Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Covid-paspoort is glad nie ’n goeie idee nie

Wêreldwyd word daaraan gedink om ’n immuniteitpaspoort uit te reik aan mense wat reeds Covid-19 onder lede gehad het. Maar dit hou moontlike gesondheidsprobleme in en het die potensiaal om teen ander te diskrimineer, skryf Elsabé Brits.

Kan mense met ’n immuniteitpaspoort meen hulle kan kennisgewings soos dié in East Kirby in Engeland verontagsaam? Foto: Reuters

Dit laat ’n mens dink aan ’n oorlog of futuristiese wêreld waarin daar twee klasse van mense is: Dié wat sekere dinge kan doen nadat hulle ’n mediese toets ondergaan het, en dié wat dit nie kan doen nie.

Dinge soos reis, werk toe gaan en onder mekaar kuier.

Indien jy sekere teenliggaampies het, is jy een van die gelukkiges – dis nou mits jy die aanvanklike aanslag van die virus oorleef het. Daarsonder is jy gehok, selfs uitgestoot.

Daar is nog nie besliste antwoorde nie, want die pandemie is nog te nuut.

’n Immuniteitpaspoort is ’n digitale- of papierdokument wat aan mense uitgereik word wat herstel het van Covid-19. Die res kry dit nie. Dit kan natuurlik twee klasse mense skep in ’n wêreld wat reeds vele lae van ongelykheid het.

Lande wat dit openlik oorweeg, is Brittanje, Amerika, Duitsland, Italië en Chili. Maar daar kan meer wees, ander het dit dalk nog net nie gesê nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het reeds einde April sy kommer hieroor uitgespreek. Daar is byvoorbeeld steeds talle vrae of mense wat reeds die koronavirus gehad het, hetsy of hulle simptomaties of asimptomaties was, dit dalk weer kan kry en, belangriker, of hulle dit weer aan ander kan oordra.

Daar is nog nie besliste antwoorde nie, want die pandemie is nog te nuut.

Toetse verskaf nie finale antwoorde

Brood en werk, vra dié Poolse betoger se plakkaat. Foto: Reuters

Die mees onlangse data wys dat die meerderheid van mense wat herstel wel teenliggaampies teen die ernstige akute respiratoriese sindroom-koronavirus-tipe-2 (Ears-CoV-2) produseer. Maar wetenskaplikes weet nie of almal genoeg vervaardig om beskerming vir die toekoms te verseker nie.

Dit is ook nie seker hoe sterk die immuniteitsrespons ’n tweede keer sal wees nie.

Indien dit soortgelyk is aan gewone griep, is die tydperk kort. As dit soortgelyk is aan die ander ernstige respiratoriese sindrome, kan die beskerming tot twee jaar duur. Die liggaam se immuniteit teen ander koronavirusse is net ’n jaar.

Volgens die WGO is daar nie genoeg bewyse oor die doeltreffendheid van die liggaam se teenliggaampie-respons teen die virus nie en dus kan daar nie sonder vrees vir teenspraak gesê word mense is sonder risiko nie. Dit is ook iets om in gedagte te hou vir die komende maande.

Die feit dat jy vandeesweek deur ’n siftingsproses van die department van gesondheid is of negatief getoets het, beteken nie veel nie. Mense kan asimptomaties wees en steeds die virus oordra.

’n Vrou word vir die koronavirus in die Amasone in Brasilië getoets. Foto: Reuters

En wat beteken herstel regtig?

Indien jy aanneem jy is bestand teen ’n tweede infeksie kan jou gedrag, soos om handhigiëne en fisieke afstand toe te pas, heeltemal anders wees as ander mense s’n.

Die probleem met die genetiese toetse wat in die laboratorium gedoen word, is dat dit na die genetika van die virus soek en nie na die teenliggaampies nie.

Daar was al mense in ander lande wat weer, of steeds, positief getoets het lank nadat hulle herstel het. Een verklaring hiervoor is dat dit “dooie oorskot” van die virus in longselle is, hulle is nie meer siek nie, maar spore van die virus bly oor.

Dit is egter nog nie definitief bewys nie.

Wie staan voor in die tou?

’n Gesondheidswerker toets ’n vrou in Queretaro in Mexiko vir die koronavirus. Foto: Getty Images

Die ander toets, die bloedtoets (serologiese toets) wat wel teenliggaampies kan opspoor, is in sekere stadiums van die infeksie nie so sensitief nie. Maar hulle is soms nie baie spesifiek nie. Om dit doeltreffend op te spoor, moet jy ’n hoë konsentrasie teenliggaampies in jou bloed hê.

Dit veroorsaak dus vals negatiewe toetse in mense met min teenliggaampies.

Dit sal vals veiligheid skep wat mense selfs ’n infeksie kan laat najaag op soek na só ’n paspoort.

Volgens ’n artikel in The Lancet kan vals toetsuitslae daartoe lei dat mense hul gedrag verander sonder dat hulle weet hulle is steeds vatbaar vir ’n infeksie en dat hulle dit aan ander kan oordra.

Die paspoorte is nie net onprakties nie. Dit sal vals veiligheid skep wat mense selfs ’n infeksie kan laat najaag op soek na só ’n paspoort.

Diegene wat nie so ’n paspoort het nie, kan ook op vele maniere uit die samelewing uitgesluit word.

Dit kan ook ’n maklike uitweg word vir lande wat dit as ’n rede vir die terugkeer na ’n oop ekonomie kan gebruik en skep dus ’n teelaarde vir korrupsie en vooroordeel.

’n Toets vir koronavirus word by ’n deurry-toetssentrum in Rolling Meadows in Illinois in Amerika gedoen. Foto: AP

The Lancet vra tereg ’n klompie geldige vrae hieroor: wie staan voor in die tou vir die toetse? Wie administreer dit? Wie reik die paspoorte uit? Wie sien om na die regte van die kwesbares?

Van groter belang is natuurlik dat die meeste lande, nes Suid-Afrika, nie die kapasiteit het om mense in baie groot getalle te toets nie.

Duisende wat siek mense moet opspoor, is reeds twee weke agter. Die openbare sektor kan steeds nie 10 000 toetse per dag doen nie.

Covid-19 sal deur ’n entstof verslaan word.

Soos die situasie vererger, moet toetse in elk geval na hospitale verskuif – sodat hulle dáár kan weet wie het die siekte onder lede en wie nie.

Die paspoorte is ook nie vergelykbaar met ’n entstofsertifikaat nie. ’n Entstofsertifikaat wat kinders het en die een vir geelkoors, is ’n aansporing om jouself en ander te beskerm.

’n Immuniteitpaspoort is ’n aansporing vir infeksie.

Covid-19 sal deur ’n entstof verslaan word – tot dan is ons almal kwesbaar.

* Bronne: WGO, The Lancet, Nature News.

* Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  The Lancet  |  Elsabé Brits  |  Duitsland  |  Brittanje  |  Italië  |  Amerika  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Entstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.