Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dapper liefdesbelofte in ’n onseker wêreld

Diskriminasie is nooit snaaks nie, skryf Megan Watling en Sasha-Lee Heekes.

Die rubriekskrywer Loftus Marais grap verlede week op hierdie blaaie dat dit snaaks is vir ’n lesbiese paartjie om by ’n plek met die naam Beloftebos te trou.

Ons dag eers dat hy sinspeel op die woorde “belofte” en “gelofte”, maar helaas word dit gou uit sy rubriek duidelik dat hy eerder na die platvloerse beskrywing van vroulike skaamhare as “bos” mik.

Hopelik vir hom is die lesers van die Rapport-komedieklub nog lief vir ’n poepgrap, want in ’n regte komedieklub sou hy ná daardie infantiele humor moes koes vir missiele.

Terwyl jy jou oë rol en simpel grappies maak, word vroue verkrag en gay mense vermoor.

Ons reageer op die res van sy artikel omdat sy argumente net so flou soos sy grappies is. Sy opmerking dat daar malligheid aan albei kante van die geskil is, herinner aan Donald Trump se reaksie ná die botsing in Charlottes­ville tussen wit rassistiese betogers en anti-fascistiese betogers. Seg Trump destyds: “Daar was baie slegte mense aan albei kante in die groepe, maar daar was ook baie goeie mense.”

Loftus se argument is net so flou soos dié van Trump. Daar bestaan nie iets soos “goeie” wit rassisme nie, net so min as wat daar “goeie” homofobie bestaan.

Ons is nie perfek nie. Niemand is nie. Ons verhouding is nie perfek nie, maar ons glo dat ons liefde wel perfek is en daaroor kan slegs ons die oordeel vel.

Natuurlik gaan ons nie by Beloftebos trou nie en ons hofstukke in die gelykheidshof sal dit duidelik stel. Dis bloot lui joernalistiek om die teendeel te beweer.

Hy mag ook meen dat gay mense nie behoort te trou nie. Dis sy opinie en hopelik een wat hy deel oor heteroseksuele mense ook. Hy verwys na die huwelik as ’n “aartskonserwatiewe instelling”. Tog verskil huwelike en elkeen het sy eie reëls. Persoonlik is ons visie van ons huwelik ultra-modern. Om ’n liefdesbelofte aan mekaar te maak, is nie konserwatief of liberaal nie. Dis dapper in ’n toenemend onseker wêreld.

Loftus laat in sy paternalistiese instruksies oor hoe om gay te wees, geen ruimte vir die ervarings van ander nie. Dit is sy tekortkoming, nie ons s’n nie.

Hy merk op dat die “taal van absolute en onherroeplike gekrenktheid” deur ons hom pla. Mens sou sweer dat iemand naby aan ons dood is, fladder hy voort.

Wel Loftus, jou oë-rol-emoji ten spyt, mense naby ons is dood en sterf steeds. Die geweld van die Beloftebos-mediaverklaring en die geweld van korrektiewe verkragting waarmee ons gedreig word, bestaan op dieselfde spektrum.

Die geweld deur mans teen vroue is alomteenwoordig, of jy jou oë met of sonder emoji’s rol.

Om die saak na die gelykheidshof te neem, gaan nie oor onsself nie, maar omdat diskriminasie verkeerd is. Sou jy gewaag het om grappies in Rapport te maak as Afrikaanse mense toegang tot die Rhodes- en Milner-kroeg geweier is? Ons vermoed nie.

Ons saak is verbind aan die plaaslike en wêreldpolitiek. Ons is, toegegee, ’n baie klein rat, maar die beskrywing van “mass human injustice” waarteen jy dit het, is inderwaarheid ’n erkenning dat daar nie een groot ongeregtigheid is nie, maar miljoene klein ongeregtighede wat tot een groot ongeregtigheid lei.

Hoe gou vergeet jy dat die persoonlike ook polities is. Terwyl jy jou oë rol en simpel grappies maak, word vroue verkrag en gay mense vermoor.

Maar gelukkig is die fout volgens jou by ons te vind.

* Sasha-Lee Heekes en Megan Watling het sedertdien die #samelove-veldtog van stapel gestuur om die aandag op die diskriminasie teen gay paartjies te vestig.

Meer oor:  Sasha-Lee Heekes  |  Megan Watling  |  Beloftebos  |  Gay Huwelike  |  Homofobie  |  Diskriminasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.