Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
DA: Wat het verkeerd geloop en wat hou die toekoms in?

Die skeur in die DA kon al voor vanjaar se verkiesing voorspel word, maar dit beteken glad nie dat dié party nie steeds ’n belangrike rol kan speel nie, skryf Pieter Labuschagne.

Die begin van die einde. Mmusi Maimane, voormalige DA-leier, en Helen Zille op ’n nuuskonferensie waar bekend gemaak is dat Zille tot federale voorsitter van dié party verkies is. Foto: Sarel van der Walt

Die DA se vermoë om ’n “plaasvervangende regering” te wees is onherroeplik verby. Die “oorwinning” van die klassieke liberale faksie in die party met Helen Zille aan die spits, was die doodskoot vir inklusiwiteit en diversiteit in die party.

Dit word bevestig deur die bedanking van die partyleier, Mmusi Maimane, en die afwesigheid van ’n jong sterk swart leier om die party vorentoe te neem.

Die DA kan egter steeds ’n groot rol in die Suid-Afrikaanse politiek speel.

Die DA se intrinsieke probleem is vroeër reeds in my artikel “Wat hou die toekoms vir die DA in?” uitgewys. Die DA se geleidelike agteruitgang en die probleme wat dié party nou ondervind, was onvermydelik met die ideologiese krake wat reeds voor vanjaar se verkiesing sigbaar was.

Die onsmaaklike hantering van die Patricia de Lille-sage was die eerste tekens van intrinsieke probleme in die party. Dit was egter Zille se terugkeer wat die krakies tot een groot skeur oopgedwing het.

Landwyd kon die DA sy steun onder swart kiesers met slegs 1% tot 4% verhoog.

Die kritieke faktor in die DA se agteruitgang was natuurlik sy onvermoë om ’n nis in die breë politieke spektrum te vind.

Nadat die DA se onvermoë om betekenisvolle swart steun te trek in vanjaar se verkiesing ontbloot is, was die spreekwoordelike skrif aan die muur vir dié party.

Die verwagtinge was hoog dat die DA die beheer in die magtigste provinsie, Gauteng, sou oorneem. Daarvoor sou hy genoeg steun van kiesers in veral Soweto moes kry. Dit het nie gebeur nie en landwyd kon die DA sy steun onder swart kiesers met slegs 1% tot 4% verhoog.

Die swak vertoning van die DA en die faktore wat uiteindelik tot die bedanking van Maimane gelei het, het veelvuldige aanleidende faktore.

Die belangrikste hiervan is dat die DA ideologies op twee stoele probeer sit en misluk het. Die Zille- en Cyril Ramaphosa-faktore het net verder tot sy ondergang bygedra.

Die ideologiese politieke spektrum

Die einde. Helen Zille en Mmusi Maimane nadat Maimane aangekondig het dat hy as leier van die DA uittree. Foto: Sarel van der Walt

Die EFF bevind hom op grond van die internasionaal aanvaarde klassifikasie van politieke partye aan die ekstreme linkerkant van die spektrum omdat hy ’n groot omwenteling in die samelewing wil bewerkstellig.

Die EFF ondersteun radikale sosialistiese verandering, wat in ideologiese jargon staatsosialisme genoem kan word. Dit beteken radikale ekonomiese verandering soos nasionalisering waarin die staat ’n sterk rol sal speel.

Die EFF se radikale standpunte het die steun van 14% van kiesers in 2019 se verkiesing gekry omdat dié radikalisme in partypolitieke verband as ’n spreekbuis vir ’n beduidende segment van die samelewing gedien het.

Die ANC is direk langs die EFF op die politieke spektrum. Die regerende party se ideologiese wortels lê in ’n meer gematigde sosialisme veranker, wat sterk elemente van demokratiese marksosialisme bevat.

Die ANC beskou die staat as ’n belangrike sosio-maatskaplike rolspeler in die samelewing wat historiese ongelykhede moet regstel. Die klem is egter nie so sterk op nasionalisering nie, maar eerder op ’n meer pragmatiese sosialistiese benadering waarin die waarde van ’n vryemark en kapitalistiese stelsel vir ekonomiese groei besef word.

Die ANC het in vanjaar se algemene verkiesing 57% van die totale getal stemme verower.

Die ANC, EFF en die IVP se gesamentlike steun van oor die 70% kom oorweldigend uit die swart gemeenskappe. Dit maak dit baie moeilik vir die DA en die kleiner partye om ook in dié poel vis te vang.

Die DA se verkiesingsboodskap van “Een Suid-Afrika vir almal” het kiesers nie juis oortuig nie. Foto: Gert van der Westhuizen

Die DA is ’n sentristiese party met historiese wortels in die klassieke liberale tradisie wat tot in die 1950’s terugstrek. Die DA se historiese beleid was klassieke liberalisme, menseregte en ’n vryemark-ekonomie met ’n baie beperkte rol vir die staat.

Die DA se steun voor die verkiesing van 2019 was hoofsaaklik in de wit en bruin gemeenskappe. Hy is gesteun deur diegene, hoofsaaklik voormalige VF Plus-ondersteuners, wat deur die korrupsie en wanbestuur van die regering ontnugter is. Die DA se steun in die swart gemeenskap was beperk.

Die VF Plus met sy behoudende, meer konserwatiewe benadering, is regs op die spektrum. Die VF Plus se behoudende waardes en doel om as kampvegter op te tree vir die wit minderheid het dit die tuiste vir hoofsaaklik wittes en ’n klein groepie bruin mense gemaak.

Hy het in 2014 se verkiesing net 0,9% van kiesers se steun getrek omdat baie van sy voormalige ondersteuners vir die DA gestem het.

Die DA se steun het in die munisipale verkiesing van 2016 met steun van 22% sy kruin berei, wat beteken dat amper een uit elke vier kiesers vir dié party gestem het.

In vanjaar se verkiesing het die DA se steun tot 20,7% gedaal.

Wat het dan vir die DA tussen 2016 en 2019 se verkiesings skeefgeloop?

Mislukte ideologiese skuif

Herman Mashaba maak sy bedanking uit die DA en as burgemeester van Johannesburg op ’n nuuskonferensie bekend. Foto: Felix Dlangamandla

Die DA het voor vanjaar se verkiesing besef dat hy ’n plafon bereik het en dat ware groei net na links (meer diversiteit, swart belange) kan plaasvind.

Ten einde meer swart steun te verwerf, is die DA dus “gedwing” om onvermydelik na links te beweeg. Dit beteken dat diversiteit, swart bemagtiging en swart belange geprioritiseer moes word.

Die probleem is dat die DA hom teen ’n klipmuur vasgeloop het, want die EFF, ANC en die IVP beset reeds dié ruimte op die politieke spektrum.

Die feit dat die DA vanjaar sy swart steun met slegs 1% kon vermeerder, het beteken dat Maimane op sy swaard moes val omdat iemand die blaam moes dra.

Die DA het tot sy spyt agtergekom dat klassieke liberalisme en diversiteit in twee teenoorgestelde rigtings trek.

Die groepering in die party wat klassieke liberalisme voorstaan, het waarskynlik ’n groot rol in Maimane se bedanking gespeel, want dié groepering was die spreekwoordelik blok aan sy been.

Die De Lille-sage, die fiasko in Schweizer-Reneke en die diversiteitskuif het ontnugterde VF Plus-ondersteuners na hul ou party laat terugkeer. Die VF Plus het gevolglik in 2019 van 0,9% tot 2,38% “gegroei”.

Die DA het tot sy spyt agtergekom dat klassieke liberalisme en diversiteit in twee teenoorgestelde rigtings trek. As jy ook iets vir almal probeer wees, is jy later niks vir niemand nie.

Die Zille-faktor

Zille se herrysing as die DA as federale voorsitter het die skeur van verdeeldheid oopgedwing en die party se beeld as voorstander van klassieke liberalisme is hierdeur versterk.

Die Ramaphosa-faktor

Maimane se sukses as leier het grootliks berus op sy vermoë om oudpres. Jacob Zuma in die parlement te ontmasker, met sy toespraak oor die “gebroke president” die hoogtepunt.

Ná Zuma se bedanking was dit net nie moontlik om dieselfde munt uit Ramaphosa te slaan nie.

Wat hou die toekoms nou vir die DA in?

Die DA se algemene steun gaan val tot net bo dubbelsyfers – met net die Wes-Kaap as magsbasis. Die party se vermoë om te groei was afhanklik van swart steun en die party het nou die bus verpas.

Die ANC gaan in die toekoms steun bitter nodig kry aan sy regterkant.

Op lang termyn moet besef word dat die ANC se groei na links deur die EFF geblokkeer word. Die ANC gaan in die toekoms steun bitter nodig kry aan sy regterkant (DA) om die toenemende groot gevaar van radikalisme in die land, wat deur die EFF aangeblaas word, te stuit.

Dit is in dié opsig dat die DA steeds ’n groot en belangrike rol kan en moet speel.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Vf Plus  |  Mmusi Maimane  |  Helen Zille  |  Cyril Ramaphosa  |  Diversiteit  |  Liberalisme  |  Menseregte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.