Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
DA: Dís waar die party nou staan

Dis ’n maand voor die DA se federale beleidskongres. Wat bedoel die party met ’n konsepbeleid wat op “nierassigheid” fokus? Waar staan die DA op die politieke verhoog en hoe lyk sy vooruitsigte vir die munisipale verkiesing van 2021? Jana Marx het by politieke kenners gaan aanklop.

Gwen Ngwenya, DA-beleidshoof. Foto: Rapport

Die DA is al keer op keer oor sy siening rondom ras en hervorming oor die kole gehaal.

Trouens, Herman Mashaba, voormalige DA-burgemeester van Johannesburg, het uit dié party bedank met die woorde dat hy hom nie met ’n party kan vereenselwig wat nié die ongelykheid in die samelewing raaksien nie.

Met die voormalige DA-leier Mmusi Maimane, Mashaba en Athol Trollip uit die pad, het Gwen Ngwenya haar weg oopgesien om as beleidshoof na die party terug te keer. Die DA se nuwe konsepbeleid uit Ngwenya se pen staan nierassigheid en gelyke geleenthede voor.

Dit probeer ’n middeweg tussen die ekstreme klassieke liberalisme en ekstreme sosiale demokrasie vind.
Prof. Dirk Kotzé

Kenners meen egter die beleid probeer albei “kampe” in die DA en onder kiesers – die sosiale demokrate en die klassieke liberaliste – tevrede hou.

“Dit probeer ’n middeweg tussen die ekstreme klassieke liberalisme en ekstreme sosiale demokrasie vind,” sê prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder verbonde aan Unisa.

Eweneens is dit ’n manier om die wit middelklaskiesers wat die DA met die vorige verkiesing vir die VF Plus verruil het, met die komende munisipale verkiesing terug te wen, meen die politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, Theo Venter.

In die DA se binnekamer

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad. Foto: Argief

Dis geen geheim dat daar twee kampe in die DA is nie.

Makashule Gana, Alan Winde, Wes-Kaapse premier, Solly Msimanga, waarnemende DA-hoof in Gauteng en DA-LP Phumzile van Damme verleen baie gewig aan die sosiaal-demokratiese kamp in die amptelike opposisieparty.

Die dinamiese Mbali Nthuli, kandidaat vir die komende leierskapsverkiesing, het haar verlede week skerp uitgespreek teen die “kultuskultuur” (cult-like culture) in die DA en die binne- en buiteklieks wat besig was om die party te vernietig.

Klassieke liberaliste is skepties oor groepsidentiteit.
Prof. Dirk Kotzé

Waar Ngwenya klassieke liberalisme voorstaan, leun Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, volgens Kotzé oor “na die ekstreme liberale kant”.

En John Steenhuisen, die tussentydse leier?

“Nee, ’n mens weet nie. Iewers in die middel,” meen Kotzé.

Wat is klassieke liberalisme en sosiale demokrasie?

John Steenhuisen,tussentydse leier van die DA. Foto: Daily Sun

“Klassieke liberalisme keer terug na ou Europa,” sê Kotzé. “Die primêre uitgangspunt is ’n fokus op die individu.”

Hy sê ’n kenmerk daarvan is om die regering so klein as moontlik te hou.

Klassieke liberaliste wil ook staatsondernemings soos Eskom of SAL privatiseer.

“Die fokus is hier veral op menseregte. Hulle is skepties oor groepsidentiteit,” sê Kotzé.

In só ’n ekonomie het die staat steeds sekere verantwoordelikhede, maar die onus rus op elke individu.

“Een van die vraagstukke wat liberalisme nie oplos nie, is werkloosheid,” meen Venter.

“In ons land is die werkloosheidsyfer tans 30%. Hoe sorg die staat vir werklose mense as hulle net op individue fokus?”

Al wat dan gebeur, is dat die gaping tussen ryk en arm al groter word.

Sosiale demokrasie is nié dieselfde as sosialisme nie. ’n Sosiaal-demokratiese bestel beskou steeds kapitalistiese benadering as belangrik, maar belê in 'sosiaal-maatskaplike programme'.
Theo Venter

“Die vryemarkstelsel het ’n swak geskiedenis met die oplos van maatskaplike probleme,” sê hy.

"Sosiale demokrasie is nié dieselfde as sosialisme nie. ’n Sosiaal-demokratiese bestel beskou steeds kapitalistiese benadering as belangrik, maar belê in sosiaal-maatskaplike programme”.

Die fokus is dus op die beste belang van ’n gemeenskap, en hulp aan kwesbare groepe hetsy hulpbehoewendes, oues of siekes.

Suid-Afrika betaal byvoorbeeld maatskaplike toelae, verduidelik Venter.

Hy vergelyk dit met die nasionale gesondheidstelsels in Engeland of met Nederland wat homself as ’n welvaartstaat sien. Dít is volgens ’n Nederlandse ensiklopedie ’n gemengde ekonomie waarin die regering ’n “substansiële invloed uitoefen op welvaartsverdeling” deur onder meer belasting en ’n stelsel van sosiale sekerheid.

Een van die grootste punte van kritiek teen ’n sosiale demokrasie is juis dat jy jou burgers swaarder belas om al die dienste te kan lewer wat die staat belowe. In Suid-Afrika het mense maar min vertroue in ’n regering onder wie se toesig korrupsie in nasionale programme plaasvind, sê Venter.

Waar laat dit Suid-Afrika?

Volgens Venter is Suid-Afrika se regering ’n mengsel tussen liberalisme en ’n sosiale demokrasie.

Hy sê ’n ideologie is ’n kombinasie van ’n klomp goed: “Amerika is veronderstel om kapitalisties te wees, maar net anderdag moes hulle hul banke uit die moeilikheid help. Dis mos nie kapitalisme nie?”

Venter meen die DA het die huidige situasie in die land in sy beleid vasgevat.

“Daar is niks nuuts in die beleid nie. Die DA wou wat in die huidige samelewing aan die gang is, beleid maak.”

Ek glo baie mense sal eerder goeie onderrig vir hul kinders verkies as ’n beleid wat hul velkleur erken.
Gwen Ngwenya

Oor die kritiek teen die beleid se fokus op nierassigheid, verduidelik Kotzé: “Die beleid vra nie dat ras heeltemal geïgnoreer word nie, maar noem dit as één faktor. Swart ekonomiese bemagtiging en diensbillikheid het ’n paradigma vir die ANC geword. Die DA wil hê daar moet ander beleide wees.”

Ngwenya het in ’n toespraak aan Namibiese sakelui in November 2019 gesê die fokus van ’n nierassige beleid moenie op die “verwydering” van ras as sodanig wees nie, maar op die toewyding om die lot van agtergeblewenes te verbeter en te verseker dat jou kontakte en agtergrond nie swaarder weeg as vermoë nie.

“Ek glo baie mense sal eerder goeie onderrig vir hul kinders verkies as ’n beleid wat hul velkleur erken. Mense gee ook meer om oor werk en entrepreneuriese geleenthede as oor rasbewustheid. Meer mense sal bly wees oor betroubare maatskaplike dienste en dienste van die staat as blote woorde oor rassesamehorigheid.”

Hoe lyk die DA se kanse in die 2021-verkiesing?

Die ANC het in 2016 sy middelklas-ondersteuners verloor toe oudpres. Jacob Zuma die leier van die party was.

“In 2019 (se algemene verkiesing) het van dié ondersteuners weer vir die ANC onder pres. Cyril Ramaphosa gestem,” sê Venter.

In volgende jaar se plaaslike verkiesing sal dit vir kiesers nie oor mense gaan nie, maar oor die Covid-19-pandemie en die ekonomie wat net te stadig herstel, sê Venter voorts.

In die stede gee die jong middelklas al hoe minder oor kleur om. Dieselfde goed maak almal kwaad, of hulle nou wit of swart is.
Theo Venter

Die DA sal hieruit politieke kapitaal put.

“In die stede gee die jong middelklas al hoe minder oor kleur om. Dieselfde goed maak almal kwaad, of hulle nou wit of swart is. Hulle wil nie kragonderbrekings hê nie. Hulle wil nie verkeersprobleme hê nie. Almal het professionele beroepe en wil nie sukkel om werk gedoen te kry nie,” sê Venter.

Dís hiér waar die DA dalk ondersteuners kan opraap as hulle hul kaarte reg speel.

“Ek dink dis waarom hulle so ’n amper gematigde beleid geskryf het. Hulle hoop om daarmee hul swart steun uit te brei en hul wit steun, wat hulle in die vorige verkiesing aan die VF Plus afgestaan het, terug te kry. Dis ’n balanseertoertjie tussen swart en wit.”

En wat van Action SA?

Herman Mashaba, voormalige burgemeester van Johannesburg en deesdae president van Action SA. Foto: Rapport

Mashaba het verlede week aansoek gedoen om sy nuwe party, Action SA, te registreer. Sedert die onlangse stigting van Action SA was daar vrae oor of dié party steun van die DA sal wegrokkel, veral met voormalige DA-lede wat hulle by die party aangesluit het.

Die politieke ontleder dr. Ralph Mathekga dink Action SA is ’n party om mee rekening te hou in aanstaande jaar se munisipale verkiesing.

Hy dink egter nie Mashaba se bedanking uit die DA dui daarop dat hy ’n sosiale demokraat is nie.

“Ek dink sy probleem is spesifiek met ras (en nie met liberalisme nie). Mashaba is tog ’n sakeman, ’n kapitalis.

“Ek dink Mashaba verteenwoordig eerder ’n instelling. Hy is ’n swart sakeman wat nie een oggend met miljoene wakker geword het nie. Hy wil sien hoe swart mense welvarend word, maar nie met die EFF se standpunt dat welvaart wit mense nié toekom nie,” sê Mathekga.

Dié wat bedank het, die narratief gedryf. Die narratief was nooit dat die DA hulle uitgeskop het nie.
Dr. Ralph Mathekga

DA-kiesers in Johannesburg was kwaad toe Mashaba se bedanking as burgemeester daartoe gelei het dat die ANC weer beheer oor die metro oorgeneem het.

Gaan dit in die 2021-verkiesing dalk teen Mashaba tel?

Mathekga dink nie so nie.

“Toe Mashaba bedank het – in dieselfde tyd as Maimane – het dié wat bedank het, die narratief gedryf. Die narratief was nooit dat die DA hulle uitgeskop het nie. Dit was altyd húlle wat die DA om dié of daardie rede die middelvinger gewys het.”

• Die DA se virtuele kieskongres vind van 31 Oktober tot 1 November plaas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.