutiese maatskappye daaruit kan geld maak.

’n Webwerf in Toronto beweer Covid-19 is die gevolg van 5G- sellulêre netwerke en gewone griep.

Press TV, deel van die staatsondersteunde media in Iran, beweer “Zioniste” is verantwoordelik vir die verspreiding van die virus. So onlangs soos twee weke gelede het sommige amptenare in die VSA voortgegaan om die virus as minder ernstig af te maak.

The New York Times het berig dat die gewilde konserwatiewe geselsradio-aanbieder Rush Limbaugh die virus ’n “komplot van die Chinese” genoem het en die Fox TV-aanbieder Sean Hannity het geloofwaardigheid aan ’n twiet gegee wat Covid-19 ’n bedrogspul noem wat “paniek onder die bevolking moet veroorsaak, die ekonomie moet manipuleer en andersdenkendes moet verdruk”.

Hoekom versprei samesweringsteorieë so maklik tydens die Covid-19-pandemie? Watter soort mense glo aan mediese samesweringsteorieë?

Ek doen navorsing oor nuwe godsdienstige bewegings. Ek het besluit om dié vrae te probeer beantwoord omdat samesweringsteorieë alomteenwoordig is in dié gemeenskappe.

Wat kan die geloof in alternatiewe teorieë ons oor onsself vertel?

Watter uitdagings kan samesweringsdenke wat aanlyn en in die gewilde media die rondte doen in die komende jaar inhou vir mense wat openbare gesondheid voorop stel?

Sameswering in die tyd van die koronavirus

Samesweringsteorieë wat die Covid-19-pandemie met Israel verbind, gedy. Een bron, deel van ’n groot en wêreldwye gemeenskap wat aan samesweringsteorieë glo, beweer die virus is ’n daad van Israeliese biologiese terrorisme.

Die Anti-Defamation League in die VSA, ’n vooraanstaande organisasie wat die bekamping van haat betref, het die spoor van ’n toenemende aantal anti-Semitiese samesweringsteorieë gevolg wat beweer dat Jode die Covid-19-pandemie veroorsaak het of munt daaruit wil slaan.

Jode is nog altyd vir wêreldwye virusse geblameer, ook vir die Swart Dood van die 1300’s wat tot georganiseerde moordveldtogte teen die Europese Jodedom gelei het. Daar word gesê dat die mense in die Middeleeue ’n sondebok nodig gehad het omdat hulle nie geweet het van die kieme wat dié siekte veroorsaak het nie.

Tog, 130 jaar nadat die Russiese mikrobioloog Dmitri Iwanofski en die Nederlandse wetenskaplike Martinus Willem Beijerinck afsonderlik van mekaar die bestaan van kieme ontdek het, byt Jode steeds die spit af wat die blaam van samesweringsteorieë betref.

Skelmstreke met alternatiewe geneesmiddels

Daar is verskeie redes waarom mense na alternatiewe geneesmiddels soek. Dit sluit in wantroue teenoor die owerhede, verbruikersgerigte individualiteit en die geloof dat die behandeling sal werk.

Hoewel daar geen teenmiddel vir die koronavirus is nie, het dit die televisie-evangelis Jim Bakker nie gekeer om sy kolloïdale silwer-aftreksel teen $125 ’n bottel te verkoop nie. Die deelstaat Missouri het ’n klag teen Bakker gelê daaroor.

Infowars se Alex Jones beweer ’n produk genaamd DNA Force Plus kan Covid-19 beveg; ’n maand se voorraad word vir $8,95 verkoop. ’n Ander voorstander van aanvullings verskaf ’n mengsel van meer as 11 verskillende aanvullings wat koronavirus na bewering sal beveg. Dit kos meer as $170 per maand.

Ander beweerde teenmiddels sluit in vitamien C, geloofsgenesing en homeopatiese teenmiddels. Daar is geen bewyse dat enige van dié geneesmiddels werk nie.

Te midde van ’n groeiende vraag na alternatiewe geneesmiddels, het twee Kanadese navorsers wat swendelary oor gesondheid op die internet ondersoek, bevind dat alternatiewe produkte wat aanlyn bemark word “óf ’n algehele wanvoorstelling van die doeltreffendheid van die middels is en/of dat daar geen wetenskaplike bewyse is vir wat dit voorgee om te wees nie”.

Sedert Covid-19 as ’n wêreldwye pandemie verklaar is, is daar bewyse dat die vraag na alternatiewe geneesmiddels toeneem. Sommige alternatiewe geneesmiddels was doeltreffend, maar baie van dié wat deesdae adverteer word, is nié.

Soos Timothy Caulfield professor in gesondheidsreg aan die Universiteit van Alberta, geskryf het: vertroue in die wetenskap is nou van die allergrootste belang.

Wie glo in samesweringsteorieë?

Samesweringsdenke kan berus op grondige bekommernisse en kan oor maatskaplike, onderwys- en gender-grense heen strek. Dit maak dit moeilik om oor die algemeen aan smouse van samesweringsteorieë te dink as mense wat hoofbedekkings van tinfoelie dra.

’n Aantal teorieë het al ontstaan om samesweringsdenke te probeer verklaar.

Eric Oliver en Thomas Woord, politieke wetenskaplikes van die Universiteit van Chicago, het navorsing gedoen oor mediese samesweringsteorieë. Hulle het bevind dat nagenoeg 50% van Amerikaners aan minstens een algemene samesweringsteorie glo en dat meer as 18% in drie of meer mediese samesweringsteorieë glo.

“Hoewel dit algemeen is om aanhangers van samesweringsteorieë af te maak as ’n waansinnige randgroep of paranoïese sotte, dui ons data daarop dat mediese samesweringsteorieë wyd bekend is, oor die algemeen ondersteun word en hoogs voorspelbaar is in baie mense se gedrag oor algemene gesondheidskwessies,” het hulle in die Journal of the American Medical Association Internal Medicine geskryf.

Dalk dui die breë aanklank van sulke teorieë dalk op iets meer fundamenteels in die ervaring van menswees? Wanneer mense praat oor kwarantyn, opberging en samesweringsteorieë kan hulle die olifant in die kamer ignoreer: dood.

Navorsing doen aan die hand dat ons verskeie bestuurstegnieke gebruik wanneer die vrees vir dood ter sprake kom. Waar siekte kan dui op ons verganklikheid, kan eenvoudige oplossings vir gesondheidskwessies ons die idee gee dat ons beheer oor ons liggame het.

Dit verduidelik dalk waarom sommige sameswerinsgwebwerwe die gevaar van Covid-19 vir volwassenes probeer afmaak deur te wys op die bejaarde ouderdomme van slagoffers.

Met ander woorde, pandemies maak ons baie bang en hulle herinner ons aan ons verganklikheid.

Selfs al word mediese samesweringsteorieë tot randgroepe beperk, kan die gevolge daarvan op openbare gesondheid dalk bydra tot die verspreiding van die virus.

Mense kan aanhou om kwarantyn-opdragte te ignoreer.

’n Teenmiddel vir Covid-19 sal dalk in die toekoms moet meeding teen ’n groterwordende anti-teenmiddel-beweging. Sal mense steeds vatbaar wees vir anti-teenmiddel samesweringsretoriek in die tyd van Covid-19?

Samesweringsteoretici probeer, soos almal van ons, om sin te maak van ’n komplekse wêreld.

Om ’n gevoel van beheer te hê oor ’n onsegbare bron van mag – wat die koronavirus op vele maniere beskryf – kan dalk van ons kollektiewe vrese en beweegredes aanspreek in die aangesig van ons verganklikheid.

Niks lewer in elk geval groter bewys van menslike verganklikheid en broosheid soos ’n virale pandemie nie.

* Cohen is ’n doktorale student in godsdienstige studies aan die McMaster Universiteit. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.