Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
DA en ANC: Bring bymekaar wat bymekaar hoort

Sprake van samewerking tussen die DA en die meer gematigde vleuel van die ANC is duidelik ’n sensitiewe kwessie, maar dit is noodsaaklik vir toekomstige politieke stabiliteit, skryf Pieter Labuschagne.

John Steenhuisen, leier van die DA. Het hy die hand van samewerking na gematigdes in die ANC uitgesteek? Foto: Gallo Images

Dit is seker nogal ironies dat ’n gesegde van een van die grondleggers van die apartheidsbestel, dr. D.F. Malan, in die moderne demokratiese era ’n kritieke oomblik in die trajek van politieke ontwikkeling geïdentifiseer het.

Malan het amper 70 jaar gelede gesê dat diegene wat dieselfde innerlike politieke oortuiging huldig, bymekaar hoort.

Dié siening is tans van kritieke belang vir die toekomstige stabiliteit en vooruitgang in die land.

Daar is die naweek berig dat John Steenhuisen, leier van die DA, bereid is om met die ANC saam te werk as pres. Cyril Ramaphosa leier van dié party is.

Dit is presies die medisyne wat die Suid-Afrikaanse politiek nodig het.

Steenhuisen is sedertdien gekritiseer oor dié standpunt en het dit duidelik gemaak dat hy glad nie van ’n koalisie met die ANC gepraat het nie.

Tog wil dit lyk asof daar in beginsel sprake van toenadering is.

’n Mens kan net hoop dat rolspelers die kritieke belangrikheid van so ’n ontwikkeling sal raaksien, want dit is presies die medisyne wat die Suid-Afrikaanse politiek nodig het.

Dit sal die politieke konfigurasie in die land regstel wat al vir dekades skeefgetrek is en ’n negatiewe impak op die politieke dinamika het.

Die grootste probleem in Suid-Afrikaanse politiek

Pres. Cyril Rampahosa is president van ’n erg verdeelde ANC. Foto: Gallo Images

Die grootste probleem in die Suid-Afrikaanse politieke landskap is die histories skeefgetrekte politieke konfigurasie van partye. Dit spruit uit die historiese abnormale politieke ontwikkeling tydens die apartheidsera.

Die verbanning van swart opposisiegroepe soos die ANC en PAC in die tydperk voor demokrasie, was die oorsaak hiervan.

Dié groepe moes hul politiek as’t ware in die skaduwees bedryf – parallel met, maar geïsoleer van die wit politieke partye en dit het tot ons aweregse politieke konfigurasie gelei.

Wit politieke partye het die ruimte gehad om ewewigtig op die politieke spektrum te ontwikkel.

Só het die meer konserwatiewe partye, eers die Herstigte Nasionale party (HNP) en later die Konserwatiewe Party (KP), op die regterkant van die politieke spektrum ontstaan.Die Nasionale Party (NP) het weer binne die Suid-Afrikaanse konteks die middel beset, met die valke in dié party sentrum-regs.

Die ANC het sy beeld as ’n tuiste vir almal behou, ook ná sy ontbanning en die gevolglike demokratisering en verkiesings. Die suksesvolle bestuur van die uiteenlopende sienings en die manier waarop groeperings bymekaar gehou is tydens die eerste drie demokratiese verkiesings, was ’n groot prestasie.

Soos teenstand in wit geledere opgebou het, het liberale partye soos die Progressiewe Party, die Progressiewe Federale Party en later die Demokratiese Party aan die linkerkant ontwikkel. Hierdie konfigurasie van politieke partye het streng gesproke net binne die plaaslike konteks gegeld – die NP sou sekerlik in die Westerse konteks eerder as konserwatief-regs beskou word.

Hoe dit ook al sy, die verbanne swart, bruin en Indiër-opposisiegroepe kon nie op dieselfde manier hul plekke op die politieke spektrum inneem nie. Die ANC het dus ’n vangnet geword vir alle teenstanders van die apartheidsregime. Dit was ’n sambreel-party waarin mense met soms teenstrydige politieke oriëntasies en sienings ’n tuiste gevind het.

Van die tradisionele verdeling van links tot regs op die politieke spektrum was daar nie juis sprake nie.

Die ANC het met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en later die vakverbond Cosatu ’n alliansie en die buiteparlementêre politieke toneel oorheers. Die PAC het wel in ’n stadium weggebreek, maar het nooit die ANC se oorheersing bedreig nie.

Die ANC was die tuiste vir almal: van gematigde kapitaliste, sosialiste, kommuniste, charteriste (wat die beginsels van die Vryheidsmanifes aangehang het) en politieke ekstremiste.

Die ANC het sy beeld as ’n tuiste vir almal behou, ook ná sy ontbanning en die gevolglike demokratisering en verkiesings. Die suksesvolle bestuur van die uiteenlopende sienings en die manier waarop groeperings bymekaar gehou is tydens die eerste drie demokratiese verkiesings, was ’n groot prestasie.

Die leiersgroep het uitmuntend daarin geslaag om almal steeds onder die ANC-sambreel te hou. Die ANC kon selfs sy steun van 62,2% in die verkiesing van 1994 tot 66,4% in 1999 en die hoogtepunt van 69,6% in 2004 opstoot. Afsplinterings soos dié van Bantu Holomisa se UDM in dié tydperk het geen invloed op die ANC se magsbasis gehad nie.

Die verkiesing van 2004 was egter tot ’n groot mate die draaipunt vir die ANC as party wat ’n politieke tuiste aan almal gebied het. Die tweeledige magsverdeling in die party het daarna sterker geword en sy kohesie vir die eerste keer bedreig.

Die waterskeiding

Kamerade? Pres. Cyril Ramaphosa en oudpres. Jacob Zuma op ’n perskonferensie in Januarie 2018. Foto: Getty Images

Oudpres. Jacob Zuma se magsposisie ná die leierskapskonferensie in 2007 in Polokwane – gesteun deur ekstremiste soos die destydse leier van die Jeugvleuel, Julius Malema – het een groep binne die ANC sterk na vore laat kom.

Tog kon dié party steeds sy kohesie behou, en selfs die wegbreek van Cope het sy balans net tydelik versteur. Die skade was gering, want die ANC kon in die verkiesing van 2009 65,9% van kiesers se steun trek.

Dit het in 2014 verander toe die gematigde middelgrond in die politieke landskap versterk is. Die DA het meer as vier miljoen stemme (22,3%) getrek en saam met die 7% tot 8% van kleiner partye soos die IVP, NFP, UDM, VF Plus en Cope kon die sogenaamde “middel” met 30% van kiesers se steun spog.

Dié neiging is met die verkiesing van 2019 bevestig met die ANC wat steun na albei kante toe afgestaan het.

Kohesie in die ANC het vir die eerste keer ietwat kwesbaar gelyk. Die EFF het boonop die toneel betree en het met sy meer as ’n miljoen stemme (6,35%) meer ekstremistiese steun van die ANC weggerokkel.

Dié neiging is met die verkiesing van 2019 bevestig met die ANC wat steun na albei kante toe afgestaan het.

Die EFF het sy steun met amper ’n miljoen stemme tot 1,8 miljoen (10,7%) opgestoot, terwyl steun vir die ANC skerp tot 57,5% gedaal het.

Een party met twee koppe

ANC-ondersteuners met ’n optog verlede jaar in Johannesburg. Foto: Getty Images

Dit was reeds in die maande voor die “onttroning” van Zuma in 2018 as president duidelik dat daar twee sterk teenpole in die ANC ontwikkel het.

Pres. Cyril Ramaphosa het die gematigde groep, wat as konstitusionaliste bestempel kan word, gelei. Dié groep het die konstitusionele staat en die Grondwet ondersteun.

Die tweede groep, wat as die anargiste bestempel kan word, huldig die mening dat die Grondwet van 1996 die posisie van minderhede onnodig verskans het. Die regbank word ook as agente en beskermers van die bevoorregte konstitusionele posisie van minderhede beskou.

Dié groep bevraagteken die Grondwet se “spesiale” verhewe status en iemand soos Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, beskou dit as net nog ’n dokument wat verander kan word.

Dié groep huiwer ook nie om kritiek teen die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping uit te spreek nie.

Wat hou die toekoms in?

DA-ondersteuners by ’n byeenkoms voor die verkiesing van 2019. Foto: Getty Images

Dit is duidelik dat Ramaphosa toenemend in sy pogings om die pad van gematigheid te volg deur teenstanders binne die ANC belemmer word. Steun van die gematigde middelgrond en veral van die DA kan dus baie belangrik vir hom word.

Dit word ook duidelik dat die onderskeie groepe hul vere vir die toekoms begin regskud.

Malema se besoek aan Zuma as ’n poging om die ekstremistiese vaarwaters van ’n moontlike samewerkingsooreenkoms met die oudpresident te toets, is interessant.

Aan die ander kant wil dit begin lyk of daar binne die DA ’n poging is om Ramaphosa na die meer gematigde middelgrond te laat beweeg.

Dié ontwikkeling is baie belangrik, want die ANC se aweregse politieke konfigurasie moet uiteindelik langs sy verdelingslyne skeur.

Pieter Labuschagne

Dit is belangrik vir Ramaphosa, wat na beraming op sowat 50% van die ANC se steun, sowel as 25% tot 30% se nasionale steun, kan staatmaak in geval van ’n party-skeuring, dat daar ’n vangnet op die gematigde middelgrond is wat hom verdere steun kan waarborg.

As die DA en die kleiner partye in ’n samewerkingsooreenkoms of koalisie 25% van die nasionale steun kan monster, sal dit die middel versterk.

Ek was nog altyd van mening dat die DA se taktiek moet wees om die bestaande verdelingslyne in die ANC uit te buit deur met die gematigdes te probeer saamspan.

Dit kan Ramaphosa se teenstanders tot langs die kantlyn uitstoot en dit makliker maak om teen hulle op te tree as hulle die land se wette uitdaag.

Suid-Afrika het in elk geval ’n breë, gematigde middelgrond nodig as grondslag vir toekomstige politieke stabiliteit.

Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Np  |  Ace Magashule  |  Jacob Zuma  |  John Steenhuisen  |  Julius Malema  |  Cyril Ramaphosa  |  Demokrasie  |  Koalisies  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.