Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dakar: Watter van dié drie SA’s gaan ons kry?

Ná Desember 2017 is daar drie moontlike scenario’s wat in Suid-Afrika kan afspeel. Theuns Eloff het by die onlangse reünie van die Dakar-samesprekings daaroor gepraat en brei hier uit.

Pres. Jacob Zuma tydens die ANC se beleidskonferensie. Foto: REUTERS / Siphiwe Sibeko

Die eerste scenario, die sogenaamde NDZ-scenario, behels ’n oorwinning vir Nkosazana Dlamini-Zuma, pres. Jacob Zuma se eksvrou.

In dié scenario sal die ANC waarskynlik skeur en sal die party sukkel om in 2019 50% by die stembus te haal. Met dié scenario sal korrupsie aanhou en ekonomiese groei traag bly.

Die SAKP sal weer ná die ANC se verkiesingskonferensie in Desember 2017 vergader om finale besluite te neem.

Die tweede, die sogenaamde CR17-scenario, is ’n oorwinning vir adj.pres. Cyril Ramaphosa. Dit kan ook beteken dat die ANC kan skeur, maar dis onwaarskynlik. Dit sal bietjie makliker wees vir die party om in 2019 50% by die stembus te haal. Korrupsie sal beveg word en die ekonomie sal stadig verbeter.

Die derde is die “eenheidscenario”, waarvolgens daar óf ’n verloorder-adjunkpresident gaan wees en die verskille in die ANC op die oppervlak toegesmeer gaan word (met swaarkry by die stembus), óf ’n kompromiskandidaat as president. Dit bied nuwe moontlikhede vir die ekonomie en die stryd teen korrupsie.

SAKP uit die alliansie?

Die afgelope week het drie kwessies ter sprake gekom wat interessante nuwe permutasies na hierdie basiese scenario’s kan bring.

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het tydens sy konferensie sterk kritiek vir die ANC en veral vir die Zumafaksies gehad. Hulle het Zuma laat weet hy is nie welkom om die konferensie toe te spreek nie. Daarenteen is Ramaphosa entoesiasties ontvang en ’n spreekbeurt gegee. Die belangrikste besluit wat geneem is, is dat die SAKP oorweeg om uit die driepartyalliansie te onttrek en om in die toekoms op eie stoom aan verkiesings deel te neem. Hulle sal weer ná die ANC se verkiesingskonferensie in Desember 2017 vergader om finale besluite te neem.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa praat by ’n SAKP-byeenkoms.Foto:

Dit is duidelik dat die SAKP definitief uit die alliansie sal wegbreek as Dlamini-Zuma president word. Die vraag is of die CR17-groep dan ’n eie nuwe wegbreekparty sal vorm waarby die SAKP as alliansievennoot sal aansluit vir die 2019-verkiesing.

Of dit Ramaphosa sal oortuig om in die politiek te bly, is nog nie duidelik nie. Dit is ook duidelik dat die SAKP nié uit die alliansie sal wegbreek as die CR17-groep suksesvol is nie.

Die SAKP sal egter nie op sy eie maklik groot ondersteuning by die stembus ontvang nie, aangesien hulle en die EFF basies uit dieselfde dam visvang.

’n Party kan nie in ’n paar maande lede werf en vir ’n verkiesing mobiliseer nie.

Die SAKP se dreigement om uit die alliansie te onttrek, is waarskynlik meer doeltreffend as hul werklike onttrekking.

Verdoemend genoeg

’n Tweede saak wat deur Richard Poplak in Daily Maverick uitgelig is, is gerugte dat Zuma ’n aanbod van R2 miljard met volle amnestie gekry het in ruil daarvoor dat hy onmiddellik bedank. Die geld sal uit die privaatsektor kom.

Vroeër is die kwessie van amnestie in ruil vir bedanking wel as moontlikheid genoem om van Zuma ontslae te raak, maar met die leierstryd fel aan die gang is dit nie onlangs geopper nie. En dis nooit aan ’n astronomiese bedrag geld gekoppel nie.

Nkosazana Dlamini-ZumaFoto: Leon Sadiki / City Press

As dit waar is dat die CR17-groep tans momentum het, is dit ’n onwaarskynlike strategie om so ’n aanbod te maak. As die beweegrede agter die aanbod is om vrede en eenheid in die ANC te bewaar, noem Poplak self die belangrikste argument daarteen: Wat van die honderde en dalk duisende wat ook aan korrupsie skuldig is? Wat gaan hul houding wees as die president skotvry daarvan afkom en hulle moet aan die pen ry?

Indien hierdie amnestie ’n werklikheid word, sal die ANC heeltemal deursigtig moet wees oor dít waarvoor die amnestie toegestaan is. En dit kan baie mense aan die kaak stel – sonder enige vergoeding!

Met sy oë op nog groter rykdom en gepaardgaande mag, kan Zuma soos pres. Robert Mugabe van Zimbabwe maak.

Indien so ’n aanbod vroeër gemaak is en dit kon die land geld en skade spaar, sou dit dalk sin gemaak het. Maar die skade is gedoen en die geld is weg.

As hierdie moontlikheid wel bestaan en Zuma aanvaar dit, is dit die laaste spyker in die doodskis van die NDZ-kamp. Dit sal Zuma ontbloot en mevrou Zuma onherroeplik besmet.

Dalk hoef die CR17-kamp nie eens daarmee voort te gaan nie. As dit bewys word dat Zuma hierdie aanbod oorweeg, is dit reeds verdoemend genoeg.

Ondemokratiese scenario

Die derde permutasie het te make met oudpres. Thabo Mbeki. Daar is onbevestigde gerugte dat die Mbeki-dissipels dit oorweeg om betrokke te raak by die stigting van ’n nuwe politieke party indien NDZ wen.

Dit sal baie interessant wees om te sien of die “ou” opponente in die ANC, Mbeki en Ramaphosa, hul verskille van die verlede sal kan bylê om ’n gemeenskaplike Zuma-vyand te beveg.

Mbeki sal dan weer met die SAKP, ’n ou doring in sy vlees, opgeskeep sit.

’n Totaal afsonderlike en vierde scenario kan breedweg die ondemokratiese scenario genoem word.

Dit behels dat die NDZ-faksie besluit om die ANC-presidentskap te “steel” deur grootskaalse bedrog met spooklede en spooktakke te pleeg. Hulle het glo danksy hul Gupta-vriende genoeg geld hiervoor.

Politieke onrus en politieke moorde in KwaZulu-Natal sal so ’n strategie ondersteun.

Met sy oë op nog groter rykdom en gepaardgaande mag kan Zuma soos pres. Robert Mugabe van Zimbabwe maak en die verkiesing van 2019 onbepaald uitstel “om die staat teen Westerse inmenging te beskerm”.

In ons gedemokratiseerde samelewing is dit hoogs onwaarskynlik, maar vreemder dinge het al in Afrika en die res van die wêreld gebeur.

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.