Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Dán het Afrikaners geen toekoms’

Solank die groot gaping tussen ryk en arm bestaan, het Afrikaners nie ’n toekoms nie, het ’n deelnemer aan die gesprek oor Suid-Afrika se bevolkingstendense gesê. Murray La Vita doen verslag.

Prof. Flip Smit, Flip Buys, dr. Leslie van Rooi en Tim du Plessis, tydens die vierde gesprek in die Frederik Van Zyl Slabbert-gespreksreeks op die Stellenbosse Woordfees. Foto: Murray La Vita

Die getalle van wit Afrikaners is besig om af te neem, het prof. Flip Smit, demograaf en oudrektor van die Universiteit van Pretoria, tydens die vierde gesprek van die Frederik Van Zyl Slabbert-gespreksreeks op die Stellenbosse Woordfees gesê.

Hy het die tendens aan die hand van “vier V’s” belig.

“Die eerste is verstedeliking, wat ’n geweldige invloed op die wit mense en die Afrikaner het. Die wit mense is hoofsaaklik verstedelik, maar ons platteland is besig om te kwyn en ons dorpies is besig om te verval. Dit is ongelooflik moeilik om ’n bestaan te maak in daai dorpe waar die dienste totaal verval het. Daardie mense is vasgevang deurdat hulle eenvoudig hulle aftreehuise nie kan verkoop nie.

“Die tweede V staan vir veroudering van die wit bevolking in Suid-Afrika wat teen ’n geweldige tempo geskied. Die mediese wetenskap hardloop vinniger as die siektes. Ons word ouer en dit plaas ’n geweldige las op pensioenfondse asook mediese fondse wat in die toekoms eenvoudig verhoog sal moet word. ’n Klomp mense wat pensioen ontvang se pensioen hou nie tred met inflasie nie en hulle word armer.”

Ons is besig om te stagneer en veral die Afrikaanstaliges is waarskynlik besig om te verminder.

Aan die positiewe kant is daar ’n instelling soos Gryskrag waardeur die kundigheid van ouer mense gebruik kan word.

“Die derde V staan vir vermindering. Ons is besig om te stagneer en veral die Afrikaanstaliges is waarskynlik besig om te verminder. Maar ons relatiewe vermindering is van groot belang omdat die ander bevolkingsgroepe, en by name die swart bevolking wat nou 46 miljoen tel teenoor die 4,5 miljoen wit mense, nog teen ’n gewéldige tempo toeneem. En dat daar in die proses ook instroming van die buiteland is wat daardie groei geweldig opstoot.”

Die vierde V is vertrek.

“Vertrek van veral professionele mense na die buiteland. Niémand kan transformasie se belangrikheid wegredeneer nie, dit móét geskied. Maar as dit nie op meriete geskied nie, verloor ons van ons beste mense.”

Aktiewe burgerskap

Tim du Plessis, die gespreksleier, het aan Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, gevra wanneer gaan aktiewe burgerskap oor in “ongesonde etniese mobilisering”.

“Die model waarna ons baie sterk kyk, is Robert Putnam se model van binding en brugbou. Wanneer jy kyk na binding van ’n bepaalde kultuurgemeenskap, moet jy dan ook ’n brug bou na ander gemeenskappe toe.

“Ons [Solidariteit] sal byvoorbeeld ’n Afrikaanse tegniese kollege bou wat oop is vir enigiemand wat daar wil studeer, nie net Afrikaanse studente nie, maar dan sal ons ook help om ’n openbare kollege te bou en dan het ons ook vir Lonmin gehelp om ’n tegniese kollege te bou in die Rustenburg-gebied.”

Wat my bekommer, is hoofsaaklik kundige mense wat emigreer.

Hy meen benewens aktiewe burgerskap is kulturele patriotisme belangrik; ’n houding van: “Ek is positief oor my gemeenskap, maar ek is ook positief oor die land.”

“Wat my bekommer, is hoofsaaklik kundige mense wat emigreer. Ons moet die omstandighede skep vir daardie kundige mense om in Suid-Afrika te bly want dit is die enigste manier hoe hulle ’n blywende verskil gaan maak tot die land en al sy mense.”

As ons brûe bou wat die teenoorgestelde doen, nooi ons mekaar in in ’n misverstaan.

Dr. Leslie van Rooi, senior direkteur: sosiale impak en transformasie van die US, meen as ons brûe bou, moet ons dit op so ’n wyse doen dat ons mekaar as gelykes ontmoet.

“En dat in daardie ontmoeting van gelykes ons ’n ander verstaan kan kry en ons eie ideologiese verstaan óf uitgedaag moet word óf dit minstens so kan verstaan dat jy ’n alternatief kan sien. As ons nie dít doen nie, verminder ons die moontlikheid van ’n brug se boustene wat langer kan hou en wat meer moontlikhede kan skep.

“As ons brûe bou wat die teenoorgestelde doen, nooi ons mekaar in in ’n misverstaan. Daar is hópeloos te min ruimtes in die land waar ons dáái brûe bou wat juis daai saammoontlikheid moontlik maak.”

‘Wat van die bydraes?’

Smit het ook gepraat oor die bydraes van Afrikaanstaliges.

“Moet ons net geweeg word aan getalle? Of moet ons ook kyk na die bydrae wat Afrikaanstaliges lewer? Afrikaanstalige hoërskole maak op die oomblik net meer as 10% van al die hoërskole in Suid-Afrika uit, en wat die kindergetalle betref is dit ook omtrent dieselfde.

“Maar die wit Afrikaanse skole lewer 21% van die leerlinge wat toelating tot universiteitstudie kry. Van die leerlinge wat wiskunde met onderskeiding slaag, lewer Afrikaanse hoërskole amper een derde.”

Ons moet probeer om nie standaarde áf te trek nie, maar eerder óp te trek in hierdie land.

Daar word dikwels gesê dit is wit bevoorregting.

“Niemand sal daarteen stry nie, maar dit word vergeet dat onderrig in moedertaal wêreldwyd die beste prestasies oplewer. Van die 20 beste skole in Suid-Afrika, veral wat wiskundeprestasies betref, is ’n skool soos Bloemhof nommer twee, dan is daar Jan van Riebeeck, Paul Roos, Meyerspark, Afrikaans Hoër Seunskool . . .

“In die noorde is daar druk dat hierdie skole meer Engelstalige leerlinge moet inneem. En ek sê: Is daar nie ’n mate van jaloesie in hierdie aspek nie? Ons moet probeer om nie standaarde áf te trek nie, maar eerder óp te trek in hierdie land.”

Die regte ding om te doen

Smit het aan die begin van die gesprek gesê in die laaste maand of twee is “die wit mense, en veral die Afrikaner, se karakter en deursettingsvermoë en geduld, besonder getoets deur uitsprake en retoriek van wegdoen met kolonialisme, selfs keel afsny, transformasie, en al hierdie goed.

“Maar volgens die wêreld waarin ek beweeg, doen dit nie afbreuk aan die bydraes wat gelewer is deur individue, finansiële instellings, kerke, en die breë samelewing om die welsyn van almal in Suid-Afrika te verbeter nie.

Ons grootste uitdaging is nie dít of dát oor Afrikaans nie; ons gróótste uitdaging is werkskepping en uiteindelik begin dit by die skoolstelsel, dat ons mense oplei wat bevóég is om in hierdie tyd werk te doen.

“En ek dink dit word nie gedoen omdat ons die ongeregtighede van die verlede wil regstel nie; nie omdat ons dink weens hierdie bydraes gaan daar ságter met die wit mense en die Afrikaners gewerk word nie; nié om gesién te word nie. Dit word gedoen omdat dit reg is. En ek glo hierdie bydraes en werk sal in die toekoms steeds voortgaan.”

Teen die einde van die gesprek het Dawid Albertyn van Williston uit die gehoor ’n “Karoowysheid” laat hoor.

“Wat is die sin van dié gesprek? Solank daar die groot gaping tussen ryk en arm is, het Afrikaners nie ’n toekoms nie. Ons grootste uitdaging is nie dít of dát oor Afrikaans nie; ons gróótste uitdaging is werkskepping en uiteindelik begin dit by die skoolstelsel, dat ons mense oplei wat bevóég is om in hierdie tyd werk te doen.

“As dít nie gebeur nie gaan ons, Afrikaans of nie Afrikaans nie, saam onder. Ons kan vergeet van al ons mooi stories; solank die ongelykheid voortduur, ís daar nie ’n toekoms vir Afrikaans en die wit mens nie.”

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Kultuur  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.