Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Cuito: Bombardemente in ’n woordoorlog

Die sogenaamde Slag van Cuito Cuanavale was die kulminasie van die Grensoorlog. As sodanig het dit die fokuspunt geword van die openbare debat oor wie eintlik die oorlog gewen het, skryf Leopold Scholtz in dié uittreksel uit sy boek Die SAW en Cuito Cuanavale.

Selfs voordat die gerommel van die wapens in 1988 stil geword het, het die Kubaanse diktator Fidel Castro ’n narratief begin skep van ’n fantastiese sege oor wat hy gesien het as die rassistiese wittes uit die suide.

In Mei 1988, terwyl ’n SAW-vegspan nog ’n groter veggroep in die omgewing van Cuito Cuanavale gesimuleer het en terwyl Suid-Afrikaanse en Kubaanse soldate mekaar nog in die suidelike Angolese provinsie Cunene probeer doodmaak het, het Castro ’n belangrike toespraak voor die spitsberaad van die Organisasie vir Onverbonde Lande in Havana gehou.

Triomfantelik het hy aan die gehoor gesê: “Die geveg en sy uitkoms is van historiese belang. Meer as ses maande is verby en hulle is ver van die inname van Cuito Cuanavale en hulle sal nie in staat wees om Cuito Cuanavale in te neem nie. Daar is ’n totale verandering in die magsewewig.

“Dit is baie belangrik om hiervan te weet met die doel om ’n vraag te beantwoord waaraan baie mense dink: Waarom wil Suid-Afrika onderhandel? Suid-Afrika wil onderhandel omdat hy teen ’n baie sterk mag veg, een wat hy nooit êrens tevore teengekom het nie.

“Dit is nie 1975 nie [’n verwysing na die eerste SAW-inval in Angola]. Die vyand is geen enkele kans gegun nie.

“As hulle Cuito Cuanavale ingeneem en die konsentrasie troepe uitgewis het, watse soort onderhandelings sou ons gehad het? Ons sou moes sit en die voorwaardes wat hulle aan ons oplê, aanvaar het. Maar dit was onmoontlik – alles het verander.”

Castro se narratief

Die Kubaanse leier Fidel Castro. Foto: Getty Images

Dié woorde was die begin van ’n reeks bombardemente in ’n woordeoorlog terwyl die eintlike skietoorlog byna op ’n einde was. Die geskiet met woorde is ’n paar maande later hervat, in Desember 1988, toe Castro voor ’n gehoor op Havana se Revolusieplein gespog het oor sy eie versiendheid rakende die oorlog in Angola.

Hy het korrek ingesien dat die Sowjet-gedrewe offensief van 1987 foutief was, het hy gesê. Toe dinge verkeerd loop, “het almal van Kuba verwag om die situasie op te los”.

Cuito Cuanavale moes beskerm word, “en die vyand moes verhinder word om die Angolese troepe uit te wis en daardie posisie in te neem wat besig was om ’n simbool te word van weerstand en van Suid-Afrika se sukses of mislukking”.

In die proses, het Castro sy mense vertel, is Cuito omskep in ’n lokval, “ ’n val waarin die Suid-Afrikaanse troepe getrap het! Daar, in Cuito Cuanavale, het die Suid-Afrikaanse aggressiwiteit sy tande gebreek, en dit alles met minimum ongevalle – minimum ongevalle! – aan die kant van die Angolese en Kubaanse magte.”

Toe, het hy voortgegaan, het die mars in Cunene na die SWA-grens gevolg. “En dié verandering in die magsewewig is wat die pad na onderhandelings gebaan het. Niemand moet dink dat dit bloot toevallig gebeur het nie . . . Feit is dat die ewewig drasties gewysig is. Die Suid-Afrikaners het ’n oorweldigende nederlaag in Cuito Cuanavale gely . . . ” In die proses het die Kubaanse troepe “met buitengewone heldhaftigheid en groot doeltreffendheid opgetree”.

’n Konvooi Suid-Afrikaanse Olifant-tenks in Mavinga. Foto: SANW Dokumentasiesentrum

Castro het herhaaldelik die onselfsugtigheid beklemtoon waarmee sy klein landjie sy “internasionalistiese plig” nagekom het om imperialisme, kolonialisme, rassisme en apartheid te beveg, selfs al was dit nie in Kuba se ekonomiese belang nie. “Geen nasionale belang, geen gevaar, geen imperialistiese dreiging kon ons beweeg om dislojaal te wees of nie ons verpligtinge na te kom nie.”

Dus, toe die New Yorkse vredesakkoord op 22 Desember 1988 geteken is, het Castro sy mense in ’n artikel ingelig dat “[die] wit minderheidsregime van Suid-Afrika . . . formeel om 10:15 vanoggend gekapituleer [het]”. Die enorme betekenis wat hy hieraan geheg het, kan gesien word in sy dramatiese woorde in Mei 1988: “Ek kan u van een ding verseker. Die geskiedenis van Afrika sal een baie belangrike moment hê. Maar dit moet geskryf word vóór Cuito Cuanavale en ná Cuito Cuanavale.”

Castro se toesprake moet in die korrekte historiese konteks gesien word. Soos ek in die boek verduidelik, was die Kubane eintlik in taamlike diep moeilikheid toe die Suid-Afrikaanse teenoffensief aan die begin van November 1987 begin het nadat Fapla beslissend by die Lomba teruggeslaan is. Dis duidelik dat Castro besluit het om die oorlog te beëindig.

Om verstaanbare redes kon sy machismo egter geen vernederende terugtog, soos dié van die Amerikaners in 1975 uit Viëtnam, verdra nie. ’n Rookskerm was nodig om die terugtrekking soos ’n glorieryke oorwinning te laat lyk. Sy kans het gekom met die SAW-teenoffensief.

Die Kubane was eintlik in taamlike diep moeilikheid toe die Suid-Afrikaanse teenoffensief begin November 1987 begin het nadat Fapla beslissend by die Lomba teruggeslaan is, skryf Leopold Scholtz. Foto: SANW Dokumentasiesentrum

Castro het meer as een keer vertel dat hy in Moskou was vir die 70ste herdenking van die Russiese Revolusie toe die nuus oor die Suid-Afrikaanse teenoffensief hom bereik. In sy toespraak van Desember 1988 het hy gesê “die bedreiging was ernstig; ons kon geen minuut verspil nie”.

Hy het voortgegaan: “Dit was op ’n vergadering van die generale staf van die Revolusionêre Strydkragte op 15 November . . . dat ons die politieke en die militêre besluit geneem het om die situasie die hoof te bied en enige noodsaaklike maatreëls te tref.”

Te oordeel na wat gebeur het, is ’n drievoudige strategie aanvaar. Voelers is na Amerika en Suid-Afrika uitgesteek om die oorlog te beëindig. Castro het self vertel: “Dit is hoekom ons in die diplomatieke arena gewerk het, asook om ons doel sonder bloedvergieting te bereik . . . Dus is daar ’n wesenlike moontlikheid vir ’n regverdige, waardige en eerbare oplossing vir alle kante . . . ”

Die tweede was om die verswakkende Fapla-linies by Cuito Cuanavale te versterk, en die derde die opening van ’n nuwe oorlogsteater in die suidweste van Angola, in die provinsie Cunene. Feit is dat Castro wou kom uit ’n konflik wat hy nie kon wen nie, maar dat dit moes lyk of hy die oorwinnaar is. Dit het briljant geslaag.

Dít is dan die historiese konteks vir die narratief oor ’n glorieryke Kubaanse oorwinning wat Castro, met sy uitstekende sin vir openbare betrekkinge, begin versprei het terwyl die laaste skote oor die Afrika-slagvelde gedawer het. Hy wis dat hy nie in die Angolese doodloopstraat vasgevang kon bly nie, maar sy onttrekking moes soos ’n triomf lyk.

* Die SAW en Cuito Cuanavale: ’n Taktiese en Strategiese Analise word deur Delta Boeke uitgegee en kos R250.

Meer oor:  Fidel Castro  |  Leopold Scholtz  |  Kuba  |  Angola  |  Cuito Cuanavale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.