Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dag toe Springbokke uit modder opgestaan het

Op die vooraand van die Bokke se Wêreldbeker-kragmeting onthou Pieter Labuschagne ’n toets van meer as 50 jaar gelede toe die Bokke uit die modder opgestaan het.

Tiny Naudé se wenskop in die derde toets van 1965 is op pad pale toe. Foto: Argief

Dit was die absolute laagtepunt in die Springbokke se trotse rugbygeskiedenis: Rustyd in die derde toets teen die All Blacks op 4 September 1965 op die Lancasterpark-modderveld in Christchurch met die telling 16-6 in die tuisspan se guns.

In die meer as 60 jaar van Springbokrugby het die span in Groen-en-Goud se aansien in wêreldrugby nog nooit só aan skerwe gelê nie.

Die Springbokke se agteruitgang het in 1963 tuis teen die Wallabies begin toe hulle die reeks met 2-2 gedeel het.

’n Jaar later het Michel Crauste se Franse die enkel toets in Springs met 8-6 gewen. Dit is as die swakste Bok-toets beskryf.

Vroeg in 1965 het die Springbokke vir ’n kort toer na die Britse Eilande en Ierland vertrek waar hulle teen Skotland en Ierland verloor het.

Die Springbokke het later dieselfde jaar met Dawie de Villiers as kaptein op ’n lang toer na Australië en Nieu-Seeland vertrek.

Die Springbokke se gesukkel het voortgeduur en hulle het albei toetse teen Australië verloor. Die nederlaag van 6-23 vroeg op die toer teen Wellington was ’n verdere terugslag.

Die Springbokke se hoop het ietwat opgeflikker toe hulle die eerste toets teen die All Blacks met net 3-6 verloor het.

Daar was nog ’n nederlaag teen Auckland (14-15) voor die tweede toets in Dunedin wat die Springbokke met 0-13 verloor het.

Met rustyd in die derde toets het dit dus gelyk asof ’n agtste agtereenvolgende toetsnederlaag op die Springbokke gewag het.

Die All Blacks het reeds drie drieë gedruk teenoor die enkele een van John Gainsford en was duidelik in beheer.

’n Destydse koerantknipsel vertel die verhaal van Bok-glorie in die derde toets in 1965 teen die All Blacks in Christchurch. Foto: Argief

De Villiers het ondanks die groot agterstand nie moed verloor nie.

Hy het die spelers met rustyd op die modderveld bymekaar gekry en die voorspelers aangespoor om die agterlyn meer in besit te stel, want hy was oortuig dat die agterspelers die knoop vir die Bokke kon deurhak.

De Villiers het later in sy biografie geskryf dat hy teen die einde van die eerste helfte die gevoel gekry het dat die Springbokke besig was om die oorhand te kry.

Colin Meads, die puik All Black-slot, het weer geskryf dat die gevoel met rustyd was dat die Springbokke verpletter sou word.

Hoe verkeerd was Meads nie!

Gety draai

Die All Black-slot Colin Meads het gedink sy span sou die Bokke in die twee helfte van die derde toets vermorsel. Foto: Argief

Gainsford het ná rustyd die vonk vir die Springbokke verskaf toe hy gebreek en die bal na Mannetjies Roux aangegee het wat Gert Brynard vir ’n drie oorgestuur het.

Die agterspelers het inspirerende rugby begin speel en net nege minute later het Brynard vir sy tweede drie oorgeval. Nou was die gaping tussen die Springbokke en die All Blacks heelwat kleiner en die besoekers het begeesterd ingeklim.

Gainsford het die gelykmakende drie só in sy boek, Nice Guys Come Second, beskryf.

Daar was ’n skrum op die All Blacks se kwartlyn en Roux het die eerste verdedigingslinie geklop en Gainsford in besit gestel. Volgens Gainsford moes hy net dié drie druk, al beteken dit sy dood. Hy kon sien hoe ’n All Black-verdediger, Mick Willement, links van hom opdoem. Gainsford het egter gevoel of hy vlerke aan sy voete het. Hy het na regs gesystap, verby Williment se grypende vingers, en oorgeduik.

Die telling was nou met 16 elk gelykop.

Die groot horlosie op Lancasterpark het later gewys dat daar net drie minute oor was toe die skeidsregter, Alan Taylor, Meads in ’n onkantposisie betrap het.

Tiny Naudé, die groot Springbokslot, het vorentoe getree om die strafskop waar te neem.

Een van die mees ikoniese foto’s in die geskiedenis van Springbokrugby wys hoe Naudé wegdraai van die pale terwyl hy van agter deur sy spanmaat Lofty Nel omhels word. In die agtergrond kan gesien word hoe een van die Springbokke hoog in die lug spring met Roux wat bolmakiesie geslaan het.

Naudé het van die modder op die bal aan Brynard se trui probeer afvee. Die spelers kon sien dat Brynard iets in Naudé se oor fluister, maar kon nie hoor wat hy gesê het nie. (Dit het later geblyk dat Brynard wou hê hulle moes ’n kortskoppie neem, want hy was oortuig dat die All Blacks gedaan was en dat hy hulle sou klop doellyn toe.)

Naudé was egter vasberade om die verantwoordelikheid op hom te neem en ’n einde aan die Springbokke se treurmare te maak. Hy het net die val tydsaam en versigtig op die kwartlyn, naby die kantlyn, gestel. Vir Gainsford het dit soos ’n pynlike ewigheid gevoel.

Naudé het geleer om op die nat moddervelde die bal plat te stel sodat hy dit nie te laag tref nie.

Hy het direk agtertoe getree en ná ’n reguit aanloop die bal getref. Dit het laag en reguit na die pale getrek.

Die vlagmanne se vlaggies het orent geruk en pandemonium het onder die Springbokke uitgebreek wat uitbundig aan hul vreugde uiting gegee het.

Een van die mees ikoniese foto’s in die geskiedenis van Springbokrugby wys hoe Naudé wegdraai van die pale terwyl hy van agter deur sy spanmaat Lofty Nel omhels word. In die agtergrond kan gesien word hoe een van die Springbokke hoog in die lug spring met Roux wat bolmakiesie geslaan het.

Een van die donkerste dae

Dit was maar die All Blacks se tweede neerlaag in 19 agtereenvolgende toetse sedert 1960. Die skare van 55 000 het die Bokke lank vir hul manmoedige terugvegpoging toegejuig.

’n Insinking het egter daarna weer die Springbokke se spel gekenmerk en hulle het die vierde toets met 3-20 verloor.

Dit was egter ’n draaipunt vir die Bokke wat in die volgende vyf jaar in tuisreekse met die Franse, die Britse Leeus, die Wallabies en die All Blacks afgereken het.

Terwyl die oorwinning op 4 September 1965 een van die grootstes in die geskiedenis van Springbokrugby was, staan dit egter ook as een van die donkerstes bekend.

Dit was ook dié dag wat die destydse Suid-Afrikaanse eerste minister, Hendrik Verwoerd, besluit het om by Loskopdam te verklaar dat die All Blacks nie in 1967 welkom in Suid-Afrika sal wees as Maori-spelers by die span ingesluit word nie.

Dié direkte inmenging van Verwoerd in sport, was die begin van die einde van internasionale deelname vir die Springbokke en die begin van die isolasiejare.

* Bronne: Chris Greyvenstein: Springbok Sage, Paul Dobson: Rugby’s Greatest Rivalry, South Africa versus New Zealand, John Gainsford: Nice Guys Comes Second, Alex Veysey: Colin Meads All Black, Roelf Theunissen: Springbokkaptein Dawie de Villiers.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa wat al verskeie artikels vir vakkundige tydskrifte oor sport geskryf het. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Colin Meads  |  Nieu-Seeland  |  Suid-Afrika  |  Christchurch  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.