Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dag toe Dok All Blacks geflous het

Toetse tussen die Springbokke en die All Blacks is altyd taai. Maar een van die Bokke se belangrikste oorwinnings is behaal toe brein- eerder as spierkrag ingespan is, skryf Pieter Labuschagne.

Die duikaangee van Danie Craven waaroor wilde teorieë in Nieu-Seeland die rondte gedoen het. Foto: Springbok Sage

Die toetswedstryd teen die All Blacks Saterdagmiddag op Loftus Versveld is vir meeste plaaslike rugbyliefhebbers baie belangrik.

As die Springbokke ’n tweede agtereenvolgende oorwinning oor die All Blacks kan behaal, versterk dit hul kanse om weer die nommer een span in die wêreld te wees.

Daar was wel ’n paar vergelykbare situasies in die Springbokke se geskiedenis waar ’n enkele toets ook van kritieke belang was.

Een daarvan was in 1995 se Wêreldbeker-toernooi toe Francois Pienaar en sy seëvierende Springbokke die All Blacks in die eindstryd aangedurf het.

Een van die mees uitstaande toetse in die Springbokke se geskiedenis bly egter die derde en laaste toets teen die All Blacks op 25 September 1937 op Edenpark in Auckland.

Hierdie manne was hardebaarde van die ou skool, wat hul krag op ’n natuurlike wyse opgebou het.

Die vorige toetsreekse tussen dié twee spanne kon nie ’n wenner oplewer nie met die reekse van 1921 en 1928 wat gedeel is.

Die reeks van 1937 in Nieu-Seeland, met net drie toetse, is dus as ’n gulde geleentheid beskou om die wêreldkampioen te bepaal.

Philip Nel, die sterk boer van Greytown in Natal, is as kaptein van die Springbok-toerspan aangewys. Die meeste spelers in die beroemde span sou later legendariese status bereik.

Op heelagter was Gerry Brand met Danie Craven op skrumskakel en Louis Babrow op senter. Voorlangs is die sterk Louw broers, Boy en Fanie, aangevul deur ysters soos die polisieman van Pretoria, Lucas Strachan, Ben du Toit en Ferdie Bergh.

Hierdie manne was hardebaarde van die ou skool, wat hul krag op ’n natuurlike wyse opgebou het.

Skuif steenkool vir oefening

Danie Craven maak reg om die bal op meer konvensionele wyse teen Auckland uit te gee. Foto: Argief

Die Springbokke het op 17 Mei 1937 met die stoomskip, Ulysses van Durban na Australië en Nieu-Seeland vertrek. Behalwe die gewone oefeninge wat die spelers gedoen het, was die geharde voorspelers bereid om meer te doen om gereed vir die All Blacks te wees. Daar word vertel dat die werkers onder in die skeepsruim verbaas was toe ses van die voorspelers opdaag om te help om steenkool in die vragruim met grawe te skuif. Die ses voorspelers het 69 ton steenkool in net 6 uur geskuif.

Die toer het egter rampspoedig begin met ’n nederlaag van 6-17 teen Nieu-Suid-Wallis in Australië. Maar daarna het die Springbokke vlamgevat en die een span ná die ander met brute krag en vernuf uit die pad gevee. Die twee toetse in Australië is ook gewen.

In die eerste wedstryd in Nieu-Seeland, teen Auckland op Edenpark, het die Springbokke vyf drieë gedruk en een afgestaan.

Daarna het die Nieu-Seelandse spanne soos spreekwoordelik domino’s voor die Springbok-aanslag geval. Die sterk span van Wellington het met 0-29 verloor met die Springbokke wat ses drieë gedruk het.

Craven is op losskakel gekies en Nel is weggelaat.

Die Nieu-Seelanders was verstaanbaar paniekerig voor die eerste toets, maar ’n kombinasie van oorgerustheid en swak spankeuses het tot die Springbokke se ondergang gelei.

Craven is op losskakel gekies en Nel is weggelaat.

Elke span het een drie gedruk, maar stelskopwerk het die deurslag gegee in die All Black-sege van 13-7.

Voor die tweede toets het die sterk span van Canterbury op die Springbokke gewag, maar die Bokke het redelik maklik met 23-8 gewen. Dit was die draaipunt van die toer.

Die Bokke het die tweede toets, ondanks beserings aan sleutelspelers, met 13-6 gewen.

Spanning byna onhoudbaar voor toets

Danie Craven groet in 1937 ’n vrou op die tradisionele Maori-manier tydens die Springbokke se toer in Nieu-Seeland. Foto: Argief

Dit het uiteraard die spanning laat oplaai voor die beslissende derde toets. Paul Roos, kaptein van die Springbokspan van 1906-1907, het ’n kabelgram met ’n eenvoudige boodskap uit Suid-Afrika gestuur: “SKRUM, SKRUM, SKRUM”.

Die Bokke se voorspelers was sterker as hul All Black-teenstanders en Roos het geweet dat dit die deurslag sou gee. Die kapteins het in daardie stadium nog die keuse gehad om ’n skrum pleks van ’n lynstaan te kies.

Craven, die onderkaptein en skrumskakel, het ’n belangrike rol in die toets gespeel en sy revolusionêre duikaangee het handig te pas gekom het.

Craven het nie die duikaangee ontwerp nie, maar dit is billik om te sê dat hy dit vervolmaak het. Met die duikaangee het die skrumskakel nie gestaan as hy die bal aangee nie, maar geduik en die momentum daarvan gebruik om die bal verder aan te gee.

Die bespiegelinge oor die lengte van Craven se aangee het handig te pas gekom tydens dié kritieke toets en hy kon dit handig gebruik om die All Blacks te flous.

In Nieu-Seeland het wilde teorieë die rondte gedoen oor presies hoe ver Craven die bal met die duikaangee kon uitgee. Die paniek was byna dieselfde as dié voor die Wêreldbeker-eindstryd van 1995 toe die All Blacks se makro-vleuel, Jonah Lomu, Bok-ondersteuners baie bekommerd gehad het met sy kraglopies wat die uitslag van enige wedstryd kon swaai.

Die bespiegelinge oor die lengte van Craven se aangee het handig te pas gekom tydens dié kritieke toets en hy kon dit handig gebruik om die All Blacks te flous.

Die spanning vooraf was onbeskryflik hoog. Nel het selfs gewonder of rugby werklik die moeite werd was.

Die modderveld het die vasbeslote Springbokke nie afgeskrik nie en twee drieë in die eerste helfte gedruk.

Die All Blacks kon net ’n strafdoel aanteken en die rustydtelling was 8-3.

Duikaangee flous All Blacks

Danie Craven, sigaret in die mond, op ’n uitstappie in die 1930’s tydens een van die Springbokke se toere. Foto: Argief

Hoewel die Springbokke in beheer was, kon die onvoorspelbare All Blacks die wedstryd nog maklik in die tweede helfte in hul guns swaai.

Maar Craven het toe op meesterlike wyse die uitslag bo alle twyfel bepaal deur die gissinge oor die werklike lengte van sy duikaangee uit te buit. Die uitvoering van die strategie, die vaart waarmee dit gedoen is en die afronding het die wind totaal uit die seile van die All Blacks geneem.

Kort ná die begin van die tweede helfte, het Nel weer ’n skrum pleks van ’n lynstaan verkies. Tony Harris, die Springbok-losskakel, het reeds sy korrekte posisie en afstand van Craven ingeneem.

Craven het Harris egter al verder weg gewuif. Harris se All Black-losskakel, Dave Trevathan, het ná ’n aanvanklike huiwering ook al verder van die skrum wegbeweeg.

Craven was nog nie tevrede nie. Hy het aan Harris beduie om nog verder weg te staan en Trevathan het hom gevolg.

Craven was steeds nie tevrede nie. Hy het amper ongeduldig aan Harris beduie om nog verder weg te staan. Harris het sy skouers opgetrek en verder wegbeweeg met Trevathan wat sy voorbeeld gevolg het.

Die Springbokke het rugby se wêreldkroon gedra.

Die gaping tussen die skrum en losskakel het nou amper die helfte van die veld beslaan.

Craven het die bal vinnig by die skrum ingegooi en Jan Lotz het dit blitsig gehaak. Craven het die bal vinnig agter die skrum opgetel en die steelkant-vleuel, Freddie Turner, het soos ’n sneltrein om die skrum gestoom, die bal by Craven gevat en vlymskerp deur die gaping geglip wat so groot soos twee waenhuisdeure voor hom gegaap het. Flappie Lochner het die volgende aangee geneem en op sy beurt die bal aan Babrow besorg wat in die hoekie vir ’n drie oorgeduik het.

Die vaart van die beweging, Craven se onortodokse strategie en die briljante uitvoering van die beweging wat tot die drie gelei het, het die All Blacks se vuur finaal geblus. Die skare was doodstil en geskok.

Drieë deur Dai Williams en Turner het gevolg. Die Springbokke het vyf drieë gedruk sonder om een af te staan en met 17-6 gewen.

Die Springbokke het rugby se wêreldkroon gedra. Met die terugvaart het Nel sy stewels in die see gegooi as ’n simboliese gebaar dat daar geen wêrelddele meer was om te verower nie.

Jare later is die vraag gevra watter span was die sterkste wat vanaf die Nieu-Seelandse eilande oorsee vertrek het. Die antwoord is natuurlik die Springbokke van 1937.

* Bronne:

Paul Dobson: Rugby’s Greatest Rivalry: South Africa vs New Zealand en Doc: The Life of Danie Craven.

Chris Greyvenstein: Springbok Sage.

Ted Partridge: Danie Craven: A Life in Rugby.

* Pieter Labuschagne is emeritus-professor in politieke wetenskap aan Unisa. Hy het al verskeie artikels vir vakkundige tydskrifte oor sportgeskiedenis geskryf.

Meer oor:  Danie Craven  |  Auckland  |  Springbokke  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.