Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
CR het skuld aan Eskom

Pres. Cyril Ramaphosa, wat reeds in 2015 belowe het hy gaan Eskom regruk, moet ook pa staan vir die krisis by die elektrisiteitsverskaffer.

Hierdie spotprent van Fred Mouton oor Eskom het op 24 Januarie 2008 in Die Burger verskyn.

Dit is verstommend hoe suksesvol die ANC-regering is om telkens aandagafleiers te benut om die fokus weg te lei van die werklike probleme by Eskom en die voortdurende kragonderbrekings.

In 2008, net ná die eerste instelling van beurtkrag, kondig min. Alec Erwin aan dat saboteurs ’n bout in ’n opwekker by die Koeberg-kernkragstasie geplaas het.

Ná deeglike ondersoek deur die polisie is daar 12 jaar later nog geen “saboteur” geïdentifiseer nie. Niemand is ook nog in hegtenis geneem nie.

Pas, nadat hy teruggekeer het van sy besoek aan Egipte (net voordat fase 6-beurtkrag vir die eerste keer toegepas is), kondig pres. Cyril Ramaphosa aan dat “sabotasie” by die Tutuka-kragstasie tot die verlies van 2 GW opwekvermoë gelei het.

Die ware oorsake van Eskom se onbeholpenheid word geïgnoreer.

Eskom beskik tans oor ’n totale geïnstalleerde opwekvermoë van 45 GW, maar is meermale nie in staat om te voorsien in die spitsaanvraag van 27 GW nie – 18 GW se vermoë het verlore gegaan. Dit beteken dat Eskom slegs 60% van die geïnstalleerde vermoë kan lewer, pleks van die internasionale norm van 85%. Daarvan is die verlies van 2 GW by Tutuka slegs ’n fraksie, naamlik 4,4% van die geïnstalleerde opwekvermoë en kon dit nie die hoofoorsaak wees vir fase 6-beurtkrag nie. (Toegegee, Ramaphosa het genoem dat dié verlies ’n bydraende faktor tot kragonderbreking was.)

Sedertdien word fase 4-beurtkrag toegepas. Dit beteken dat 4 GW se gebruikers telkens ontkoppel moet word om te verhoed dat die netwerk ineenstort.

Geeneen van die twee nuwe kragstasies, Kusile en Medupi, is ten volle in werking of voltooi nie. Elkeen sal beskik oor ses opwekkers met ’n totale opwekvermoë van 4,8 GW.

Konstruksie by Medupi het in 2007 begin en sou teen 2015 voltooi gewees het – die verwagte voltooiingsdatum is nou 2020. Konstruksie by Kusile het in 2008 begin en sou teen 2018 voltooi gewees het – die verwagte voltooiingsdatum is nou 2022. As net één van dié twee projekte (met ’n opwekvermoë van 4,8 GW elk) betyds voltooi was, was geen beurtkrag nodig nie.

Eskom se bestuur- en bedryfsvermoëns is in die afgelope 25 jaar drasties uitgekalwe.

Eskom het teen 1994 op een na die goedkoopste elektrisiteit ter wêreld gelewer met ’n surplusvermoë van 25% (net Kanada, met sy vele hidroëlektriese kragstasies, se elektrisiteit was goedkoper). Volgens die Big Mac-wisselkoersindeks, is Eskom se elektrisiteit tans reeds die duurste ter wêreld, en nou vra Eskom vir ’n verdere verhoging van 16%.

Eskom se agteruitgang is die resultaat van ’n kwarteeu van kumulerende bydraende faktore.

Dit is nie net dat Medupi en Kusile nog nie voltooi is jare ná die oorspronklike amptelike voltooiingsdatums nie – albei gaan ook mank aan ernstige ontwerps- en konstruksiegebreke, wat verhinder dat die eenhede volkrag kan lewer.

Eskom se bestuurs- en bedryfsvermoëns is in die afgelope 25 jaar drasties uitgekalwe. Dit het reeds in 1996 begin toe Eskom beurse vir wit ingenieurstudente gestaak het. Die stroompie swart gegradueerde ingenieurs wat hulle sedertdien by Eskom aangesluit het, se verblyf daar was meestal kortstondig.

Eskom het die gebruik dat elke kragstasie deur ’n professionele ingenieur bestuur moes word, afgeskaf en professionele ingenieurs, tegnoloë en tegnici as gelykwaardig verklaar. Reeds in 1998 is beraam dat Eskom 1 000 nuwe gegradueerde ingenieurs per jaar benodig; tans is daar steeds ’n netto uitvloei van professionele ingenieurs. Die nodige tegnologiese vaardighede ontbreek grootliks.

Reeds in 2006 het Eskom daarmee gespog dat sy personeelkorps die “mees getransformeerde” in Suid-Afrika is, danksy grootskaalse kaderontplooiing in senior bestuursposte met onbekwame lojaliste wat min van tegnologie of bestuur weet.

Ook staatskaping het bygedra tot Eskom se smarte.

Politieke inmenging het reeds in die middel van die 1990’s by Eskom begin: In 1998 plaas die kabinet ’n moratorium op Eskom vir die bou van nuwe kragstasies, in die hoop dat die private sektor sou toetree om dit te doen. Dit het die uittog van professionele personeel verhaas, maar geen private kragstasie is gebou nie. Toe dié verbod teen 2004 opgehef is, was die meeste professionele personeel reeds weg en is ’n ernstige tekort aan personeel vir langtermyn- tegnologiese beplanning ondervind.

Politieke inmenging duur lustig voort: Pravin Gordhan het ’n verbod op Eskom geplaas om sy personeel met ’n broodnodige derde te verminder, ten spyte daarvan dat Eskom nie ’n wins maak nie en sy personeelgetalle in die dekade sedert 2008 van 35 000 tot 48 000 toegeneem het, terwyl sy elektrisiteitsverkope in dieselfde tyd van 224 TWh tot 212 TWh afgeneem het.

Eskom erken onlangs self dat voorkomende instandhouding die afgelope dekade agterweë gelaat is, sodat die verouderde kragstasies (die meeste is verby hul ekonomiese en tegnologiese leeftyd) se eenhede onbetroubaar is. Breek ’n eenheid, is onderdele meestal onbekombaar en moet dit vervaardig word, met lang vertragings.

In die verwagting dat Medupi teen 2015 en Kusile teen 2018 ten volle voltooi sou wees, is van die ou onekonomiese kragstasies afgeskakel en 11 opwekkers is aan diens onttrek by die Hendrina-, Grootvlei- en Komati-kragstasie.

Omdat Medupi en Kusile onvoltooid is en albei, net soos van die ouer steenkoolkragsentrales, ten beste teen 40% van vermoë funksioneer, is die veilige marge tussen die beskikbare opwekvermoë en spitsverbruik te klein.

Eskom se ingenieurs het reeds in 1998 voorspel dat Suid-Afrika teen 2008 nie oor genoeg opwekvermoë sal beskik nie – veral om die uitgediende steenkoolkragstasies mettertyd te vervang. (Die voorspelling het waar geblyk te wees toe beurtkrag in November 2007 ingestel is.) Dit sou ’n toename van gemiddeld 1,2 GW per jaar in opwekvermoë vir die daaropvolgende 20 jaar vereis.

Dit beteken dat een Koeberg elke twee jaar of een steenkoolkragstasie van gemiddelde grootte elke drie jaar gebou moet word.

Geen nuwe kragstasie is sedertdien suksesvol voltooi nie.

Ook staatskaping het bygedra tot Eskom se smarte, onder meer met steenkoolkontrakte met SEB-vennote wat steenkool van swak gehalte teen buitensporige pryse lewer.

Gert Opperman, bestuurder van die steenkoolverskaffingseenheid by Eskom, het byvoorbeeld in Maart voor die Zondo-kommissie getuig dat langtermynkontrakte onder dwang geteken is met die Brakfontein-steenkoolmyn vir ondergraadse steenkool. Die kontrak van R2,9 miljard was 77,4% duurder as die vorige kontrakprys.

Die ekonoom Mike Schüssler het bereken dat die prys wat Eskom vir steenkool betaal sedert 2007 met 385% toegeneem het teenoor die internasionale toename (in randwaarde) van 127%.

Die gebruik van diesel by Eskom se oopsiklus-gasturbines by Ankerlig (Atlantis) en Gourikwa (Mosselbaai) tydens beurtkragtye is uiters duur, met ’n beraamde opwekkoste van sowat R3 per kWh (vergeleke met Eskom se groothandelverkoopprys van 90c/kWh). Dit het Eskom se kontantvloeiprobleme vererger weens die enorme hoeveelhede diesel wat gekoop moet word (teen ’n verbruikstempo van 12 liter per sekonde en ’n koste van R192 per sekonde). Soms het albei eenhede stilgestaan weens ’n tekort aan diesel.

Eskom se probleme is velerlei en die krisis is die akkumulatiewe gevolg van swak bestuur en swak politieke besluite oor dekades heen.

Daarvoor moet pres. Cyril Rama­phosa persoonlik medeverantwoordelikheid aanvaar: Hy is in 2014 deur oudpres. Jacob Zuma aangestel om Eskom, die SAL en Poskantoor “om te keer”.

Ramaphosa stig toe ’n “oorlogskamer” en belowe in Februarie 2015 in die parlement: “Oor twee jaar sal julle die drie ondernemings nie herken nie.” Hy herhaal in September 2015 die belofte voor die Raad van Provinsies: “Oor 18 maande tot twee jaar sal julle vergeet het van die uitdagings wat ons gehad het in verband met krag en energie en Eskom, en dat dit ooit gebeur het.”

Met ’n leningskuld van R460 miljard kan Eskom steeds nie ’n wins maak om rente en leningskuld te delg nie. Ironies ook dat die brose Eskom tans moet steun op ou kragstasies uit die bedeling van voor 1994.

  • Christo Viljoen is ’n afgetrede akademikus en ingenieur, en voormalige lid van die Elektrisiteitsraad (tans die Eskom-direksie) en die Elektrisiteitsbeheerraad (tans die Nasionale Energiereguleerder, Nersa).
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.