Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
DA se 'kleurblinde' beleid is blind vir rassisme

Sal die DA se nuwe “kleurblinde”-beleid, wat regstelling op grond van ras of gender verwerp, ’n nuwe era van nierassigheid inlui? vra Steven Friedman.

DA-ondersteuners op ’n byeenkoms voor verlede jaar se verkiesing. Die DA hoop ’n beleid wat rasgegronde regstelling teenstaan, sal meer ondersteuners lok. Foto: Getty Images

Deur soos die DA te sê dat beleid in Suid-Afrika ras moet ignoreer, is soos om daarop aan te dring dat ekonomiese ongelykheid in Europa in die 19de eeu geïgnoreer moes word.

Dié party het op ’n onlangse beleidskonferensie besluit om beleid teen te staan wat ras en geslag as ’n maatstaf gebruik. Die doel daarmee is om die DA te onderskei van die ANC wat regstellende aksie voorstaan as ’n manier om iets te doen aan die ongelykhede wat deur eeue van witminderheidsregering geskep is.

Hoewel die federale kongres, sy hoogste besluitnemende instelling, dié besluit nog moet goedkeur, is dit byna verseker dat dit die DA se beleid sal word. Wanneer dit gebeur, sal dit vir ’n tyd ’n einde maak aan die interne geskil tussen ondersteuners van dié standpunt en diegene in die DA wat wil hê die party moet aanvaar dat ras ’n maatstaf vir benadeling is.

Byna alle polities aktiewe swart mense glo dat hulle steeds deur vooroordele benadeel word en dat rasgegronde regstelling noodsaaklik is.

Dié in die DA wat regstelling op grond van ras verwerp, is oorwegend wit; dié wat dit steun, is amper almal swart (hoewel ’n swart DA-beampte die openbare gesig van die “kleurblinde”-beleid is). Die verwysing na gender lyk soos ’n nagedagte omdat dit nooit ’n bron van verdeling in die DA was nie.

Net soos ander lande met ’n geskiedenis van rasse-oorheersing, soos die VSA, is sienings oor of rasgegronde regstelling sin maak, nie die produk van akademiese ontleding nie, maar van waar mense hulself in ’n samelewing bevind. Wittes in die VSA beveg al dekades lank rasgegronde regstelling omdat dit aandui dat hulle steeds onregverdig en ten koste van swart mense bevoordeel word.

Swart mense se houdings in Amerika oor regstelling op grond van ras is die onderwerp van ’n debat.

In Suid-Afrika reageer die meeste wit mense op ’n soortgelyke manier as wit Amerikaners. Byna alle polities aktiewe swart mense glo dat hulle steeds deur vooroordele benadeel word en dat rasgegronde regstelling noodsaaklik is.

Waarom ras steeds saakmaak

Maar die feit dat baie mense glo dat iets waar is, beteken nie dat dit wel is nie.

Die DA-resolusie sê dat: “(elke) individu is uniek en nie ’n rasse- of gender-gesant nie . . . Individue, wanneer hulle vry is om hul eie besluite te neem, sal nie ingevolge ’n voorafbepaalde verhouding in elke liewe sektor, maatskappy of vlak van bestuur verteenwoordig word nie.”

In gewone taal beteken dit niemand sal ’n pos of voordeel kry op grond van hul ras nie. Is dit nie ’n redelike posisie om in te neem in ’n samelewing wat rassediskriminasie verwerp nie?

Mmusi Maimane, vorige DA-leier, glo ras kan nie geïgnoreer word in Suid-Afrikaanse politiek nie. Foto: Getty Images

Nee, dit is nie. Die aanspraak dat elke individu “uniek (is) en nie ’n rasse- of gender-afgesant” is nie, het geen ooreenkoms met die werklikheid waarin mense lewe nie.

Elke swart persoon en vrou mag ’n individu wees, maar omdat hulle swart en vroulik is, het hulle te doen met uitdagings waarmee wit mense en mans nie te doen het nie.

Wit mense word nie as ongekwalifiseerd vir take beskou totdat hulle dit verkeerd kan bewys nie (en selfs nie eens dan nie).

Daar word nie gereeld met mans fout gevind op grond van hul emosies nie, hulle word nie daarvan beskuldig dat hulle aggressief is wanneer hulle op hul regte aandring of dat hulle onderdanig is wanneer hulle dit nie doen nie.

Mans word ook nie aan geweld onderwerp omdat hulle mans is nie. So, ons is nie “afgesante” (wat dit ook al mag beteken) vir ons ras of gender nie, maar ons ervarings word daardeur gevorm.

Om “nie kleur te sien nie” sal wees om net een kleur te sien – dié van die groep in beheer.

Ons is in teorie almal individue, maar wanneer een groep in die praktyk al langer as ’n eeu al die top-sake- en professionele posisies beklee, neem mense aan dat slegs ’n groep oor die vermoë beskik wat nodig is om daardie posisies te beklee.

En so word “meriete” net nog ’n woord vir lidmaatskap van die oorheersende groep.

As ras of gender ignoreer word, sal diegene wat die aanstellings doen waarskynlik aanneem dat net mense soos hulle “meriete” het. En so sal individue in top-posisies byna altyd lyk soos die persoon wat die aanstellings doen.

Om “nie kleur te sien nie” sal wees om net een kleur te sien – dié van die groep in beheer.

Rassisme in sport

Diegene wat dié mening huldig, sê dikwels ondernemings sal altyd mense op grond van “meriete” aanstel omdat hulle die beste kandidate soek wat kan toesien dat hulle ’n wins maak.

Maar wie besluit wie die beste persoon is? Mense is nie rekenmasjiene nie en hul begrip van wie die beste vir ’n taak is, word deur bogenoemde vooroordele gevorm.

Sport, daardie gunsteling- Suid-Afrikaanse tydverdryf, verskaf die bewyse.

Plakkate met DA-boodskappe tydens verlede jaar se verkiesing. Foto: Getty Images

Makhaya Ntini, wat een van Suid-Afrika se suksesvolste krieketspelers geword het, sou nooit vir die land gespeel het as een van die spel se administrateurs nie gedink het dit is verstandig om die keurders opdrag te gee om hom te kies nie.

As keurders nie aangesê is om kleur in ag te neem nie, sou geen swart spelers straks vir Suid-Afrika krieket gespeel het nie.

Krieket is ’n bruikbare maatstaf omdat persoonlike gemiddeldes aangeteken word van elke speler se vertonings. In die vroeë jare van amptelike “nierassige” krieket is swart spelers dikwels vir wit spelers met laer gemiddeldes oor die hoof gesien.

As keurders nie aangesê is om kleur in ag te neem nie, sou geen swart spelers straks vir Suid-Afrika krieket gespeel het nie.

Teenstanders van beleide wat op ras of gender gegrond is, hou daarvan om gereeld daarop aanspraak te maak dat hulle die aandag aflei van armoede en ekonomiese ongelykheid: Hulle mag dalk die probleem net vererger deur slegs geleenthede aan gegoede mense te gee.

Mbali Ntuli, een van die kandidate vir die leierskap van die DA. Foto: Getty Images

As hulp verleen word aan mense wat in armoede leef, ongeag wat hul ras of geslag is, sal diegene wat dit regtig nodig het, dit kry en die kripstaners sal nie beloon word omdat hulle swart of vroulik is nie.

Dié siening gooi twee kwessies saam wat verwant maar nie dieselfde is nie: rasse-versperrings en armoede.

Rasse-versperrings beïnvloed mense in die middelklas. Dit is hulle wat meeding vir plekke aan universiteite of vir professionele of sake-poste.

Die armes trek nie voordeel daaruit nie. Maar behalwe as jy ’n einde aan alle ongelykheid wil maak (wat min indien enige teenstanders van beleid gegrond op ras of geslag wil doen), word hulle slegs bevoordeel ten koste van mense wat in armoede leef as hulle voordele kry wat andersins ’n arm persoon sou toekom.

Die ‘kleurblinde’-mite

Diegene wat die Suid-Afrikaanse werklikhede ken, sal dit vreemd vind om hulle “kleurblinde”-beleide voor te stel wat plekke op universiteit gee aan mense wat te arm is om beter skole te bekostig, en sake- en professionele geleenthede beskikbaar te stel aan mense wat dit nie kon bekostig om universiteit toe te gaan nie.

Die standpunt sê in effek dat standaarde verlaag word as swart mense en vroue aangestel word en dit word net nog ’n manier om te sê dat swart mense en vroue nie in staat is om die werk te doen nie.

Daar kan natuurlik geargumenteer word dat die armes benadeel word deur beleide wat op ras en geslag gegrond is omdat die beste mense nie in regerings-, professionele en bestuursposte aangestel word waarop hulle vir beter diens staatmaak nie.

Maar dit is net waar as die beste mense aangestel word as daar geen ras- of gender-kriteria is nie en, soos ons reeds gesien het, sal dit nie gebeur nie.

Die standpunt sê in effek dat standaarde verlaag word as swart mense en vroue aangestel word en dit word net nog ’n manier om te sê dat swart mense en vroue nie in staat is om die werk te doen nie.

So, “kleurblinde”-beleide (en hul gender-ekwivalente) sal nie nierassigheid inlui nie wat beteken dat elke individu slegs op hul vermoë beoordeel word nie.

Dit sal vertraag word deur te verseker dat diegene war in die verlede oorheers het bo bly.

Die DA se beleid is nie rasblind nie. Dit is blind vir rassisme.

* Friedman is ’n professor in politieke studies aan die Universiteit van Johannesburg. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Steven Friedman  |  Regstellende Aksie  |  Kleurblindheid  |  Da  |  Nierassigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.