Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
DA beskerm Grondwet só

Enige poging om kortpad te neem en die openbare deelname van die Grondwetwysiging te kortwiek, sal teengestaan word, skryf Annelie Lotriet.

Grondhervorming en grondrestitusie moet plaasvind. Trouens, dit moes al oor die afgelope 24 jaar reeds gebeur het. Dit is en was nog altyd die DA se beleid.

Die werklikheid waarmee ons egter vandag gekonfronteer word, is dat die ANC-regering dit nie gedoen het nie. Waar hulle wel ’n poging aangewend het, was dit deurspek met onbeholpenheid, korrupsie en begrotings wat totaal ontoereikend is.

Die gevolg is dat daar ter wille van politieke gewin en opportunisme ’n proses deur die grondwetlike hersieningskomitee gestoomroller is, wat die land duur te staan kan kom. Tans is die ad hoc-komitee wat die wysiging van art. 25 moet hanteer, ook meer besorg oor hoe vinnig dit gedoen kan word as oor die impak en gevolge van oorhaastige en ondeurdagte prosesse.

In plaas daarvan dat die regering introspeksie gedoen het oor sy eie mislukkings en tekortkominge, is daar besluit dat die eintlike rede vir die trae proses van grondhervorming die Grondwet is. Die Grondwet is nou die sondebok en moet nou ten alle koste gewysig word.

Die Grondwet is nie ’n stel regulasies nie.

Maar dit gaan nie hier net om die wysiging van die Grondwet nie. Daar word dikwels genoem dat die Grondwet al 17 keer gewysig is. Dit is inderdaad so, maar daardie wysigings was tegnies van aard en het nie die wese van die Grondwet gewysig nie.

In hierdie geval is dit ook nie net ’n wysiging aan die Grondwet nie, maar in besonder, ’n wysiging van hoofstuk 2, die Handves van Regte.

Die Handves van Regte is die hoeksteen van ’n demokrasie en beskerm bestaande regte wat aan alle mense beskore is. ’n Wysiging hiervan is dus ’n wysiging van reeds bestaande regte waaroor almal beskik.

Die Handves staan as buffer tussen alle burgers van hierdie land en enige arbitrêre handeling van die staat.

Art. 25 handel juis oor een van die kernelemente van enige demokrasie en ekonomie, naamlik die reg op eiendom. Geen ekonomie kan groei en suksesvol wees as daar geen beskerming van eiendomsreg is nie en waar daar nie regsmiddele is teen enige arbitrêre onteiening deur die staat nie. Let wel, arbitrêre onteiening. Onteiening sonder vergoeding, wat arbitrêr plaasvind sonder die toepassing van die vereistes soos uiteengesit in art. 25, is niks anders as konfiskering nie – ? handeling wat lynreg teen die kernwaardes van die Grondwet indruis.

Die motivering wat voorgehou word vir die wysiging van art. 25 is dat dit wat onuitgespreek is, duidelik gemaak moet word. Daar moet blykbaar groter duidelikheid gegee word oor wat bedoel word met art. 25.

Die werklikheid is dat dit bloot ’n rookskerm is om regverdiging te verskaf aan ’n proses wat selfs nie eens deur almal in die ANC volledig ondersteun word nie.

Die Grondwet is nie ’n stel regulasies nie. Dit bied riglyne en norme waaraan handelinge en wette moet voldoen en gemeet kan word. Die wyse hoe dit in praktyk gedoen moet word, word hanteer deur die algemeen geldende regsvoorskrifte soos na verwys word in art. 25(1). Dit is waar die onuitgesproke duidelik gestel word. Nie deur die Grondwet te wysig nie. Wetgewing is die meganisme waardeur grondhervorming en grondrestitusie moet plaasvind onder leiding van ’n regering met die nodige politieke wil en vermoë om dit te doen.

Daar moet altyd onthou word dat die Grondwet daar is ongeag watter party aan die bewind is. Die Grondwet is daar om die burgers van ’n land teen die vergrype van die staat te beskerm.

Die besluit wat deur die Nasionale Vergadering geneem is dat art. 25 van die Handves van Regte in die Grondwet gewysig moet word, hoewel dit voorgehou word as minimaal, maak die deur oop vir toekomstige wysigings aan die Handves van Regte. As dit nou, met so ’n gebrekkige proses, aanvaar en deurgevoer word, skep dit die presedent vir enige verdere wegkalwing van die menseregte van die burgers van Suid-Afrika.

Dit is waarom die DA nie enige voorstelle ingedien het vir die Konsepwetsontwerp nie. Ons bly by ons standpunt dat art. 25 nie in die pad staan van grondhervorming nie. Art. 25 soos dit tans daar uitsien, maak voorsiening vir die onteiening van grond indien nodig, maar dan moet daar aan die nodige vereistes van billike en regverdige vergoeding voldoen word.

Wat nodig is, is dat daar regsekerheid verkry moet word oor wat vergoeding behels en of vergoeding in sekere gevalle selfs R0 kan wees. ’n Wysiging van die Grondwet is nie hiervoor nodig nie, maar wel regspraak. Hierdie standpunt is deur 'n verskeidenheid regskenners gehuldig.

Die DA sal nie enige wysiging van art. 25, die eiendomsklousule, ondersteun nie. Die DA se beleid stel ’n behoorlike, doeltreffende en versnelde proses van grondhervorming voor, waar mense eiendomsreg verkry. Só kan ons die ekonomie bou en sekuriteit aan die burgers van die land gee.

Die aanbevelings vir die wysiging van art. 25 is nie die einde van die pad nie. Enige wysiging moet nog eers in ’n wetsontwerp omskryf word en moet ook beskikbaar gestel word vir openbare kommentaar. Weer eens sal die DA hierdie proses fyn dophou, aangesien daar reeds beplan word om dié proses gedurende die feestyd te laat gebeur. Enige poging om kortpad te neem en deelname van die publiek te kortwiek, sal teengestaan word.

Op die punt waar 'n wetsontwerp bespreek word, sal die DA elke moontlike meganisme tot ons beskikking gebruik om te verseker dat die kernbeginsels van art. 25 nie aangetas word nie en dat daar steeds voldoen sal word aan internasionale reg en ooreenkomste waarvan Suid-Afrika ’n ondertekenaar is.

Ons kan en sal nie die regte van Suid-Afrikaners op die altaar van politieke opportunisme opoffer nie.

  • Dr. Annelie Lotriet is voorsitter van die DA se parlementêre koukus.
Meer oor:  Grondwetwysiging  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.