Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-data: Lyk of SA in rigting van kudde-immuniteit beweeg

Daar is aanduidings dat Suid-Afrika in die rigting van kudde-immuniteit beweeg wat Covid-19 betref en dat die land gereed is vir fase 1 van inperking, skryf Eugene Cloete en Kanshu Rajaratnam.

’n Man met ’n gesigsmasker kyk na produkte op ’n winkelrak in Johannesburg. Suid-Afrika is gereed om na vlak 1 van inperking te beweeg en kan in elk geval nie nog ’n langdurige inperking bekostig nie. Foto: Reuters

Die getal mense wat met die koronavirus besmet is, het op 15 September (Dinsdag) met 772 toegeneem.

Die laaste keer dat Suid-Afrika minder nuwe infeksies as dit gehad het, was op 19 Mei.

Die land is op die regte pad en gereed vir vlak 1 van inperking.

’n Vlak 1-inperking sal meer sosiale kontak tot gevolg hê en ons kan ’n toename in gevalle sien. Tog kan die land nie ’n verdere langdurige staat van inperking bekostig nie.

Wetenskaplikes het vroeër aangevoer kudde-immuniteit sal ontstaan as 70% tot 80% van die bevolking geïnfekteer is. Kudde-immuniteit is wanneer ’n groot deel van die bevolking immuniteit teen die virus opgebou het en nie weer daarmee besmet kan word of ander daarmee kan besmet nie.

Inenting is een manier om kudde-immuniteit te bewerkstellig. Maar dit is nog in ’n ontwikkelingsfase en selfs al is ’n entstof vir menslike gebruik goedgekeur, moet daar die kapasiteit wees om genoeg te vervaardig sodat kudde-immuniteit ’n werklikheid kan word.

Die produsering van teenliggame is ’n ander reaksie wanneer die liggaam geïnfekteer word.

Dit is tog moontlik dat kudde-immuniteit deur die natuurlike verspreiding van die virus bewerkstellig kan word.

Omdat baie mense wat met die virus besmet is ligte tot geen simptome toon nie, is dit moontlik dat dit na meer mense versprei het as wat die data aantoon.

Wanneer ’n individu besmet word, maak die liggaam op T-selle staat om virale infeksies te beveg. Huidige toetse soek na die teenwoordigheid van T-selle in die liggaam.

Die produsering van teenliggame is ’n ander reaksie wanneer die liggaam geïnfekteer word. Teenliggame is proteïne wat infeksies beveg en is ’n aanduiding van ’n vorige infeksie.

Min teenliggame in Spanje, Swede

’n Vrou woud in Khoraj in die Indiese deelstaat Gujarat vir Covid-19 getoets. Foto: Reuters

Serologiese opnames is toetse vir teenliggame wat in ’n bevolking gedoen word om die verspreiding van ’n infeksie te bepaal.

Om ’n eenvoudige voorbeeld te gebruik: ’n Groot getal mense in ’n bevolking word lukraak getoets vir teenliggame in hul bloed en die persentasie wat geïnfekteer is, sal dui op die verspreiding van die virus in die totale bevolking.

Sulke serologiese opnames is internasionaal gedoen om te bepaal of kudde-immuniteit onder ’n bevolking posgevat het of dat kudde-immuniteit naby daaraan was om ’n werklikheid te word.

’n Studie deur die Australian National University het bevind dat die ware infeksiesyfers in Australië nader was aan 71 500 hoewel slegs 11 000 gevalle aangeteken was. Selfs ’n konserwatiewe beraming van die ware infeksiesyfer was 30 000 (2,7 keer meer as die infeksies waarvan die owerhede bewus was).

Daar was egter nie ’n hoë voorkoms van teenliggame in alle lande en streke wat hoë infeksiesyfers gehad het nie.

In Indiese stad Pune is die teenwoordigheid van teenliggame opgespoor by meer as 51% van die bevolking wat getoets is.

In Delhi wou een skatting dit hê dat die ware infeksiesyfer 40 keer hoër is as wat syfers aangedui het.

Daar was egter nie ’n hoë voorkoms van teenliggame in alle lande en streke wat hoë infeksiesyfers gehad het nie.

Ondanks die hoë infeksiesyfers in Spanje het slegs sowat 5% van mense wat getoets is teenliggame gehad (dié toetse is van 27 April tot 11 Mei gedoen).

In Swede, waar ’n staat van inperking nie ingestel is nie, is gehoop dat 40% van Stockholm se bevolking teen Mei teenliggame sou hê. Teenliggame is egter slegs by 15% van mense wat getoets is, gevind.

Goeie nuus vir Suid-Afrika

’n Terrein in Londen waar mense vir Covid-19 getoets word. Foto: AP

Serologiese opnames is ook in sommige gevalle in Suid-Afrika gedoen.

In Kaapstad is toetse vir teenliggame gedoen op 2 700 verwagtende vroue en mense wat met MIV saamleef en openbare gesondheidsgeriewe sal gebruik.

Die opname het aangetoon dat 40% van dié mense straks voorheen die virus onder lede gehad het en daarom nou teenliggame het.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het in ’n verklaring gesê dat tot soveel as 12 miljoen mense (20% van die bevolking) die virus onder lede kon gehad het.

Dit is 18 keer meer as die infeksiesyfer wat aangeteken is. Dit dui op die verspreiding van die virus en dat die land in die rigting van kudde-immuniteit beweeg.

Dié vlak van die voorkoms van teenliggame kan die rede wees vir die afname van infeksies in die land.

Die serologiese opname in Kaapstad is onder ’n spesifieke groep gedoen en die een waaroor die minister verslag gedoen het, is in die algemene bevolking gedoen.

Dit is egter steeds onduidelik of teenliggame immuniteit op kort termyn of langer termyn verskaf en of dit selfs permanente immuniteit kan waarborg.

Dit sal raadsaam wees om ’n soorgelyke opname onder skoolgaande kinders te doen om die vlak van hul immuniteit te bepaal sodat ons strategieë kan daarstel wat ons kinders sal beskerm.

Dit is egter steeds onduidelik of teenliggame immuniteit op kort termyn of langer termyn verskaf en of dit selfs permanente immuniteit kan waarborg.

As laasgenoemde die geval is, sal nuwe infeksies aanhou om stadiger toe te neem. As eersgenoemde egter die geval is, is daar ’n groter risiko van ’n tweede vlaag van infeksies wanneer mense se immuniteit as’t ware opraak.

Die hoë vlakke van die voorkoms van teenliggame is nietemin ’n positiewe teken vir die land.

* Prof. Cloete is viserektor vir navorsing, innovasie en nagraadse studies aan die Universiteit Stellenbosch en prof. Rajaratnam is direkteur van die skool vir datawetenskap en berekeningsdenke aan dieselfde universiteit.

* Besoek die skool se webwerf hier.

* Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Kanshu Rajaratnam  |  Eugene Cloete  |  Suid-Afrika  |  Indië  |  Swede  |  Spanje  |  Kudde-Immuniteit  |  Teenliggame  |  Covid-19-Pandemie  |  Data  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.