Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Cyril moet harder werk vir sy onderskeiding

Hoewel baie mense brom dat pres. Cyril Ramaphosa in die vyf maande sedert die verkiesing min reggekry het, is daar tog hoop dat ons op die regte pad kan beland, skryf Theuns Eloff.

Vrae, vrae, vrae . . . Daar was hoë verwagtings van pres. Cyril Ramaphosa nadat hy die ANC vyf maande gelede tot ’n sege by die stembus gelei het. Foto: Adrian de Kock

Daar is min kwessies wat so gereeld in gesprekke ter sprake kom as die sukses (al dan nie) van Ramaphosa – selfs in hierdie tye van die Wêreldbeker-rugbytoernooi.

Almal (behalwe die Zuptas en die EFF) wil hê dat hy slaag en glo dat hy wil slaag. Maar twyfel vreet aan hierdie vertroue elke keer as daar iets negatief in die land gebeur: van nog ’n staatsonderneming wat ’n reddingsboei wil hê tot die verkragting van en moord op ’n student deur ’n amptenaar in die staatsdiens.

En die terugkerende refrein is dat as Cyril nie gou slaag nie, sal daar nie ’n ekonomie en ’n land oor wees nie. William Saunderson-Meyer het onlangs selfs in ’n artikel die vraag gevra of Cyril die Tier genoem gaan word of bloot die Gestewelde Kat(jie)?

Hoe lyk ons president se prestasie-telkaart vyf maande nadat hy die ANC tot ’n oorwinning by die stembus aangevoer het en daarna vir vyf jaar as president van die land aangewys is?

Positiewe aspekte

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, is onlangs ’n paar keer op sy plek gesit. Foto: Argief

Aan die positiewe kant is daar verskeie sake, waarvan baie in die geraas van ander negatiewe gebeure vergete geraak het. Die aanstelling van ’n ekonomiese adviesraad met verskeie internasionale ekonome en kundiges aan boord, is ’n positiewe teken.

Die afstand wat sommige van hulle van Suid-Afrika en die heersende ideologieë het, kan beteken dat hulle met vars en oorspronklike planne na vore kan kom.

Die gedeeltelike aanvaarding van Tito Mboweni se ekonomiese regrukplan deur die ANC se NUK is ’n tweede positiewe ekonomiese teken.

Puriste het reeds gekla dat dit nie genoeg is nie, maar dit is veel beter as die histerie wat by die loodsing daarvan uitgebreek het, binne die ANC en onder die alliansievennote.

’n Kwessie wat oor tyd vergete kon raak, is hoeveel Zuptas reeds uit sirkulasie en uit die regering verwyder is onder Ramaphosa se leierskap.

Wat baie mense uit die oog verloor, is dat Moody’s se beleggingsgradering van Suid-Afrika nie afgegradeer is tot rommelstatus nie – miskien sien hulle op ’n afstand wat ons wat nader aan die vuur sit, nie raaksien nie.

Ten opsigte van korrupsie en staatskaping was daar ten minste drie betekenisvolle aankondigings (benewens die voortgaande onthullings voor die Zondo-kommissie).

Die eerste was die regulasies vir die magtiging van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) om die sogenaamde “asbestos-saak” in die Vrystaat te ondersoek waarin Ace Magashule na bewering ’n sleutelrol gespeel het.

Die tweede was die regulasies vir ’n spesiale tribunaal (bestaande uit agt regters) wat daarop gemik is om siviele eise in te stel in gevalle waar die staat geld verloor het en wat uit ondersoeke van die SOE spruit, te bespoedig. Die tribunaal het reeds met sy werk begin en die bedrag wat ter sprake is, is meer as R14 miljard.

Die derde is die loodsing van ’n teenkorrupsie-forum in die gesondheidsbedryf, met vennote Corruption Watch en Section27. Terloops, organisasies wat nie sonder kritiek op die regering is nie.

Tom Moyane, voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse inkomstediens, is een van die sogenaamde Zuptas wat van hul poste onthef is nadat pres. Cyril Ramaphosa aan bewind gekom het. Foto: Argief

’n Kwessie wat oor tyd vergete kon raak, is hoeveel Zuptas reeds uit sirkulasie en uit die regering verwyder is onder Ramaphosa se leierskap. Ferial Haffajee het selfs onlangs ’n artikel geskryf (“See how they’ve fallen – a State Capture rogue’s gallery”) waarin sy onderskei tussen dié wat “spilpunte” en dié wat die bemagtigers was.

Hieronder tel Bathabile Dlamini, Des van Rooyen, Malusi Gigaba, Supra Muhamupelo, Mosebenzi Zwane, Brian Molefe, Anoji Sing, Siyabonga Gama, Dan Matjila, Hlaudi Motsoeneng, Lucky Montana, Tom Moyane, Shaun Abrahams en Berning Ntlemeza.

En al het die strafregtelike vervolgings nog nie begin nie, is ’n hele klomp geld reeds deur siviele sake teruggekry. Die punt is: polities en administratief het Ramaphosa gedoen wat hy kon doen. Die regsprosesse en vervolgings sal langer duur om te begin en afgehandel te word.

Dit is ook positief dat daar die afgelope weke hardnekkige gerugte is dat die eerste hoë profiel vervolgings binnekort gaan begin.

Op taal- en diversiteitsgebied was Ramaphosa tot onlangs nie baie uitgesproke nie.

Op vanjaar se Erfenisdag in Upington sê hy egter (in Afrikaans nogal): “Daar is geen taal in ons land wat ons kan sê is ’n taal uit ons verlede en wat in ons gelede (sic) gelaat moet word nie. Vandag omhels en beoefen ons alle tale wat bydra tot die diversiteit van ons nasie”.

Dit is ’n welkome noot en ’n mens hoop dat Panyaza Lesufi dit ernstig sal opneem.

Magashule se stelling dat hy eerder onder Nkosazana Dlamini-Zuma sou wou dien as onder Ramaphosa, is dalk ’n positiewe teken.

Oor ander Afrikatale het hy onderneem dat die regering hard werk om daardie tale as skoolvakke aan te bied, maar ongelukkig het hy niks oor moedertaalonderrig in inheemse tale gesê nie.

Ramaphosa se weeklikse nuusbrief wat aan die einde van September begin is, is ’n poging om beter te kommunikeer en meer sigbaar te wees. Of die verspreiding daarvan wyd genoeg is en of die media dit as nuuswaardig genoeg sal beskou om daaroor te berig, sal gesien moet word.

Ten slotte (en miskien klink dit teenstrydig) is die uitspraak van Magashule dat hy eerder onder Nkosazana Dlamini-Zuma sou wou dien as onder Ramaphosa, ’n positiewe teken. Nadat hy die afgelope tyd ’n paar keer ietwat op sy plek gesit is, het hy die stilte verbreek met hierdie blatante uitdaging aan sy president. Dit kan die begin van die einde van die Zuptas in die ANC beteken.

Negatiewe aspekte

Ons wil bly. Jarette Petzer, stigter van die Facebook-groep #ImStaying. Foto: Jaco Marais

Maar dit kan nie ontken word nie dat daar ook ’n hele paar negatiewe punte op die telkaart is.

Ramaphosa lei ’n party wat ideologies grootliks verdeeld is en waarvan ’n groot deel (indien nie die grootste deel nie) steeds aan ’n vorm van sosialisme verknog is, met die sogenaamde nasionale demokratiese revolusie as die grondslag. Dit het onlangs weer na vore gekom in die kritiek op Mboweni se ekonomiese regrukplan.

’n Tweede negatiewe faktor (wat vir die voorsienbare toekoms nie sal verander nie) is die swak of geen kapasiteit in die staatsdiens aangevuur deur ideologiese transformasie, die 80-9-9-2 ideologie en kaderontplooiing. Die skynbare stagnering van vervolgings maak baie mense moedeloos. Die vasgevalde ekonomie – met ’n verwagte groeikoers van net 0,6% vir 2019 – help ook nie om vertroue te bou nie.

Voeg hierby die debat oor voorgeskrewe bates, die dreigende wysiging van art. 25 van die Grondwet, misdaadstatistieke en die beplande nasionale gesondheidsversekeringstelsel, en daar is baie om oor bekommerd te wees.

Aan sekere van hierdie negatiewe punte op die telkaart kan Ramaphosa nie op kort termyn iets doen nie. Maar die positiewe punte op die telkaart wys dat baie ander dinge reeds gedoen kan word – en dat daar inderdaad vordering is.

En die punt wat die president kry, is . . .

Ons wil ook bly. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, spreek mense toe wat dié beweging se Toekomsberaad verlede week in Pretoria bygewoon het. Foto: Reint Dykema

Dis nie ’n telkaart wat al aan hom ’n onderskeiding sal besorg nie, maar die uitslae is in dié stadium hoër as 50%.

Die president se “akademiese jaar” strek egter langer as ’n kalenderjaar. Daar lê harde werk voor en hy sal voor gereelde toetse te staan kom waarvan hy minstens die meerderheid sal moet slaag om uiteindelik ’n onderskeiding te verwerf.

Onlangs is ’n nuwe Facebook-groep – #ImStaying – gestig wat daarop gemik is om Suid-Afrikaners te mobiliseer om te sê of hulle in Suid-Afrika gaan bly en hoekom hulle só besluit het.

Die aantal lede het baie vinnig tot meer as 600 000 gestyg. Dit is ’n duidelike teken dat Suid-Afrikaners van alle rasse en stande reg is om te bly, maar dat hulle ook besef dat moeilike besluite geneem sal moet word om by ’n beter toekoms uit te kom.

Theuns Eloff

Tydens Solidariteit se Toekomsberaad wat verlede week in Pretoria gehou is, is die konsep van selfbestuur en kulturele selfstandigheid sterk beklemtoon.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het selfbestuur noodsaaklik geword omdat staatsbestuur besig is om te verval en plek-plek reeds misluk. Die tema van die Toekomsberaad was “Bou om te Bly”.

Hier is dus ’n groot deel van die Afrikaanse bevolking wat ook sê “ons bly”. En al wil ons nie afhanklik van die mislukkende staat vir ons toekoms wees nie, sal ons met die staat saamwerk waar ons kan. En by implikasie wens ons die president sukses toe met sy hervormings.

Ramaphosa het tereg in sy eerste nuusbrief geskryf dat Suid-Afrikaners gereed is om die land se uitdagings in die gesig te staar. Dit is waar. Maar in die konteks van hierdie telkaart, is die vraag: Meneer die President, ons is bereid om te bly en te bou vir ’n goeie toekoms. Is u bereid en gereed om die moeilike besluite te neem wat ons sal help om daar uit te kom?

* Dr. Eloff is voorsitter van die adviesraad van die FW de Klerk Stigting. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Flip Buys  |  Ace Magashule  |  Tito Mboweni  |  Cyril Ramaphosa  |  Tom Moyane  |  #Imstaying  |  Ekonomie  |  Moedertaalonderrig  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.