Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-19 was nekslag vir Trump by stembus

Pres. Donald Trump van Amerika het die koronavirus fisiek oorleef, maar die Covid-19-pandemie het sy kanse om herverkies te word in die wiele gery, skryf Paul Whiteley, Harold D Clarke, Karl Ho en Marianne Stewart.

Wie het nou ’n masker nodig. Pres. Donald Trump op die balkon van die Withuis nadat hy uit diehospitaal ontslaan is waar hy vir Covid-19 behandel is. Foto: Getty Images

Toe Trump op 2 Oktober positief vir Covid-19 getoets is en ’n dag later in die hospitaal opgeneem is, is allerweë aanvaar dat dit ’n groot terugslag sal wees vir sy veldtog om herkies te word as president van Amerika.

Hy het nogal vinnig herstel en weer met groot geesdrif stemme probeer werf ná ’n tipiese strydvaardige foto-geleentheid by die Withuis.

Maar peilings – waarvan die aanvanklike bevindings vir die eerste keer hier gepubliseer word – bewys dat Trump nie die greep van Covid-19 kon ontsnap nie en dat sy hantering van die pandemie ’n deurslaggewende rol gespeel het in sy nederlaag in die verkiesing op 3 November.

Die verskriklike tol van Covid-19 wat lewens betref en die virus se vernietigende invloed op mense se ekonomiese en sielkundige welstand het ’n alom teenwoordige werklikheid geword. Dit is daarom nie juis ’n verrassing nie dat die Universiteit van Texas in Dallas se nasionale Cometrends-peiling, wat twee weke voor die presidensiële verkiesing gedoen is, daarop dui dat die pandemie die kwessie was wat die swaarste by baie kiesers geweeg het.

Die pandemie as die uitstaande kwessie was ’n groot probleem vir Trump omdat ’n oorweldigende getal kiesers van mening was dat hy die krisis swak hanteer het.

Sowat 62% van die 2 500 respondente het gesê die Covid-19-krisis is een van die topdrie kwessies waarmee die land te kampe het en 39% het dit as die heel belangrikste bestempel. Geen ander kwessie nie – nie eens die kwynende ekonomie nie – is as die belangrikste deur een uit elke vyf mense aangewys nie.

Die pandemie as die uitstaande kwessie was ’n groot probleem vir Trump omdat ’n oorweldigende getal kiesers van mening was dat hy die krisis swak hanteer het.

Tweederdes van die mense wat aan Cometrends se peiling deelgeneem het, het gesê hulle keur nie die president se reaksie op die krisis goed nie, terwyl net een uit elke vier mense dit goedgekeur het.

Toe hulle later in die peiling nog ’n kans gegee is om kommentaar oor sy hantering van die pandemie te lewer, het 51% gesê dit was “swak” of “aaklig” en slegs 38% het gesê dit was “goed” of “uitstekend”.

Dié swak beoordeling van Trump se hantering van die koronavirus was die teenoorgestelde van menings oor die ekonomie – onder diegene wat die ekonomie as die belangrikste kwessie beskou, het 69% die werk wat die president oor die ekonomie doen goedgekeur en slegs 25% het dit nie goedgekeur nie.

Pres. Donald Trump met ’n masker in die een hand op ’n mediakonferensie oor die Covid-19-pandemie. Foto: Getty Images

Hoewel dit goeie nuus vir Trump is, het slegs ’n relatief klein minderheid (17%) van kiesers die ekonomie as die belangrikste kwessie beskou.

Hy kon ook nie op allerhande ander kwessies staatmaak om sy beeld te verbeter nie omdat slegs 41% van mense sy optrede as president sonder inagneming van die Covid-19-krisis goedgekeur het teenoor die 50% wat dit afgekeur het.

Die peiling wys duidelik dat kiesers meer geneig was om vir Trump as president te stem as hulle nie so bekommerd oor die pandemie is nie. Dié wat wel die pandemie as die belangrikste kwessie beskou, was weer glad nie gretig om hul kruisies agter Trump se naam te trek nie.

Ander faktore is ook in ag geneem.

Terwyl hy vir sy verkiesingsveldtog van 2020 voorberei het, het Trump dit herhaaldelik benadruk dat hy herverkies moet word omdat hy ekonomiese voorspoed kon bewerkstellig.

Dit sluit in houdings teenoor die ekonomie, die omgewing, gesondheidsorg, wet en orde en rasseverhoudinge sowel as ander belangrike faktore soos tot watter mate mense met die Demokratiese of die Republikeinse Party identifiseer, liberaal-konserwatiewe ideologiese beskouinge en sosio-demografiese karaktertrekke.

Onder kiesers wat Covid-19 as die belangrikste kwessie beskou het, sou net 42% waarskynlik vir Trump gestem het terwyl die syfer 53% vir dié wat enige ander kwessie in die topdrie as die belangrikste beskou het.

Dié patroon is die teenoorgestelde wanneer die ekonomie ter sprake is. Meer as driekwart van die kiesers vir wie die ekonomie die topprioriteit was, het Trump gesteun. Dié getal het tot minder as een uit drie gedaal onder diegene vir wie die ekonomie nie so belangrik was nie.

Hierdie getalle is byna identies aan dié onder die groot groep moontlike “swaai-kiesers” wat hulself as politiek onafhanklik beskou en geen verbintenis aan enige van die partye het nie.

Onafhanklikes wat die pandemie as die topprioriteit beskou het maak bykans 13% van die kiesers in die Cometrends-pieling uit en die waarskynlikheid dat hulle vir Trump sou stem, was nie baie goed nie – net meer as 40%.

Virus krap kaarte deurmekaar

Joe Biden het anders as pres. Donald Trump nooit sonder ’n masker in die openbaar verskyn nie. Foto: Reuters

Terwyl hy vir sy verkiesingsveldtog van 2020 voorberei het, het Trump dit herhaaldelik benadruk dat hy herverkies moet word omdat hy ekonomiese voorspoed kon bewerkstellig.

Aandeelpryse wat die hoogte ingeskiet het en werkloosheidsyfers wat rekord laagtes bereik het ook onder etniese- en rasse-minderhede, vroue en jong mense het die president se punt gestaaf. Toe kom die pandemie en verander die sakelys vir 2020 se verkiesing heeltemal.

Soos die stemdag van 3 November nadergekom het, het die meeste van die mense wat op die ekonomie gefokus het steeds vir Trump hoë punte gegee. Maar hulle was nou ’n beduidende minderheid van kiesers.

Covid-19 het die oorheersende kwessie vir miljoene Amerikaners geword en ons peiling dui sterk daarop dat die meeste van hulle hom skerp veroordeel het vir sy hantering van die krisis. In baie gevalle het dit gelei tot stemme vir Joe Biden.

Trump mag fisiek herstel het van Covid-19. Maar sy kanse om herverkies te word, het ’n terugslag gekry waarvan dit nooit sou herstel nie.

* Paul Whiteley is professor in die departement van regeerkunde aan die Universiteit van Essex, Harold D Clarke is Ashbel Smith-professor by die skool vir ekonomiese, politieke en beleidswetenskap aan die Universiteit van Texas, Karl Ho is medeprofessor in onderrig aan die Universiteit van Texas, en Marianne Stewart is professor in politieke wetenskap aan dieselfde universiteit.

• Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.