Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
DA sê ‘een SA vir almal’ – nie ‘een taal vir almal’ nie

Dis nie waar dat die DA nie omgee vir Afrikaans nie, skryf Annelie Lotriet.

Mmusi Maimane
DA leier, Mmusi Maimane. Foto: Deaan Vivier

Rapport suggereer verlede week in ’n hoofartikel oor die DA se verkiesingsmanifes dat die party “toondoof” is vir die strewes wat eie is aan hul Afrikaanse ondersteuners, veral wat die voortbestaan van Afrikaans betref.

Dit is inderdaad ’n kommerwekkende neiging dat Afrikaans en ander inheemse tale in die een ná die ander staatsdepartement, tersiêre instelling en openbare instansie al hoe meer op die kantlyn gestoot word. Dit raak al hoe moeiliker om in ons voorkeurtaal be-dien te word, ’n Afrikaanse skool vir ons kinders te vind of om dokumente in ons moedertaal te lees.

Dit is duidelik die ANC-regering gee nie om vir Afrikaans of ander inheemse tale nie. Pleks daarvan om die status van Afrikaans te behou en Afrikatale op te hef, onderdruk die ANC-regering alle tale behalwe Engels.

Ons woon in ’n veeltalige land waar 6,8 miljoen of 13,5% van die bevolking Afrikaans praat. Slegs 4 miljoen (9,6%) se huistaal is Engels.

Jy sal dit egter nie sê as jy kyk na die oorheersing van Engels nie.

Die DA glo onomwonde dat ons nie enige inheemse tale se gebruik moet inkort ten gunste van Engels nie.

Art. 6 van die eerste hoofstuk van die Grondwet is duidelik dat “alle amptelike tale gelykheid van aansien [moet] geniet en billik behandel [moet] word”. Dis ’n prysenswaardige ideaal, maar in die praktyk geskied dit glad nie.

Subart. 3 (b) bepaal verder “munisipaliteite moet die taalgebruike en -voorkeure van hul inwoners in aanmerking neem”. Dis ook iets wat al hoe minder gebeur.

Hoe gaan ons die ideale van die Grondwet bereik deur Afrikaans se gebruik af te skaf? Nee, ons doen eerder afbreuk aan veeltaligheid deur net Engels te bevorder. Die DA glo onomwonde dat ons nie enige inheemse tale se gebruik moet inkort ten gunste van Engels nie. As ’n staatsdepartement byvoorbeeld in Engels en Afrikaans kommunikeer, wat gaan dit help om Afrikaans te skrap? Hou eerder Afrikaans en voeg byvoorbeeld Xhosa by. Jy bou nie Afrikatale soos Zoeloe en Xhosa op deur Afrikaans te onderdruk nie.

As die DA aan bewind is, sal ons veg om Afrikaans se status te behou én te verbeter. Die reg om jou kind in Afrikaans te laat skoolgaan of om in Afrikaans klas te draf op universiteit moet ten alle koste beskerm word. Maar ons sal ook geld bewillig om Afrikatale te bevorder en te laat groei. Kinders moet in Xhosa kan skoolgaan en Zoeloe-sprekers moet in hul moedertaal met ’n staatsdepartement kan kommunikeer.

As jy wil sien hoe veeltaligheid prakties toegepas kan word, kan jy maar net in die gange van DA-kantore loop, of ’n vergadering van DA-parlementslede bywoon. Ons verteenwoordigers kom uit alle agtergronde. Gesprekke vind plaas in Engels, Afrikaans, Zoeloe, Xhosa, ensovoorts. Pleks van om Engels eksklusief te bevorder, verstaan ons die belangrikheid van in jou moedertaal kommunikeer.

Taal is nie bloot ’n kommunikasiemiddel nie; dis deel van ’n mens se identiteit. Ek dink en lewe in Afrikaans en ek is trots op my taal. Ons kan nie daarvan wegskram dat Afrikaans die taal van die apartheidsregering was nie en dat dit bevoordeel is ten koste van Afrikatale nie.

In ’n demokratiese Suid-Afrika erken ons die onregte van die verlede, maar ten spyte daarvan is ons steeds versoen. Dis die ware reënboognasie van Nelson Mandela.

As ’n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner is ek trots op my identiteit, maar besef ook dat ’n Xhosa-sprekende landsburger dieselfde moet voel. Ons word inderdaad verenig in ons diversiteit. Dis tyd dat ons sien wat werklik aangaan: Die ANC bevorder Engels, want dis die maklike opsie. Dis baie makliker om net een taal te hê as om werklik veeltaligheid te bevorder. Ek wil nie in ’n eentalige land woon nie; ek wil eerder hê dat ek tuis kan voel met my moedertaal wat beskerm word, terwyl my buurman se taalregte ook beskerm word.

Die ANC neem nie die taalregte van Afrikaanssprekendes ernstig op nie. Die DA se kernboodskap vir die opkomende verkiesing is “een Suid-Afrika vir almal”, nie “een taal vir almal” nie. Dis tyd dat ons op 8 Mei ’n boodskap aan die regerende party stuur: Basta met julle verengelsing!

  *Annelie Lotriet is die Vrystaatse voorsitter van die DA en ’n parlementslid.

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Afrikaans  |  Da  |  Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.