Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Daar is tog hoop vir Cyril in dié moeilike tye

Pres. Cyril Ramaphosa is onder groot druk, maar daar is tog klein oorwinnings in die ANC wat hom in staat kan stel om sy leierskap van die party in 2019 te konsolideer, skryf Theo Venter.

Pres. Cyril Ramaphosa soos ’n mens hom nie dikwels sien nie: met ’n baie breë glimlag. Foto: Adrian de Kock

Op Saterdag 6 Oktober was daar nogal ’n betekenisvolle oomblik by die begrafnis van wyle minister Edna Molewa toe die televisiekameras oudpres. Jacob Zuma gewys het waar hy langs adjunkhoofregter Raymond Zondo sit.

Hierdie oomblik dwing ’n mens om die vraag te vra waarheen ons op pad is met die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping én waarmee Zuma agter die skerms besig is.

Wat is die Zondo-spel? Is dit soos die bekende kinderspeletjie wegkruipertjie waarin ons geskree het: “Een, twee, drie – blok myself!”

Wat ek hiermee probeer vra, is of openbare getuienis soos dié van Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, en die verwagte getuienis van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, ander deelnemers aan die staatskapingsprojek ook gaan verplig om voor Zondo te getuig? Of gaan hulle bly wegkruip en op ander maniere blootgestel word soos ons met Nene gesien het?

Dit wil al hoe meer begin lyk asof daar so ’n wedersydse vernietingstrategie aan die gang is tussen die twee faksies in die ANC.

Die spel kan egter ook baie meer vernietigend wees as die amper ligsinnige wegkruipertjie. In die 1950’s het die Russe en die Amerikaners mekaar oor hul kernbomme aangegluur en dié strategiese spel het die bynaam MAD gekry. Dit het gestaan vir “mutually assured destruction”.

In gewone Afrikaans kan ’n mens seker praat van wedersydse versekerde vernietiging (WVV). Dít beteken dat niemand kan wen nie. Dit is ’n nulsomspel, want my verlies is gelyk aan jou wins – en anders om. In hierdie spel is daar nie ruimte vir ons albei om te wen nie.

Dit wil al hoe meer begin lyk asof daar so ’n wedersydse vernietingstrategie aan die gang is tussen die twee faksies in die ANC.

Daar is baie sterk bewerings dat Zuma stapels dokumente het wat die meeste van die huidige kabinetslede glo op die een of ander manier by staatskaping en ander misdrywe betrek. Die dramatiese openbaring deur Nene en sy nou reeds oorbekende apologie is in alle waarskynlikheid ’n voorbeeld hiervan.

Dit herinner ’n mens ook aan waarskynlik die enigste sinvolle ding wat Bathabile Dlamini, minister vir vrouesake in die presidensie, ooit gesê het toe sy verklaar het dat ons almal maar klein geraamtetjies in die kas het.

‘Volmaakte storm’ maak wêreld moeilik vir Cyril

Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, toe hy onlangs voor die Zondo-kommissie getuig het. Foto: Argief

Dis ongetwyfeld ’n baie moeilike tydperk vir Ramaphosa wat hom in ’n soort volmaakte storm bevind. Aan die een kant moet hy walgooi teen ’n resessie, ’n baie negatiewe ekonomiese klimaat, politieke onsekerheid en beleidsonsekerheid. Dan is daar ook nog iets waaroor hy absoluut geen beheer het nie: die ontwrigtende rol wat die Amerikaanse buitelandse beleid in die wêreld het.

Gegewe hierdie konteks is die vraag: Hoe bestuur hy sy posisie as leier van die regerende party en dié van staatshoof?

Ons kry reeds uitsprake wat soms teenstrydig met mekaar is waar Ramaphosa as partyleier suiwer ideologiese standpunte probeer huldig teenoor die meer pragmatiese standpunte wat hy as staatshoof inneem. Is dit die resultaat van hierdie “volmaakte storm” en die Zondo-kommissie se invloed?

Dit is baie moeilik vir Ramaphosa om kragdadig op te tree as leier van die ANC. Die magsbalans in die nasionale uitvoerende komitee (NUK) gee hom net eenvoudig nie daardie ruimte nie, maar daar is tog aanduidings dat sy posisie in die party besig is om te versterk.

Die vinnige aanwysing van Tito Mboweni as minister van finansies in Nene se plek, wys byvoorbeeld dat Ramaphosa tog daadwerklik kan optree.

Oudpres. Jacob Zuma woel steeds agter die skerms sedert hy deur Cyril Ramaphosa as president vervang is. Foto: Argief

Die geheime Zuma-vergadering in Durban het groot opspraak verwek, maar een belangrike aspek word nie altyd in berekening gebring nie – die duidelike afwesigheid van Sihle Zikalala by daardie vergadering. Die leier van die ANC in KwaZulu-Natal is ’n baie belangrik speler in die ANC en die feit dat Zikalala nie by die vergadering was nie, laat die vraag ontstaan of hy sy lojaliteit van Zuma na Ramaphosa verskuif het?

Hieroor word daar deesdae in die ANC bespiegel, maar dit wil tog lyk asof daar ’n breuk tussen Zikalala en Zuma was.

Die posisie van David Mabuza as adjunkpresident van die ANC en die land word tans ook druk bespreek. Dit het veral te doen met beweerde korrupsie rakende die omvang van takke in Mpumalanga. Gedurende die ANC-kongres by Nasrec in Desember verlede jaar was die omvang van Mpumalanga se verteenwoordiging vir almal ’n verrassing.

Mabuza is nie net onder druk vanweë beweerde korrupsie met takke in sy tuisprovinsie nie, maar boonop het die Ramaphosa-faksie sowel as die Zuma-faksie vertroue in hom verloor.

Hoewel Ramaphosa geweldig baie druk ervaar, is daar tog klein oorwinnings in die ANC wat hom in staat kan stel om sy leierskap van die party in 2019 te konsolideer.

’n Derde aspek wat op ’n versterkte posisie vir Ramaphosa dui, is die feit dat die politieke chaos in Noordwes nou tydelik onder beheer is deurdat die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) met ’n provinsiale taakspan vervang is.

Supra Mahumapelo, Noordwes se voormalige premier, is as ’n lid van die taakspan benoem, maar hy het dit van die hand gewys. Die doel met sy benoeming was om hom tot ná die verkiesing van 2019 betrokke te hou by politieke strukture, maar nou gaan Noordwes dié verkiesing binne met tussentydse strukture sonder Mahumapelo.

Mahumapelo se besluit om die benoeming van die hand te wys, was buitendien ’n logiese stap. ­Hy is betrokke by ’n hofsaak teen die NUK wat die besluit betwis om die PUK te ontbind en dit sou ’n botsing van belange wees as hy in ’n tussentydse struktuur sou dien.

Klein oorwinnings help Cyril

Theo Venter

Hoewel Ramaphosa dus geweldig baie druk ervaar vanweë die genoemde volmaakte storm, is daar tog klein oorwinnings in die ANC wat hom in staat kan stel om sy leierskap van die party in 2019 te konsolideer.

Die pogings van die Zuma-faksie om voor aanstaande jaar se verkiesing ’n nasionale hoofraadsvergadering te reël is gedoem, veral as gevolg van die besluite wat met betrekking tot Noordwes geneem is. Die hoofraadsvergadering sal in alle waarskynlikheid aan die einde van 2019 plaasvind soos wat die ANC se grondwet vereis.

Die Zondo-spel én getuienis voor die Nugent-kommissie van ondersoek na probleme in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is tans verantwoordelik vir ’n toename in politieke onsekerheid in Suid-Afrika. Dit plaas die president onder ontsaglike druk soos wat ons gesien het met Nene. Hierdie druk word vererger deur die stand van die ekonomie en in alle waarskynlikheid ’n baie moeilike mediumtermynbegrotingsraamwerk, maar klein oorwinnings in die regerende party gee aan Ramaphosa iets om aan vas te hou.

Ons moenie onrealistiese verwagtinge van die Zondo-kommissie hê nie. Min geld sal terugbetaal word en min mense sal waarskynlik agter tralies beland, maar die verrotting in die ANC wat veral met Zuma se presidentskap geassosieer word, sal duideliker na vore tree. Dit gaan nie ’n maklike proses wees nie, maar dit gaan uiteindelik noodsaaklik wees vir Suid-Afrika se vooruitgang.

* Theo Venter is ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool.

Meer oor:  Anc  |  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma  |  Nhlanhla Nene  |  Cyril Ramaphosa  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.