Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Cyril kan dié dag berou

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die ANC art. 25 van die Grondwet gáán wysig, was ’n klap in die gesig van die demokrasie. Gaan luide stemme voortaan rede en logika troef? vra Mondli Makhanya.

Ek was in 2000 teenwoordig toe Zanu-PF besluit het die oppergesag van die reg is nie vir Zimbabwe bestem nie. Dit was ’n beslissende oomblik in dié land se demokrasie.

Zimbabwe was nie voorheen ’n perfekte demokrasie nie, maar wel ’n funksionerende gemeenskap met ’n stel reëls waaraan rolspelers binne en buite die staat gehoor gegee het. 

As die magshonger Zanu-PF gefouteer het, was daar maatreëls om hom verantwoordbaar te hou, asook ’n stewige regbank en ’n aktivistiese burgerlike gemeenskap.

Die Zimbabwiese ekonomie het geensins gefloreer nie. Trouens, ’n reeks fiskale flaters het die ekonomie teen die toue gehad. Die geldeenheid was wankelend en inflasie was skerp aan die styg. Maar daar was struktuur, orde en vorm.

Die Zimbabwiese ekonomie het geensins gefloreer nie. Trouens, ’n reeks fiskale flaters het die ekonomie teen die toue gehad.

Toe het Zanu-PF weens ’n vernederende nederlaag oor sy grondwetlike hervormingsvoorstelle kleinkoppie getrek en besluit om die ­ reëlboek by die venster uit te gooi. Uit vrees dat die referendum-uitslag ’n voorteken was van wat in die komende parlementêre verkiesing sou gebeur, is ’n roekelose en bloedige grondhervormingsprogram van stapel gestuur.

Met die slagspreuk “Die ekonomie is die grond en die grond is die ekonomie” het oudpres. Robert Mugabe se regering deur die onwettige beslaglegging op hoofsaaklik wit kommersiële plase die ekonomie verwoes.

Zanu-PF het diegene wat teen die ondermyning van die oppergesag van die reg en die aanslag op die ekonomie gewaarsku het, as agente van die imperialistiese Weste geëtiketteer. Hulle het emosionele retoriek oor die koloniale verlede en ekonomiese eienaarskapspatrone wat volgens ras skeefgetrek was, hiervoor gebruik.

Wat gevolg het, was ’n teksboek-voorbeeld van hoe om ’n land te ruïneer. Die geskiedenis dokumenteer gelukkig in volle besonderhede hoe ’n eiegeregtige besluit deur ’n politieke party om sy lot te beredder die bal aan die rol gesit het vir die bandelose vernietiging van die pilare waarop die gemeenskap gerus het en ’n algemene verontagsaming van die norme van ’n demokrasie. En, vanselfsprekend, die onherstelbare skade aan die ekonomie.

Suid-Afrika volg Zim-voorbeeld

Dit is nou die jaar 2018 in Suid-Afrika, waar die regerende party – eens ’n fontein van wysheid, intellek en logika – besluit het om Zanu-PF se draaiboek te volg.

Uit vrees dat die EFF hom sou uitoorlê met sy radikale retoriek, ’n deel van sy stemme sou steel en sy verkiesingsmeerderheid in 2019 se algemene verkiesing in die gedrang sou bring, het die ANC homself oortuig dat – ongeag die gepaardgaande skade aan die land se ekonomie en demokrasie – die Zanu-PF-roete die aangewese keuse is.

Wat as ’n desperate en lawwe taktiek begin het, het nou die ANC se hoofbeleidstandpunt geword soos wat die verkiesingsveldtogte begin vorm aanneem.

Insgelyks verkoop die ANC die mite dat die oplossing van die grondkwessie die wonderkuur vir armoede en ’n onfeilbare weg na rykdom vir almal is.

Soos Zanu-PF jare gelede, het die ANC die emosionele kwessie van grondonteiening deur die koloniale en apartheidsmagte sy sentrale platform gemaak.

Insgelyks verkoop die ANC die mite dat die oplossing van die grondkwessie die wonderkuur vir armoede en ’n onfeilbare weg na rykdom vir almal is: Die rede hoekom wit mense geld het en swart mense arm is, is hierdie verdomde ding bekend as art. 25 van die Grondwet. 

En die skuldiges vir stadige grondhervorming, -herstel en -herverdeling is nie politici en burokrate wat versuim het om hierdie kwessie langer as twee dekades as ’n prioriteit te beskou nie.

Die skuldige is die Grondwet, die rots waarop die oppergesag van die reg gebou is. Wysig art. 25 en alles sal regkom. Met onteiening sonder vergoeding sal daar kaas, sjokolade en roomys vir almal wees.

 Klap in demokrasie se gesig Ná die aanvaarding van die slim bewoorde resolusie by die ANC se Desember-konferensie was daar hoop dat rede sou seëvier; dat die party wie se ministers oor die jare heen begrotings van miljarde vir hierdie projek gekry het, sou besef die probleem lê nie by ons stigtingsdokument nie.

Maar nee, aan die begin van die jaar het die ANC ’n mosie in die parlement ondersteun dat die Grondwet vir populistiese doeleindes geskend moet word. Emosies is opgewek en verwagtinge onder arm mense geskep terwyl die parlementêre komitee wat die wysiging van art. 25 moes ondersoek die land deurkruis het.

Vandeesweek is hierdie aanslag op die Grondwet vir politieke gedienstigheid amptelik goedgekeur. Ramaphosa het in effek aangekondig die Grondwet is eintlik nie so heilig soos wat hy nog die heeltyd voorgehou het nie.

Sy “toespraak aan die nasie” was self ’n klap in die gesig van demokratiese norme. Hy het as ANC-leier oor die uitkoms van ’n ANC-vergadering gepraat, met ANC-vlae wat agter hom gewapper het. En dít nadat hy ons laat glo het hy is van suiwerder stoffasie as sy voorganger gemaak.

Hy het aangekondig die ANC het besluit om die parlementêre proses oor die gronddebat nie in ag te neem nie en ongeag die openbare grondgesprekke met die wysiging voort te gaan.

 

As die openbare sittings wel ’n tipe referendum was, is dit hoe ons ons Grondwet en wette voortaan gaan behandel?

Gaan luide stemme logika troef? Die verstandhouding was dat die sittings ’n geleentheid vir die publiek sou wees om hul mening te lug; nie ’n referendum waar die luidste stemme sou seëvier nie.

Wat die ANC se nasionale uitvoerende komitee betref, was dit duidelik net ’n geval van koppe tel eerder as om die omvattende argumente aan te hoor wat aangevoer is.

As die openbare sittings wel ’n tipe referendum was, is dit hoe ons ons Grondwet en wette voortaan gaan behandel? Gaan ons wetgewing aan die populêre mening onderwerp wat deur belangegroepe versterk kan word? Betree ons ’n ruimte waar luide stemme rede en logika troef?

Is die regerende party op pad na heerskappy deur die gepeupel pleks van deur die reg?

Is die regerende party op pad na heerskappy deur die gepeupel pleks van deur die reg?

Is ons die gemeenskap wat sê ’n grondwet is net ’n stuk papier en nie iets wat so heilig is dat net as laaste uitweg daaraan getorring kan word nie?

Gaan die nukke van ’n meerderheidsparty, eerder as goed ontwikkelde beleide en stewige implementeringsplanne, bepaal hoe ons vorentoe beweeg? Gaan die politieke geborgenheid van die Nommer Een-burger, wat duidelik geswig het onder die druk van diegene wat steeds nie sy gesag ten volle aanvaar nie die grondslag wees waarop verreikende besluite geneem word?

Mondli Makhanya

Ramaphosa en die ANC moet weet dat as mense eers besef het die Grondwet en wette is buigbaar, sal niemand kan voorspel waar dit alles kan eindig nie. Ons sal dalk nooit ’n presiese Zimbabwe-replika wees nie, maar wie sou kon raai ons sou mag in die hande plaas van mense wat so allergies vir reëls is soos wat ons gedurende die Jacob Zuma-era gedoen het? Die aaklige Zuma-era toon ons is steeds ’n brose kind wat baie kwesbaar vir kieme en opportunistiese infeksies is.

Ons demokrasie moet versterk word, en nie deur polities opportunistiese besluite verswak word nie.  Die oppergesag van die reg moet versterk word en nie deur populiste ondermyn word nie.

As ons dit nie doen nie, sal ons die dag berou dat ons hierdie weg ingeslaan het. En Ramaphosa sal nog die dag berou toe hy “net nog ’n kameraad” geword het om sy politieke mag en sy party se kanse by die stembus te beskerm.

Makhanya is City Press se hoofredakteur. Hierdie is ’n effens verkorte weergawe van ’n rubriek wat op 5 Augustus gepubliseer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.