Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dana se Anette - 'Die onsêbare verdriet'

Baie van ons is weer tot stilstand geruk ná die skokdood van Anette Roberts, Dana Snyman se verloofde. Maar juis in die aangesig van die siekte van wanhoop kan elkeen van ons ’n ambassadeur van hoop word, skryf Lizette Rabe.

Die skrywer Dana Snyman en sy verloofde, Anette Roberts, wat verlede week ná ’n stryd met depressie haar eie lewe geneem het.

“This terrible disease,” het die Britse skrywer Virginia Woolf in haar laaste brief aan haar man oor haar depressie geskryf. En klippe in haar jas se sakke gepak en in die Ouse-rivier ingestap. Dit was in 1941.

Nog steeds eis “this terrible disease” elke dag vraatsig sy slagoffers – wêreldwyd amper ’n miljoen per jaar; in Suid-Afrika 23 per dag.

Dis duidelik dat ons die stilte en die stigma rondom dié siekte, wat geliefdes voor ons oë vernietig, moet verbreek.

Navorsing wys dat depressie – ’n behandelbare siekte – in meer as 90% van selfdoodgevalle aanwesig is. En vir elkeen van die sogenaamd “suksesvolle” selfdoodgevalle, is daar meer as 200 sogenaamd “onsuksesvolles”. Maar dis juis húlle wat gelukkig is om hul byna noodlottige depressie-episode te oorleef wat ’n tweede kans kry om die siekte van wanhoop te oorwin – en om ’n nuwe lewe met nuwe hoop te begin.

Dinsdag is boonop wêreldwyd psigiese gesondheidsdag met die tema “depressie in die werkplek”. Maar ons is nog nie eens gemaklik met depressie onder mekaar nie – wat nog te sê openlik oor depressie in die werkplek?

KRY HIER HULP
Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se 24-uur-noodnommer is 0800 567 567 en SMS 31393.

’n Groot ‘maar’

Dis duidelik dat ons die stilte en die stigma rondom dié siekte, wat geliefdes voor ons oë vernietig, moet verbreek. Depressie, soos ander psigiese siektes, is biologiese, kliniese siektes. Dit word veroorsaak deur die wanfunksionering van ons belangrikste orgaan, ons brein, wanneer noodsaaklike neuro-oordragstowwe nie afgeskei word nie. En dit kan reggestel word met ’n tweeledige ingreep: Medikasie wat die tekort kan aanvul en psigoterapie om te help om die negatiewe denkprosesse te neutraliseer om die siekte se greep te breek.

Anette Roberts, verloofde van Dana Snyman, wat Woensdag dood in ’n vriend se motor by haar huis gevind is.

Die boodskap is eintlik eenvoudig: Depressie is ’n behandelbare siekte en selfdood ’n voorkombare tragedie. Maar daar is ’n groot MAAR: Ons moet eers die stilte verbreek en die stigma afbreek sodat mense daaroor kan práát – soos oor diabetes of asma of kanker. Deur die “siekte sonder gesig” selfs vir ons naaste geliefdes weg te steek, gaan dit nie laat verdwyn nie. Inteendeel, dit gaan erger word – selfs lewensbedreigend.

Depressie, en noodlottige depressie, diskrimineer nie teen slagoffers nie. Of dit ’n Virginia Woolf; of, nader aan die huis, ’n Ingrid Jonker; of in Julie die popgroep Linkin Park se Chester Bennington; of, nader aan die huis, ’n Johannes Kerkorrel; of ’n Robin Williams; of, nader aan die huis, in Junie die Yizo Yizo-akteur Jabu Christopher Kubheka; of ’n geliefde seun of dogter; man of vrou; neef of niggie; kollega of vriend is.

Donker paadjies

Niemand is immuun teen die siekte nie – maar ons kan ons immuniseer teen sy dodelike gevolge deur ambassadeurs van hoop te word. Bennington het in Julie in ’n onderhoud kort voor sy dood na sy lewenslange stryd met psigiese siektes verwys.

Só lyk depressie

Algemene simptome:

Depressie is nie om net gewoonweg teleurgesteld of “af” te voel nie. Jy het waarskynlik depressie as jy langer as twee weke

*hartseer, angstig of “leeg” voel,

*wanneer jy moeilik konsentreer of sleg onthou,

*besluiteloos is,

*moeg en sonder energie,

*waardeloos, hopeloos, negatief en desperaat voel,

*as jy nie kan slaap nie, of sleg slaap, of te veel slaap,

*geïrriteerd en rusteloos is,

*wanneer niks meer interessant is nie en

*jy te veel of te min eet.

*Jy mag dalk al selfs onwillekeurige selfdoodgedagtes – genoem selfdood-ideasie – ervaar. Maak dadelik ’n afspraak met jou huisdokter sodat jy geassesseer kan word en na ’n psigiater en sielkundige verwys kan word.

Wanneer hy so “in sy kop vasgevang is”, het hy vir homself gesê, is dit soos ’n gevaarlike buurt “and I should not go walking alone”. En dis die ding: Moenie alleen op daardie donker paadjies afdraai en in daardie vorteks van verdriet inbeweeg nie. Sê vir jou ma, jou pa, jou man, jou vrou, jou kind, jou verloofde, jou kollega, jou vriend: Ek is in so ’n slegte plek, hélp my. As dit ’n ander siekte was, sou jy al lankal gehospitaliseer gewees het.

Die Amerikaanse skrywer William Styron, een van die eerste bekendes wat openlik oor sy stryd met depressie was en gelukkig was om ’n potensieel noodlottige episode te oorleef, het onder meer geskryf:

“Die pyn van erge depressie is ondenkbaar vir dié wat nie daaraan ly nie. In sommige gevalle is dit dodelik, want die smart is ondraaglik. Die voorkoming van baie voorvalle van selfdood sal aanhou belemmer word totdat ’n algemene bewustheid oor die aard van hierdie pyn bestaan.

“Die meeste mense oorleef depressie deur die helende verloop van tyd, mediese ingryping of hospitalisering. Maar vir die tragiese legioen wat genoop is om hulself te vernietig, moet daar geen erger bestraffing wees as vir die slagoffers van terminale kanker nie.”

Onsêbare verdriet

As ons daarin kan slaag om die stilte te verbreek en die stigma af te breek, en psigiese siektes as normale siektes te beskou, sal meer mense gemaklik voel om daaroor te praat en met hul siekte saam te leef. Hoe lank gaan ons nog toelaat dat onkunde en vooroordeel oor die “siekte sonder gesig” van geliefdes nie net vreemdelinge vir hulself maak nie, maar hulle ook vernietig? En daarmee ook die lewens van dié wat agterbly?

Lizette Rabe dra elke dag ’n blou strikkie om mense van depressie as kliniese siekte bewus te maak. Foto: Denzil Maregele

Want wat máák ’n mens in die aangesig van die mees onvoorstelbare en onsêbare verdriet wanneer die siekte van wanhoop ’n geliefde vir altyd van haar of sy lewe beroof het? En jy verdwaas agterbly te midde van die skerwe van ’n voorheen so volmaakte lewe?

Jy kan óf ook self vergaan van wanhoop, of jy hou vas aan hoop. En jy kan ’n ambassadeur word van hoop, want net op dié manier kan jy iets aan die Groot Onverstaanbare doen.

Want, ja, die lewe bestaan uit paradokse. Dag en nag. Somer en winter. Koud en warm. Lig en donker. Lewe en dood. En hoop en wanhoop.

Daarom, in die aangesig van die siekte van wanhoop, moet die antwoord altyd hoop wees.

Styron het Dante aangehaal toe hy ná sy amper dodelike siekte herstel het: “And so we came forth, and once again beheld the stars.” Of, om ons eie Breyten Breytenbach aan te haal: “Mag die bome groen bly en die sterre wit, en mag daar altyd mense wees wat mekaar sonder skaamte in die oë kan kyk – want die lewe is ’n asem lank en die sterre op die Anderplek donker.”

Hemelsblou vir hoop

Rabe het ’n seun aan depressie verloor. Sy dra elke dag ’n “hemelsblou vir hoop”-strikkie vir bewusmaking van depressie as ’n kliniese siekte. Sy het die Ithemba-stigting – “ithemba” beteken hoop – op die been gebring, wat jaarliks in Oktober die Hoop Hike en Hoop Bike vir bewusmaking van depressie en verwante psigiese siektes aanbied. In die Kaap word dit op Sondag 15 Oktober gehou, en in die noorde van die land op 29 Oktober. 

Bykomende bronne:

  • Breyten Breytenbach, Ysterkoei-blues, Human & Rousseau, 2001.
  • William Styron, Darkness Visible – a memoir of madness, Vintage Books, 1990.


Meer oor:  Sadag  |  Anette Roberts  |  Dana Snyman  |  Lizette Rabe  |  Selfdood  |  Depressie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.