Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Cyril moet nou skoonmaak ná Nene

Pres. Cyril Ramaphosa kan Nhlanhla Nene tog nie prys vir sy integriteit met sy besluit om te bedank as minister van finansies en dan ander omstrede lede van sy kabinet toelaat om te bly nie, skryf Liezel de Lange.

Nhlanhla Nene het as minister van finansies bedank nadat dit onder meer aan die lig gekom het dat hy wel ’n gas by die Guptas se huis was. Foto: Felix Dlangamandla

Nene se vertrek is ’n bitter pil om te sluk terwyl talle van die mees omstrede ministers uit oudpres. Jacob Zuma se era steeds breëbors hul stoele in die kabinet volsit.

Nene, een van ons spreekwoordelike ridders op wit perde teen staatskaping, het vroeër vir die media gejok oor sy besoeke aan die huis van die Guptas in Saxonwold, Johannesburg. Met sy voorlegging verlede week aan die kommissie oor staatskaping onder voorsitterskap van adjunkhoofregter Raymond Zondo, het Nene self erken dat hy oor sy kontak met die Gupta-familie gejok het en hy het die land om verskoning gevra.

Dinsdag het hy op sy swaard geval deur die eerbare ding te doen en te bedank (maar ons weet steeds nie waarom hy gejok het nie).

Nene is die man wat tussen Suid-Afrika en bankrotskap gestaan het – die minister wat geweier het om die kernkragooreenkoms te onderteken wat ons en ons agterkleinkinders dekades lank in die skuld sou dompel. Hy was een van die min buffers in die era van staatskaping en die tyd waarin die Guptas die staatskas geplunder het met Zuma aan die stuur van die land.

Ramaphosa het beklemtoon dat die besluit om te bedank weer eens wys op Nene se integriteit en dat hy nasionale belang voor eiebelang stel.

Nene is een van ons helde – maar toe op die ou einde nie die soort vlekkelose messias waartoe ons Suid-Afrikaners so geneig is om van ons leiers te verhef nie.

“Mnr. Nene het die mense en die regering van Suid-Afrika met toewyding en kundigheid gedien in die tyd toe hy minister van finansies was,” het Ramaphosa gesê toe hy Dinsdag vroegaand aangekondig het dat hy Nene se bedanking aanvaar.

“Hy het hom onder uiters moeilike omstandighede en onder groot druk vir behoorlike finansiële bestuur en skoon regering beywer.”

Ramaphosa het beklemtoon dat die besluit om te bedank weer eens wys op Nene se integriteit en dat hy nasionale belang voor eiebelang stel.

“Dit in die nadraai van ’n oordeelsfout eerder as dat hy geïmpliseer het dat hy verkeerd opgetree het.”

Wat nou van Dlamini en Gigaba?

Sal die druk op pres. Cyril Ramaphosa toeneem om van sy meer omstrede kabinetslede ontslae te raak nadat hy Nhlanhla Nene se bedanking aanvaar het? Foto: Argief

Nou ja, ’n mens kry seker nie groot of klein leuens nie, maar Nene se rekord dui op sy integriteit – anders as talle van sy kollegas wat ook in Zuma en nou Ramaphosa se kabinet dien. Dalk, net dalk het Nene se optrede die weg gebaan vir Ramaphosa om eindelik sy mees omstrede kabinetslede in die pad te steek.

Ramaphosa hoef nie eens te wag op verdere onthullings voor of deur die Zondo-kommissie nie – daar is hofbevindings oor die liegstories wat van sy ministers vertel het.

’n Hof het bevind dat Bathabile Dlamini, minister van vrouesake in die presidensie en voorheen minister van maatskaplike ontwikkeling, onder eed gejok het in ’n poging om aanspreeklikheid vir die gemors met die uitbetaling van welsynstoelaes vry te spring. Die konstitusionele hof het gelas dat Dlamini persoonlik verantwoordelik gehou moet word vir ’n gedeelte van die regskoste en die nasionale vervolgingsgesag is opdrag gegee om te kyk of sy vervolg moet word op aanklag van meineed oor haar gelieg in die hof.

Benewens die feit dat Malusi Gigaba as minister van binnelandse sake die land enorme skade berokken het met sy kortsigtige beleid oor reisdokumente vir toeriste na Suid-Afrika, het die hooggeregshof in Pretoria in Desember 2017 bevind dat Gigaba doelbewus onder eed gelieg en die Grondwet geskend het. Dit het te doen gehad met die toestemming wat Gigaba die Oppenheimer-familie gegee het om hul eie private aankomssaal op die O.R. Tambo-lughawe te bedryf en wat hy glo wou herroep.

Liezel de Lange

Ramaphosa het ná die hofuitspraak gesê hy is bekommerd oor die hof se stellings oor Gigaba en dat dit dringend aandag moet geniet. Nou ja, meneer die president: Dade tel meer as woorde.

En dan is daar ook Nomvula Mokonyane, voorheen minister van waterwese en deesdae in beheer van kommunikasie, wat waterdienste in die droë grond in bestuur het. Ook sy was glo ’n gereelde gas by die Gupta-woning.

Mag Nene se vertrek die voorloper tot die groot skoonmaak wees – indien nie, sal Ramaphosa se mooipraatjies net dít bly. Hy kan tog nie vir Nene prys vir sy integriteit met sy besluit om te bedank en dan die res toelaat om te bly nie?

Boonop moet Ramaphosa ’n situasie vermy waar dit lyk asof hy opnuut in die hande (en doelwitte) van die EFF speel. Die EFF het rondom Nene weer ’n groot rol (minstens in die openbare domein) gespeel om druk uit te oefen dat hy bedank deur dreigemente om allerlei skandes bekend te maak.

Die EFF dreig ook om ministers soos Gigaba, Dlamini en Mokonyane met ’n klomp onthulling uit die kussings te dwing. Ramaphosa moet optree voordat die EFF hom noop om dit te doen, want die rooies is meesters daarin om openbare mening te manipuleer.

Dit lyk al weer asof die EFF aan die voorpunt van gebeure staan – asof die EEF-stert die ANC-hond swaai. Die persepsie (of oortuiging) hou sy eie stel probleme vir die ANC in: dat die EFF met sy betrokkenheid om Nene uit te druk, in die hande van die Zuma-kamp gespeel het.

Intussen kan die land Tito Mboweni se aanstelling as minister van finansies verwelkom. Hy het ’n bewese rekord as goewerneur van die Reserwebank en minister van arbeid in die kabinet van oudpres. Nelson Mandela. Boonop het Mboweni nie in Zuma se regering gedien nie – so Gupta-geraamtes in sy kas is genadiglik uiters onwaarskynlik.

Die tesourie is in veilige en uiters bekwame hande – nou wag die land net op Ramaphosa om daardie broodnodige, omvattende kabinetskommeling aan te kondig.

* Liezel de Lange is besturende redakteur van Rapport.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.