Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
DA het nou sy mantel gedraai

Die party is tjoepstil oor Afrikaner-belange, soos sy swye oor die US se taalbeleid bewys, skryf Hermann Giliomee.

Tony Leon as leier van die DP.

Die DA, gebore uit die samesmelting van die Demokratiese Party en die Nasionale Party, ly nog altyd aan ’n soort identiteitskrisis.

Die party was nooit die historiese produk van die 1959-PFP nie, maar eerder nog altyd ’n morsige amalgamasie van unieke partye met uiteenlopende geskiedenisse en beleid.

Onder die briljante Tony Leon was die profiel van die DA-leierskap en personeel oorwegend wit en Engels, al was die meeste van sy kiesers in 2014 Afrikaanssprekend. ’n Geskatte 80% van Afrikaners het toe DA gestem.

Leon en Helen Zille het Afrikaanssprekendes se steun nooit as vanselfsprekend aanvaar nie, Afrikaanse gehore dikwels in Afrikaans toegespreek en in die bres getree vir Afrikaans as onderrigtaal op skool en by universiteite “waar redelikerwys doenlik”, soos die Grondwet bepaal.

Die logika is klaarblyklik dat die minderhede die DA alles sal vergeef solank hy die ANC klop.

Maar ná die party se deurbrake in die 2016-verkiesing het iets verander.

Weens die fokus op swart stemme het DA-leiers sy tradisionele steunbasis se belange van die tafel gevee. Die allesoorheersende doelwit is nou ’n sege in 2019 of 2024 op die rug van massiewe swart steun. Die logika is klaarblyklik dat die minderhede die DA alles sal vergeef solank hy die ANC klop.

Dié verskuiwing kom op ’n slegte tyd vir Afrikaans, wat die afgelope 18 maande by die tradisioneel Afrikaanse universiteite as onderrigtaal erg besnoei word. By Tukkies is Afrikaans uitgedruk weens ’n vreemde hofuitspraak dat Afrikaanse studente onregverdig deur Afrikaanse onderrig bevoordeel word aangesien Pedi-studente nie dieselfde voorreg het nie – al het Pedi’s nog nooit enige poging aangewend om die taal as ’n onderrigtaal te ontwikkel nie.

By Kovsies word Afrikaans ook geleidelik uitgeskuif omdat parallelmediumonderrig kwansuis op segregasie neerkom en by die Noordwes-Universiteit, waar Afrikaans nog oorheers en daar na Engels getolk word, dring die Raad vir Hoër Onderwys op die versmelting van die drie kampusse aan. Afrikaans kan ook daar oor drie of vier jaar uitsterf.

Geeneen sou in 1994 kon voorsien dat Stellenbosch, die oudste Afrikaanse universiteit, ook binne 20 jaar sou verengels nie.

Ook 40% van Engelstaliges het Afrikaanse onderrig verkies.

’n Onafhanklike peiling in 2007-’08 deur die onafhanklike firma MarkData, onder leiding van Lawrence Schlemmer, het bevind meer as 80% van Afrikaanse Maties verkies om oorwegend in Afrikaans klas te loop. Ook 40% van Engelstaliges het Afrikaanse onderrig verkies.

Dié situasie het in die agt daaropvolgende jare merkbaar verander weens ’n massiewe inname van Engelse studente wat gevlug het van die al hoe swarter wordende tradisioneel liberale universiteite. Terwyl net 20% van Matie-studente in 1995 Engels was (74% was Afrikaans), was 37% teen 2012 Engels en teen 2016 was Engelstaliges in die meerderheid op Stellenbosch.

In 2014 het die universiteit ’n taalbeleid aanvaar waarin Afrikaans en Engels gelyke status geniet het, maar in 2016 reeds moes die universiteit teenoor die hooggeregshof in Kaapstad erken hy het sy eie taalbeleid oortree. Uit hofstukke het geblyk 200 dosente (tussen ’n vyfde en ’n kwart van die totaal) kon nie in Afrikaans klasgee nie.

Bewerings dat die meeste Afrikaanse studente self deesdae Engels verkies, moet met groot omsigtigheid beskou word: Dosente het ’n belang daarby om parallelmediumonderrig te stuit, omdat dit ekstra werk sonder betaling beteken.

In 2016 het druk deur ’n klein minderheid, meestal swart studente, onder die vaandel van Open Stellenbosch, asook ’n parlementêre verhoor, druk laat toeneem om Engels as enigste onderrigtaal te aanvaar. Afrikaans word slegs gebruik waar “voldoende aanvraag” bestaan. Navorsing wêreldwyd toon klein tale oorleef selde sulke mededinging met Engels.

In die Wes-Kaap sal al vier universiteite eersdaags Engels wees, met miskien ’n bietjie Afrikaans op Stellenbosch.

Die drukgroep Gelyke Kanse het besluit om die universiteit hof toe te neem ten einde sy 2014-beleid van gelykberegtiging van Afrikaans en Engels af te dwing. Die universiteit se pogings om te verengels was vol onreëlmatighede, is sover getuig.

In die Wes-Kaap sal al vier universiteite eersdaags Engels wees, met miskien ’n bietjie Afrikaans op Stellenbosch. Daar sal geen instelling wees waar ’n nuwe generasie onderwysers in Afrikaans kan kwalifiseer nie. Daar sal ook geen universiteit in die Wes-Kaap wees waar studente in Afrikaans in die geneeskunde of regte sal kan studeer nie, al sal hul pasiënte en kliënte waarskynlik meestal Afrikaanstalig wees.

En tog is die DA, wat stewig in beheer van die Wes-Kaap is, tjoepstil, al bepaal die Grondwet dat provinsies en die nasionale regering albei vir onderwys verantwoordelikheid moet aanvaar.

In talle Europese lande keer druk van kiesers dat regerings universiteite verengels, al wil die bestuur en fakulteite dikwels al hoe meer Engels hê. As ’n Switserse universiteit sou probeer doen wat Stellenbosch nou doen, sal politieke partye daarvan ’n groot politieke kwessie maak.

Maar in Suid-Afrika, waar lede van wetgewers deur proporsionele verteenwoordiging verkies word, is daar geen aansporing vir DA-LP’s om vir Afrikaans op te kom nie, terwyl die party se leierskap hoop die kwessie sterf ’n stille dood.

Terwyl daar geen bewyse is dat swart studente op Stellenbosch beter sal presteer as die universiteit heeltemal verengels nie, daal die persentasie Xhosatalige studente (dit was 14,6% in 2015) en is die deurvloeikoers van swart studente laag.

Die grootste wenners is wit Engels-sprekendes.

Navorsing toon studente presteer beter as hulle in hul moedertaal onderrig ontvang, en die Universiteit van Kaapstad se “Child Gauge”-verslag het bevind swart studente het dikwels ’n agterstand van vyf jaar teenoor bevoorregte studente omdat Engels te vroeg op skool op hulle afgedwing word.

Die grootste wenners is wit Engelssprekendes.

Bruin Afrikaanse studente, veral dié van landelike gebiede, se deelnamekoers aan universiteitsopleiding bly die laagste in die land – en dit daal.

Ook swart universiteitstudente sak by gebrek aan moedertaalonderrig op skole terug.

Die Universiteit Stellenbosch se besluit om Engels te kies sal die probleme van bruin Afrikaanssprekendes aansienlik vererger.

Dalk moet die DA ondersoek of daar ’n verband bestaan tussen die relatief swak prestasie van bruin leerlinge en studente, en die keuse van onderrigtaal. Maar gee die DA regtig om?

* Giliomee is ’n historikus en lid van Gelyke Kanse.

Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Afrikaners  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.