Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Danny Titus is ‘vir die taal geleen’

Reeds sedert hy ’n klein kind was, het hy besef dat hy Afrikaans in sy hele wese is. Michael le Cordeur bring hulde aan Danny Titus, met wie hy 43 jaar lank vriende was.

Dr. Danny Titus is Sondagaand begrawe. Foto: Lerato Maduna

“Die Afrikaanse taal is besig om sy veelvuldige identiteite te ontdek. Vir te lank is Afrikaans gesien as ’n taal van ’n homogene kultuur terwyl ander Afrikaanssprekendes moes toekyk hoe hul bydraes en leefwêrelde in hul moedertaal ontken word. Dit is daarom van kernbelang om die bladsye van die geslote boek een vir een oop te blaai.”

Só skryf Danny Titus ter inleiding in sy hoofstuk in Ons kom van vêr, ’n boek wat sy beslag gekry het tydens ’n bespreking toe Danny, Danie van Wyk (tans waarnemende hoof van die DAK-netwerk) en die taalkundige Wannie Carstens op ’n dag in 2015 in my kantoor was.

Ek het Danny sowat 43 jaar geken. Ons het ontmoet net nadat ek in 1977 op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland aangekom het om tale en opvoedkunde te studeer. Danny was toe ’n regstudent in sy tweede jaar.

Ander, soos die skrywer en letterkundige prof. Hein Willemse, het hom reeds van skooldae geken. In sy boek Hostel skryf Willemse dat hy en Danny reeds van st. 6 af saam rugby, krieket en darts gespeel het. Hulle sou uiteindelik saam in 1975 matrikuleer.

Studente-opstande

Maar 40 jaar gelede was Afrikaans – in die woorde van Enrico Pedro (in Hostel) – ons almal se moedertaal. Mettertyd, en ná vele debatte oor Afrikaans as “taal van die verdrukker”, het sommige geëmigreer na Engels en hul storie daarin begin skryf.

Universiteitsopleiding vir swart (in die generiese sin) Suid-Afrikaners was feitlik onmoontlik in die eerste helfte van die 20ste eeu.

Pedro, soos baie ander van ons, erken dat hy nooit gemaklik was met die frase “taal van die verdrukker” nie. Só skryf Willemse die voorwoord van Hostel in Engels, maar sy ervaring oor die 1976-opstande wat duidelik ’n emosionele saak vir hom is, skryf hy in sy hartstaal, Afrikaans.

Universiteitsopleiding vir swart (in die generiese sin) Suid-Afrikaners was feitlik onmoontlik in die eerste helfte van die 20ste eeu. Die bestaande universiteite het destyds byna uitsluitlik vir wit Suid-Afrikaners voorsiening gemaak. Sommige van die Engelse universiteite het wel enkele stedelike swart studente toegelaat, maar dit was te min om enige invloed te hê.

Gevolglik het die argitekte van apartheid vorendag gekom met die gedagte om universiteite soos UWK (vir bruin mense), Zoeloeland (vir Zoeloes), Durban-Westville (vir Indiërs) en Fort Hare (vir swart mense) te skep. Volgens Willemse (in Hostel) was hierdie kampusse deur die bank op afgeleë plekke ver van ’n ekonomiese infrastruktuur, met min hulpbronne, gebou. UWK is gebou op die sanderige Kaapse Vlakte, ver van alles en almal.

Die wreedheid van apartheid

Dis hier waar my paaie met dié van Danny, Hein en die anti-apartheidsaktivis Cecyl Esau gekruis het. Die groot ironie is dat daar aan ’n al groter wordende groep swart studente van die platteland goeie universiteitsopleiding verskaf is. Dit is dieselfde studente wat begin het om in koshuise teen apartheid te mobiliseer.

Hulle sou ironies die leiding neem in die opstande teen die regering wat hulle daar geplaas het. Die doelwit om UWK te ontwikkel as die kern vir ’n “kleurlingvolk-in-wording” is in geen onduidelike taal nie deur die studente verwerp.

Studente aan UWK in die opstande in 1976. Die studente protesteer vreedsaam sonder klippe of wapens. Foto: dr. William Murray

Danny was toe reeds iemand wat kon standpunt inneem. Saam met Hein en ander het hulle dan ook aan die 1976-opstande deelgeneem. Ek onthou hoe emosioneel die studente was toe bulldozers in 1977 en 1978 (ek was toe in my 1ste en 2de jaar) drie plakkerskampe platgestoot het om vir groter geboue plek te maak. Ons moes elke dag vanaf die Unibell-stasie op pad na ons klasse daardeur stap. Hoe ironies dat die vooruitgang van die UWK gebou is op die hartseer van 20 000 mense wat haweloos gelaat is. Dit was die wreedheid van apartheid.

Meer as net geleerdheid

Daar was egter ook die goeie tye. Een keer ’n jaar het die studente van UWK hulle behoorlik geniet wanneer die beurse uitbetaal is. Nadat die universiteit sy klasgelde en boekeskuld afgetrek het, is die restant aan die studente uitbetaal. Dan het die studente hulself op die beste van Snuffel en Snuif en Kwick Foods in Bellville se middedorp ge-treat. Dit was veral die Bunny chow (eg Kaapse kerrie in ’n halwe brood) wat as ’n lekkerny beskou is. Soms was daar ’n ietsie ekstra vir ’n bier of twee in die Drop Inn of die Belmonte.

Maar studente soos Danny het baie meer as geleerdheid aan die UWK ontvang.

Een van die grootste vraagstukke waarmee ons moes worstel, was dat ons ouers se politieke oortuigings van ons s’n verskil het. Ouers – vasgevang tussen hul eng Christelike oortuigings en gebreinspoel deur die regering en sy media – het hul kinders UWK toe gestuur met die hoop dat hul kinders met gelerentheid sal terugkom. Wat inderdaad toe wel gebeur het.

Maar studente soos Danny het baie meer as geleerdheid aan die UWK ontvang. Die meeste sou groei vanuit hul armoedige onskuld en politieke naïwiteit tot politieke volwassenheid”, as ek Cecil Morden (voormalige hoofdirekteur van belastingontleding in die tesourie) in Hostel kan aanhaal. Ons het teruggekeer as jong volwassenes wat op ’n vroeë ouderdom die pyn van apartheid beleef het.

Afrikaans nie gelykstaande aan Afrikaner nie

Iets waaroor Danny baie sterk gevoel het, was dat swart en bruin moedertaal-Afrikaanssprekendes by verre nog nie beslag in die media en algemene diskoers gehad het nie. Danksy ons protes is mense soos ek en Danny as rubriekskrywers aangestel. Ek onthou hoedat ek, Danny, Wannie en ander in ’n stadium met die ANC se uitvoerende komitee oor die toekoms van Afrikaans vergader het. Tydens die gesprekke met die ANC moes ek, in daardie stadium die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), telkemale verduidelik dat Afrikaans nie gelykstaande aan die Afrikaner is nie.

Die tweede bestuur van die Afrikaanse Taalraad (ATR): Danny Titus is derde van links, en Michael le Cordeur (voorsitter) sit regs voor langs prof. Adam Small. Die foto is geneem op die eerste Koker-toekenningsaand waar Small en Cerneels Lourens (met die donker bril) die Kokers ontvang het. Ria Olivier is heel links en Danie van Wyk staan agter tweede van regs.Foto: Verskaf

Danny was ’n stigterslid van die ATR en ook die eerste tesourier, ’n amp wat hy sou beklee totdat ons ampstermyne verstryk het. Bruin mense het toenemend sterker uitgekom vir hul bydrae tot Afrikaans. En Danny se hand hierin was duidelik sigbaar, veral in sy betrokkenheid by die ATKV as uitvoerende direkteur van kuns en kultuur maar ook in sy rol met die stigting van die DAK-netwerk waarvan hy die voorsitter was.

Dis hy wat my gebel het om te vra dat ek op die historiese waarheids-en-versoeningskonferensie oor Afrikaans ’n lesing moes lewer. Dié konferensie was die breinkind van Danie van Wyk, maar toe dit skyn dat geen ander Afrikaanse organisasie hieraan wou raak nie, het Danny ingespring en dit laat gebeur!

‘Versoening is ’n duur woord’

Nog iets waaroor Danny hom sterk uitgespreek het, was dat daar verskillende leefwêrelde in Afrikaans is, iets waaroor ek en hy aanklank by mekaar gevind het. In sy hoofstuk “Taal en Identiteit” in Ons kom van vêr, haal hy my aan oor die uitsluiting van bruin en swart Afrikaanssprekendes by die Ghoema-musiektoekennings. Hy haal ook vir Wannie Carstens aan:

“Die Afrikaanse gemeenskap moet deeglik besin oor hoe hy gaan seker maak dat hy altyd in sy volle verskeidenheid verteenwoordig word wanneer Afrikaanssprekendes bymekaarkom.”

Versoening was vir Danny baie belangrik. Hy haal die voormalige politikus en menseregte-kommissaris Leon Wessels aan waar hy sê: “Versoening is ’n duur woord. Dit word goedkoop gemaak wanneer dit as politiek-korrekte-woord oor ons lippe rol. Indien dit nie gepaardgaan met ’n begrip (of ten minste ’n ernstige poging om te begryp) van die pyn wat die verlede veroorsaak het nie, rol versoening soos water van ’n eend se rug.”

‘Vir hierdie taal geleen’

Om identiteitskwessies in die bruin gemeenskap te verstaan, het vir Danny beteken om die rol en bydrae van nierassigheid, soos verwoord in organisasies soos die New Unity Movement, te verstaan. Hy sou ook sterk aanklank vind by die Swartbewussynsbeweging van Steve Biko en later die breër demokratiese beweging van die United Democratic Front (UDF). Hy was ook uitgesproke oor sy ontnugtering in die ANC.

Van die viermanskap is Danny Titus (links) en Neville Alexander (regs) reeds oorlede. Christo van der Rheede (nuwe uitvoerende direkteur van Agri SA) en Michael le Cordeur gaan voort om vir Afrikaans te baklei. Foto: By-argiewe

Ek haal hom aan: “In plaas van die verwagte nie-rassige Suid-Afrika het die ANC dit omskep in ’n beleid van ‘blacks in general . . . and Africans in particular’. Bruin mense is tragies uit die hoofstroom van die politiek geskuif en hulle ervaar tans . . . soos onder apartheid en onder die hegemonie van die Afrikaanse establishment, dat die demokrasie wat die ANC beheer, myle weg is van die lewensbeskoulike karakter van ‘Suid-Afrikaner eerste’.”

As ’n klein kind nog, wis ek ek was Afrikaans in my hele wese ...
Adam Small

Sy gunsteling-gedig was Adam Small se “Trap der bruin jeugd”: As ’n klein kind nog, wis ek / ek was Afrikaans in my hele wese / Ek het besef ek is / vir hierdie taal geleen / en sou myself beskikbaar maak.

Hiermee bevestig hy sy lewenslange persoonlike verbintenis tot Afrikaans.

*Titus is Sondag finaal gegroet in die Fourways-gedenkpark in Johannesburg.

*Prof Michael le Cordeur is hoof van die departement kurrikulumstudies aan die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Hein Willemse  |  Michael Le Cordeur  |  Danny Titus  |  Atr  |  Uwk  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.