Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dán is sosiale media ’n onding

Hoe ’n groot invloed het die media op mense se politieke gedrag? ’n Nuwe Amerikaanse studie wys ’n duidelike korrelasie tussen die aan- of afwesigheid van intekenare op nuus­media – gedruk of aanlyn – en die mate waarin hulle vir Donald Trump of Hillary Clinton gestem het.

Tydens die verkiesingsveldtog van 2016 het die Duitse televisie ’n verslag uitgesaai waarin voornemende kiesers hul sê gesê het. Een uitgesproke Trump-ondersteuner het gekom met allerlei fop­nuusitems, en toe die verslaggewer haar vra hoe sy dan aan haar inligting kom, was haar antwoord: “My buurman het Facebook, en hy vertel my alles wat daarop staan.”

Dis natuurlik net anekdotiese getuienis, geen bewys nie. Maar dit illustreer die bevindings van die studie deur die aanlyn nuusdiens Politico.

Die studie het gebruik gemaak van die verkiesingsuitslae per stembus­distrik en die syfers van die Alliance for Audited Media (AAM), wat vir adverteerders nagaan hoeveel intekenare watter koerant, tydskrif, aanlyn nuusdiens of radio- en televisiestasie het. Daar is toe gekyk of ’n patroon gesien kan word.

Die bevinding is uiters interessant: Hoe laer die toegang tot georganiseerde nuusmedia (die studie noem dit “nuuswoestyne”), hoe hoër was die persentasie stemme wat Trump daar getrek het.

En andersom: Oral waar mense meer aan nuus van die georganiseerde nuusmedia blootgestel word, des te meer het hulle vir Clinton gestem.

Dié bevinding pas naatloos in by onthullings dat sosiale media soos Facebook en Twitter hulself vir die grootskaalse verspreiding van fopnuus laat misbruik het. Mark Zuckerberg, die grootbaas van Facebook, moes diep in die stof buig en beterskap beloof.

In deelstate waar die stemmeverskil tussen Trump en Clinton marginaal was, het dit waarskynlik die deurslag ten gunste van Trump gegee. In die studie word Trump aangehaal waar hy erken dat hy slegs danksy sy slim gebruik van sosiale media gewen het.

Die probleem met Facebook is die algoritmes waarmee gewerk word.

Facebook kom deur jou aanlyn gedrag agter wat jou belangstelling en oortuigings is, en dan voer hy jou daarmee en byna niks anders nie.

Facebook kom deur jou aanlyn gedrag agter wat jou belangstelling en oortuigings is, en dan voer hy jou daarmee en byna niks anders nie. Die gevolg is dat jy in ’n soort eggokamer beland waar jy nie aan uiteenlopende menings blootgestel word nie, wat jou vermoë beperk om ’n ewewigtige oordeel te vel.

Dis iets waarvan die Russe in 2016 (en sedertdien) uitgebreid gebruik gemaak het, nie alleen om hul eie land se propaganda te versprei nie, maar ook om Trump te bevoordeel en bowenal om verwarring in Amerika en sy Europese bondgenote te saai.

Jy kan énigiets op Facebook plaas. Die grootste leuens, samesweringsteorieë, propaganda, leuens oor Trump, leuens oor Clinton, noem maar op.

Die verskil is, luidens Politico se studie, Trump-ondersteuners het hul inligting en insigte meer van Facebook, Twitter en ander sosiale media gekry, terwyl Clinton-stemmers eerder van die georganiseerde media afhanklik was.

Dis waar dat die meeste Amerikaanse joernaliste eerder liberaler as konserwatiewer is. Maar die meeste is tog mense wat nie die “opponente” se standpunte flagrant gaan verdraai nie, al sal hul eie oortuigings in hul berig­gewing en analises merkbaar wees.

Bowenal kan jy in die tradisionele media ’n veel groter verskeidenheid menings teëkom. En juis dít is nodig om ’n oorwoë mening te vorm.

Natuurlik het Facebook en Twitter voordele. Ek lees dikwels die wel en wee van my vriende daarop en bly só op die hoogte van wat hulle besig hou.

Maar op nuus- en politieke vlak is dit ’n absolute onding.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Hillary Clinton  |  Invloed  |  Poliitek  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.