Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
DA by die kruispad?

Die DA was ná die munisipale verkiesing van 2016 goed op pad daarna om ’n groot party te word, maar nou lyk dit of hy heelwat steun kan verloor. Pieter Labuschagne kyk na die redes vir dié agteruitgang.

Gaan die DA se steun in Mei se verkiesing tot onder 20% afneem? Mmusi Maimane, leier van die DA, probeer onlangs in die Kaap stemme werf. Foto: Jaco Marais

Die DA, met steunvlakke van net onder 27% in die munisipale verkiesing van 2016, was ’n paar maande gelede in ’n ideale posisie om die oorheersing van die regerende ANC te bedreig.

As die DA sy steun onder kiesers in vanjaar se algemene verkiesing tot oor die drempel van 30% kon stoot, sou dié party die oorgang van ’n medium- tot ’n groot party gemaak het. Só ’n vlak van steun sou die ANC onder heelwat druk geplaas het.

Die DA se huidige gebrekkige strategiese beplanning en fokus in die aanloop tot die verkiesing wys egter dat die party momentum verloor het.

In vroeë peilings lyk dit of die DA se opwaartse neiging in steun tot 26,9% in 2016 se munisipale verkiesing, nou ’n afwaartse kurwe toon en selfs tot minder as 20% kan daal.

As die DA die stygende tendens van 2016 kon volhou, was steun van 30% ’n realistiese teiken. Dit sou die DA tot ’n groot rolspeler met 120 verteenwoordigers in die parlement kon transformeer.

As die DA dan ook ná vanjaar se verkiesing ’n koalisie met die EFF kon aangaan, sou só ’n samewerkingsooreenkoms tot soveel as 43% van kiesers aan sy kant gehad het.

Só ’n breedgebaseerde DA-koalisie kon sy steun met die hulp van kleiner partye soos die IVP, NVP, UDM, VF Plus, Cope, ACDP, die African Independent Congress en Agang selfs tot 52% opgestoot het.

Dié bespiegeling bestaan natuurlik uit ’n reeks onwaarskynlike “asse”, maar beklemtoon tog ’n belangrike punt.

Die sentrale gedagte

Mmusi Maimane, leier van die DA, spreek mense toe op ’n gedenkdiens vir slagoffers van die Life Esidimeni-tragedie. Foto: DA, Twitter

Die fokus van kleiner en self middelslag-partye soos die DA is dikwels dié van nis-partye. Dit is partye wat op enkele sake fokus en hoofsaaklik die verdelingslyne in die samelewing maksimaal probeer uitbuit om ’n paar duisend ekstra stemme te verwerf.

As die DA die drempel van 30% vanjaar kon oorsteek, sou hy die steun van ongeveer een uit elke drie kiesers gehad het en sou hy ’n meer omvangryke fokus en strategie as ’n groot party gehad het.

Die DA kan egter nie dié oorgang maak nie omdat hy, nes die EFF, steeds ’n sogenaamde default-party is wat hoofsaaklik op foute van die ANC-regering konsentreer. In dié proses lyk die DA onsamehangend, is hy onseker oor strategiese oogmerke en tree hy politiek op ’n ad hoc-grondslag op.

’n Groot party bied meer as net politieke opportunisme.

Dit is ook opmerklik hoe futloos die DA vertoon, so asof die leiers nie die nodige energie het om die stryd aan te pak of om kiesers te motiveer nie.

As die DA kiesers wil motiveer om vir hom te stem moet hy die beeld van ’n default-party afskud en soos ’n groot party begin dink en optree. Hy moet ook selfvertroue projekteer om die kiesers te motiveer om vir hom te stem.

’n Groot party is nie ’n default-party nie, maar ’n regering in wording (government in waiting) met leiers wat staatsmanskap toon.

Die regering in wording het ’n koherente fokus, bied breë inspirerende oplossings en styg bokant uitbuiting van verdelingslyne uit. ’n Groot party bied meer as net politieke opportunisme, pak die groot uitdagings in die land op innoverende wyse aan en projekteer ’n visie aan onseker kiesers.

Mmusi Maimane, leier van die DA, met ’n onlangse besoek aan die Zimbabwiese ambassade in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die volgende voorbeelde illustreer die DA se huidige onvermoë om soos ’n groot party te dink en bokant politieke opportunisme en korttermynvoordele uit te styg:

* Die oprigting van die groot reklamebord met verwysing na hoe die ANC mense “vermoor” het en die noodlottige flater om sonder toestemming die slagoffers van die Life Esidimeni-tragedie se name op die bord te plaas.

* Mmusi Maimane, DA-leier, se politieke opportunisme om pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe oor mensereg-vergrype te wil aanspreek. Maimane se strategie is deurdrenk van politieke opportunisme en ontbloot sy diplomatieke en internasionale politieke onervarenheid.

* Luyolo Mphithi, DA-jeugleier, wat voorgeloop het in die koor wat op Schweizer-Reneke toegesak het in die hoop om ook ’n paar politieke punte aan te teken. Die DA behoort te besef dat hy met dié soort van optrede heelwat wit en bruin steun inboet.

* Die onsmaaklike wyse waarop die Patricia de Lille-sage hanteer is. De Lille se Good-party mag dalk net sowat 20 000 kiesers in hoofsaaklik die Wes-Kaap trek, maar dit beteken vier lede in die parlement. Die probleem vir Maimane-hulle is dat mense wat vir haar gaan stem, almal potensiële DA-kiesers is.

* Die lomp hantering van die situasie rondom Gwen Ngwenya, DA-beleidshoof, wat tot haar bedanking ’n paar maande voor die verkiesing gelei het.

Dié optredes dui nie op ’n regering in wording nie, maar eerder op korttermyn- politieke opportunisme.

Die ANC wankel en is kwesbaar

Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdag sy staatsrede in die parlement in Kaapstad. Foto: Reuters

Die ironie is dat die ANC tans wankel en kwesbaar is soos ’n swaargewigbokser wat ’n hele paar trefhoue verduur het.

Die kommissies van ondersoek wat korrupsie en ander vergrype van lede van die regerende party ontbloot, behoort ideale ammunisie vir enige opposisieparty te wees.

Die DA sal in die oorblywende tyd voor die verkiesing homself strategies moet herposisioneer en die kwesbaarheid van die ANC met inspirerende strategiese oplossings moet uitbuit as hy groei wil toon.

* Die Nugent-kommissie het doeltreffend die beweerde vergrype van die ANC-kader, Tom Moyane, blootgelê. Die kommissie het bevind dat hy en sy mede-kripvreters na bewering nie alleen staatsbronne geplunder het nie, maar ook gefaal het om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens doeltreffend te laat funksioneer.

* Die parlement se portefeuljekomitee vir openbare ondernemings het ontbloot hoe trotse semi-staatsinstellings, soos Eskom, Transnet, die SAL, die SAUK en Denel die afgelope paar dekades van winsgewende organisasies tot leë doppe gestroop is. Dit was ANC-kaders wat in beheer was en oudpres. Jacob Zuma was toe die hoof van die regering.

* Die Zondo-kommissie onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo krap daagliks ’n katnes van ongerymdhede oop en toon hoe wyd die staatskaping-tentakels van ANC-kaders strek. Dit ontbloot byvoorbeeld die beweerde betrokkenheid van senior ministers, soos Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake.

* Die interne verdeeldheid in die ANC, soos Supra Mahumapelo, oud-premier van Noordwes, se aansoek in die hooggeregshof om die ANC se Nasrec-konferensie van verlede jaar ongeldig te verklaar.

* Die Mokgoro-kommissie se ondersoek na die doen en late van die twee adjunk- nasionale direkteure, adv. Nomgcobo Jiba en adv. Lawrence Mrwebi, wat onder leiding van Shaun Abrahams, voormalige hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), na bewering by bedrog gebaat het.

* Die voortdurende teenwoordigheid van Zuma by ANC-geleenthede, ondanks sy geskiedenis van beweerde korrupsie, is ’n meulsteen om dié party se nek.

Die staat is gekaap en het gefaal

Adjunkhoofregter Raymond Zondo lei tans ’n kommissie van ondersoek na staatskaping. Die aanstellings van sulke kommissie dui daarop dat die ANC-regering in vele opsigte gefaal het. Foto: Felix Dlangamandla

Een belangrike aspek wat misgekyk word, is dat die kommissies in die lewe geroep is juis omdat die ANC as staat/regering gefaal het.

Indien die regering se selfregulerende instellings en teenwigte, soos die NVG, die Valke en die oorsigkomitees in die parlement hul werk in die eerste plek gedoen het, sou die kommissies nie nodig gewees het nie. Die kommissies herinner bykans daagliks aan die ANC-regering se mislukkings.

As die DA groei by die stembus wil toon, moet hy dié mislukkings strategies aanpak en maksimaal uitbuit. Hy kan byvoorbeeld munt probeer slaan uit die ANC se verweer dat dit individue is wat in die beskuldigdebank staan en nie die party nie. Die onderskeid wat die ANC tussen party en regering wil tref, kom ook in dié geval ter sprake.

Die werklikheid is dat senior regeringsamptenare, soos Mokoyane en ander hooggeplaastes, na bewering betrokke was.

Die ANC steun swaar op die teenstrategie dat Ramaphosa baie doen om korrupsie hok te slaan.

Selfs pres. Cyril Ramaphosa was as voormalige adjunkpresident vyf jaar lank deel van die hoogste besluitnemingsinstansie en moes van die vergrype bewus gewees het.

Die ANC steun swaar op die teenstrategie dat Ramaphosa baie doen om korrupsie hok te slaan. Die ANC maak ook baie staat op die positiewe energie wat ’n meer sjarmante en gepoleerde politikus soos Ramaphosa uitstraal. Die fokus is dus meer daarop om ’n individu (Ramaphosa) aan die kiesers te “verkoop” en nie noodwendig ’n (korrupte) ANC nie.

Die teenargument is dat niemand nog ondanks al die openbaarmakings van korrupte bedrywighede, soos Pravin Gordhan dit gestel het, oranje oorpakke dra nie.

Vir die oppergesag van die reg om in ’n regstaat te funksioneer moet kiesers sien dat daar gevolge vir oortredings is; iets wat nog bitter min die geval was.

Pieter Labuschagne

Die DA se suksesse in die Wes-Kaap en in Kaapstad is ’n inspirerende boodskap en kan as bloudruk gebruik word om aan te dui dat dit ook nasionaal herhaal kan word.

Die Ramaphosa-faktor staan egter saam met die DA se strategiese onvermoë om die ANC harde houe toe te dien breed in sy pad.

Dit lyk ook of die klok die ANC voor die verkiesing gaan red, want die tyd word min.

Die DA se grootste uitdaging sal wees om die meerderheid van die nuwe jong kiesers wat geregistreer het oor te haal om vir hom te stem.

Dié nuwe geslag kiesers, gebore net voor of net ná die aanbreek van die nuwe millennium, sal op meer rasionale gronde besluit vir wie om te stem. Hul steun word nie toegesê op grond van historiese en emosionele lojaliteite en die tradisies en glorie van die vryheidstryd nie.

Die nuwe geslag kyk vooruit en nie na die verlede nie. Hulle vra stabiliteit, hoër ekonomiese groei, beter lewenstandaarde, geleenthede om te studeer en ook meer werkgeleenthede.

Dit is nog nie te laat vir die DA om homself strategies te herposisioneer nie, maar die uurglas loop leeg. Die groot gevaar is dat die DA se posisie as die amptelike opposisieparty in die parlement in gevaar is as die EFF se steun van 12 tot 14% sou styg en die DA se steun, soos wat peilings dit wil hê, tot onder 20% daal.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Gwen Ngwenya  |  Cyril Ramaphosa  |  Mmusi Maimane  |  Korrupsie  |  Staatskaping  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.