Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Cyril aan vyande: Nou maak ons skoon

 Ramaphosa daag opponente uit om hervorming te probeer stuit, skryf Piet Croucamp.

Pres. Cyril Rama­phosa met sy vrou, dr. Tshepo Motsepe, aan sy sy voor sy toespraak Donderdagaand. Foto: Edrea du Toit

Die kernvraag wat Niccolò Machiavelli in Die prins probeer beantwoord kan ’n mens soos volg opsom: Kan ’n leier sy eie veiligheid waarborg deur vrees by die gepeupel in te boesem? Of sou die liefde en respek van die massa van groter waarde wees om sy persoonlike politieke oorlewing te verseker?

Die vrees-versus-liefde-debat is nie net beperk tot die politieke wetenskap nie. Geen enkele God of geloof handhaaf die wêreldorde deur op die liefde alleen te steun nie. Mens en dier funksioneer nou eenmaal baie beter wanneer vrees en liefde mekaar met reëlmaat afwissel.

Pres. Cyril Ramaphosa se tweede staatsrede Donderdag was ’n aanduiding dat die president besig is om die Machiavelliaanse beginsels deeglik onder die knie te kry deur vrees en respek af te dwing in ’n poging om ’n halsstarrige party onder beheer te kry.

Teen die tyd dat Ramaphosa Donderdagaand sy marathon-toespraak afgesluit het, kon daar min twyfel onder talle van sy eie kabinetslede gewees het dat die klok vir hulle gelui het. Dit was duidelik dat hul president nie van plan is om hulle te beskerm teen die aanslag van die nuwe direkteur van nasionale vervolging of die belastinggaarder nie.

                                                                     ***

’n Vis vrot van sy kop af en as Rama­phosa die verrotting van die ANC en die staat wil keer, is dit waar hy moet begin skoonmaak. En Donderdagaand se toespraak het bevestig dat hy dit besef.

As jy een van die mense is wat dink niks het nog verander sedert Ramaphosa president geword het nie – of dat hy te stadig beweeg – doen jouself die guns om vir ’n oomblik ’n Suid-Afrika te verbeel met Jacob Zuma steeds aan die stuur van sake.

Haal dus uit die staanspoor die Zondo-kommissie uit die prentjie.

Maak dan voorsiening vir die feit dat jy nog nooit enigiets van ’n regter met die vreemde naam “Nugent” gehoor het nie.

Shamila Batohi? O ja, sy is mos daardie jong advokaatjie wat destyds die duiwel op Hansie Cronjé se skouer uitgewys het? Jou wrewel jeens haar is tasbaar, want dis al wat jy van haar weet.

In hierdie pre-Ramaphosa-wêreld is die minister van finansies ’n slaprug-glansgans wat meer geld aan sonbrille bestee as wat die gemiddelde middelklas-huisgesin maandeliks aan hul kinders se skoolgeld opdok. Dudu Myeni is aan die stuur van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se laaste viersitplek-Cessna op pad Indië toe.

Die grondstryd is ewigdurend en word gebruik om boere te teister tussen verkiesings. Eskom is steeds die skuilplek van plunderaars en politieke struikrowers en witmonopoliekapitaal, radikale ekonomiese transformasie en die nasionaal-demokratiese revolusie is die kodetaal waarmee die skuldgevoel in jou gesig gevryf word.

En o ja. Die staatsrede word steeds gelees deur ’n analfabeet met vyf vroue en 22-plus kinders.

                                                                  ***

Effe meer as 12 maande ná die ANC se leierskapsverkiesing in Desember 2017 is Suid-Afrika nie naastenby die land wat my destyds in my laaie laat grawe het op soek na my Namibiese paspoort nie.

Toegegee, die regerende party is steeds ’n onvoorspelbare politieke gedierte en dit is nie onmoontlik vir Ace Magashule, Nomvula Mokonyane, Sihle Zikalala, David Mabuza en ’n horde ander korrupte kaders om die pilare van die paleis op ons en Ramaphosa neer te trek nie.

Kanse dat Simson-truuks gaan slaag, raak minder.

Maar selfs op dié vlak is daar beweging en die kanse dat bogenoemde garde met enige Simson-truuks gaan slaag, raak al hoe skraler. Die wat mooi geluister het – en glo my, in die ANC-banke was daar Donderdagaand talle van hulle – sou ’n president gehoor het wat sy opponent finaal uitdaag om sy hervormingspad te probeer stuit.

Die korruptes en die staatskapers binne die ANC kan probeer om Ramaphosa teë te gaan, maar hulle het een probleem: Hul diefstal en ongerymdhede was ’n elite-projek. Daar is geen steun daarvoor in die breër samelewing of selfs onder ANC-kiesers nie.

Die enigste beskerming vir hulle binne die party kan net kom van ander plunderaars. Hulle weet dit en Ramaphosa weet dit.

                                                                  ***

Ramaphosa weet ook dat die ANC se powere vertoning in Augustus 2016 alles te doen het met ’n kieserskorps wat eenvoudig gatvol is vir wanadministrasie en korrupsie.

Sy boodskap aan die party se uitvoerende bestuur en die res van sy kamerade is dus ondubbelsinnig: ’n Verkiesing sonder my gesig op die stembrief gaan rampspoedig wees. Die gatvolfaktor gaan die kontinent se oudste bevrydingsbeweging sleep tot op die politieke ashoop.

Sonder Ramaphosa aan die stuur van sake kan die ANC dalk net gevaarlik naby aan 50% draai in Mei-maand se verkiesing en honderde kaders en kamerade sal hul poste in wetgewers kwyt wees.

As dit gebeur, sal dit die deur vir ’n plunderende ANC wawyd oop gooi. In ’n onbestendige staat sal dit die korruptes ’n vry hand gee om nie net te doen wat hulle wil nie, maar ook om ontslae te raak van die laaste een wat nog in hul pad staan – die president self.

Dit is ook hoekom Max du Preez ’n geldige punt maak wat die mandaat wat Ramaphosa in die volgende verkiesing kry betref.

’n Plunderende ANC beteken ’n vervalle staat. Indien Ramaphosa swak vertoon by die stembus, sal sy kaders hul vrees vir hom verloor, want om hul politieke respek aan hom te betoon sal dan geen voordele meer hê nie.

Dit is die teenstrydigheid waarmee kiesers op 8 Mei gekonfronteer word: ’n Stem vir die ANC is ’n stem vir korrupsie, maar ’n stem vir Ramaphosa is ’n stem wat die groter prentjie, die behoud van Suid-Afrika, in gedagte hou.

                                                                           ***

Ramaphosa het dus tot ’n groot mate al sy teenstanders binne die party in ’n hoek. Selfs die historiese verdelingslyne van die drieparty-alliansie is nou net ’n hersenskim.

Dit is hierdie feit wat hom in staat stel om uiteindelik met die nodige beslistheid die probleme by Eskom en ander staatsondernemings te takel.

Hul dreigemente ten spyt, is die waarskynlikheid dat Cosatu die president se planne met Eskom kan beduiwel baie skraal.

Tog is daar baie saboteurs wat geweldige skade kan berokken aan die infrastruktuur van Eskom in ’n poging om sy planne te fnuik.

In die verlede het sulke saboteurs (net soos die honderde politieke moordenaars wat oor die hele land doenig is) skotvry daarvan afgekom weens die politieke bestuur van die polisie, die Valke en die vervolgingsgesag. Dis egter te betwyfel of enige Eskom-werknemer wat ná dese ’n moersleutel in ’n turbine “vergeet” die aandag van Shamila Batohi gaan vryspring.

Dit is nou al tot vervelens toe beweer dat Matamela Cyril Ramaphosa nie die murg in sy pype het om die struikrowers binne sy party te takel nie.

Dit lyk nie meer so nie.

Ramaphosa het sy Machiavelliaanse keuse gemaak: Wen die liefde en respek van die massas deur vrees in te boesem by jou kamerade. Hou dié ruimte dop.

  • Dr. Piet Croucamp doseer politieke wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Korrupsie  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.