Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
DA-krisis: Kan ’n nuwe party werk?

Die kanse is baie goed dat Suid-Afrika ná die verbrokkeling van die DA ’n nuwe politieke party kan kry, maar politieke ontleders is skepties oor die sukses van só ’n party. Gert van der Westhuizen berig.

Strak gesigte. Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, en Mmusi Maimane op Woensdag se nuuskonferensie waar Maimane sy bedanking as partyleier aangekondig het. Foto: Simon Sonnekus

Die bedanking van die party se leier, Mmusi Maimane, en Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, uit die DA tesame met bespiegelings dat nog vooraanstaande swart leiers hulle kan volg, dui volgens politieke ontleders daarop dat ’n nuwe party deur ontnugterde oud-DA-lede beslis ’n moontlikheid is.

Daar is tussen die ANC en die DA plek op die politieke spektrum vir ’n nuwe party met ’n sosiaal-demokratiese beleidsrigting, sê Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die sakeskool van die Noordwes-Universiteit.

Maar nie Venter óf die politieke ontleder dr. Ralph Mathekga óf prof. Bheki Mngomezulu, politieke ontleder aan die Universiteit van Wes-Kaapland, glo dat só ’n party veel sukses by die stembus sal behaal nie.

Ek noem daai posisie tussen die ANC en die DA ‘die politieke doodsakker’. Dit is ’n vreeslike woord, maar dui net daarop hoe moeilik dit is om in daardie posisie te oorleef.
Theo Venter

Die grootste gevaar is dat ontnugterdes die party sal stig omdat hulle kwaad is vir die DA, sê Mnogemzulu.

“Maar sodra die woede uitgewoed is, is daar niks meer wat die mense bymekaarhou nie.

“Dit kan wel in hul guns tel dat Maimane ondanks sekere swakplekke ’n charismatiese leier is wat volgelinge kan lok en daar is ook ’n kans dat sommige wit DA-lede by ’n party onder sy leierskap kan aansluit.

“Maar dit is moeilik om te voorspel presies watter soort party dit sal wees.”

Venter meen die tyd is nog nie ryp vir ’n nuwe party nie en dat dit daarom nie veel van ’n impak op kiesers gaan maak nie.

“Die afgelope 25 jaar se geskiedenis wys daar is nie ’n goeie kans op sukses nie. Die UDM kon dit nie regkry nie, Roelf Meyer kon dit nie regkry nie en Cope kon dit nie regkry nie.

“Ek noem daai posisie tussen die ANC en die DA ‘die politieke doodsakker’. Dit is ’n vreeslike woord, maar dui net daarop hoe moeilik dit is om in daardie posisie te oorleef.”

Die verbrokkeling van die DA dui wel daarop hoe vloeibaar die politiek in die land is en dit is ’n eerste stap na ’n herrangskikking op die politieke spektrum. Die omstandighede vir ’n nuwe sosiaal-demokratiese party sal wel gunstiger wees as die ekonomiese krisis in die land vererger, die EFF verder na links groei en die pragmatiste in die ANC hulle van die ideologiese verknogtheid wat die regerende party kenmerk kan losmaak.

’n Nuwe party sal egter ’n skrale 13 maande hê om vastrapplek te kry voordat die munisipale verkiesing van 2021, meen Venter.

Dokter die ou party eerder reg

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, praat met die groot groep verslaggewers wat Woensdag die nuuskonferensie bygewoon het waarop Mmusi Maimane sy bedanking as partyleier bekend gemaak het. Foto: Simon Sonnekus

’n Nuwe party verg baie harde werk, sê Mathekga.

“Ek glo dit is beter om ’n ou party reg te dokter eerder as om ’n nuwe een te stig. Hoeveel steun gaan ’n nuwe party kry – 3%?

“Die DA het steun van 19% (in vanjaar se verkiesing) gehad en het die vermoë om tot soveel as 25% van kiesers se steun te kry.”

Ek wens die egoïste in die DA wil net besef hoeveel dié party vir hierdie land beteken.
Dr. Ralph Mathekga

Mathekga sê hy het al baie van die DA verskil, maar dit is hartseer om te sien hoe die party homself vernietig, want dit benadeel die gehalte van die Suid-Afrikaanse opposisie-politiek.

“Die DA beklee die gematigde tussengrond in die Suid-Afrikaanse politiek en sterk sodoende die hande van mense soos pres. Cyril Ramaphosa in die parlement. ’n Verswakte DA beteken daar is minder mense in die middel. Ek wens die egoïste in die DA wil net besef hoeveel dié party vir hierdie land beteken.”

Mathekga glo die DA kán reg gedokter word. Daar sal onder meer binne die DA na ’n geloofwaardige leier gesoek moet word om die party ’n baie moeilike en onsekere toekoms in te lei.

Mmusi Maimane nadat hy Woensdag aangekondig het hy as DA-leier bedank. Foto: Simon Sonnekus

Volgens Mngomezulu het Maimane en Mashaba die DA ’n groot guns bewys deur so vinnig te bedank. Die DA het nou tyd om te hergroepeer en die skade voor die volgende verkiesing te probeer herstel.

“Alles sal egter daarvan afhang hoe die federale raad die situasie hanteer. Hy sal die party moet herposisioneer en daar sal eerlik na die party en sy probleme gekyk moet word.

“As die federale raad nie die situasie reg hanteer nie, wag daar ’n ramp op die DA. Hy sal dan nóg wit steun aan die VF Plus afstaan en ook swart steun verloor.”

Die EFF het interne woelinge van sy eie en kan ook nie soos die DA op steun onder swart, wit, bruin en Indiër kiesers staatmaak nie.
Theo Venter

In só ’n geval bestaan daar selfs ’n moontlikheid dat ’n verswakte DA tot die derde of vierde plek in die rangorde van Suid-Afrikaanse partye kan terugsak, sê Mngomezulu. Die EFF kan dan selfs die amptelike opposisie word omdat hy reeds in vanjaar se verkiesing sy steun vergroot het.

Die IVP, wat weer hard probeer om steun buite KwaZulu-Natal te werf, kan die DA dan ook verbysteek.

Venter sê die EFF is reeds in twee provinsiale wetgewers die amptelike opposisie, maar hy dink nie dat dié party teen 2024 die amptelike opposisie sal wees nie. Die EFF het interne woelinge van sy eie en kan ook nie soos die DA op steun onder swart, wit, bruin en Indiër kiesers staatmaak nie.

Venter voorsien dat die DA sal konsolideer rondom die Wes-Kaap, waar hy die provinsiale regering beheer, maar dat hy anders as die IVP nie net ’n streekparty sal wees nie omdat hy ook steun in groot metropolitaanse gebiede soos Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai het.

Volgens Mathekga sal die EFF wel munt slaan uit die “narsisme en regse neigings” in die DA, maar dit sal nie genoeg wees om hom die amptelike opposisieparty te laat word nie. Word die DA wel vernietig, sal die EFF eerder probeer om ooreenkomste met die ANC aan te gaan as wat hy sal voortgaan om ’n opposisieparty te wees.

En wat van ras?

Mmusi Maimane was nog leier van die DA toe hy Herman Mashaba Dinsdag bygestaan het op ’n nuuskonferensie waar die burgemeester van Johannesburg sy bedanking uit dié amp en die DA aangekondig het. Foto: Felix Dlangamandla

Sedert die probleme in die DA rugbaar geword het, het beskuldigings van rassisme ook die ronde gedoen.

Venter sê dit is bloot ’n simptoom van die onderliggende probleem wat die DA het met die ideologiese gewig wat hy dra. Daar was die laaste klompie jare spanning tussen die liberaal-demokratiese en sosiaal-demokratiese denkrigtings binne die party.

Niemand is in elk geval perfek wat ras betref nie.
Dr. Ralph Mathekga

Mngomezulu praat van ’n identiteitskrisis tussen diegene wat van die DA ’n sogenaamde breë kerk wil maak en diegene wat die DA “suiwer” wil hou deur klassieke liberalisme voorop te stel.

Mathekga sê hy glo vir geen oomblik dat die DA rassisties is nie. Die verlies van stemme na regs in die verkiesing en ook sedertdien in tussenverkiesings, het gelei tot frustrasies en mense het ongelukkig daarop gereageer deur na identiteitspolitiek terug te beweeg.

“Maar ek glo steeds mense in die party het goeie bedoelings en hulle kan positief reageer op al die woelinge. Niemand is in elk geval perfek wat ras betref nie – nie eens die ANC nie.”

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Ivp  |  Eff  |  Theo Venter  |  Ralph Mathekga  |  Bheki Mngomezulu  |  Mmusi Maimane  |  Herman Mashaba  |  Politiek  |  Opposisiepartye  |  Sosiaal-Demokrasie  |  Rassisme  |  Liberalisme  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.