Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Roelf: Tito se uitspraak sal SA hoop gee

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa se steun in die ANC toeneem, sal dit ’n haas onbegonne taak wees om Suid-Afrika op die herstelpad te kry as almal in die land nie saamwerk nie, het mense Dinsdag op die eerste aktuele gesprek by die Aardklop-kunstefees gehoor. Gert van der Westhuizen berig.

Kan hy Suid-Afrika man-alleen red? Pres. Cyril Ramaphosa spreek verlede week ’n buitengewone sitting van die parlement toe. Foto: Adrian de Kock

Ramaphosa bly steeds “een van die sterk pilare” waarop Suid-Afrikaners kan staatmaak wat die pad vorentoe betref, het Roelf Meyer, destydse hoofonderhandelaar van die NP-regering en voormalige kabinetsminister, op die eerste van die aktuele gesprekke by Aardklop gesê wat deur Beeld en kykNET Verslag aangebied word.

Volgens Meyer is Ramaphosa steeds dieselfde persoon as die een wat hy in 1988 die eerste keer ontmoet het en vir ses jaar daarna ’n pad gestap het wat hy saam met min ander, indien enige, mense gestap het.

“Die persoon van integriteit op wie ek kon vertrou gedurende die onderhandelings, is dieselfde persoon as wie ek vandag vertrou. Ek het dit al meerdere male in die openbaar gesê: Ek sal Cyril vertrou tot die dag van my dood.”

Ek wens elke Suid-Afrikaner kon hoor wat Tito daar gesê het. Dit is die soort van inspirasie wat elkeen van julle sal laat beter voel en julle beter sal laat slaap.
Roelf Meyer

Meyer sê daar is baie positiewe tekens dat die regering op die regte pad is. Tito Mboweni, minister van finansies, se ekonomiese groeiplan is reeds die ANC se koukus én op ’n uitgebreide kabinetsvergadering goedgekeur.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee bespreek dit dié naweek en volgens Meyer dui sy inligting daarop dat Ramaphosa se steun in dié komitee besig is om toe te neem.

Hy was ook verlede week by ’n geleentheid waar Mboweni aan die land se top-50 uitvoerende hoofde van maatskappye gesê het hy as minister van finansies sal die land se ekonomiese beleid bepaal en nie Luthuli-huis (die ANC se hoofkantoor nie.)

“Ek wens elke Suid-Afrikaner kon hoor wat Tito daar gesê het. Dit is die soort van inspirasie wat elkeen van julle sal laat beter voel en julle beter sal laat slaap.”

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het ook onlangs in Meyer se teenwoordigheid aan Ramaphosa gesê hy is baie bekommerd oor die getal wit, Afrikaanssprekende professionele mense wat die land verlaat omdat hy bang is hulle keer nooit terug nie.

Meyer sê dit pla hom wel dat Ramaphosa nie sy vinger op die pols het wat die sekerheidsomgewing – die polisie, weermag en inligting – betref nie. Dit kan ’n swak plek in sy mondering word en hopelik sal hy hieraan aandag gee.

Tim du Plessis, hoof van aktualiteit by kykNET en Dinsdag se gespreksleier, en die ander twee gespreksgenote, die politieke ontleders Anthoni van Nieuwkerk en Ebrahim Fakir, was effens meer sinies oor veral die groeiplan se kans op sukses.

Almal was dit egter eens dat ’n reeks skynbaar onoorkombare uitdagings Ramaphosa in die gesig staar.

Ramaphosa se uitdagings

Roelf Meyer en Cyril Ramaphosa tydens die onderhandelinge van die vroeë negentigerjare. Foto: Argief

Meyer het begin deur te wys op die nalatenskap van oudpres. Jacob Zuma se regeringstydperk waartydens Suid-Afrika volgens sommige berekenings tot 20% van sy welvaart verloor het.

Swak bestuur, die plundery van die staat sowel as staatsinstellings en in die private sektor (waarvan Steinhoff ’n goeie voorbeeld is) het daartoe gelei. Zuma se roekelose afdanking en aanstelling van ministers van finansies het die situasie verder vererger.

Die swak bestuur van die staat is die een aspek wat Fakir pla. “As die regering die staat nie kan bestuur op die manier waarop Ramaphosa wil hê dit moet gedoen word nie, sal ons nie kan herstel nie.

“Daar is geen diepte in staatsbestuur nie. Het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) byvoorbeeld op grondvlak aanklaers met die vermoë om sake doeltreffend te vervolg?

“Dan het ons heeltemal te veel mense wat nie die werk wil doen wat hulle veronderstel is om te doen nie. Hulle weier om hul werk te doen omdat hulle lui of traag is of gemanipuleer word deur iemand in die politieke hiërargie,” sê Fakir.

Hy meen die frontlinie van staatsamptenare waarmee Suid-Afrikaners daagliks te doen kry, is beroerd.

Van Nieuwkerk stem saam dat daar “baie donker wolke” is wat saampak.

“Ons lewe in ’n wisselvallige wêreld, dis onseker, die wêreld is kompleks en dubbelsinnig en jy weet nie meer wie jy kan vertrou nie.

“Kan ons die president van die land vertrou om ons deur hierdie moeilike tyd te vat vorentoe? Daar is ’n reeks faktore, hierdie donker wolke waarvan ons praat, wat dit vir hom moeilik gaan maak om te slaag. Hy mag dalk misluk.”

’n Doeltreffende staatsdiens is onontbeerlik. 'Voordat ons ’n superstad bou, moet ons die munisipaliteit laat werk.'
Anthoni van Nieuwkerk

Die donker wolke word gevorm deur die ekonomie wat inkrimp, grootskaalse werkloosheid, groeiende ongelykheid, die verval van wet en orde met misdaad wat hoogty vier, en dan lyk dit boonop asof moraliteit en etiek by die venster uitvlieg.

Hy twyfel of Ramaphosa die vermoë het om al dié krisisse gelyktydig te bestuur, sê Van Nieuwkerk.

Hy het ’n fiktiewe prentjie geskets van ’n Suid-Afrika waarin die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping sy werk afgehandel het en die skuldiges aan die pen gery het.

“Wat moet dan volgende gebeur,” het Van Nieuwkerk retories gevra voordat hy ’n aantal moontlikhede opgenoem het.

* Suid-Afrika het eerlike leierskap op politieke sowel as administratiewe gebied nodig, wat sterk, toegewyd en vermoënd is.

* Die land het ’n duidelike nasionale visie nodig. Daar sal onder meer gekyk moet word of enige lesse geleer kan word uit die mislukking van die Nasionale Ontwikkelingsplan.

* Die privaat sektor moet inisiatiewe onderneem in die nasionale belang.

* Hulpbronne – mense, geld en inligting – moet optimaal aangewend word.

* ’n Doeltreffende staatsdiens is onontbeerlik. “Voordat ons ’n superstad bou, moet ons die munisipaliteit laat werk.”

* ’n Ontwikkelingsgerigte sosiale en organisatoriese kultuur is nodig. ’n Sterk werksetiek is nodig. “Hoe draai jy ’n kultuur van afhanklikheid (ek is afhanklik van die staat, die politieke leier, ek is afhanklik van my baas) om na ’n kultuur van entrepreneurskap?”

* Suid-Afrikaners het selfvertroue nodig en moet weer in hulself glo soos die Ndlovu-jeugkoor in homself geglo het.

Ramaphosa is nie Mandela nie

Roelf Meyer sal pres. Cyril tot die dag van sy dood vertrou. Foto: Felix Dlangamandla

Die gesprek het onvermydelik ook vrae gevra oor samewerking tussen Suid-Afrikaners en sake soos nasiebou.

Du Plessis wou onder meer ook by die lede van die paneel weet of jong Suid-Afrikaners in die land moet bly of ’n heenkome elders moet gaan soek.

Meyer en Van Nieuwkerk is dit eens dat hulle moet bly om te help werk aan die Suid-Afrika wat Ramaphosa wil bou. Fakir is nie so seker nie.

“Ek sal baie eerlik wees. As ’n jong persoon my vra: Moet ek waai of moet ek bly, sal ek sê: Loop. Ek haat dit om dit te sê.”

Wat nasiebou betref, sê Fakir Ramaphosa is nie ’n Nelson Mandela nie.

Kom ons praat oor ‘Die Stem’ en kom ons praat oor die naam van die Krugerwildtuin in plaas daarvan dat ons moddergooi en Twitter en twiets gebruik om mekaar af te kraak.
Anthoni van Nieuwkerk

“En hy kan nie wees nie. Die konteks is nou heeltemal anders. Ramaphosa het nie nodig om ’n Mandela te wees nie, hy moet eerder ’n [Thabo] Mbeki wees.

“Ons het nou nie die simboliek van ’n groot visie nodig nie, dit word reeds in die Grondwet verwoord. Ons het nou ’n bestuurder nodig.”

Volgens Van Nieuwkerk is dit vir hom duidelik dat Suid-Afrikaners nie hul hoop moet vestig op een man of een politikus nie.

Suid-Afrikaners het eerder ’n nuwe sosiale kontrak nodig.

“Ons moet moeite doen en mense intrek en sê wat is die simbole, die prentjies, beelde wat ons verenig as ’n nasie.

“Kom ons praat oor ‘Die Stem’ en kom ons praat oor die naam van die Krugerwildtuin in plaas daarvan dat ons moddergooi en Twitter en twiets gebruik om mekaar af te kraak.

“Ek dink dit is tyd vir die burgerlike samelewing om ’n ommekeer te maak en te sê hoe kan ons bymekaarkom en ’n sosiale kompak bou; met ander woorde ’n oorhoofse ooreenkoms oor waarheen ons wil gaan as ’n land, as ’n nasie en as ’n samelewing.

“Dit sluit die moeilike vrae in . . . of ons een nasie is en of ons ’n meerderheid van minderhede is en watter ekonomiese stelsel ons moet aangryp om ons te help.

“As ons dié soort van vrae vermy en aanhou om modder te gooi in die howe, sal ons nie vooruit gaan nie.”

Van Nieuwkerk het teen die einde van die bespreking gesê as Solidariteit byvoorbeeld by sy nuwe kollege vir vakmanne ter wille van nasiebou ook klasse in Engels gee, sal dit die wêreld se verskil maak.

Fakir stem saam. “Ons moet wegbreek van die kru identiteitspolitiek aan albei kante [van die politieke spektrum]. Dit is die een ding wat tot ons mislukking gaan lei.”

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Cyril Ramaphosa  |  Roelf Meyer  |  Tim Du Plessis  |  Suid-Afrika  |  Nasiebou  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.