Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Cyril is nog stewig in die saal’

Pres. Cyril Ramaphosa lyk na ’n man met ’n plan – en solank van sy planne werk, sal hy stewig bly sit, skryf Theuns Eloff.

Pres. Cyril Ramaphosa besig om sy staatsrede te lewer.Foto: Jaco Marais

Die verwagtinge oor pres. Cyril Ramaphosa se vierde “stand van die land”-toespraak was baie hoog. Vooraf is selfs gepraat oor sy eie Rubicon en ’n laaste kans om hom as president te vestig.

Dit was menslik onmoontlik om aan al hierdie en ander verwagtinge te voldoen. ’n Paar weke gelede (ná die ANC se gebruiklike 8 Januarie-verklaring) was die meerderheid kommentators dit eens dat hy op pad uit is en dat die Zuptas se terugveg besig is om sukses te behaal. ’n Minderheid ander het gemeen dat dit te vroeg is om hom af te skryf.

Die staatsrede word in hierdie artikel aan die volgende vrae gemeet:

• Kon ons meer van die ware Cyril gesien?

• Is hy besig om sy interne politieke stryd in die ANC te wen?

• Is hy besig om sy taak as regeringshoof effektief na te kom?

“Beslissende oomblik”

Ramaphosa het self dramaties begin deur hierdie tyd as ’n “beslissende oomblik” vir die land te beskryf.

“Ons kan oorgee, of die probleme konfronteer en oplos. Ons kies vir laasgenoemde,” het hy gesê.

In sy eie woorde het hierdie staatsrede oor die ekonomie gegaan.

En in hierdie proses is die ekonomie die eerste en belangrikste faset. “Sonder groei sal daar nie werkgeleenthede wees nie, en sonder werkgeleenthede sal daar nie ’n verbetering in gewone mense se lewe wees nie”.

Om dít te doen, moet die grondliggende sake in die ekonomie reggestel word, kritiese groei-areas aangewakker en uitnemendheid in die beplanning en die toepassing in regeringskringe verseker word.

In sy eie woorde het hierdie staatsrede oor die ekonomie gegaan. Onderliggend aan die klem op die ekonomie, was daar ’n aantal belangrike temas in die staatsrede.

Die eerste hiervan is tipies Cyril en nie ’n nuwe een nie. Die regering kan nie alleen die land se probleme te bowe kom nie, en daarom is sosiale ooreenkomste met al die belanghebbers nodig.

Ramaphosa was nie apologeties oor hierdie manier van doen nie en het gesê dat dit nie ’n teken van swakheid is nie, maar iets wat die wese van Suid-Afrika weerspieël.

In die staatsrede is die sakesektor nie net as ’n sosiale vennoot voorgehou nie, maar selfs as beleggingsvennoot.

Dit is die regering se verantwoordelikheid om samewerking en konsensus te verseker. In 1994 het Suid-Afrika ook die pad van onderhandeling, kompromieë en vreedsame oplossing gevolg, in plaas van haat en weerwraak.

Rol van sakesektor

Die tweede tema was die belangrike rol wat die sakesektor speel, nie net as vennoot nie, maar as werkskepper. Te dikwels in die verlede het politici die regering as die groot werkskepper beskou – en dit word steeds deur sommige ANC- en Cosatu-leiers geglo. En steeds word die sakesektor in die “strategie-en-taktiek”-dokument van die ANC as ’n moontlike vyand beskou.

In die staatsrede is die sakesektor nie net as ’n sosiale vennoot voorgehou nie, maar selfs as beleggingsvennoot in die voorsiening van algemene- en studentebehuising aanvaar. En private elektrisiteitsverskaffing (selfs aan “goeie” munisipaliteite) het aanvaarbaar geword.

Tito se plan

Die derde en belangrike tema is die sentraliteit wat aan Tito Mboweni, die minister van finansies, se strategiese dokument van 2019 (Ekonomiese Transformasie, Inklusiewe Groei en Mededingendheid) gegee is as riglyn om die land se openbare geldsake reg te ruk.

Ten spyte van baie skeptisisme onder kommentators oor die statuur van hierdie dokument, lyk dit asof hierdie meer ortodokse ekonomiese siening van Mboweni aanvaar is.

’n Belangrike tema wat uit Tito-denke voortvloei, is die versigtige, maar duidelike toekomstige raamwerk vir staatsbeheerde ondernemings (SBO’s).

Die gevolg hiervan is dat Ramaphosa reguit gesê het dat die staat se besteding te veel gerig is op “verbruik” (lees: salarisse en sosiale toelae) en skuldverligting, en nie genoeg op infrastruktuur en produktiewe aktiwiteite nie.

Mboweni moet daarom in sy komende begrotingsrede ’n reeks maatreëls aankondig om besteding te verminder, insluitende staasdienssalarisse en -vermorsing.

Meer nog, het Ramaphosa woordeliks herhaal wat Mboweni onlangs gesê: Daar is in die ekonomie strukturele hervormings nodig, veral dié wat lewenskoste en die koste om sake te doen negatief beïnvloed (lees: geadministreerde pryse en burokratiese rompslomp).

’n Belangrike tema wat uit Tito-denke voortvloei, is die versigtige, maar duidelike toekomstige raamwerk vir staatsbeheerde ondernemings (SBO’s).

Nadat SBO’s in 2019 “gestabiliseer” is, sal die fokus in 2020 wees om hul groei en ontwikkeling te bevorder en te herstel . Hierin moet alle SBO’s finansieel volhoubaar wees.

Dr. Theuns Eloff

In hierdie proses sal die SBO’s gerasionaliseer word (lees: verkoop van hulle). In die geval van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Ramaphosa selfs so ver gegaan as om te sê dat dit in die belang van die ekonomie en die lugvaartbedryf is dat ’n toekomstige herstruktureerde lugredery kommersieel en operasioneel lewensvatbaar sal wees en nie afhanklik sal wees van verdere regeringsbefondsing nie (lees: privatiseer SAL).

Kollig op Eskom

Die laaste tema was die in-diepte aandag wat aan Eskom gegee is. Ramaphosa noem die proses die “herstrukturering van die elektrisiteitsbedryf”, waarvan Eskom maar net een deel is.

Dit sluit in die toelating van private opwekking en selfs die verkryging van elektrisiteit deur staatsentiteite by private opwekkers.

Maar Ramaphosa het ook vir die eerste keer sterk gesê dat die oorsaak van beurtkrag Eskom se onvermoë is om sy kragstasies te onderhou en in stand te hou.

En hierdie onvermoë is volgens Ramaphosa direk te wyte aan “skuld, gebrek aan kapasiteit en staatskaping”. Ongelukkig word regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging as oorsake van Eskom se probleme (nog) nie spesifiek genoem nie.

Uit onderhoude wat in die laaste paar weke met die verantwoordelike minister, Pravin Gordhan, en die nuwe Eskombaas, André de Ruyter gevoer is, lyk dit of die planne om Eskom se herstel te bespoedig, stadig maar seker gestalte kry.

Nietemin, die visie van die sosiale vennote is ’n Eskom wat doeltreffend, produktief en doelgeskik is en wat bekostigbare elektrisiteit opwek. Dit sal sowel drastiese kostebesparings (lees: afleggings) as maniere om Eskom se skuld te verminder, moet insluit – sonder om werkers se pensioene in gevaar te stel of die finansiële stelsel te ondermyn.

Uit onderhoude wat in die laaste paar weke met die verantwoordelike minister, Pravin Gordhan, en die nuwe Eskombaas, André de Ruyter gevoer is, lyk dit of die planne om Eskom se herstel te bespoedig, stadig maar seker gestalte kry.

‘Sosialistiese trekke’

Aan die ander kant van die muntstuk van die staatsrede was daar ongelukkig ook (voortvloeiend uit die ANC se konferensiebesluite in 2017 en waarskynlik om redelike konsensus binne die ANC en met die alliansievennote te kry), ’n paar meer sosialistiese trekke: ’n staatsbank, ’n ekwiteitsfonds om die toerismebedryf te “transformeer”, die nasionale gesondheidsversekeringstelsel en die verandering van art. 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

En so in die verbygaan het Ramaphosa sommer ’n indirekte maar lekker klap ingekry na een van Jacob Zuma se projekte, die Umzimvubudam in die Oos-Kaap.

Maar – sonder om op die meriete of nie-meriete van hierdie sake in te gaan – dit is vir die politikus Ramaphosa onmoontlik om dit nie in die staasrede te noem nie. Gelukkig was hierdie sake nie deel van die hoofboodskap nie.

Klap na Zuma-projek

En so in die verbygaan het Ramaphosa sommer ’n indirekte maar lekker klap ingekry na een van Jacob Zuma se projekte, die Umzimvubudam in die Oos-Kaap.

Hierdie projek is reeds in 2012 deur Zuma aangekondig en in 2014 is die sooispitseremonie met groot fanfare gehou – maar die projek het nooit van die grond af gekom nie. Dit was hoofsaaklik te wyte aan een van Zuma se gunstelinge, minister Nomvula Mokonyane, wat die projek van R20 miljard sonder ’n tender aan ’n Chinese maatskappy wou toeken, en waarvoor die tesourie nie wou toestemming gee nie.

Cyril Ramaphosa wag om sy staatsrede te lewer.Foto: Jaco Marais

Die Ramapohsa-administrasie, in die persoon van minister Lindiwe Sisulu, het nou reeds met padwerke begin en die projek gaan volstoom voort. Dit moes in Zuptakringe seergemaak het.

‘’n Man met ’n plan

Wat is dus die gevolgtrekkings? Ramaphosa het in die staatsrede meer van homself en sy styl van konsensus-soeke gewys as in die 8 Januarie-verklaring.

Hierdie was sy staatsrede as verkose president van Suid-Afrika. Uit sy houding, woorde en benadering is dit duidelik dat hy steeds stewig in die ANC-leierskapsaal sit en dat die gerugte van sy ondergang (soos dié van Mark Twain) hopeloos oordryf is.

Hy lyk na ’n man met ’n plan – en solank van sy planne werk, sal hy stewig bly sit.

Tong-in-die-kies:

Tydens die grondwetlike onderhandelinge het Ramaphosa aan iemand in die administrasie gesê dat daar “voldoende konsensus” in daardie proses was wanneer hy en Roelf (Meyer) saamgestem.

In vandag se omstandighede lyk dit asof daar voldoende konsensus in die kabinet is as Cyril, Tito en Pravin saamstem – met ’n paar versoenende woorde aan die ander.

*Dr. Eloff is voorsitter van die adviesraad van die FW de Klerk Stigting

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Staatsrede 2020  |  Cyril Ramaphosa  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.