Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
DA se ‘mislukking’ oordrewe narratief

Aangesien hy self een is, sou R.W. Johnson weet ’n historikus se belangrikste taak is om gebeure in die verlede in die konteks van hul tyd te verklaar en te ontleed, en nie persoonlike motiewe tot ’n herinterpretasie van gebeure te bring met die voordeel van nabetragting nie.

Hy is nie ’n statistikus nie, en daarom kan hy verskoon word daarvoor dat hy die uitslae van die onlangse tussenverkiesings, waarin die DA sedert die ernstige terugslag van die 2019-verkiesing, stabiliseer het, verkeerd interpreteer het.

Maar om sy ontleding te laat slaag, is hy verplig om ’n oordrewe indruk van mislukking te skep, want sy doel is om ’n sondebok te vind.

Sonder om sy argumente te herhaal, is dit nodig om perspektief te gee oor sy verwronge historiese oorsig.

Die DA het onder die voormalige leiers Tony Leon en Helen Zille tydperke van vinnige groei beleef – van ’n klein persentasie van 1% tot die amptelike opposisie, en tot 24% van die nasionale stem.

Die terugslag van die 2019-verkiesing (of onlangse tussenverkiesings) is ook nie uniek in die DA se geskiedenis nie.

Die DA bou gematigde, nierassige sentrum vir SA politiek.

Die DA het tradisioneel ontwrigtende terugslae beleef ná groot groei – onder Tony Leon sowel as onder Zille se opvolger, Mmusi Maimane.

In Leon se geval het hy die DP gelei tot ’n samesmelting met die NNP om die DA te vorm om die steunbasis van die party en sy leierskorps te verbreed. As gevolg hiervan het die DA eksponensieel gegroei om ’n duidelike meerderheid in Kaapstad te wen in die plaaslike verkiesing van 2000 – iets wat die DP nooit alleen sou kon doen nie.

Binne ’n jaar het die ideologiese onversoenbaarheid tussen die twee alliansievennote daartoe gelei dat die party uitmekaar gespat het.

Die gevolg was ’n halvering van die DA se steun in Kaapstad in die verkiesing van 2004, tot net 27%.

Dit het ’n dekade geneem voordat die DA die verkiesingsterkte van sy 2000-verkiesingsuitslag herwin het.

Dit is vreemd dat Johnson geen verwysing hierna maak in sy poging om ’n spesifieke narratief te dryf, eerder as om ’n eerlike ontleding te gee nie.

Johnson het veral minagting vir Zille se suksesvolle poging om Patricia de Lille se Onafhanklike Demokrate in die DA in te bring – ’n stap wat die steunbasis van die party aansienlik verbreed het.

De Lille en Zille het jare lank konstruktief saamgewerk en hul vennootskap het ’n formidabele tweederdemeerderheid vir die DA in Kaapstad en 59% in die provinsie opgebou.

Die ontploffing tussen die DA-leierskap en De Lille het eers gebeur nadat Zille as leier bedank het. Die manier waarop dit deur die nuwe DA-leiers hanteer is, en die vertrek van De Lille om Good te vorm, het die DA ook steun gekos, soos blyk uit die verkiesing in 2019 sowel as die onlangse tussenverkiesing.

Geordin Hill-Lewis

Ondanks die ontwrigting was hierdie terugslag nie naastenby so skadelik vir die party se steunbasis soos die skeuring van 2001 nie.

En hoewel De Lille uitgestap het, het baie voormalige OD-ondersteuners in die DA aangebly (net soveel NNP-ondersteuners het by die DA gebly nadat Van Schalkwyk vertrek het).

Zille het dieselfde probeer doen deur een van die prominentste swart openbare figure in Suid-Afrika, dr. Mamphela Ramphele, by die party te probeer betrek nadat sy daarin belangstelling getoon het. Hierdie poging het misluk voordat dit gefinaliseer is – en sonder enige koste by die stembus vir die DA. Dit was dus skaars die katastrofe wat Johnson voorgee dit was.

Die aantrekking van prominente leiersfigure en hul partye is een van die maniere wat partye in komplekse, meervoudige gemeenskappe groei. Dit is baie moeilik om die hindernisse van identiteit (veral ras en etnisiteit) te oorkom.

Om af en toe saam te smelt met ander partye kan baie help, soos destyds toe die DA met die NNP en die OD saamgesmelt het. Die breuk met eersgenoemde was baie meer vernietigend as met laasgenoemde.

Johnson blameer Zille ook vir die bevordering van diversiteit in die DA se leiersgeledere. Hy moet weet dat Leon en Zille, wat albei probeer het om hierdie doelwit te bevorder, albei die eer hiervoor moet ontvang.

Hy hou nie van die mense wat in die leiershiërargie opbeweeg het nie, maar hy kom nie met ’n lys van moontlike alternatiewe kandidate vorendag nie.

Waar is hierdie wonderlike leiers? En is hulle bereid om die besonderse argwaan wat swart leiers in die DA ervaar die hoof te bied?

Johnson moet ook weet dat DA-leiers nie hul opvolgers aanstel nie. Hulle word verkies. Zille het baie gedoen om die ontwikkeling van talentvolle leiers van alle rasse aan te moedig en te ondersteun. Dit was die kongres wat haar opvolger verkies het.

Sy het ’n party verlaat wat administratief sterk en slaggereed was.

In die munisipale verkiesing in 2016, ’n jaar ná die bedanking van Zille, het die party se steun die hoogte ingeskiet en kon hy regeringskoalisies in vier groot metrorade buite die Wes-Kaap skep.

Die party se oë was egter groter as sy maag. Ernstige verskille het ontstaan, veral oor die slegte samewerkingsooreenkomste met die EFF (wat Zille ten sterkste teëgestaan het).

Die uitslag is weerspieël in die 2019-verkiesing (toe die DA se steun proporsioneel veel minder gedaal het as in 2004, ná die skeuring met die NNP).

Die DA was uniek onder politieke partye en kon sy demone trotseer. Ná die 2019-verkiesing het die party ernstige selfondersoek gedoen. Ná ’n koersregstelling en ’n verandering in die leierskorps is ons besig om weer op te bou.

Ons hoop dat dit nie ’n volle tien jaar sal neem om ons steun te herwin nie, soos in 2001.

Daar is werklik geen alternatief om die gematigde, nierassige sentrum van die Suid-Afrikaanse politiek te bou nie.

Soos gereeld gebeur met DA-steun, kan die brande woed, maar die fynbos kom altyd weer na vore.

*Geordin Hill-Lewis is ’n DA-parlementslid.

Meer oor:  Geordin Hill-Lewis  |  R.W. Johnson  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.