Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Daarom is afsonderlike munisipale verkiesings so belangrik

Munisipale verkiesings in Suid-Afrika moet steeds afsonderlik gehou word omdat dit demokrasie in die land bevorder, skryf Pieter Labuschagne.

Swak regerings word maklike deur kiesers in munisipale verkiesings gestraf. Foto: Gallo Images

Die EFF begaan ’n fout met sy pleidooi dat die munisipale verkiesing, wat veronderstel is om later vanjaar plaas te vind, tot 2024 uitgestel moet word.

Die EFF se voorstel is gegrond op die invloed van die Covid-19-pandemie en die moontlike gevaar wat dit vir kiesers se gesondheid kan inhou.

Dié party stel voor die algemene en provinsiale verkiesing moet met die munisipale verkiesing in een verkiesing gekombineer word.

Die hou van die munisipale verkiesing elke twee jaar sodat dit tussen die algemene verkiesings plaasvind, het egter baie voordele.

Daar bestaan baie grondige redes om die verkiesings afsonderlik te hou, want dan is dit makliker vir kiesers om swak regerings te straf.

Die EFF se voorstel word straks nie in die eerste plek deur kommer oor Covid-19 gemotiveer nie. Die belangrikste rede is dalk omdat die party normaalweg nie so goed in die munisipale verkiesing vaar nie.

Wanneer die verkiesings onder een sambreel gehou word, is kiesers meer geneig om net vir een party op al drie regeringsvlakke te stem.

Daar bestaan baie grondige redes om die verkiesings afsonderlik te hou, want dan is dit makliker vir kiesers om swak regerings te straf.

Afsonderlike verkiesings beklemtoon boonop die “federale” aard van die politieke stelsel.

Dit gee voorts ’n spesiale status aan die munisipale verkiesing omdat die aandag dan net op plaaslike regering is.

Die hou van ’n munisipale verkiesing verkort ook die tydperk tussen verkiesings van vyf tot twee en ’n half jaar.

Die groot probleem met ons politiek

Julius Malema, leier van die EFF, stem in 2016 se munisipale verkiesing in Seshego. Die EFF wil hê vanjaar se munisipale verkiesing moet uitgestel word. Foto: Gallo Images

In Suid-Afrika is die groot politieke probleem die gebrek aan ’n regstreekse verband (oorsaak en gevolg) tussen politieke steun en beloning/straf. Wanneer ’n regerende party nie na wense presteer nie, behoort die kieserskorps die party te straf deur hul steun te onttrek en vir die opposisieparty te stem.

Wanneer ’n party egter goed regeer, behoort kiesers hul steun te wys deur vir dié party te stem.

Die ANC regeer al amper 30 jaar, maar is nog nie behoorlik “gestraf” vir gebrekkige regering nie.

Dié party se steun het wel van die hoogtepunt van 66, 4% (1999) en 69,6% (2004) geleidelik tot 57, 5% (2019) begin daal.

Ondanks korrupsie en die verbrokkeling van goeie regering, het meer as 10 miljoen kiesers steeds hul kruisies in die verkiesing van 2019 agter die naam van die ANC getrek.

Die verwagting is dat die ANC se steun in die komende munisipale verkiesing vir die eerste keer sedert 1994 tot onder die drempel van 50% kan daal.

Die lae stempersentasie in 2019 gee wel ’n aanduiding dat daar ontevredenheid oor die wyse en gehalte van regering bestaan. Net 17,4 miljoen uit ’n totaal van 26,7 miljoen geregistreerde kiesers het die moeite gedoen om te gaan stem.

Die kiesers is beslis nie tevrede nie, maar ook nie bereid om op nasionale vlak vir ander partye te stem nie. Die “straffunksie” kom dus nie volledig tot sy reg nie.

In teenstelling daarmee is kiesers in munisipale verkiesings meer bereid om hul steun aan die regerende party te onttrek en die plaaslike besture vir hul korrupsie en wanbestuur te “straf”.

In die munisipale verkiesing van 2016 het die ANC net 53,9% van die steun gekry en het hy vir die eerste keer kwesbaar gelyk omdat kiesers vir ander partye gestem het.

Die verwagting is dat die ANC se steun in die komende munisipale verkiesing vir die eerste keer sedert 1994 tot onder die drempel van 50% kan daal.

Die enigste logiese afleiding wat gemaak kan word, is dat kiesers meer bereid is om die “straffunksie” op die derde regeringsvlak toe te pas en om die regerende party meer krities te beoordeel.

Die verbrokkeling van dienslewering in gemeenskappe het in baie gevalle daartoe gelei dat kiesers van verskillende politieke partye begin saamstaan het. Kiesers van verskillende politieke partye het nader aan mekaar beweeg.

Hulle het op munisipale vlak ook oor partygrense heen begin stem vir die party wat volgens hulle die beste werk of dienste vir die gemeenskap kan lewer.

Sal mense oor partygrense stem?

Kiesers in Alexandra trek hul kruisies in 2016. Foto: Gallo Images

Die algemene verskynsel met die vorige verkiesings was dat kiesers geneig is om vir dieselfde party op provinsiale en nasionale vlak te stem.

Daar bestaan dus ’n moontlikheid dat kiesers hul kruisie op al drie regeringsvlakke agter dieselfde party se naam sal trek as die munisipale verkiesing saam met die nasionale verkiesing gehou word.

Dit het in die munisipale verkiesing van 2016 geblyk dat kiesers op voetsoolvlak die proses meer rasioneel benader. Kiesers dink en stem meer rasioneel op grond van dit wat hom in sy onmiddellike omgewing pla, soos byvoorbeeld die gebrek aan dienslewering.

Die steker rasionele benadering stimuleer en versterk die gedagte om oor partygrense heen te stem, wat op sy beurt weer demokratiese konsolidasie versterk.

Munisipale verkiesings is andersoortig

Munisipale verkiesings is andersoortig, want dit handel oor plaaslike probleme en gemeenskapsake: straatligte buite werking is, slaggate, die voorsiening van water en elektrisiteit en huisvesting.

Wanneer die munisipale verkiesing by die nasionale en provinsiale verkiesing gevoeg word, sal die brandpunte op voetsoolvlak doodeenvoudig in die groter prentjie opgeneem word en nasionale brandpunte sal oorheers.

Munisipale verkiesings versterk desentralisasie

Die Suid-Afrikaanse staatsvorm is sterk op ’n uniale model geskoei, wat natuurlik die sentralisasie van gesag versterk. In die huidige politieke konteks, met die oorheersing van ’n enkele party in ’n de facto-eenpartystaat, is die voortgesette beklemtoning van die relatiewe onafhanklikheid van die derde vlak van regering baie belangrik.

Die feit dat daar ’n afsonderlike verkiesing vir die plaaslike owerheid gehou word, versterk en behou die semi-outonome status van die derde regeringsvlak.

In wese versterk dit die desentralisasie van gesag en beklemtoon die kenmerke van ’n gedesentraliseerde uniale model.

Verkort die verkiesingstermyne

Wanneer al drie verkiesings in een verkiesing saamgevoeg word, beteken dit dat die kiesers net elke vyf jaar (in die algemene verkiesing) kan wys hoe hulle oor die regerende party se beheer voel.

Die geleentheid om in munisipale verkiesings te stem is dus waardevol omdat munisipale tussenverkiesings min mense opgewonde maak.

Dit hou net voordele in

Pieter Labuschagne

Wanneer alles in ag geneem word, is daar net voordele in die huidige stelsel waarvolgens die munisipale verkiesing afsonderlik gehou word. Dit sal daarom teenproduktief wees om enigsins met die stelsel te peuter.

Die munisipale verkiesing van 2021 kan die interessantste sedert 1994 wees.

Die ANC se lomp hantering van byvoorbeeld die verkryging van Covid-19-entstof en voortslepende korrupsie kan hom dalk heelwat steun kos.

Op plaaslike vlak kan die ineenstorting van munisipaliteite daartoe lei dat die ANC se steun onder 50% daal en dat hy met klein partye koalisies sal moet vorm.

Só iets sal net demokrasie in die land versterk, met meer mense wat dan inspraak kan kry.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.