Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
CR: Verbind die dotjies

Die rolspelers wat Jacob Zuma en die Guptas in staat stel om hul sin te kry, is desperaat om die aandag van hul eie sondes weg te lei na watter modder hulle ook al na pres. Cyril Ramaphosa kan gooi, skryf Adriaan Basson.

xxxxx

Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), die EFF, twee omstrede Sunday Independent-joernaliste en ’n gesofistikeerde sosialemediaveldtog is die hoofakteurs in die hartjie van die Zuma-faksie se terugvegpoging teen Cyril Ramaphosa se presidentskap.

Al is dit tans nog onduidelik of die terugvegveldtog georkestreer, sentraal aangedryf of met huidige of voormalige intelligensie-agente verbind word, het gebeure van die afgelope twee maande ’n intensiteit getoon in die wyse waarop Rama­phosa en sy minister van staatsondernemings, Pravin Gordhan, geteiken is.

’n Week het selde verbygegaan sonder dat Ramaphosa en/of Gor­dhan deur een of meer van hierdie akteurs in die openbaar aangeval is. Die agtergrond hiervan is die intensiteit waarmee adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, ’n strategie en ’n span saamstel om die grootste begunstigdes van Zuma se era van staatskaping in hegtenis te neem en te vervolg.

NVG se Dettol en pleister

Tans lyk dit of die Zuma-terugvegspan vinniger uit die wegspringblokke was as Batohi, wat vrede moes maak met die feit dat ’n hinkende nasionale vervolgingsgesag (NVG) aan haar oorhandig is. Batohi moes mense en stelsels met Dettol en pleisters behandel om te herstel van ’n verlore dekade weens politieke inmenging in die NVG se werk.

Sy is minus twee adjunkte weens onder meer die vroeë aftrede van adv. Silas Ramaite die naweek en moet spoedig haar span versterk om die agterstand uit te wis.

Waarteen kom sy te staan?

Na raming het Suid-Afrika meer as R100 miljard tydens die bewind van Zuma en sy vriende, die Guptas, verloor. Miljarde is deur ’n reeks twyfelagtige transakies en politieke gekonkel uit staatsbeheerde ondernemings soos Transnet, Eskom en Denel getap. G’n wonder laasgenoemde kan nie meer sy personeel se salarisse betaal nie.

Die akteurs wat Zuma en die Guptas in staat stel om hul sin te kry – van Brian Molefe tot Matshela Koko, Ben Ngubane, Anoj Singh, Malusi Gigaba, Dan Mantsha en Salim Essa – is desperaat om sy aandag van hul eie sondes weg te lei na watter modder hulle ook al na Ramaphosa kan gooi.

Hulle wil veel eerder hê ons moet nog baie maande lank oor Gavin Watson se R500 000-skenking aan die CR17-veldtog praat as om die fokus terug te verplaas na waar dit was voordat Ramaphosa oorgeneem het (en die EFF nog die Zuma-moet-gaan-beweging ondersteun het).

Duister dinge

Dit is waar dinge duister raak. Want niemand kan ’n legitieme argument aanvoer dat Mkhwebane se fokus op Watson se skenking aan die Ramaphosa-veldtog nie ’n legitieme ondersoek deur die OB regverdig nie.

Dit kom uiteindelik op ’n kwessie van prioriteite neer. Daar is ’n rede dat Mkhwebane gekies het om veel meer van haar tyd en energie te bestee aan die Gordhan- en Ramaphosa-ondersoeke, met hul leemtes en al, as aan die Estina-ondersoek waarby Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, betrek word.

Haar rol is immers om die publiek teen skelm staatsentiteite te beskerm en nie boekhouding van private veldtogte van politieke kandidate nie.

Magashule is stewig in die Zuma-faksie geanker en sy rol as voormalige premier in die kaping van die Vrystaat verg ’n noukeurige, Bosasa-tipe ondersoek deur Mkhwebane en haar kantoor (onthou dat sy seuns deur die Guptas in diens geneem is; hy het dié familie gehelp om die landing van ’n private straler by Waterkloof te “wettig”; hy het die Estina-projek goedgekeur en het miljoene rande van die provinsie se advertensiebegroting na die Guptas se koerant, New Age, gekanaliseer).

Rol van Iqbal Survé

Dit bring my by Sunday Independent, die anti-Ramaphosa-faksie se gunsteling-lekplek. Nadat hul loopbaan ineengestort het ná die Sunday Times se mea culpa oor talle foutiewe berigte oor wat hulle die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se “rogue unit” gedoop het, het die joernaliste Mzilikazi wa Afrika en Piet Rampedi hulself herskep as voorbladskrywers van Sunday Independent, wat deur Iqbal Survé besit word.

Terloops, Survé het hulle aangestel op min of meer dieselfde tyd wat hy besef het dat die Mpati-kommissie van ondersoek na die Openbare Beleggingskorporasie nie goedgesind jeens hom of sy ondernemings gaan wees nie.

Wa Afrika en Rampedi word week ná week gevoer met bankstate, e-pos en binne-inligting oor Mkhwebane se ondersoeke na die president. Vanselfsprekend is dit nie verkeerd om hierdie besonderhede te publiseer as dit in die openbare belang is nie – ek sou dieselfde gedoen het (en het van die e-pos op News24 gepubliseer).

Wat van konteks?

Maar konteks maak saak en die twee betrokke here het tot vandag toe geweier om verantwoordelikheid vir hul anti-SAID-berigte te aanvaar, wat betekenisvol daartoe bygedra het dat Jan Taks se ondersoekende vermoë in duie gestort het. Rampedi gebruik sy Twitter-rekening om ander joernaliste wat nie met sy wêreldsienings saamstem nie, af te kraak en noem hulle ’n “kabaal”. (Ek is nr. 28 op sy lys.)

Wat kan ’n mens nog oor die EFF sê, wat al meer agteroorsalto’s gedoen het as ’n Russiese akrobaat op die hoogtepunt van haar loopbaan? Hulle is stewig aan die stuur van die anti-Ramaphosa-, pro-Mkhwebane-narratief op sosiale media en in die openbaar – vir politieke gewin.

Dit kom basies hierop neer: Solank Batohi en haar kollegas by die NVG niemand in hegtenis neem nie, sal die terugvegpoging mee­doënloos aanhou en sal Ramaphosa al hoe meer na ’n flou makou lyk.

Basson is hoofredakteur van News24 en outeur van die boek Blessed by Bosasa, wat eersdaags verskyn.

Meer oor:  Sunday Independent  |  Iqbal Survé  |  Cr  |  Anti-Ramaphosa  |  Said
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.